Afrika in Berlyn

berlyn-duitsland-02

Foto: Markus Spiske/Unsplash.com

As ’n mens tans in Berlyn, trouens in talle plekke in Europa is, voel die weer soos in Suid-Afrika in die somer: temperature is in die boonste 30’s – daar is selfs ’n nuwe rekordtemperatuur vir Juniemaand gemeet met net onder 40˚C. Dis sonskyn vir dae aaneen, sonder die gereelde onderbrekings deur donderstorms wat afkoeling bring. Die mense is lig geklee, met kortbroeke en T-hemde of somerrokke, en daarby plakkies en sandale, iets wat in Suid-Afrika bekend lyk, maar in Duitsland gewoonlik die uitsondering is. Talle mense dra bottels water met hulle saam of waai hulle koel met Spaanse waaiers.

Die humiditeit is ook redelik hoog, wat ’n amper tropiese gevoel gee. Boonop is dit vakansietyd, en vir talle is lê op ’n kombers in een van die talle parke, of ontspan en swem in een van die vele mere wat Berlyn omring, verkieslik bo ’n rit na die oorvol en boonop nóg warmer Middellandse See. Kinders gebruik die geleenthede om in fonteine af te koel, grootmense sit met bier in die hand onder sambrele in die talle straatkafees. Dalk het die weer selfs ’n invloed op die spreekwoordelike Berlynse onbeskoftheid: dit is asof almal meer ontspanne en vriendelik is.

Die hitte is ongelukkig nie net rede vir lui wees en die lewe geniet nie. Minder aangenaam is die bosbrande op talle plekke en verkeersknope as gevolg van plekke op paaie wat weens die hitte oplig. Sterftes as gevolg van hitteuitputting kom ook voor. Vir ander is die hitte die bewys van die klimaat-apokalips. Ook verlede jaar se somer was onbehoorlik warm. Ander neem dinge egter minder dramaties: “Vandag praat hulle van ʼn klimaatkatastrofe as dit ’n paar dae aaneen warm is. Vroeër het ons dit somer genoem.”

Afgesien van die weer as tydelike herinnering aan Afrika, is daar ook ’n permanente herinnering in die vorm van die Afrikabuurt in Berlyn se voorstad Wedding. Die dierehandelaar Carl Hagenbeck het oorspronklik ’n tipe temapark met diere en mense uit Afrika beplan. Dit was in die tyd toe die Duitse Ryk kolonies in Afrika gehad het en hy die verre en eksotiese plekke nader aan die gewone mense wou bring. Die planne vir die Afrikapark is deur die Eerste Wêreldoorlog, waarin Duitsland ook al sy kolonies verloor het, gefnuik. Die straatname wat klaar geregistreer was, is egter vir ’n gewone woonbuurt met woonstelblokke gebruik. Daar is ’n Ghana-, Sansibar-[sic], Kongo- en selfs ’n Transvaalstraat, en natuurlik strate en pleine wat aan voormalige Duitse kolonies of ontdekkers herinner, soos Kameruner[sic]-, Windhuker[sic]-, Lüderitz-, Peters- en Togostraat, Nachtigal-plein, ensovoorts.

Met die gees van politieke korrektheid wat in Duitsland, en veral in die linkse Berlyn sterk is, is hierdie straatname natuurlik omstrede en moet dit verander word. Pleks van Duitse kolonialiste en ontdekkers soos Adolf Lüderitz, Gustav Nachtigal en Karl Peters, moet die strate nou vernoem word na weerstandsvegters of opstande teen die blankes in Afrika: Anna Mugunda, Cornelius Frederiks, Maji-Maji. Die stadsregering het reeds so ’n besluit geneem en alternatiewe name toegeken, maar dit is nog nie in die praktyk uitgevoer nie. Die inwoners van die betrokke buurt kon kommentaar lewer, maar kon nie besluit of hulle hoegenaamd straatnaamveranderings wil hê of nie.

