AfriForum/Zoeloe-bondgenoodskap ’n teenvoeter vir isolasie

Regter Jerome Ngwenya, Kallie Kriel, koning Goodwill Zwelithini en Flip Buys. Foto: Verskaf.

Radikale elemente in die ANC, EFF en sommige media-instellings het die afgelope jare toenemend begin probeer om Afrikaners, Afrikaanssprekendes en minderhede oor die algemeen te isoleer en as sondebokke voor te hou vir alles wat skeef loop in die land. Tien jaar gelede sou dit nog die oë laat rek het om neerhalende of kwetsende uitsprake oor minderhede te maak. Vandag het dit skynbaar aanvaarde praktyk geword.

Een van die draaipunte na openlike vyandigheid was waarskynlik toe voormalige president Zuma dit openlik gestel het dat al die land se probleme begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap. Daarmee het hy Afrikaners eensklaps as ’n klomp moeilikheidmakers in Afrika gebrandmerk. Ander uitsprake soos dié van Jimmy Manyi dat daar te veel bruin mense in die Kaap is, of Malema se uitspraak dat wittes misdadigers is wat soos misdadigers behandel moet word, het daartoe bygedra dat ’n antiminderheidsentiment verder begin posvat het.

AfriForum was in die verlede en is tans weer met regsaksies besig om hierdie soort kwetsende uitsprake in die howe te beveg. Om te verhoed dat Afrikaners en ander minderhede nie deur die EFF en ANC as sondebokke geïsoleer kan word nie, is daar baie meer nodig as om bloot weerstand bied. Dit is daarom noodsaaklik dat AfriForum, die Solidariteit Beweging en ander instellings wat minderhede se belange wil dien, bondgenootskappe aanknoop en uitbou wat op wedersydse erkenning van en respek vir ander Suid-Afrikaanse kultuurgemeenskappe gebaseer is – ten spyte van verskille wat mag bestaan.

Alhoewel AfriForum onbeskaamd daaroor is dat ons tot sake toetree wat vir baie Afrikaners en Afrikaanssprekendes van belang is, het die organisasie die afgelope jare terselfdertyd bondgenootskappe op plaaslike vlak met lede van ander kultuurgemeenskappe gesmee om in sake van gemeenskaplike belang saam te werk. Hierdie benadering is tot ’n volgende vlak geneem met AfriForum en die Solidariteit Beweging se onlangs besoek aan die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini.

Anders as wat sommiges mag dink, behels die geskiedenis van kontak tussen die Zoeloes en Afrikaners veel meer as net Dingaan en Piet Retief. In die jare sedert Bloedrivier het ’n gesonde verstandhouding tussen Afrikaners en Zoeloes ontwikkel. (Gaan lees gerus meer oor die geskiedenis van Mpande, Dinuzulu, Louis Botha en Lukas Meyer.)

AfriForum en koning Zwelithini het ooreengekom om hierdie gees van samewerking te laat herleef en saam te werk in gevalle van gemeenskaplike belang. Dit sluit in kwessies soos onteiening sonder vergoeding en samewerking op plaaslike vlak. ’n Taakspan is gevorm wat uit verteenwoordigers van sowel koning Zwelithini as AfriForum bestaan om hierdie samewerking verder te voer.

Indien daar gekyk word na die heftige negatiewe reaksie op die AfriForum/Zoeloe-samewerking vanuit die linkse kringe – wat probeer om AfriForum te isoleer – is dit duidelik dat bloot die simboliese boodskap van die ontmoeting reeds van groot waarde was om pogings teen te werk om AfriForum en sy lede te isoleer. Die ANC-lojalis Melanie Verwoerd het in alle erns in haar artikel “The king and Kallie Kriel: Strange and dangerous bed fellows” (News24, 8 Augustus 2018) probeer aanvoer dat AfriForum en koning Zwelithini se potensiële samewerking teen, onder meer, onteiening sonder vergoeding “gevaarlik” is.

