Afrika-pessimisme en ’n piesangrepubliek

kenia-krotbuurt

Die Mathare-krotbuurt in Nairobi, Kenia. Foto: Wikipedia.

Dis nie moeilik om in ’n staat van Afrika-pessimisme te verval nie. Gebeure die afgelope maand in ons streek – die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) – gee ons baie stof tot nadenke. Die jongste krisis in Zimbabwe, waar die regering se bonusobligasie-geldeenheid eintlik waardeloos is, het tot meer as ’n verdubbeling van die petrolprys gelei. Die gevolg was gewelddadige betogings wat wreed deur die Mnangagwa-regime onderdruk word.

Plundery, magsbeheptheid en korrupsie

In die Kongo, oftewel die DRK – seker een van die Afrika-lande met die meeste mynbou- en landboupotensiaal – het die onlangse verkiesing wel gelei dat ’n nuwe president, Félix Tshisekedi, ingehuldig is. Dit blyk egter dat hy saamgesweer het met die vorige president, Joseph Kabila en die verkiesing se uitslag beknoei het.

Dieselfde geld vir Madagaskar, waar Andry Rajoelina die presidentsverkiesing gewen het. Sy opponent verwys egter na massiewe verkiesingsbedrog. Dan is daar onstabiliteit in ons eie binnelandse “Basotho-tuislandjie”, Lesotho en ook in Swaziland, waar koning Mswati III al vir 32 jaar soos ’n Middeleeuse koning regeer terwyl die bevolking krepeer. Terloops, Mswati het die landjie se naam een oggend in 2018 verander na eSwatini, blykbaar omdat mense dié landjie met Switserland verwar het.

Die meeste “demokrasieë” in Suidelike Afrika is eintlik maar eenpartystate wat al vir donkiejare in ’n mindere of meerdere mate deur bevrydingsbewegingpartye regeer en geplunder word. Dit sluit in Angola, Mosambiek, Namibië, Zimbabwe en Suid-Afrika. Ook in lande soos Zambië en Tanzanië, waar regeringsveranderings wel plaasvind, is die demokrasie onder druk en die magsbehepte regimes aldaar deurspek met korrupsie.

In die res van Afrika is daar eweneens dieselfde patroon: magsbeheptheid, onderdrukking van die opposisie en korrupsie – alles in die naam van demokrasie, met ’n sweempie van ʼn burgeroorlog hier en daar (Suid-Soedan, Sentraal-Afrikaanse Republiek). Westerse tipe-verkiesings het wel staatsgrepe vervang, maar is meestal net simboliese rituele omdat ingeburgerde regerings so maklik verkiesingsuitslae manipuleer.

Nie dat regeringsverandering deur verkiesings juis veel verskil maak nie; indien nuwe staatshoofde of politieke partye oorneem, verander weinig. Een stel kleptomane word vervang met ’n nuwe nomenklatoera (ryk elite), wat vinnig vergeet van hul kiesers en hulself verryk.

Ontwikkelingshulp se kruis

Dit is soms amusant om internasionale nuustydskrifte te lees, want daar is gereeld een of ander land in Afrika wat lesers hoop moet gee dat Afropessimisme oorwin kan word. Dit word voorgehou dat Afrika-lande potensiaal toon om in ekonomiese wonderwerke soos Oosterse lande te ontwikkel.

Europese skuldgevoelens weens kolonialisme en slawerny is die primêre rede hoekom Westerse state al vir dekades lank miljarde dollars spandeer aan ontwikkelingshulp vir die Afrikalande. Eers het dit gepaard gegaan met min of geen voorvereistes, maar later is besef dat politici en staatsamptenare in Afrika kleptomaniese neigings toon en dat die armes selde die vrug van al die ontwikkelingshulp smaak. Daarna het die Westerse state eerder deur ontwikkelings- en hulpagentskappe hulpverlening versprei. Dit het egter net ’n nuwe bedryf geskep.

Duisende Westerlinge stroom nou, op hul belastingbetalers se rug of met behulp van donasies, na Afrikalande om ontwikkelingshulpfondse te bestuur. In ’n groot mate is die bedryf begrond op emosie al is daar nie altyd empatie met die oorlewingstryd van die armes nie. Die meeste ontwikkelingshulp word deur administrasie en salarisse opgeslurp. ’n Soortgelyke bedryf wat sulke emosies holrug ry om befondsing en goed betaalde posisies te verseker, is die bedryf wat deur die klimaatsverandering geskep is (voorheen bloot bekend as aardverwarming).

