Afrika is plek van onbetaalbare opvoeding

Nag-ure bestaan nie uit minute nie. Hulle bestaan uit slierte tyd en geluid. Snags word afstand nie in meter of kilometer gemeet nie. Snags is geluid of ligkolle slegs ver of naby.

In hierdie nag het ʼn hond in ʼn lang sliert tyd  vér geblaf-blaf-blaf en naby kom grom.  Iemand se huissirene het afgegaan. Dit loei dikwels – soms drie keer per dag – en ons raaiskote begin by ʼn kokkerot en eindig by ʼn groot mot. ʼn Rot en sy familie is die buiteperde. Naval Hill se slange hiberneer nog. As die slang weg is, is rotjie baas; muise en rotte wei dié tyd van die jaar snoet-in-die-lug op die erwe teen die wildreservaat.

Tieners slaap deur die onrustige geluide van ʼn Suid-Afrikaanse nag. Ons nié. Wanneer dit so donker en so woelig buite die huis is, beweeg ons moeiteloos deur weke en dae en dekades. Ons sit weer in ou motors saam met dié wat lankal dood is. Ons hersien ons sekerhede en oortuigings. Ons bid, ons filosofeer en formuleer, ons drentel. Ons hang soos peinsende boere oor plaashekke en skaapkraalmure. Ons loop waar ons bedags te min kom. Ons vertoef waar ons wil.

Die graderingsagentskap Standard & Poor’s het vir die eerste keer sedert 1917 ʼn negatiewe gradering van die VSA se vermoë om staatskuld af te betaal. Oorkant die oseaan word noodvergaderings ook oor die uitkringende ekonomiese krisis in die Eurogebied gehou. Op elke vasteland bars daar pitswere oop en die geel etter is skuld, skuld en nogmaals skuld.

Snags onthou ‘n mens die woorde in ‘n 2000 jaar oue Patmosgeskrif, veral dié oor verkoopte mensesiele:

 “Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom! En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie, koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele. (Op 18: 10-16).”

Wye - en droewe? - land (Foto: Maretha Maartens)

Dalk sien hierdie generasie iets van die finale val van die groot stad Babilon. Dalk nie. Dit is ook moontlik dat Babilon na baie jare weer sal orentsteier en dat die koop en verkoop van wyn en goud en mensesiele sal hervat.

Wanneer hierdie onrustige Augustusnag verby is, wil ek egter vir my kleinkinders vertel van die wintersdag toe hulle oupagrootjie op ʼn grondpad in die Suid-Vrystaat stilgehou en ons almal in die bytende koue uit die motor laat klim het.

“Kyk,” het hy gesê, “hier is plase wat op klei gebou staan: peperduur trekkers en nuwe karre en dorsmasjiene en groot huise, alles op skuld. En hier is plase waar die boere regkom met wat hulle het, waar net die allernodigste aangekoop word, en nie op skuld nie. Wanneer die voorspoedjare verby is, kan julle terugkom. Die nageslag van die boere wat selfs in die tyd van voorspoed in eenvoud geleef het, sal nog hier wees. Die ander nié.”

Op 8 Augustus 2011 wil ek met my kleinkinders oor die ekonomiese situasie op ons planeet praat. En daarom ook oor die keuse vir eenvoud en doodgewone, eerlike harde werk. Oor mensesiele wat handelsware kan word. In Afrika is dit nog moontlik om in die smal tydgleuf tussen onskuld en blootstelling aan die moet-hê-almal-het-dit-kultuur so ʼn gesprek te kan voer. Meer doenbaar, vermoed ek, as op kontinente waar woorde soos eenvoud en vergenoegdheid net so argaïes soos draadloos en goedertierenheid op die oor val.

…………………………

Terwyl ʼn hond in die donker Afrika-nag grommend en blaffend op en af langs ʼn heiningmuur hardloop, sit ek weer saam met my sewejarige kleindogter en ons tuinman wat in die eerste week van Augustus 2011 ʼn moord gepleeg het, in die stoepkamer.

“Ek het free bail gekry,” sê hy, “oor die tronk vol is en oor ek die waarheid gepraat het. Oor die polisieman gesien het ek hardloop nie. Oor ek die mes wat ek op die huis se dak gegooi het, vir die polisieman gaan afhaal het. Hy het dit in ʼn sakkie gesit, dis ʼn kort messie met so ʼn kort lem, ek het dit tussen die messe en vurke uitgehaal. Daai ander man was in my huis, ek het hom nog nooit gesien nie. Hy het daar aangekom toe ek nog gewerk het. Die mense van die huise langs myne het hom probeer keer, maar hy het gesê my meisie moet uittrek. Niemand kon hom keer nie. Toe ek hom daar kry, het ek hom gejaag. Ek wou hom net wegjaag, ek het hom nie gesteek nie. Hy het geval, daar was bloed aan my arm, maar ek het nie geworry nie. Ek het huis toe gegaan. Toe sien ek daar is baie mense waar hy geval het.  En hulle kom sê vir my hy is weg, hy is nie meer hier nie. Ek sê: ‘Aikôna, dit kan nie wees nie.’