Verwoerd en enkele ander kampvegters van die huidige politieke establishment kom skynbaar nie agter hoe voorskriftelik en onverdraagsaam hulle teenoor enige persoon of groep geraak het wat ’n ander standpunt as hul eie huldig nie. In haar artikel verkwalik Verwoerd nie net vir AfriForum omdat ons dit durf waag om sterk standpunt in te neem teen president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat hy en sy party onteiening sonder vergoeding gaan deurvoer nie; sy wil boonop voorskryf met wie AfriForum gesonde verhoudings mag bou en met wie nie.

In teenstelling hiermee staan AfriForum vir vryheid en verdraagsaamheid. Dit voorveronderstel dat elkeen die reg het om alternatiewe standpunte te huldig, hul onderskeie kulture onbeskaamd te beoefen en bondgenootskappe met ander kultuurgemeenskappe te vorm.

Die werklike “gevaar” wat die land bedreig, is nie – soos wat Verwoerd aanvoer – AfriForum of die Zoeloe-koning se teenkanting van onteiening sonder vergoeding nie, maar eerder die feit dat die aanvaarding van die beleid van onteiening sonder vergoeding katastrofiese gevolge vir Suid-Afrika se ekonomie en gevolglik al die inwoners van die land sal inhou. Dit sal diegene wat skynbaar nie die gevaar kan insien wat die ANC se disrespek vir eiendomsreg inhou nie, baat om hulself te vergewis van die vernietigende gevolge wat sodanige beleidsrigtings elders in die wêreld ingehou het.

 Venezuela was byvoorbeeld in die 1980’s die rykste land in Sentraal-Amerika met ’n bruto binnelandse produk per kapita wat met dié van Noorweë vergelyk het. Soortgelyk as wat die ANC tans aanvoer, het Venezuela se regime destyds aangevoer dat hulle “onderbenutte” grond sonder vergoeding in besit geneem het om “voedselproduksie” te verhoog en “ekonomiese vooruitgang” te verseker. Die gevolge wat dié beleid vir Venezuela ingehou het, is vandag daar vir almal om te sien. Dié land se inflasiekoers is tans sowat 1 000 000% en 80% van Venezuela se mense leef in absolute armoede. Dit is tragies om te lees dat mense in Venezuela uit desperaatheid selfs begin het om by dieretuine in te breek om diere te steel om te eet.

Nader aan ons is Zimbabwe ook ’n voorbeeld van die vernietigende gevolge van eiendomsregskending. Die feit dat dit tot ’n 90%-werkloosheidskoers in Zimbabwe gelei het, is ’n aanduiding daarvan dat eiendomsregskending nie net besitters van eiendom benadeel nie, maar dat almal in die land benadeel word wanneer die land se ekonomie in duie stort. AfriForum glo daarom vas dat ons teenstand teen onteiening sonder vergoeding in belang van almal in die land is – miskien met die uitsondering van die enkele politici wat hulself, soos in Zimbabwe, deur die onteieningsproses sal verryk.

AfriForum is vasberade om te verhoed dat Suid-Afrika dieselfde pad as Venezuela en Zimbabwe loop en sal daarom sy veldtog teen onteiening sonder vergoeding – plaaslik en internasionaal – verder verskerp. Die organisasies sal terselfdertyd voorgaan om gesonde verhoudings en wedersydse erkenning en respek tussen kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika te bevorder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

B-man ·

Eers is ANC kwaad vir AfriForum omdat hulle bande smee in die buiteland en sê hulle moet terugkom sodat daar gesels kan word. Nou is ANC kwaad omdat AfriForum juis besig is om dít te doen!?

