Afrika is voor in die koor teen plastiek

(Argieffoto: Pixabay.com)

Daar word nog gestry of die aarde aan die verwarm is of nie, maar die wêreld is eenstemmig dat ons besig is om onsself met plastiek te vernietig.

Daar is plastiekberge in die see en op land en ‘n plastiekeiland so groot soos Brittanje dryf rond. In Indonesië moes ‘n man seebodem toe duik om ‘n plastiekbedding te skuif sodat daar vatplek vir sy seiljag se anker kon wees.

Maar die goeie nuus is dat daar darem ook teruggeveg word teen die euwel, en dat talle Afrikalande voor in die koor van positiewe stappe sing.

Teen die huidige tempo sal daar oor 30 jaar meer plastiek in gewig as visse wees. Daar is talle foto’s van dooie voëls met plastiek in hul ingewande; walvisse met hul pense vol plastiek spoel aan kuste uit; die helfte van die kameelvrektes in die Verenigde Arabiese Emirate is weens versmoring aan plastieksakke.

Daar word bereken dat die mensdom jaarliks 300 miljoen ton plastiek vervaardig en dat daar vyf biljoen (miljoen miljoen [twaalf nulle]) stukke plastiek in die oseane is. In Maart kon daar nie ooreengekom word om alle enkelgebruikplastiek uit te faseer nie – slegs om hul vervaardiging “aansienlik te verminder.”

Amerika, Kanada en Australië het geen wetgewing nie, maar die Europese Unie (EU) het besluit om 12 vorms van enkelgebruikplastiek van 2021 af te verbied.

Suid-Afrikaners gebruik agt miljard plastieksakke per jaar. Elke sak word vir gemiddeld 15 minute gebruik, maar dit kan tot 500 jaar duur voordat dit vergaan. Ons herwin maar 16% van ons verbruik.

Afrikalande tree op

Talle Afrikalande het die probleem besef en reeds begin om plastiek te verban. Baie van hulle is nie met die see verbind nie, maar die plastiek bereik natuurlik ook die see met riviere.

Tanzanië het die 34ste Afrikaland geword wat beheer oor plastieksakke volgens die Verenigde Nasies (VN) se omgewingsplan verbied. Die invoer, produksie en gebruik van plastieksakke is reeds twee jaar gelede hier verbied. Die openbare media daar berig dat ‘n boete van 1 miljard Tanzaniese sjielings (sowat $430 000 of R6 miljoen) geld vir enigeen wat dit invoer. Net die besit van ‘n sak kan jou $87 kos of jou sewe dae lank in die tronk laat sit. Die land roem op sy natuurlewe as ‘n bron van toerisme en toeriste moet hul plastiek by die grens afgee voordat hulle die land binnekom.

Kenia het ook kwaai boetes baie effektief ingestel, maar tog word plastiek nog uit Uganda die land ingesmokkel. Die land het nietemin gevind dat die omgewing sigbaar skoner is. Daar is minder windverwaaide sakke wat aan boomtakke kleef, so ook die hope plastiek wat dreinering verhinder en broeiplekke vir muskiete bied wat die draers van malaria is.

Rwanda se verbod geld al ‘n dekade lank, maar het die voordeel gehad dat daar min plastiek in die land vervaardig is en min werkgeleenthede dus in die slag gebly het. Die VN het die land se hoofstad, Kigali, aangewys as die kontinent se skoonste stad.

Ghana een van die vuilste

Hierteenoor is Ghana, met die wêreld se snelgroeiendste ekonomie, een van die vuilste lande en sukkel hy om beleggings en toeriste te lok weens die opbou van plastiekhope, ook op straathoeke en dreineringsaanlegte, wat weer tot oorstromings lei.

Marokko het ook, soos Taiwan, Nieu-Delhi, Frankryk en Montreal ‘n verbod op plastiek. In tropiese lande word proefnemings gemaak met piesang- en palmblare vir die verpakking van groente en vrugte. Daar word geëksperimenteer met, byvoorbeeld, eetgerei wat ook geëet kan word.

Globaal is daar darem al 127 lande wat een of ander vorm van plastiekwetgewing het – 34 is in Afrika en 29 in Europa, waar die Middellandse See om verskeie redes reeds visloos is. Die verbranding van plastiek is ook geen oplossing nie: Dit dra weer by tot hartsiektes, longsiektes soos asma en emfiseem en veroorsaak uitslag, naarheid, hoofpyn en beskadig die senustelsel.

