AfriForum veg en bou voort

kallie-kriel-2019-05-02

Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum. Foto: Verskaf.

Ondanks die afname in die ANC se steun in die nasionale verkiesing in Mei vanjaar, het dié party – soos verwag – steeds genoeg steun behou om aan te hou regeer. Dit is natuurlik teleurstellend, maar geen rede om moed te verloor nie.

As burgerregteorganisasie wat buite die partypolitiek funksioneer, het AfriForum reeds sedert die organisasie se stigting 13 jaar gelede besef dat ons nie ons eie en ons nageslag se toekoms geheel en al aan verkiesingsuitslae kan oorlaat nie. Verkiesings is natuurlik belangrik, maar is slegs een aspek van ’n veelheid van terreine wat aandag moet geniet om ’n beter toekoms te skep. Daarom werk AfriForum nie vir die volgende verkiesing nie, maar eerder vir die volgende geslag.

Tussen verkiesings is daar vyf jaar met 365 dae elk (buiten in skrikkeljare) waarin AfriForum, sy personeel, vrywilligers en lede elke dag met genade van Bo en harde werk ’n verskil kan maak deur AfriForum en die Solidariteit Beweging se praktiese toekomsplan te help implementeer. Dit is bevrydend om te weet dat ons die plan én die uitvoerende vermoë het om die toekoms in ons eie hande te neem en dat ons nie geheel en al aan die regerende party se doen en late uitgelewer is nie.

#AfriForumVegEnBou

AfriForum se plan kan kortliks as ’n veg-en-bouplan opgesom word. Die besonderhede van dié plan sal die tema van bespreking wees in die reeks “Streeksberade van hoop” wat AfriForum hierdie maand op verskeie plekke in die land gaan aanbied.

Dié veg-en-bouplan behels kortliks dat AfriForum vír geregtigheid en téén agteruitgang sal veg, maar dat die organisasie terselfdertyd prakties op grondvlak alternatiewe werklikhede sal help bou wat dit vir ons gemeenskap moontlik sal maak om met ’n groeiende mate van selfstandigheid na ons eie belange om te sien.

Veg

AfriForum se krag om teen onreg en agteruitgang te veg, word verseker deur ons ondersteunersbasis van meer as 227 000 aktiewe lede. Lede maak dit vir AfriForum moontlik om met die beste regspanne in die howe vir geregtigheid te veg, internasionale druk teen die ANC se onteieningsplanne en misdaad te genereer, en verskeie ander meganismes tot ons beskikking te gebruik om die owerheid verantwoordbaar te probeer hou. Om net te veg, is egter nie ’n volhoubare toekomsplan nie en daarom fokus AfriForum ook sterk op die bou van gemeenskapselfstandigheid.

Bou

AfriForum en die Solidariteit Beweging se bouplan bied ’n versekeringspolis vir gevalle waar die vegplan nie suksesvol is nie. AfriForum veg byvoorbeeld voluit om die polisie verantwoordbaar te hou om misdaad te beveg, maar die 140 selfstandige buurtwagte wat AfriForum reeds landwyd as deel van ons bouplan tot stand gebring het om misdaad te bekamp, bied aan AfriForum die vermoë om misdaad teen te staan selfs al sou die vegplan uiteindelik onsuksesvol wees.

Benewens buurtwagte het AfriForum en die Solidariteit Beweging tientalle ander selfstandigheidsinisiatiewe wat ons tans landwyd prakties implementeer. Opvoedkundige instellings soos ’n eie universiteit (Akademia) en ambagsopleidingsinstelling (Sol-Tech) is byvoorbeeld reeds suksesvol gevestig. Die Solidariteit Beweging oorweeg ook die vestiging van privaat skole waar die noodsaak daarvoor bestaan. Sowat 30 streeksdorpe is ook as ankerdorpe geïdentifiseer, wat as basis sal dien om selfstandige dienste aan omliggende gebiede te bied.

AfriForum Netwerk

AfriForum pas, soos op talle ander terreine, ook die veg-en-bouplan toe wat die ekonomie betref. AfriForum veg teen die owerheid se rasgedrewe ekonomiese beleidsrigtings wat dit vir lede van minderheidsgemeenskappe moeilik maak om besigheid met die staat en groot ondernemings te doen. AfriForum is daarom trots op ons bouplan vir AfriForum-lede se ondernemings wat pas van stapel gestuur is: AfriForum Netwerk.