Ontwikkelingshulp, wat natuurlik wel ’n positiewe impak het om basiese dienste aan armes te verskaf, maak alle Afrikalande in ’n mindere of meerdere mate afhanklik daarvan en daar is minder noodsaak vir selfwerksaamheid. Kortom: ontwikkelingshulp noodsaak afhanklikheid en lei tot onverantwoordbaarheid van die kleptomaniese regeerders.

’n Boek geskryf deur die Brit Martin Meredith, The State of Africa (2005), verwys na ontwikkelingshulp wat regimes help in standhou. Meredith het tóé al uitgewerk dat Westerse hulp aan Afrika reeds $300 miljard (sowat R4,2 triljoen) beloop, met bitter min om daarvoor te wys. Dit sluit nie ontwikkelingshulp van China in nie.

Die toetrede van die Chinese tot die ontwikkelingshulpsiklus, is natuurlik die twee afgelope dekades groot nuus. Die Chinese het ooreenkomste met die hele kontinent oor minerale- en olieprojekte, wat meestal die dryfveer is agter infrastruktuurprojekte of die toestaan van rentevrye lenings. Met die Chinese ekonomie wat egter nou stadig maar seker afplat en minder metale uit Afrika benodig, gaan die Chinese se entoesiasme vir nuwe lenings sekerlik ook vroeër of later kwyn – amper soos ’n Ponzi-skema wat in die volgende 10 jaar gaan platval.

Om terug te keer na die “hoop” van Westerse nuusmedia oor die lot van Afrika: die jongste uitskieter is Ethiopië. Dié land, ten spyte van ’n groeiende bevolking van meer as ’n 100 miljoen, toon sterk groei. Moet egter nie verbaas wees as verdere bevolkingsaanwas, korrupsie en magsbeheptheid dié ster ook gaan laat verskiet nie. Dieselfde geld vir Rwanda, wat merkwaardig herstel het van die burgeroorlog wat 20 jaar terug daar geheers het en vir baie mense dié model land in Afrika is. Dit blyk dat die president, Paul Kagame, wel ’n goeie leier is vir sy landjie en dit heelwat gemoderniseer het. Ongelukkig gaan dit gepaard met ’n vasklou aan politieke mag en die gebruik van onderdrukkende aksies teen die opposisie. Dit is die resep vir agteruitgang en onstabiliteit.

Ons is deel van Afrika

Lesers kan met reg wonder wat op aarde die knaende Afrika-pessimisme met ons te doen het? Ons sit dan self met ’n uiters korrupte regering. Inderwaarheid, dat Suid-Afrika nog funksioneer ten spyte van die ongelooflike wanadministrasie en diefstal van belastinggeld is eintlik ongelooflik. Suid-Afrika is een van min Afrikalande waar ons blootgestel is aan enklawes met Eerste Wêreld-standaarde. Hier en daar is daar ander Afrikalande wat ook sulke areas vestig – goed ontwikkelde woongebiede, lugversorgde kantore en winkelsentrums met restaurante en kettingwinkels propvol produkte. Suid-Afrika is nog nie naastenby so vervalle soos die Kongo (DRK), Zimbabwe en Tanzanië nie.

Nietemin is ons onteenseglik verbind aan Afrika, en miljoene hoopvolle ekonomiese vlugtelinge van Afrika stroom na Suid-Afrika. Daar is uiteraard voordele aan ons verbintenis met Afrika. Baie Suid-Afrikaners, onder meer wit mense, werk in Afrika in bedrywe soos telekommunikasie, kleinhandel, toerisme, sekuriteit, landbou en mynbou. Maatskappye soos MTN en Shoprite maak miljarde dollars in Afrika. Nie ’n nietige prestasie nie, veral aangesien Afrikalande se stelsels meestal erg korrup en administratief uitdagend is.

Vir heelwat mense bied dit ’n uitkoms weens die swart bemagtigingsvereistes in Suid-Afrika en baie gesinne se broodwinners werk in Afrikalande en keer maar slegs een of twee keer per jaar terug na Suid-Afrika om hul families te sien. Al is hierdie “trekarbeiders” minder uitgelewer aan misdaad en antiwit-rassisme as in Suid-Afrika, is daar heelwat ander slaggate wat opduik. Gaan google maar hoeveel Suid-Afrikaners in Afrikalande gereeld in die tronk beland – meestal weens een of ander saketransaksie wat skeefgeloop het. Die howe is meestal vasale van politici en hul meelopers, terwyl die normale handels- en eiendomsregte, waaraan ons nog probeer vasklou in Suid-Afrika, nie juis gewaarborg kan word nie. Gaan lees gerus oor die absurde verwonding, inhegtenisneming sonder verhoor en dood in aanhouding van André Hanekom in Mosambiek, ’n land wat hy vir 26 jaar gedien het en sy belastingbydraes gelewer het.

