Afrika-politiek: tekens van hoop, of net weer dieselfde?

kaart-van-afrika

Foto: PIRO4D/Pixabay.com

Om in Afrika optimisties te wees, is moeilik, want dit lyk asof Afrika-pessimisme gelyk is aan realisme. Elke keer wanneer daar tekens van hoop is dat die vasteland uiteindelik stabiliseer, vreedsamer en voorspoedig en demokraties raak, is daar weer gebeure wat die ou patroon van diktatorskappe, staatsgrepe, onderdrukking, korrupsie en ekonomiese verval bevestig.

Suid-Afrika is na 1994 opgehemel as die goeienuusstorie wat al die slegte nuus in Afrika oorskadu en die res van Afrika in die regte rigting druk. Intussen moet selfs die grootste Suid-Afrika-entoesias erken dinge hier verloop ook volgens die bekende patroon.

Daar is ʼn paar verwikkelinge wat in ʼn vasteland waar hoop skaars is, dalk hoop gee, sonder dat ʼn mens nou te opgewonde moet raak.

Daar is Gambië, ʼn dwergstaat in Wes-Afrika, waar die eksentrieke diktator, Yahya al-Jammeh, ʼn soort miniatuur-Gaddafi wat graag sy Moslem-vroomheid ten toon stel, terwyl teenstanders gemartel en opgesluit word, na 22 jaar aan bewind, teen alle verwagtinge in die presidentsverkiesing verloor het teen die opposisiekandidaat Adama Barrow.

Kort na die uitslag het al-Jammeh sy teenstander gelukgewens en sy uittrede aangekondig, soos in ʼn modeldemokrasie. Afrika en die wêreld was verbaas, Gambië se mense het gejuig. Ongelukkig het al-Jammeh intussen teruggeroei en aangekondig hy wil die uitslag betwis. Blykbaar het hy sy opinie oor die uitslag verander toe aangedui is hy kan onder ʼn nuwe president Barrow vir sy menseregteskendings vervolg word.

Die weermag, in die meeste Afrikastate die ruggraat van die mag, wat aanvanklik lojaliteit aan die nuutverkose president betuig het, het intussen weer geluide gemaak dat hulle by mnr. al-Jammeh sal staan. Hulle het ook die verkiesingskommissie se gebou beset. Blykbaar is te veel stemme vir mnr. Barrow gegee, maar dit verander niks aan die feit dat hy die wenner is en mnr. Jammeh die verloorder.

Die grondwetlike hof, wat mnr. al-Jammeh nou wil aanroep om die verkiesing ongeldig te laat verklaar, funksioneer nie, want die president self het sekere regters van hul poste onthef. Hy kan nie nou nuwes aanstel nie, terwyl hyself die klaer is.

Dinge lyk onseker in Gambië, maar die bevolking is nie meer bang vir mnr. al- Jammeh nie en die streeksorganisasie ECOWAS (Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikaanse State) en die Verenigde Nasies (VN) plaas druk op die verloorder om die uitslag te aanvaar en uit te tree.

Die dreigement van sanksies en selfs militêre inmenging, hang in die agtergrond. Gambië is ekonomies baie kwesbaar en sal moeilik sanksies van sy buurstate kan deurstaan. Die land word omring deur die groter buurstaat Senegal, wat deesdae in die konteks van Afrika, een van die stabieler lande is.

As Senegal sy grense sluit, is Gambië geïsoleer. Ook sy hoofinkomstebron, toerisme, is sterk afhanklik van ʼn goeie beeld na buite. Waarskynlik sal ʼn amnestie vir mnr. al-Jammeh onderhandel word, sodat hy in weelde en onbelemmerd kan aftree. Dit is onregverdig, maar is nou maar die prys wat betaal moet word om geweld en ʼn moontlike staatsgreep te verhoed.

In Ghana, ook in Wes-Afrika, was daar ook onlangs ʼn verkiesing, waar die opposisie ook gewen het, wat in Afrika nog steeds die groot uitsondering is. Mnr. Nana Akufo-Ako, van die New Patriotic Party (NPP), het met sy derde probeerslag as kandidaat die presidentsverkiesing met ʼn rapsie meer as 50% teen president John Dramani Mahama, van die National Democratic Congress (NDC), gewen.

Die twee kandidate en die partye se programme verskil nie wesenlik van mekaar nie. Ghana se politiek gaan veral oor brood-en-bottersake, soos werksgeleenthede en gratis onderwys en elke kandidaat maak groot beloftes wat dan gewoonlik nie nagekom (kan) word nie. Dit is egter bemoedigend dat daar nou al ʼn paar kere ʼn vreedsame regeringsverandering in Ghana plaasgevind het.

