Afrika in die 21ste eeu: Probleem of geleentheid? 

groei-stad-selfoon-verstedeliking

Foto: Henry Marsh/Pexels.com

As ʼn mens deur die Afrika-afdelings van koerante blaai of klik op nuuswebwerwe, kan ʼn mens nie anders as om mismoedig te raak weens die stroom van negatiewe nuus nie. Staatsgrepe, sedisie, rebellies, hongersnood, konflik, etniese geweld, armoede, swak onderrig, vlugtelinge, godsdienstige vervolging, onderdrukking, diktature en bekookte verkiesings is net sommige van die vasteland se probleme waaroor daar feitlik elke dag berig word.

Andersyds is daar ook goeie nuus wat uit Afrika afkomstig is en dit is nie sonder meriete nie. Tanzanië se bruto binnelandse produk gaan vanjaar teen 6,6% groei en Niger sʼn teen 5,3%. Daar was ook al onlangs ʼn vreedsame oorgang van mag van een verkose president na ʼn ander in lande wat dit nog nooit voorheen beleef het nie, soos Nigerië. Die vasteland se gesamentlike groei sal vanjaar na verwagting 2,6% wees en dan versnel na 3,5% in 2018 en daarna 4% oorskry in 2019. Absolute armoede het ook oor die hele vasteland oor die laaste twee dekades gedaal. Die vasteland is gunstig geposisioneer om ʼn demografiese dividend te begin skep weens die ontsaglike bevolkingsgroei op die kontinent. Afrika is ook steeds ryk aan natuurlike hulpbronne.

Vele mense vanuit die vasteland, soos oudpres. Thabo Mbeki, en mense afkomstig van elders het al talle optimistiese verklarings oor Afrika gemaak, soos dat die 21ste eeu “Afrika se eeu sal wees”. Is hulle reg? Hoekom is hulle reg? Waarop grond hulle hul projeksies? Sonder om te negatief oor Afrika te klink (ek bly immers darem hier), kan ek nie anders as om van hulle te verskil nie. Nieteenstaande soveel potensiaal wat die vasteland bied, word dit ongelukkig verkwis en sal dit nog vir ʼn geruime tyd verkwis word. Ek wil my verstout deur aan te voer dat Afrika selfs ʼn toenemende probleem vir die wêreld gaan word in die volgende paar dekades weens die vasteland se hardnekkige probleme, yslike bevolkingsgroei en onwilligheid om self te verander.

Ek gaan derhalwe kortliks ʼn paar redes en faktore onder die loep neem vir hierdie effens swartgallige, dog realistiese, oordeel wat ek oor my tuiste uitspreek.

Demografies en polities

Afrika gaan sowat 80% van die groei van die wêreldbevolking van nou tot 2100 uitmaak. Afrika en Asië gaan gesamentlik sowat 83% van die aarde se bevolking teen die einde van die eeu uitmaak. Afrika en Asië gaan gesamentlik sowat 83% van die aarde se bevolking teen die volgende eeuwisseling uitmaak. Tans is die gemiddelde ouderdom in Mali 15, terwyl dit 45 in Duitsland is.

Kortom, Afrika sal vanweë sy bevolking nie meer in die 21ste eeu geïgnoreer kan word nie. Dit het reeds ʼn reusesegment van mense van werkende ouderdom en sal in die volgende 20 jaar honderde miljoene (en meer as enige ander kontinent) bykry.

Sulke bevolkingsgroei kan ʼn enorme bate of ʼn enorme las en gevaar word. Weens verskeie faktore glo ek dit gaan eerder ʼn toenemende probleem word en een wat algaande gaan oorspoel na die res van die wêreld en veral na Europa weens die geografiese nabyheid van die twee vastelande aan mekaar.

Verreweg die meeste van Afrika se bevolking woon in swak of totaal mislukte state wat min vooruitsigte op verbetering het. Volgens die 2017 Fragile State Index, ʼn gesaghebbende indeks wat deur Foreign Policy en Fund for Peace saamgestel word, is 14 Afrikastate onder die 20 swakste state. Daar is 21 Afrikastate onder die swakste 30. Dis ʼn disproporsionele verteenwoordiging, veral gesien in die lig daarvan dat feitlik slegs oorloggeteisterde lande soos Jemen en Sirië ook in die onderste 20 val.

Dit beteken dat baie van hierdie Afrikastate nie eens die mees basiese dienste aan hul bevolkings kan lewer nie. Hulle beleef daarbenewens groot ekonomiese probleme, hul regerings is etnies uitsluitend (groepsgebaseerd om byvoorbeeld minderhede uit te sluit) en ʼn groot aantal vlugtelinge stroom uit hulle uit. Menige se veiligheidsituasie is uiters prekêr en groot dele van hul grondgebiede is buite die staat se beheer en het in rebelle of terreurgroepe se beheer geval. Weens hul problematiese beleidsomgewings, konflik en korrupsie kan die private sektor ook nie gedy om sodoende onderwys en ander dienste aan die bevolking te lewer nie. Die bevolkings van hierdie lande is ook so arm dat hulle ook nie werklik private dienste en onderrig kan bekostig nie. Die meeste voer ʼn oorlewingstryd.