AfriForum Netwerk is daargestel sodat AfriForum-lede hul ondernemings en dienste gratis op dié netwerk se databasis kan registreer, sodat ander AfriForum-lede hulle kan ondersteun. Dit maak nie saak hoe klein of groot jou onderneming is nie, jy kan dit gerus op die databasis plaas. Dienste wat wissel van tuindienste, rekenkundige dienste, restaurante, gastehuise en winkels tot ander konsultasiedienste is welkom.

Ondernemings kan ook aandui of hulle bereid sal wees om korting aan AfriForum-lede te bied. Die Joodse gemeenskap is ’n goeie voorbeeld van hoe lede van ’n gemeenskap mekaar kan ondersteun. Daar is geen rede waarom AfriForum-lede mekaar nie ook in die sakewêreld kan ondersteun nie. Daarom vra AfriForum sy lede met vrymoedigheid om hul geld, waar moontlik, by ander lede te bestee.

Uiteraard kan die stelsel nie op lojaliteit alleen steun nie. Ons verwag van lede om gehaltedienste en -produkte aan mekaar te lewer. Juis daarom maak AfriForum Netwerk daarvoor voorsiening dat lede die diens of produk wat hulle ontvang, kan gradeer. Lees gerus meer oor AfriForum Netwerk by www.afriforumnetwerk.co.za, en oor AfriForum se ander werksaamhede by www.afriforum.co.za.

Kom veg en bou saam!

Instellings van die Solidariteit Beweging, soos AfriForum, se veg-en-bouplanne kan slegs slaag as ons in groot getalle saamstaan om hierdie aksies te ondersteun. Daarom nooi ek jou uit om AfriForum en die ander instellings van die Solidariteit Beweging te ondersteun. Kom ons skep saam hoop deur ons roeping ten volle uit te leef, en te veg en te bou vir ’n beter toekoms.

Ons kan, ons wil en ons gaan dit regkry.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jerry ·

Mooi Kallie, baie mooi en polities korrek, hou dit net so. Praat namens Afriforum en Afriforum se 227 000 lede. Solank die besef deurgedring het dat jy nie namens die Afrikaner praat nie, maar namens Afriforum se lede wie toevallig Afrikaners is, dan is daar hoop vir die Afrikaner! MM se opname dat slegs 17% MM lesers in SA wil bly en die pad saam met jou en jou forum wil stap blyk duidelik n “eye opener” te wees. 62% wil SA verlaat, maar kan nie, dit is toevallig dieselfde stempersentasie as die ja stemmers, wat gestem het vir demokratiese verandering, maar nou besef dat die Suid Afrikaanse demokrasie deur die kommuniste gekaap is en dus n klug is. Die meerderheid van ons mense besef dat dekolonisasie reeds verby die draaipunt beweeg het en dat regdenkende verstandige mense dus vandag sal emigreer na die lande van herkoms, indien dit hulle beskore kon wees. Indien jy n ware leier vir die Afrikaner wil wees en nie net vir jou lede nie, doen die regte dinge reg en bewerkstellig dat die lande van die Afrikaner herkoms, diegene wat wil terugkeer, sonder voorwaardes en met ope arms terug verwelkom. Wie weet met wat alles die 62%+ Afrikaners, jou en jou 17% lede in die toekoms vanuit die lande waar jy in elk geval hulp soek, mag ondersteun!

Petrus ·

Afriforum kan die lewe probeer gemaklik maak vir Afrikaners wat nie kan of wil emigreer nie. Hulle kan die nuwe generasie help om êrens in die buiteland te hervestig en te bou aan ‘n beter toekoms. Die res van ons sal maar gewoond moet raak aan die nuwe bestel.

Judge Dredd ·

Na nog 5 jaar se rampspoedige Zuma regering het die ANC/EFF gekombineerde stemme amper geensins verander, net meer na die radikale EFF geskuif.
Natuurlik kan ons ook die nie-stemmers bedank vir die twee-derde meerderheid wat hulle behaal het.

Dan kry jy mense wat hier sal kla, maar geensins help of selfs nog erger – meelopers van ANC plannetjies wees en Afriforum/Solidariteit teenstaan.