Die vraag is daarby: Is net die straatname omstrede van mense met bloed aan hul hande of word alles wat te doen het met kolonialisme en imperialisme uit die bewussyn gedelg? Indien “skoon hande” ’n vereiste is, geld dit dan ook vir die weerstandsvegters, wie se antikoloniale opstande dikwels met moord en vernietiging, ook teen burgerlikes, gepaard gegaan het? En as ’n mens dan vandag se maatstawwe van menseregte wil gebruik, wat van die talle strate en pleine in veral Oos-Berlyn, wat na Kommuniste vernoem is? Moet dan nie alle straatname wat nie na uitgesproke demokrate vernoem is nie, verander word nie? En beteken straatname noodwendig ’n verering, of is dit nie eerder ’n getuienis van die verlede, die goeie en die slegte?

Die selektiewe naamsverandering is oneerlik en hier word gekrap waar dit nie jeuk nie. Dit was nie die buurt se inwoners wat gekla het nie, maar linkse aktiviste wat die geskiedenis wil herskryf. Eintlik is net die kolonialis Carl Peters iemand wat nie geëer behoort te word nie, omdat hy mense mishandel en laat hang het toe hy goewerneur van Duits-Oos-Afrika was.

Die stad Berlyn het al dekades gelede ’n salomoniese oplossing daarvoor gevind: die straatnaam het bly bestaan, maar is hertoegeken aan ’n ander Peters (Hans Peters), ’n eertydse stadsraadslid met ’n skoon geskiedenis en boonop weerstandsvegter teen die Nazi’s. Vir die aktiviste is dit natuurlik nie genoeg nie, hulle wil die fokus op swart weerstand hê en ook Nachtigal en Lüderitz se name verwyder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

Beplan Orania ook nou ‘n landjie langs die Rhyn met die baie besoeke aan die die buiteland. Dit gaan skynbaar klopdisselboom met die grondjie langs onse Oranjeriviertjie. Miskien kan ons maar aanvaar dat Afrika hoeka in Europa gekuier het soos Cyril onlangs moes reis na Japan. Adelike huwelike was te wagte… altyd net met adelikes uit die hoogste esjelons en koninghuise van Afrika. Natuurlik het hulle die reg om in Europa en in Brexalia hul menseregte uit te oefen. Merkel bewe met angssweet, maar dis bloot natuurlik as jy blou oè het.

Pickering ·

A, alweer Diogenes met sy daaglikse handgebaar in die openbare domein!

piet piet ·

En as jy weer sien is Duitsland ook n ghetto pleks leer hulle oor die ripelefek van n fw de klerk wat n ondeurdagte plan op sy mense afgedwing het met liegstories om homself goed te laat lyk en nou n gesonde land dood gemaak het.

Merkur ·

Die sonskyn en hitte is inderdaad ´n genot in Berlyn.

´n Vriend van my was by die Burgerversameling vir die inwoners van Wedding om oor die straatnaamveranderinge de debateer. Die hele aand is deur skreeuende Antifa lede ontwrig en sover ek weet het nie een van die inwoners van Wedding sy opinie kon gee nie. Die burgerversameling is voortydig beëindig nadat dit onmoontlik was om ´n debat te voer. Die Antifa het glo ononderbroke soos diere geskree.

Merkur ·

Dis ´n mooi skrywe oor Berlyn. En ´n mens moet Berlyn nog geniet solank dit moontlik is. Ongelukkig is dit nog slegs ´n fasade van ´n land wat uiters totalitêr geword het. Almal wat menings in die publik lig teen massa immigrasie, leef gevaarlik. ´n Inkwisisie teen die AfD het losgebars en die AfD en sy aanhangers word beskuldig verantwoordelik vir „regse“ geweld te wees. Die Oos-Duitse Burgerregte mense wat gehelp het om met die vreedsame rewolusie van 1989 die Berlynse muur te laat val, beweer nou dat dit reeds meer totalitêr is as destyds. Al is die mense nou vry om die land te verlaat. Hulle noem dit spottend maar ernstig, die DDR 2.0 en DDR 4.0
(DDR was die akroniem vir die destydse Oos-Duitsland.)
Dis interessant om te weet dat die Duitse regering indirek maar wetend die Antifa finanseer. Die stadregering München finanseer linksekstremiste direk. Te sien in die dokumentasie-film „Der Links-Staat“ deur Christian Jung en Torsten Groß.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.