AfriForum vier sy 15de verjaarsdag met 275 000 lede

Kallie Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: Rozier van Tonder/OkayDeer.)

AfriForum het vandag presies 15 jaar gelede sy eerste openbare verskyning gemaak in ’n artikel wat op 26 Maart 2006 in Rapport gepubliseer is oor die stigting van ’n nuwe Afrikaanse organisasie genaamd AfriForum. Die gesoute joernalis wyle ZB du Toit het dié geskiedkundige artikel geskryf.

Ek onthou nog dat ZB in sy voorafgesprek met my genoem het dat hy dink AfriForum sal ’n wesenlike rol kan speel as die organisasie oor 10 000 lede beskik. Dié organisasie het natuurlik met sy stigting geen lede gehad nie en het ’n personeel van slegs drie (ek, Alana Bailey en Annatjie With) en beperkte hulpbronne gehad.

 Alhoewel ons drie vasberade was om ’n suksesvolle organisasie op te bou, het AfriForum se groei en suksesse die afgelope 15 jaar al ons verwagtinge baie ver oortref. Om die waarheid te sê, ons was gefokus om ZB se teiken van 10 000 lede te behaal, maar was selfs onseker oor die haalbaarheid daarvan.

Vandag kyk AfriForum met dankbaarheid terug na die talle suksesse wat dié organisasie die afgelope 15 jaar met genade van Bo en die ondersteuning van duisende lede op internasionale, nasionale en plaaslike vlak behaal het.

Ons is ook trots daarop dat AfriForum se aktiewe ledetal pas die 275 000-kerf verbygesteek het. AfriForum beskik tans oor meer as 180 personeellede en ’n verdere 100 uitgekontrakteerde diensleweraars. Ons het 159 buurtwagte en 150 takke landwyd. Meer as 12 500 vrywilligers vorm ook die hart van AfriForum se aktiwiteite op plaaslike vlak.

Al bogenoemde suksesse is natuurlik nie die werk van enkelinge nie, maar ’n spanpoging, waarin elkeen van AfriForum se meer as 275 000 lede ’n sleutelrol gespeel het en steeds speel. Dit is ons lede wat AfriForum sterk maak. Sonder lede is AfriForum niks nie. Juis daarom wil AfriForum elkeen van ons lede uit die diepte van ons hart bedank. AfriForum se suksesse is julle suksesse. Saam is ons sterker.

Ons is ook dankbaar teenoor God vir die genade dat AfriForum tot dusver kon regkry wat menslik gesproke onmoontlik gelyk het. Ook AfriForum se direksie, personeel en plaaslike leiers se roepingsgedrewe harde werk speel ’n sleutelrol in ons sukses.
AfriForum sien uit na die volgende 15 jaar, waarin ons saam met die Solidariteit Beweging sal voortgaan om ons driebeensuksesresep aan te wend om ’n toekoms te bou waarin ons en ons nageslag blywend vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan aan die suidpunt van Afrika. Hierdie driebeensuksesresep behels die volgende: 1. Ons word gedryf deur ons roeping om ’n beter toekoms te skep (#AfriForumSkepToekoms); 2. Ons werk volgens ’n prakties uitvoerbare veg-en-bou-plan (#AfriForumVegEnBou); en 3. Ons beskik oor die uitvoerende vermoë om die plan te kan uitvoer (#AfriForumKan).

Roeping is AfriForum se “geheime wapen” aangesien die wete dat jy aan iets groters as net jouself werk, dit vir gewone mense soos ons moontlik maak om in moeilike omstandighede buitengewone suksesse te behaal. Die veg-en-bou-plan behels kortliks dat AfriForum vír geregtigheid en téén agteruitgang veg, en dat ons terselfdertyd prakties op voetsoolvlak alternatiewe werklikhede bou wat dit vir ons gemeenskap moontlik maak om met ’n groeiende mate van selfstandigheid en selfbestuur na ons eie belange om te sien. Die beste manier om agteruitgang te beveg bly immers om aktief te bou aan selfstandige instellings wat vooruitgang prakties en tasbaar moontlik maak. Indien AfriForum nie oor die uitvoerende vermoë beskik om bogenoemde plan uit te voer nie, sal ons goeie plan net ’n nuttelose oefening in kreatiewe skryfwerk wees. AfriForum se meer as 275 000 lede bring ’n groter uitvoerende vermoë teweeg as waaroor enige ander burgerregteorganisasie in die Suidelike Halfrond beskik.

Alhoewel AfriForum baie trots is op wat die afgelope 15 jaar bereik is, besef ons in nederigheid dat daar nog baie is wat gedoen moet word om vir ons en ons nageslag ’n beter toekoms te skep. Ons sien egter meer as kans om hierdie taak met ywer en deursettingsvermoë aan te pak. Ons voorgeslagte het telkens groot uitdagings oorkom en ons sal dit weer regkry. In dié verband bied AfriForum en die Solidariteit Beweging se gevorderde planne om sterk selfstandige ankergemeenskappe te help skep, waarin ons gemeenskappe hulle toekoms in hulle eie hande neem, hoop vir die toekoms. AfriForum se planne vir groeiende outonomie vir die Wes-Kaap bied ook opwindende moontlikhede.

Ons kan dus, ten spyte van die regering se wanbestuur en korrupsie, self ’n beter toekoms bou. Die Solidariteit Beweging se nuwe Sol-Tech-kampus, die graadkursusse wat Akademia aanbied, AfriForum se nuwe teater en AfriForum se 159 buurtwagte en 150 plaaslike takke se selfdoenprojekte is maar enkele van die lewende selfdoenmonumente wat bewys dat selfstandigheid nie ’n dagdroom is nie.

Dankie aan AfriForum-lede wat hierdie selfstandigheid deurlopend help uitbou en daarmee bewys dat daar hoop vir die toekoms is. Ons kan, ons wil en ons sal saam nog baie meer doen in die komende jare. Ons is dit aan ons gesinne, familie en nageslag verskuldig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anton ·

Ek is verbaas oor die min lede. Ek dink daar is baie meer ondersteuner. Kom aan, sluit aan

Groen Ghoen ·

Veels geluk! Mag Afriforum en al sy lede soos Gideon die bykans onmoontlike vermag. Op die keper beskou, is dit wat Afriforum bied, die enigste werkbare opsie vir die oorlewing van die Afrikaanse kultuur en lewenswyse.

gatgogga ·

Mense, sluit aan. Ons moet betrokke raak – ons verloor alles stap vir stap.

gpsa ·

Kan net dink waar die Afrikaners sou wees as die regering en ander partye nie teenkanting gekry het nie. Meeste van hierdie teenkanting het gekom vanaf Afriforum in my opinie.

Ons almal behoort hulle te ondersteun, dis die beste kans wat ons het op die stadium, kom mense sluit by hulle aan.

Dankie en geluk Afriforum.

Baardman ·

Ek moedig ook almal aan om aan te sluit. Dink net hoe kan hulle die fondse gebruik om ons kinders op te lei, ens.

Dries ·

Ek het nou n traan gestort van dankbaarheid vir Afriforum. Veral oor die nederigheid wat hierdie artikel uitstraal. Daarom het ek al die leiers van Afriforum en Solidariteit geskets op papier met potlood. Wens ek kon ook fisies bydra tot hulle verdere groei

quartus ·

Afriforum behoort in gesperek te tree met Adirjan van News24. Hy het gedurig aanmerkings oor Afriforum. Wat sou sy probleem wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.