Dit is hoekom Afrikastate ook aan die onderkant van elke menslikeontwikkelingsindeks voorkom.

State soos die Demokratiese Republiek van die Kongo ly ook aan wat die “hulpbronvloek” genoem word. Die land is ryk aan diamante en ander waardevolle minerale, maar die heersers wend dit nie aan ten bate van die groeiende, maar brandarm, bevolking nie. Nes in lande soos Ekwatoriaal-Guinee (wat weer ryk is aan olie), stel die regering nie daarin belang om ʼn sterk middelklas, wat opgevoed is en vrae vra oor hul belasting en die regering verantwoordbaar hou, te vestig nie. Hulle hou doelbewus die bevolking arm en onopgevoed, maar effe tevrede deur toelaes om sodoende enige kritiek of omverwerping van hul mag af te weer. Hulle beloon ook disproporsioneel hul eie steunbasisse en skeep doelbewus “vyandige” groepe af. Dit werk nie altyd nie en kan tot groot wrewel en konflik lei – soos ons gereeld in die nuus sien.

Ewenwel, die meeste Afrikastate se politieke en etniese samestelling en politieke kultuur is nie geskik om ware vryheid en pluralisme te bevorder nie. Anders as in Europa, het Afrika se grense (wat arbitrêr deur Europese moondhede getrek is tydens kolonialisme) merkwaardig stabiel gebly sedert die vasteland gedekoloniseer het. Hierdie grense het nasies opgebreek om state te skep en vandag woon baie ongelyksoortige en selfs vyandige groepe saam in state wat eintlik nooit moes bestaan nie en nie die demografiese werklikheid in ag neem nie.

Die heersende elite-mantra lui dat die grootskaalse wysiging van grense die vasteland in ʼn menigte mikrostaatjies kan omskep en die vasteland kan fragmenteer en verswak. Dit is seker ʼn geldige argument en gesien vanuit ʼn Westerse perspektief behoort dié status quo nie problematies te wees nie, maar in Afrika het dit tot oneindige probleme bygedra. Dit het tot die uitsluiting van minderhede van deelname aan die regering (en sodoende ook die ekonomie) gelei soos wat die grootste etniese groep gewoonlik die regering gekaap en dan ten bate van hulself regeer. Etnisiteit en die vrees vir die “ander” het dus die leier geword, eerder as idees soos billikheid, vryheid en die ware politieke huisvesting van diversiteit. Dit het ook daartoe gelei dat despote en outokrate die status quo verkies omdat dit hul posisie verskans en dat hulle sodoende minderhede aan die agterspeen kan laat suig.

Die jongste Freedom of the World 2017-indeks, ʼn gesaghebbende peiling van burgerlike en politieke vryhede in die wêreld deur die Amerikaanse nieregeringsorganisasie Freedom House, dui immers die erbarmlike toestand van sulke vryhede op die vasteland aan. Die meeste van die vasteland se lande word as “onvry” geklassifiseer. ʼn Groot klomp is slegs “gedeeltelik vry” en slegs ʼn handjievol is “vry”. Trouens, slegs 12% van die vasteland se bevolking leef in vry omstandighede. In die opsomming oor Afrika suid van die Sahara lui die eerste sin soos volg: “Several major countries in sub-Saharan Africa faced critical tests in the form of elections, popular protests, or surges in political violence during 2016.” Dit was nog voor vanjaar se bekookte of uiters onvrye verkiesings in plekke soos Rwanda en Kenia. Suid-Afrika, hoewel steeds as vry beskryf, word pertinent as ʼn probleem uitgesonder.

Nadat Afrika groot treë in die 1990’s en vroeë 2000’s ten opsigte van demokratiese konsolidasie en groter vryhede gegee het, is baie daarvan nou ongedaan gemaak.

Ekonomies

Nes politieke en burgerlike vryhede, bly ekonomiese vryhede (oftewel onvryhede) ʼn reuseprobleem op die vasteland. Die helfte van die onderste 20 state op die Heritage Foundation se jongste Indeks van Ekonomiese Vryheid kom uit Afrika. Slegs Botswana en Mauritius, twee klein lande op die vasteland, is onder die top-50. Hierdie indeks meet faktore wat universeel die sleutel tot ekonomiese sukses hou, soos eiendomsreg en die algehele vryheid om sake te doen en te belê. Nog ʼn leidende indeks oor ekonomiese vryheid, uitgereik deur die Fraser Instituut, se ranglys is selfs meer droewig met 15 uit die laaste 20 state wat uit Afrika kom.