Jerry ·

Die meerderheid Afrikaners dui ondubbelsinnig aan dat hulle stadig maar seker besig is om afstand te bewerkstellig tussen Afrikaners wat mede Afrikaners wie van opinie van hulle verskil, tog te graag met n Trump mentaliteit valslik beskuldig en beledig in n poging om wanpersepsies te skep. Om te se dat Afrikaners wie van opinie met Afriforum /Solidariteit verskil, kwansuis meelopers van die ANC is, is n sprekende voorbeeld van onverdraagsaamheid en om verdeeldheid deur wanpersepsies te skep. Dit laat n vraagteken bly hang oor die ware motiewe van die burgerregte organisasies en sommige van die se lede! Dit is een van die redes hoekom slegs 17% lesers saam met Afriforum/Solidariteit in SA sal wil agterbly. Die Afrikaner is besig om agter te kom dat nie al julle motiewe as n burgerregteorganisasie suiwer is teenoor alle Afrikaners nie. Julle poog hard om die Afrikaner in n ding in te forseer en n wig in te dryf tussen diegene wie daarvoor te vinde is en nie vrae vra nie, en diegene wie nie daarvoor te vinde is nie en wie die harde vrae vra. Dit kan julle vorentoe in n doodloopstraat laat beland!

Dries du Toit ·

Jerry .Ek glo nie daar is enige mens wat meer beledigend kan wees teenoor die Afrikaner en sy geliefde organisasies as jy nie. Waar is jy op die oomblik. Ook seker nog in SA

humor ·

Ek was ook een van die onkundiges, oningeligdes, agter die klip mense wat destyds nee gestem het. Dikwels kry ons dat hierdie sg nee – stemmers die agter – die – klip- mense klippe, verwyte gooi na die sg. ja- stemmers en hul verkwalik vir die omstandighede waarin ons tans vasgevang is. Die nee- stemmergetal was destyds so 800,000. Die vraag is waar was hulle die afgelope Meimaand – verkiesing. Dit wil voorkom of hul ontaard het in niestemmers en gesorg het vir n tweederde meerderheid. Julle het die Afrikaner vasgevang in in die mees haglike toestand dus in die steek gelaat. Miskien moet ons nou ook luitkeels uitroep verraad veraad. Almal is aandadig, moet ons nie maar die verskille byle en nou saamstaan nie.

Realis ·

As dit so is dat net 17% van MM se lesers vasbeslote is om net hier aan die Suidpunt van Afrika wil bly, dan is ek en ander Vasbyters/Bittereinders deel van diegene.
Baie dankie Solidariteit, Afri Forum, Helpende Hand en al jul talle afdelings dat julle saam met ons nie net veg teen wat verkeerd is nie maar elke dag hard en positief BOU aan ‘n toekoms vir ons jeug.
Sien en hoor julle wat so kleinlik krities is dan nie al die suksesse raak nie?
Het julle al gehoor van Akademia en SolTek?

Terloops, dit is baie opvallend die oorwegend pragtige jongmense wat betrokke is by die Solidariteit/Afri Forum strukture. Dit bewys sekerlik dat daar groot persentasie van ons jeug is wat positief oor ons toekoms hier is.
Kom ons help hulle om trots te wees op wie hulle is en waar hulle is.

Asseblief kritici, raak betrokke. Julle kan help om ‘n verskil te maak.

Kobus ·

Die jeug moet voorberei word vir ‘n toekoms in die buiteland. Dis die enigste bydra wat ons moet lewer. Dit help nie ons vertel mekaar mooi stories nie.

Johanna Botha ·

Humor onthou BAIE mense is weg uit SA en die ja nee stem was deur die NP belowe om opgevolg te word met nog n ref …np het die woord gehou nie en dit het nooit gebeur nie ….nou sit SA in die sop !

Veg of Vrede, Veiligheid en Vryheid ·

Veg? Ek verkies vir my nageslag 3 ander V’s . Veiligheid. Vrede. Vryheid. In die land van hul herkoms. Bou? Maw betaal 60% in belasting aan n deurdrenkte korrupte regering en uitsluitlik vir die onderhoud van massas armes wat net aanhou ”bou” terwyl dit waaraan jy self gebou het onteien word. Betaal dan nog om onafhanklik te bou vir die Afrikaner aan Solidariteit, Afriforum ens. ens. Nee wat, sal maar eerder belasting gaan betaal in n land waar meerderheid bydrae tot ALMAL se voordeel. Die jeug van Afriforum is soos die jeug van 25 jaar gelede, vol veglus. Maar oor 25 jaar sal julle, moeg wees vir veg, kronies angstig van woon in n geweldadige land waar mens met kookwater en strykysters verbrand word en ook wonder? Was dit die regte besluit om te bly… en te veg. Dink weer mooi.

Kobus ·

Jy is reg. Mens raak moeg vir veg soos wat die jare aanstap en die hare gryser en minder word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.