AfriForum se veiligheidsplan is proaktief

Vragmotors wat op 25 April 2017 deur betogers in Coligny in Noordwes aan die brand gesteek is. Foto: Facebook via Marlene Roux.

Die kommerwekkende en tragiese gebeure wat hulle onlangs in Coligny afgespeel het, is ’n duidelike wekroep dat ’n proaktiewe nasionale veiligheidsplan nodig is waarmee gemeenskappe binne die raamwerk van die wet kan help toesien dat hul dorpe en stede vreedsame en veilige plekke is. AfriForum het die afgelope paar jaar reeds baie energie en hulpbronne aangewend om so ’n plan te ontwikkel en in werking te begin stel.

’n Loodsprojek om AfriForum se omvattende plan verder te verfyn en te toets, is pas onder die naam Projek Nehemia in Bloemfontein van stapel gestuur. Dele van dié plan is ook reeds in sowat 100 AfriForum-buurtwagte landwyd in werking gestel. Die uiteindelike doelwit is om die plan in sy geheel by alle AfriForum-buurtwagte in werking te stel, asook landwyd in ander gebiede wat nie tans oor buurtwagte beskik nie.

Ongelukkig sal daar altyd leunstoelkritici wees wat uit moedswilligheid of blote onkunde AfriForum en die Solidariteit Beweging se werksaamhede op veiligheidsgebied probeer afskiet. ’n Voorbeeld hiervan is Max du Preez se onlangse kritiek dat AfriForum en Solidariteit meer proaktief moet wees om wedersydse begrip in gemeenskappe teweeg te bring en dat dít beter beskerming bied as om “manne met gewere in te stuur”.

Die veiligheidsplan wat AfriForum en die Solidariteit Beweging onlangs by ’n veiligheidsberaad aan meer as 1 000 buurtwag-afgevaardigdes bekend gestel het en dít wat AfriForum-buurtwagte reeds landwyd doen, behels baie meer as om “manne met gewere in te stuur”. Dié proaktiewe plan rus op twee bene, naamlik dat gemeenskappe weerbaar word om hulself en hul eiendom binne die raamwerk van die wet te kan beskerm, en dat wye samewerking tussen gemeenskappe en alle rolspelers bevorder moet word om ’n gesamentlike front teen geweld en misdaad te vorm en wedersydse erkenning en respek te bevorder.

Om dié rede werk AfriForum-buurtwagte reeds in verskeie dorpe en stede landwyd met die Suid-Afrikaanse Polisiediens saam, asook met gemeenskapspolisiëringsforums en gemeenskapsleiers uit verskillende gemeenskappe. Natuurlik is daar ongelukkig enkele plekke waar die polisie of ander rolspelers nie wil of in staat is om saam te werk nie; daar is egter ook talle voorbeelde van plekke waar goeie verhoudinge reeds gebou is en gesonde samewerking dus plaasvind. In Elliot het die plaaslike taxivereniging byvoorbeeld by die AfriForum-buurtwag ingeskakel, terwyl gesonde samewerking ook op baie ander plekke met swart, bruin en Indiërgemeenskappe en -leiers gevestig is. As die leunstoelkritici enigsins moeite gedoen het om hulself van die gebeure by AfriForum en die Solidariteit Beweging se veiligheidsberaad te vergewis, sou hulle opgemerk het dat die beraad deur verteenwoordigers en sprekers uit ’n verskeidenheid van gemeenskappe ondersteun is. AfriForum sal as kritiese deel van die veiligheidsplan aanhou om gesonde verhoudinge en wedersydse respek tussen gemeenskappe op plaaslike vlak te bevorder.

AfriForum sal ook voluit met die tweede been van die plan voortgaan, naamlik om gemeenskappe toe te rus en by te staan om hulself en hul eiendom binne die raamwerk van die wet en na die beste van hul vermoë te kan beskerm. Net soos skoolboelies op diegene fokus wat kwesbaar is, fokus misdaadboelies en politieke figure wat polarisasie aanblaas ook op diegene wat na hul mening kwesbaar is. Goeie verhoudinge is inderdaad krities belangrik, maar dit is naïef om te dink dat die blote bestaan van goeie verhouding ’n absolute waarborg vir veiligheid is.

Die skrywer Rian Malan het op vaardige wyse in sy verslaggewing oor die gebeure in Coligny uitgewys dat rolspelers uit die Zuma-kamp – in ’n poging om hul eie wankelende posisie te verdedig – die “wittes” as die sondebokke wil voorhou vir alles wat skeefloop. AfriForum sal homself uit beginsel nie wend tot dieselfde soort polariserende optrede as die rasbeheptes in die Zuma-kamp en elders nie, maar sal met selfvertroue en op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek voortgaan om die reg van gemeenskappe te bevorder om hulself en hul eiendom op verantwoordelike wyse en binne die raamwerk van die wet te beskerm.