Die groot probleem met Afrika-pessimisme is dat Afrika ná ses dekades nog nie bewys het dat daar rede is vir optimisme nie. Natuurlik kan veral linkse liberales sekere Afrikalande of -leiers as “hoopvol” voorhou of uitbeeld. Voorbeelde is Suid-Afrika, Rwanda en nou ook Ethiopië. Die realiteit is egter dat hoop van verbygaande aard is. Lande gelei deur sogenaamde “sterk leiers” soos Kagame en Yoweri Museveni (van Uganda) verloor maar weer ná ’n ruk dié status.

Demokrasie in Afrika word op sy die beste die instandhouding van magsbalans of eenpartystate; en verandering van regerings bloot die oorname deur ’n nuwe elite wat in die Afrika-idioom nou kan “eet”. Die geprojekteerde verdubbeling van Afrika se bevolking tot 2050 beteken ook dat, net om die bestaande stelsel (deurspek met grootskaalse armoede) te onderhou, die hele kontinent se ekonomieë met meer as 3% elke jaar moet groei.

Natuurlik is daar individuele suksesverhale. Daar is baie mense in Afrika wat uit armoede ontsnap, studeer, professionele beroepe beoefen en besighede begin, of selfs net basiese dienste ontvang soos water, elektrisiteit of onderwys. Ongelukkig is daar ’n breinkwyn van sulke professionele mense, wat hul nuutgevonde vaardighede eerder in Westerse state gaan aanwend en gapings laat in hul lande van oorsprong.

Piesangrepubliek

Suid-Afrika het verander van ’n land met internasionale muishondstatus onder die vorige bedeling, na ’n land wat leiding en hoop gegee het vir Afrika. Ongelukkig het dit ook in die bestek van 25 jaar verander tot stelselmatige agteruitgang en wanbestuur.

Hoeveel keer hoor ons nie dat Suid-Afrika nou “vinnig besig is om ’n piesangrepubliek” te word nie. Suid-Afrika is egter nog nie daar nie, ten spyte van die regime se volgehoue aanslag op die Eerste Wêreld-enklawes en infrastruktuur wat deur baie jare opgebou is.

Loop Suid-Afrika die pad van Afrika-pessimisme: van hoop tot ʼn piesangrepubliek?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

B ·

Inderdaad ja. Soos jy se, ‘nog’ nie daar, maar heelwat aspekte as al piesangrig en die res gly vinnig soontoe op die skille.

Geen land in Afrika het vanself welvarend geword en teen ‘n aanvaaarbare (ekon) koers gegoei na onafhanklikheid verkry is nie, sommige het nou al 60j gehad.

Ek sien SA rondobber in ‘niemandsland’. (Ek dink ons het gewoond geraak aan die mettertydse verval, hoekom sal dit beter gaan?)

Gert ·

Baie goeie feite. Die kwessie dat sg. demokrasieë in Afrika eintlik eenpartystate is, is ‘n baie groot deel van die probleem. Dit word vererger deur die feit dat meeste Afrikalande etnies divers is, maw daar is verskeie stamme of nasies in elke land. Die grootste groep misbruik dan sy politieke mag om die ander uit te buit en te benadeel.
Vir my is gebrek aan moraliteit eintlik die kern.

Chris ·

Hierdie is die strekking van die nuus waarmee ons elke dag in die land mee te make het, dit is die realiteit, dag in en dag uit, jaar in en jaar uit. En dan die korrupsie, ons wat gedink het die Guptas het ons in die sak, lees nou van Bosasa en Watson, dan is dit ‘n wonderwerk as enige staastamtenaar daarvan ontsnap het, want erns langs die pad het dit ook daardie persoon geraak.

As ek die oggend deur die nuus gegaan het, besef ek ons kan nie die realiteit ontsnap nie, dan is dit lekker om weg te kom en sommer ‘n ent te gaan stap of die kar te vat en in die natuur te gaan ry, gaan beloer ‘n winkelsentrum.

