Afrika-lande wat hoop gee

afrika-vasteland-aardbol-kaart-kleur

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Uit Afrika kom daar altyd iets nuuts (aldus Julius Caesar), maar ons het daaraan gewoond geraak dat dit slegte nuus is, en meer van dieselfde. Die onlangse staatsgreep in Mali (en omtrent alles wat tans in Suid-Afrika gebeur) bevestig dié patroon.

Is daar ook goeie nuus uit Afrika? Wel, dis min en selde, maar dit is tog daar. Omdat daar so dikwels ontnugtering op voortydige entoesiasme gevolg het (“Ramaforie”, byvoorbeeld), kan goeie nuusstories eers na verloop van ’n redelike tyd gesien word.

Nietemin is daar enkele lande wat dit reggekry het om merkwaardig te ontwikkel en te stabiliseer. Van hulle het lang suksesverhale, soos Botswana en in ’n mate ook Rwanda, ander beweeg in die regte rigting, soos Ethiopië en Soedan, maar die uiteinde is nog onseker.

Botswana is van alle genoemde gevalle die land wat seker die rustigste en gelykmatigste ontwikkel het. Sedert onafhanklikheid in 1966, regeer die konserwatiewe Botswana Democratic Party (BDP). Die land is etnies grootliks homogeen en het dus min interne konflikte, korrupsie is laag en danksy groot diamantreserwes en ’n gesonde beesboerdery en toeristebedryf, kom ook die nodige inkomste in die staatskas. Daar is ook nooit met onteiening of ander sosialistiese idees geëksperimenteer nie. Al sy presidente – van die eerste een, Seretse Khama, tot die huidige een, Mokgweetsi Masisi wat sedert 2018 regeer – was gematigde leiers. Korrupsie is redelik laag en die media is vry.

Rwanda het ’n grootskaalse volksmoord, wat selfs vir Afrika sonder gelyke is, agter die rug. Dat die land nie in ’n permanente burgeroorlog van wraak en weerwraak verval het nie, is veral te danke aan die rebelleleier en latere president Paul Kagame van die eens onderdrukte Tutsi-minderheid. Ná die volksmoord op die Tutsi in 1994 het Kagame en sy rebellemag (later party) die Rwandan Patriotic Front (RPF) die beheer oorgeneem, orde te midde van chaos gevestig en die skuldiges agtervolg en gestraf, sonder om die hele Hutu-volk te straf. Sy suksesresep is ’n sterk en doeltreffende staat en administrasie, die totale verbod op etnisiteit en pleks daarvan klem op Rwandese patriotisme en sterk ekonomiese groei waarby almal baat. Dis ook merkwaardig hoe laag korrupsie in Rwanda is. Ongelukkig beteken dit alles egter ook dat Rwanda outokraties regeer word en die opposisie aan bande gelê word.

Ethiopië het goeie vordering gemaak sedert die omverwerping van die kommunistiese diktator Mengistu Haile Mariam in 1991. Vir amper twee dekades het die kwasi-diktator Meles Zenawi en sy staatsparty Ethiopian Peoples Revolutionary Democratic Front (EPRDF) met ’n harde hand regeer, maar in die proses belangrike hervormings deurgevoer en die land tot ’n streeksmoondheid en ekonomiese suksesverhaal (in die konteks van Afrika) uitgebou. Sy opvolger Hailemariam Desalegn en veral Abiy Ahmed wat sedert 2018 regeer, het egter die greep van die staatsparty verlig en meer vryheid toegelaat. Ahmed het ook die langdurige konflik met die buurland Eritrea vreedsaam beëindig en in sy eie land ook meer selfbeskikking en demokrasie toegelaat. Ongelukkig dreig etniese konflik weer met die Tigray-volk, wie se party uit die EPRDF weggebreek het, oftewel nie deel van die nuwe Prosperity Party (PP) van Ahmed wou word nie.

Soedan was vir lank een van die spreekwoordelike mislukte state, en boonop nog een wat terreur ondersteun en etniese en godsdienstige volksmoord pleeg. Dat die langtermyndiktator Omar al-Basjir, wat vroeg in 2019 deur massiewe betogings uit die kussing gelig is, nie net deur ʼn ander generaal uit dieselfde orde vervang is nie, maar deur ’n gesamentlike komitee – bestaande uit verteenwoordigers van die betogers en die ou magsorde – is werklik merkwaardig vir ’n land wat niks anders as militêre diktators ken nie. Tans is dinge nog vloeiend, maar ontwikkel belowend. Soedan onderhandel selfs agter die skerms met Israel en het sy dekade lande Moslem-ekstremisme laat vaar, iets wat niemand ’n jaar of twee gelede sou voorspel het nie.

By Rwanda hang tans nog alles aan die sterk leier Kagame. In die geval van Ethiopië is die ruggraat die staatsparty EPRDF, oftewel PP. As Kagame in Rwanda sterf en die staatsparty in Ethiopië uitmekaarbreek, kan die lande wel weer terugval in anargie. In Soedan is die samewerking tussen die burgerlike en militêre leiers nog broos. Botswana is seker die mees stabiele een van die suksesverhale en dit lyk nie asof iets die vrede daar kan bedreig nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oujongvrou ·

In Botswana is daar goeie afskrik wette vir wetteloosheid. As lande die kriminele dade en wetteloosheid kan beheer gaan hulle vooruit.

Vriendelike Frikkie ·

Daar is nie net wette in plek nie, maar hulle word toegepas soos dit hoort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.