Die AfriForum-veiligheidsplan is ’n plan wat uit verskeie fasette bestaan. Dit fokus onder meer op ’n misdaadvoorkomingstrategie wat nie net sigbaarheid nie maar ook die inwin en ontleding van inligting insluit. Tegnologie speel ook ’n sleutelrol en daar is reeds begin om misdaadvoorkomingbeheerkamers op verskeie plekke te vestig. Parate gemeenskappe wat beskik oor sowel ’n goed deurdagte en omvattende teenmisdaadplan as die vermoë en hulpbronne om dié plan verantwoordelik uit te voer, is en bly die beste waarborg om stabiliteit en vrede in belang van almal in die land te help verseker.

Gemeenskappe landwyd wat nie op gebeure soos dié in Coligny voorbereid is nie, sal dringend moet toesien dat hulle weerbaar word. AfriForum is bereid om daarmee te help of om saam te werk met veiligheidsinisiatiewe wat onafhanklik van AfriForum gestig is. By gebrek aan ’n sterk gemeenskapveiligheidsinisiatief in Coligny was die gemeenskap kwesbaar. Dit het AfriForum genoop om in samewerking met strukture in dié dorp privaat veiligheidsbeamptes te ontplooi wat goed opgelei is om op verantwoordelike en professionele wyse mense en eiendom te beskerm sonder om geweld aan te blaas.

Die leunstoelkritici wat baie hieroor te sê het, laat my dink aan die storie van die boelie Jannie wat na sy ma toe hardloop en kla omdat Pietie hom “teruggeslaan” het. Daar kan tog nie verwag word dat mense bloot moet sit en toekyk hoe hulle deur die afbrand van huise en die beskadiging van eiendom geboelie word nie? Verantwoordelike selfverdedigingsaksies binne die raamwerk van die wet is ’n onvervreembare basiese reg.

Dit sal ander gemeenskappe baat om dieselfde te doen en seker te maak dat alles moontlik gedoen word om ’n herhaling van die Coligny-gebeure elders te probeer afweer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik ·

Dit is belangrik dat die gemeenskappe moet inkoop in hierdie veiligheidsstrukture. Moenie dink dat nie dieselfde onluste kan gebeur in jou dorp/stad as in Coligny nie.

Loeis ·

Max du Preez, Pieter du Toit en die Huffington Post is nie krities nie, hulle is plein onverdraagsaam en kwaadwillig teenoor enigiets wat nie met hulle eie denkwyse ooreenstem nie.

MCH ·

Weereens dank aan afriforum wat werklik sinvolle aksies loods met beperkte bronne maar baie inisiatief en deursettingsvermoe. Met slegs 186000 lede. Dis fenomenaal. Ek salueer u.

SeMaarNet ·

Dit klink alles so mooi – maar dit beteken eintlik net mooi niks nie! Ons het nou onlangs ‘n besoek van ‘n hooggeplaasde in die polisie gehad wat ons boere veiligheidsvereniging toegespreek het en hy het geen geheim daarvan gemaak dat GEEN geweld gebruik mag word om hierdie massas te keer wanneer hulle jou bedreig nie! So regtig? Hoe stop jy 200 boosaards wat kom met net een doel en dit is om jou eiendom te beskadig of te brand – hoe stop jy sonder om hulle te skiet? Jy kan vandag net sowel jou wapens vat en gee dit weg – dit beteken vir jou net mooi ZERO – want in die goeie ou dae moes die oortreder sy onskuld bewys – DEESDAE moet jy wat jouself beskerm die OORTREDER se skuld bewys in die hof! Hoe belaglik!!!! Ek hou aan se: As jy met ‘n Duitser in Spaans praat – gaan hy jou nie verstaan nie! As jy met ‘n oproerige skare oor ‘n mikrofoon praat en vra om saam jou om ‘n tafel te kom sit – good luck!!!!!

madels ·

As n mens nie gewere kan gebruik met regte koeels nie, wees dan gewapen met rubber bullets of pepper bullets? Dit kan nie doodmaak nie maar dit sal verseker baie seer wees en mense afskrik. Of kry n paar brandweer waens wat water uitspuit teen n ongelooflike sterk druk, dis baie effektief!

Boet ·

Ons is baie groot dank verskuldig aan AfriForum. Julle nugtere in inisiatief en leierskap in ons geledere is prysenswaardig. Iewers vorentoe kort ons net weer ‘n koerant wat nie “skaam” is om Afrikaans op alle terreine uit te dra nie; veral op tegnologiese gebied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.