Jerry ·

Indien Solidariteit en die forum vanaf sy ontstaan gesonde verhoudinge en wedersydse erkenning en respek met die regering van die dag sou gehandhaaf het en saam na oplossings vir die uitdagings van SA gesoek het dan sou SA nie in n OSV en ekonomiese krisis gewees het nie en die forum en sy lede sou ook nie vandag geisoleer gewees het nie en by uitstek nie in die gemors gewees het waarby hulle hulself en mede Afrikaners by ingetrek het nie. Om nou gesonde verhoudinge binne kultuurgemeenskappe wat teen OSV gekant is te bewerkstellig is n bietjie te min en te laat. Dit dui op n forum wat uiteindelik tot die besef gekom het dat hulle geen vriende het nie, maar net vyande wat hulself agv hul standpunt en onversoenende en ondermynende inisiatiewe gemaak het en met die gevolg dat die forum se vyande hulle aanslag nie net teen die forum verskerp het nie, maar teen alle Afrikaners. In plaas daarvan dat die forum hulle trots in hulle sak steek en met die hoed in die hand gaan vrede maak met CR, maak hulle benoude spronge en gaan spartel hulle uit desperaatheid rond by die Koning so asof dit enigsins n noemenswaardige verskil gaan teweegbring aan die forum en ook nou natuurlik die Afrikaner se benarde situasie. Was dit nie daarvoor dat hierdie n baie ernstige situasie is, dan sou die benoude spronge erg lagwekkend gewees het!

Fanie ·

Jerry, AfriForum en Solidariteit het sedert hul ontstaan alles probeer om gesonde betrekkinge met die regering aan te knoop. Ongelukkig wou die ANC eerder hul rewolusie deurvoer as saamwerk.

Realis ·

Wanneer gaan iemand besef daar is groter magte as die ANC en andere aan die werk? Die land moet eers in ‘n totale kommunistiese chaos gedompel word voor daar weer orde kan kom. Ek is nie negatief nie, net realisties. Het “praat” enige plek boontoe in Afrika gewerk die laaste 50-60 jaar? Die skrif is reeds aan die muur. Bepaal julle nou hoe om die onvermybare te oorleef.

Bison ·

Goed om te sien daar is darem nog mense wat weet wat om hulle aan die gang is en ingelig is. Sterkte aan jou.

Nikita ·

Realis, ek stem nogals saam met jou. Daar is groter magte as die ANC aan die werk soos die…..Chinese. Die Chinese weet ou CR aanbid die koue kalf en so was dit maklik om lenings en beleggings met CR aan te gaan. Die Chinese eye SA al lankel. So word ons land onder ons almal uit verkoop, en die ANC gaan net voort om te speel. Wat kan ons doen, die regerende party het die hef in die hand. Wanneer hulle oe eendag oopgaan is dit dalk te laat. So al wat ons kan doen is sterk staan, bid, bid, bid en als in ons Hemelse Vader se hand los.

marco polo ·

Die Zulu koning, of enige ander koning, het geen bestaansreg in SA nie. Om bande met hom te smee, is om sy status te erken en die miljoene belastinggeld wat hy elke jaar blaas, goed te keur. Hy is nie verkies nie en ontneem Zulus van private grondbesit. Afriforum maak n groot fout.

Hendrik ·

Marco die S.A se huidige grondwet is nie in pas met S.A se demografie en so ook die wereld se beleid van sesessie en selfregering van etniese entiteite. Toe S.A se grondwet beding is, id dit beding deur twee minderheidsgroepe: die wit minderheid en die ANC wat ‘n burgerregtegroep vir die swartes was. Hulle het die swart bevolking gedwing met geweld (bande en vuurhoudjies) om hul te ondersteun. Hulle het die swart mense se steun met intimidasie gehad. Nou het etniesegroepe se oe oopgegaan, oogklappe het afgeval en nou sien hulle die geldvretende demokrasie wat net ‘n klein elite voed.

Joshua ·

Afriforum, voor julle jul oge uitvee is SA n 2de Venuzuela-hoe gouer Selfbeskikking kom met eie vrye stukkie land( Weskus?), grondwet en eie regering hoe minder die kans vir n burger oorlog. Dit klimp lagwekkend ja, maar dis moontlik.

John ·

Matashe se glo almal met grond van meer as 12000 hektaar sal die res verniet moet afstaan aan die nou glo suksesvolle bestaansboere met die meeste skynbaar in vorige tuislande, dus kan Zoeloes bv met grond in Natal ook nog grond bykry elders omdat hulle so oulik is en kan dus meer as een plaas besit…. meer van die ou-ou selfde. Moenie te gou bloedbroers raak nie… Boere se skuld by banke gaan lelik raak en die IMF gaan ook lelik raak met SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.