“’Toe kom die polisie met die karre met die blou ligte.  Ek het nie gehardloop nie; ek het saamgegaan. Die wit polisieman het vir my gesê ek kan buite loop, as ek die waarheid praat, kan ek vry uitkom. Ek moet net die waarheid praat. Daardie polisieman het Sondagmiddag na die huise om my huis gekom en vir die mense gevra wat gebeur het. Hulle het vir hom vertel, en alles was soos ek dit vir hom vertel het. Die polisieman het vir my gevra of ek die ou man van langsaan geld gegee het dat hy reg moet praat. Ek het gesê ek het mos nie geweet hy gaan weer kom nie, en ek het nie geld om mense mee te betaal nie.’”

Ons het daar in die winterson gesit, die kind, die moordenaar en ek. Ek het vir die man wat ʼn ander man doodgemaak het, gesê hoe kosbaar hy vir ons en vir sy ander werkgewer oorkant die straat is. Hoeveel mense vir hom bid. Hoe lief ons vir hom is, dat ons en almal op ons werf by hom staan. “Gaan speel in die kamer,” het ek vir die kind gesê. Sy het gehoorsaam, maar bly terugkom soos ʼn vlooi of ʼn kopluis. En dit was nie uit nuuskierigheid nie. Dit was met oë wat meeleef en omgee en onreg begin raaksien.

In Afrika het nood en leed, onreg en waarheid altyd ʼn gesig. In Afrika bereik die mens gereeld ʼn plek waar hy kan terugdeins of sy arms kan oopmaak om ʼn ander mens wat eindeloos taaier as hyself is, maar wat ware vriendskap dalk nodiger as hy het, ʼn paar oomblikke lank teen hom vas te druk. In Afrika word dié wat hier leef, die geleentheid gebied om volledig gestroop te word van waan en illusies van menswees.

Dít is dan deel van die opvoeding van ʼn kind in Afrika: die storie van Suid-Vrystaatste boere wat hulle heil nie in besittings en skuld gesien het nie. Die storie van ʼn naamlose polisieman wat ʼn geduldige pad saam met ʼn moordenaar loop, sodat reg en geregtigheid kan seëvier. Die moordstorie uit die mond van ʼn tuinman wat vir ons kleinkinders soos ʼn familielid is. Die storie van menswees in Afrika.

Hier in Afrika sluit ons ons deure, ja. Ons wonder snags waarom die honde blaf. Ons het afgestomp geraak oor loeiende alarms; ons is ons woedend oor misdaad en moord en korrupsie. Hier in Afrika hoor en sien ons kinders en kleinkinders die ondenkbare.

Maar hier kan hulle ʼn opvoeding kry waarvoor daar nie in dollars, euros of enige ander geldeenheid betaal kan word nie, die onbetaalbare opvoeding wat mense terugneem na menswees.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Maretha Maartens

Meer oor die skrywer: Maretha Maartens

Maretha Maartens is die skrywer van meer as 100 gepubliseerde boeke en meer as 1000 tydskrifartikels en koerantrubrieke. Sy wil nêrens anders as in (Suid) Afrika leef en werk nie. Haar lewensleuse is om lig en eenvoudig te leef. Haar God is die God van die Bybel.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Anoniem ·

Pragtig geskryf Maretha, dit was werklik ‘n inspirasie om te lees.

Die verwantskap tussen mens en plek word vandag dikwels afgeskraal tot iets terloops. 

Ons voorgeslagte het egter baie meer daaraan gekoppel as wat vandag toelaatbaar as polities korrek sou wees.  In daardie dae was dit gebruik om iemand te ken as so-en-so-van-daar wat selfs ‘n naam sou word soos Koos van Antwerpen.

Nader aan my grootword-dae het die Gautengers darem nog gemeen dat “Vrystaters goeie mense is.”

Ons plek vorm ons menswees, maar soos die wet van behoud van massa wat bepaal dat materie nie geskep of vernietig kan word nie, maar slegs van vorm kan verander, kan menswees slegs voortvloei uit menswees.

Elke land het sy Babilon.  So ook het elke land sy Afrika.  Maar nie alle plekke deel ewe veel aan menswees nie.

Die leer van ons kinders wentel ook om ons behoefte om ons menswees oor te dra.  Daardie menswees wat dikwels ontbreek in skoolstelsels wat kultuur- en geloofsneutraal probeer wees maar in werklikheid net daarin slaag om anti-kultuur en anti-geloof te word.

In hierdie opsig is opvoeding wat wel gekoop kan word se prys dikwels baie duurder as slegs dit wat ons beursies verlaat.

Later kan die behoefte om ons menswees vir die nageslag te behou ook weerklank vind of voortvloei in ‘n behoefte om ‘n plek te hê waar daardie menswees vertroetel word.

Gaan Afrika daardie plek vir ons bly? 

Ek weet nie. 

Ek hoop so.

louis.dup ·

Maretha ~

Terwyl jy die wye
en droewe land wys
rek ons oë groter
om só ver te reis
dat ons ook harte
sal deurkruis

Louis du Plessis

Meinhard Peters ·

Het hierdie brokkies beslis baie geniet; dankie!

Meinhard Peters ·

Het hierdie brokkies beslis baie geniet; dankie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.