Maar kyk net hoe gaan dit daar waar mens woon, die infrastruktuur, dienslewering deur die owerhede.

En dan die ewige betogings van die manne in rooi en geel, weekliks, dit het net nie einde nie.

Lesufi is ‘n pyn. Skewe uitsprake van regters.

‘n Nuusberig oor elders in die wêreld kikker die gemoed so effe op. Op TV gaan dit nie veel beter nie.

Die gelukkigste mense in die land is die wat nie nuus lees of kyk nie.

d ·

Lees ‘n pdf boek op die internet wat deur ‘n Professor van Nigeria geskryf is. Sy naam is Chika Onyeani en sy titel is THE CAPITALIST NIGER. Dis ‘n gratis download.

John ·

… nee veral nie piesangskille optel nie… vir die gly-effek. Afrika het verder teruggeval as waar hulle was toe ons hulle 350 gelede hier gevind het. Die bewys: Westerlinge is nou mer as 350 terug as hul eie ontwikkelingspeil van destyds. Inteendeel, daar is geleerdes wat glo dat die Donker Mideleeue weer met ons is. Dan word die moontlikheid van ‘n nuwe uitbraak van ‘n pessiekte nie uitgesluit nie. Voordat die geld van die Weste nie op is nie; nie meer oor is om na stories te gooi nie, so lank sal Afrika aanhou met sy opportunistiese skuldgevoelensspel.

Mosambieker ·

Kan ons die artikel in engels let? Nie let nie, maar kry?

Eentweedrieblufjouself ·

Dit is n bewys van hoe sterk die SA ekonomie 30 jaar terug was, dat dit ná al die korrupsie en verduistering nog nie platgeval het nie.

Anel ·

Ek glo die feit dat daar nog soveel blankes in hierdie land is keer dat ons nog nie heeltemal in ons kanon is nie.

Jerry ·

Enige persoon, ingesluit die skrywer, wat reken dat Suid Afrika nog nie n piesangrepubliek is nie, is besig om vir hulself onrealistiese verwagtinge en optimisme te skep. Staatskaping het juis die klimaat vir n piesangrepubliek geskep en laat ons nou maar met mekaar eerlik wees, staatskaping was seer sekerlik die suksesvolste NDR program tot dusver van die ANC. Die ANC elite is eweskielik almal skatryk en die res het almal armer geword. In n piesangrepubliek word die korrupte grootvisse vrygestel van vervolging, net die klein vissies gaan uitendelik tronk toe (watch this space)! Die sirkus wat homself gereeld afspeel in die parlement asook die kadernasionalisering van die staatsdiens, staatsbeheerde entiteite, munisipaliteite, universiteite, daaglikse protesoptogte, veral oor swak dienslewering en onderwys en medies wat verniet moet wees, lugbesoedeling, waterbesoedeling, werksverliese en misdaad, is in SA al so algemeen dat mense reeds gekondisioneer is op n vlak waar hulle halwe vrot piesangs met vrot piesangs probeer vergelyk wanneer hulle na Zimbabwe kyk en se ons is darem nog nie daar nie. Toegegee, daar is n paar munisipaliteite met skoon oudits wat nog tussen ons en n totale piesangrepubliek staan!

Lea ·

Ons kan net deur selfbeskikking gered word, al sal die pad daarna nie maklik wees nie.

Ja-stemmer in Oz ·

Baie mooi foto, dit is n duisend woorde werd en wys ons waar SA gaan eindig. Daai piesangskil het my so lekker vinnig laat gly!

Philip ·

Ek glo dat ons tot inkeer moet kom.Waar vind ons ,ons sterke – in onsself of in Hom wat alles laat gebeur soos dit moet gebeur ?

Kom ons hou op om te kerm en te kla en so pessimities te wees!Doen jou deel waar jy glo jy n verandering kan maak in iemand of die land se toekoms.

You want change ? Make it change !

Erwee ·

Dis moeilik om nie negatief te raak ..maar dis nie die antwoord..dis moeilik om met andersdenkendes saam te werk ..dis soos Microsoft Windows operating system wat nie met Apple operating system kan praat of verstaan nie…

Stoffel ·

Ek sien waar jy vandaan kom, vir my is baie dinge hier waar ons sit net so Grieks. Bv waarom praat die mense van SA as ‘n piesangrepubliek, waarom nie ‘n papajarepubliek nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.