Suid-Afrika spog met sy kamstige model-demokrasie, maar dit sal eers die toets slaag as die ANC ʼn verkiesing verloor en dit ook aanvaar. Die feit dat die opposisie in belangrike Suid-Afrikaanse metropole kon wen en die regerende party dit nie met boelie-taktiek probeer verhoed het nie, is opsigself bemoedigend.

Angola is ʼn voorbeeld van die “ou” Afrika: ʼn president wat al vir dekades regeer, een party wat sedert onafhanklikheid aan bewind is en wat deur geweld en met  ʼn kommunistiese ideologie die mag gekry het, en sedertdien met manipulasie, omkopery en skynverkiesings aan bewind bly.

Eduardo dos Santos regeer al sedert 1979, 38 jaar, die tweede-langste van enige lewende leier in Afrika, nog langer as Robert Mugabe van Zimbabwe. In verkiesings kry sy MPLA (Volksbeweging vir die Bevryding van Angola) gewoonlik om en by 90% van die stemme, wat sterk twyfel aan die legitimiteit van die verkiesings laat.

Dos Santos se familie is in politieke en ekonomiese sleutelposisies aangestel en die land word geplunder en aan die Chinese verkwansel op ʼn manier wat Jacob Zuma soos ʼn absolute amateur laat lyk. Dos Santos het egter nou aangekondig hy gaan later in volgende jaar, kort na die volgende verkiesing, uittree.

Die aangewese opvolger is die huidige minister van verdediging, Joao Lorenco. Lorenco is lojaal aan sy party en Dos Santos en het deur die range van die MPLA beweeg en op die oog af sal niks verander nie. Nogtans is dit bemoedigend dat ʼn langtermyn-diktator vrywillig uittree en nie, soos Robert Mugabe, dink dat hy onmisbaar en onsterflik is nie.

Dos Santos gaan ʼn aftrede in weelde tegemoet en sal nog steeds die toutjies in die agtergrond trek indien nodig, maar sy uittrede maak ten minste verandering moontlik. Min is bekend oor mnr. Lorenco, maar dit het al in talle gevalle gebeur dat die handverkose opvolger van ʼn diktator sy eie styl ontwikkel en sekere hervormings aanpak, wat onder die langtermyn-diktator nie denkbaar was nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Alwyn Beetge ·

Stem saam, n Afro-pessimis is net n realis. Afrika verras selde.

SkarrelKind ·

Afrika sal nooit verander nie. Ek probeer om nie pessimisties te wees nie, maar vorige gedrag is ‘n goeie indikasie van toekomstige gedrag. Afrika wil nié vooruitgang maak nie. Dis vir my so hartseer dat so mooi kontinent so swaar kry.

John ·

Alles wat die Weste gebring het word doelbewus vernietig om die gebruiklike chaos weer tot stand te bring in die slinkse hoop dat die buiteland weer soos voorheen geld na die georkastreerde probleme sal gooi maar hul neus uit Afrika se sake sal hou. Die helpers van weleer is nou self oorspoel met armoediges. Afrika met sy parasitiese mentaliteit oorspeel sy bakhand met tragiese gevolge…

Afrikaan ·

Stem saam, om negatief teenoor Afrika te wees is om realisties te wees. Kyk net na die hele Afrika in sy geheel, moenie een land uitsonder nie, kyk hoe dit was 20 jaar gelede en hoe dit nou is .. kyk wie (despote) heers waar en waar is daar armoede en voedseltekorte, burgeroorloë, vertrapping van menseregte. AFRIKA PRAAT VIR HOMSELF, jy het nie nodig om ‘n pessimis of optimis te wees nie, gebeure in Afrika vertel jou ALLES wat jy van Afrika wil weet.

Outop ·

Afrika sal nooit kan regkom nie. Alles van waarde is deur “buitelanders” geinoveer en tot stand gebring. Die leiers beskik nie oor die vermoe om met oorspronklike planne voor die dag the kom nie.
Wys my enigiets in Afrika wat nie deur Europeers opgerig, geskep, of tot stand gebring is meer as 600 jaar gelede nie.

Pietsepan ·

Afrika sal bly soos hy is solank daar die geleentheid is om despotisme af te dwing en waar dit tot rykdom lei. Pasop ons is nie uitgesluit nie! Kyk hoe ryk het sommige by ons geword nadat ons “demokraties” geword het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.