Hierdie toedrag van sake het uiteraard ʼn knellende uitwerking op werkskepping en ekonomiese groei op die vasteland. Suid-Afrika se ekonomiese probleme is self geskep deur swak (en onsekere) beleid, korrupsie in die staat en wanregering. Ditto Nigerië. Albei lande se ekonomiese groei vir 2017 is onlangs weer afwaarts aangepas deur die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en hierdie twee kolosse trek die vasteland se verwagte groei af van 4,4% tot 2,6% in 2017. Daar is hoop dat beter vooruitsigte vir olieproduksie in Nigerië en verbeterings in droogtetoestande in verskeie dele van Afrika sal help, maar dis net deel van die probleem. “Even with this uptick, growth will barely surpass the rate of population growth,” het die IMF gesê.

Die ander klaarblyklike probleem is dat die goeie groei in sommige Afrikastate nie deursyfer na die bevolking toe nie. Hulle bly dus arm te midde van sterk ekonomiese groei. Afrikastate het ook groot en groeiende skuldlaste.

ʼn Verwante probleem is dat Afrikastate nie hul ekonomieë oor die afgelope 60 jaar werklik gediversifiseer het nie. Hulle bly grootliks afhanklik van natuurlike hulpbronne en landbou en is daarom uiters kwesbaar vir prysskokke en natuurlike rampe. Afgesien van Suid-Afrika en Mauritius, het daar nie werklik ʼn middelklas met goeie vaardighede oor die kontinent wortel geskiet nie. Swak internet-skakeling en universiteite het gekeer dat die kennis-ekonomie (met navorsing en ontwikkeling as produkte daarvan) soos in die Weste en groot dele van Asië ontwikkel. Vandaar die reuse-breinkwyn van werkers met gesogte vaardighede uit Afrika. Selfs diegene sonder vaardighede is besig om in hul duisende te vlug.

Die grotes bekommer

Die mees onrusbarende aspek van hierdie tendense is dat dit die groot state in Afrika is wat aansienlike probleme ondervind terwyl sommige kleiner lande soos Botswana en Mauritius betreklik goed vaar. Meer as die helfte van die vasteland se bevolking bly in Nigerië, Suid-Afrika, Soedan, Egipte, die DRK en Ethiopië en dis ook waar baie van die toekomstige bevolkingsgroei op die vasteland vandaan gaan kom. Daar word wyd kommer uitgespreek oor Suid-Afrika en Nigerië se ekonomiese agteruitgang terwyl die DRK basies ʼn onredbare gemors is. Die verslegtende politieke en demografiese situasie in Ethiopië word pertinent in elke indeks en deur kenners beklemtoon.

Kleiner lande soos Suid-Soedan, Eritrea en die Sentraal-Afrikaanse Republiek vaar selfs slegter in alle aspekte, maar hulle is relatief gesproke nie so ʼn groot probleem nie.

Daarom gaan ver meer as die helfte van die vasteland se bevolking gebuk onder probleme wat deur hul regerings geskep is of wat hulle en hul regerings nie in staat is om te keer nie. Die kommerwekkendste aspek is dat daar in verreweg die meeste van hierdie gevalle geen vooruitsig op verbetering is nie – Suid-Afrika is weens verskeie faktore straks ʼn uitsondering.

Is dit als net slegte nuus? Kortom, nie heeltemal nie en daar sal ook bepaalde (veral ekonomiese) geleenthede ontstaan in Afrika. Die verval en verswakking van state is sekerlik slegte nuus, maar dit is ook goeie nuus vir gemeenskappe wat meer sê oor hul eie sake wil verkry. Enige groep of individu wat in hierdie eeu in Afrika wil oorleef en floreer, sal dus hierdie werklikhede in ag moet neem en hulself toenemend moet losmaak van die staat.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Sarel Strydom ·

Ek sal my losmaak van dieStaat op een voorwaarde. Hulle moet hulle los maak van my beursie. Dienste word nie gelewer nie omrede Belasting geld gebruik word vir buitesporige salarisse.

Eish ·

Voorwaar n uithalerartikel en ek kan my vereenselwig met die werklikheid wat daarin uitgestippel word insake Afrika. Die kontinent het voorwaar die potensiaal om uit te styg bo enige kontinent. Die werklikheid, egter, is dat die politieke wil asook die kapasiteit ontbreek om die proses behoorlik te bestuur. Dit is dan ook die ondergang van die kontinent.

Groot jammerte en groteske vermorsing. Iemand gaan die leemte vul op een of ander tydstip en dit begin al meer na China lyk.

John ·

Om SA se groot swart bevolking se posisie te vergelyk met die van die blanke minderheid, sonder om persentasiegewys rykdom binne elke groep te verdiskonteer nie, Dis eenvoudig gestel skone sonde. Die % ryk witmense tov van die % arm wittes kan vergelyk word en die % ryk swartes tov die arm swartes. En dan kan daar steeds nie aangeneem word wittes is ryker nie want groter verantwoordelikheid tov van aanwas kweek ook verantwoordelikheid tov versorging.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.