Suid-Afrika is ook nie juis ‘n toonbeeld van die vermindering van slegte plastiek nie, hoewel verskeie winkelgroepe soms moedige pogings aanwend. Maar van regeringskant word daar baie min of geen bewusmakingsveldtog van stapel gestuur nie en ons “nasionale blom” is nog ‘n algemene gesig. Dis meestal weldoeners wat gereeld sakke en sakke vol plastiek en ander vullis langs die strande optel.

Let maar op as jy weer inkopies doen hoeveel nuwe plastieksakke gekoop word vir die verpakking. Waar is die oues? Hoekom hulle net een keer gebruik? En hoekom het jy nog nie materiaalsakke aangeskaf en op die lang duur bespaar nie? Hoekom moet die vyf aartappels en die vier appels in hul eie dun sakkie geweeg word – hulle pas sonder daai sakkie op die skaal en daarna in jou sak!

Plastiek is ‘n monsteragtige probleem en ons is die monsters wat die probleem geskep het en aanhou voed.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Die plastiek-probleem het al so handuit geruk dat dit baie moeilik of glad nie opgelos sal kan word nie.
As die mensdom regtig ernstig was oor ‘n oplossing sou die vervaardiging van álle plastiekprodukte, veral verpakkingsmateriaal, onmíddellik gestáák word.
Gerief word egter nie sómmer opgeoffer nie.
Die volgende besoedelingskopseer gaan die tonne en tonne en tonne ou sonpanele wees. Slegs ‘n fraksie daarvan kan herwin word, die res is ashoop toe.
Dit bekommer egter hoegenaamd nie enige opgesweepte klimaatsaktiviste nie.

Plastieksiek ·

Tjokkabote langs ons kus, is van die grootste morsjorse. Als word oorboord gegooi en spoel uit, veral plastieksakke waarin tjokka verpak word. Wanneer die tjokkaseisoen toe is, is die strande skoon.

Stanley ·

Ja, hulle kan gerus die tipe morsjorse bietjie meer omgewings bewustheid leer. Iemand moet ‘n Zibi kostuum aantrek en vir hulle verduidelik hoe om hulle vullis reg weg te maak. Ek was onlangs by die see en daar het allerhande plastiek gemors en wat nog op strand uitgespoel. Volgende keer vat ek ‘n swartsak saam om bietjie skoon te gaan maak. Dit was darem te erg gewees.

VanAfrika ·

Mens sal nooit “sommige” mense se mentaliteit verander nie, gooi sommer dit by die kar se venster uit. My kollega het n yougurt bakkie so by my kar se deur uitgegooi en ek het haar aangespreek daaroor en vir haar gesê dat in my dag was jy R100 beboet daarvoor en sy het net vir my gelag. Maar ek het die saadtjie geplant en niks word daar aan gedoen nie, doen elke dag dieselfde ding. Tensy ons regering iets drasties doen sal die tipe houding nie verander nie.

Stanley ·

Ek bly hier in die Verre Ooste danksy werk verpligtinge. Ek het onlangs in die Kaap vir my geliefdes gaan gekuier, en was baie verras om te sien hoedat daar deesdae papier strooitjies gebruik word. Hier in China gebruik mense nog steeds plastiek in oormaat. Sover as wat omgewingsbewustyd aangaan, is die Kaap (en volgens die artikel ook die res van Afrika) ver voor China.

jz ·

Mag voor in die koor wees , maar soos dit hier gaan teveel wat praat en te min wat werk . Te min opvoeding ook. Een probeer en tien ander werk dit teen.

jz ·

Mag voor in die koor wees,maar soos dit hier gaan teveel gepraat en temin wat werk daarvan maak.n regering met onderneemings wat net op papier bestaan en soms onuit- voerbaar is.te min opvoeding,een doen sy bes en tien werk dit teen. Ek was nou 3 maande in Australia mense daar werk allmal saam en glo my daar is geen plastiek probleem nie.

AJ. ·

En ons regering maak miljoene uit die verkoop van plastiek sakke en produkte. Gaan na n` winkel ,en die eerte ding wat hulle vra is of jy n` plastiek sak wil he. Dit is die rede dat papier sakke 20 – 25 jaar gelede vervang is met plastiek. Die regering het gesien ,hier gaan ons geld maak. Wie sit nou met die gemors? Die Natuur ly daar onder en die regering sal nie aanspreeklikheid aanvaar vir hulle deelname aan die gemors nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.