Afrika se hart klop ook vir jóú

Theo-de-Jager

Theo de Jager tydens ‘n onderhoud. Foto: Vimeo.com

Ek is ’n AFRIKA-ner. Dis hoe ek geskape is. Ek het dit nie so gekies nie, ek het dit so gekry. Ek is uit die grond van hierdie kontinent gemaak. Ek voel die polsslag van Afrika in my bloed, dit is vasgelê in elke sel in my liggaam.

Ek kan beswaarlik volledig Afrikaner wees in Nieu-Seeland of Kanada. Met groot moeite en ontwrigting kan ek sekerlik verhuis, my gemeenskap en kultuur afsweer en besluit om nooit weer Afrikaans te praat nie, maar ek sal hoogstens dan eendag as ’n Verkanadeesde Afrikaner sterf. Aan my Afrikaner-identiteit kan ek niks doen nie. Niemand anders kan daaraan iets doen nie; dit kan my nie ontsê, afgeneem of weggewens word nie. My Afrikanerskap is net soveel deel van my soos wat my naam en van is. Ek is onveranderbaar ’n Afrikaner.

Daar is baie Afrikaners wat nie Suid-Afrikaners is nie. Namibië is propvol Afrikaners. Baie Afrikaners is Zimbabwiërs. Botswana, Mosambiek en Zambië het elk sterk en snelgroeiende Afrikaner-gemeenskappe. Net in die landbousektor is daar vandag Afrikaners wat in 42 van Afrika se 54 lande betrokke is.

Dit is te wagte. Afrika se landbou brei eksponensieel uit. Kundigheid en ervaring is in aanvraag, ja. Maar daar is veral ’n reusevraag na produsente wat sowel ’n aptyt het vir Afrika as die maag om haar risiko’s te verteer. Soos enige inheemse veeras, is Afrikaners net beter aangepas en teen plaaslike toestande gehard. Ek wil vir geen oomblik voorgee dat ons Afrika ken of verstaan nie. Ons weet dat ons haar nie verstaan nie. Maar Afrikaners verstaan Afrika en haar grille en giere beter as die Chinese, die Brasiliërs of die Russe, of enige van die ander aggressiewe beleggersgroepe wat oral op die kontinent betrokke raak. Met ’n baanrekord van 360 jaar se landbou-ervaring in Afrika het ons al ’n paar klippe in ons krop wat dit makliker maak om Afrika se unieke uitdagings te verteer!

Suid-Afrikaanse Afrikaners, en veral dié wat nog nie in Afrika gereis het nie, maak dikwels die fout om alles en almal noord van die Limpopo oor dieselfde kam te skeer, so al asof dit ’n homogene kontinent is. Ons vertolk maklik Afrika in Suid-Afrikaanse terme, en dis eenvoudig nie moontlik nie. Dit is oor die algemeen makliker vir Afrikaners om elders in Afrika tuis te voel as in post-Mandela-Suid-Afrika. Noord van die Zambezi word ons inheemse status nie bevraagteken nie. Daar is ’n merkbaar groter waardering vir ons bydrae elders.

’n Mens hoor dikwels in Franssprekende Afrika die vraag aan Suid-Afrikaners hoe hulle dit verduidelik dat daar soveel swart Franse, Duitsers en Amerikaners is, maar so min wit Afrikane? Dis juis in Wes-, Sentraal- en Noord-Afrika waar Afrikaners en Afrikaans onvoorwaardelik as inheems en eie omarm word.

Noord van die Zambezi speel rassisme nie so ’n groot rol nie. As Suid-Afrikaners soek ’n mens daarvoor; in die houding van ’n kassier of petroljoggie, in die kyk van ’n student, in die manier hoe ’n polisieman of amptenaar jou aanspreek, maar dit is nie daar nie. Afrika is ’n verrassend vriendelike plek, met oop arms vir haar eie mense waarvan ons deel is. Elders in Afrika kry ’n mens die indruk dat rassisme ’n Suid-Afrikaanse produk is wat in beperkte hoeveelhede na Zimbabwe en Namibië uitgevoer is, maar verder noord is daar maar min van.

Ek het dit intens beleef in 2014 toe ek tydens die hoogtepunt van die xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika ’n landbouvergadering by die Afrika-unie in Addis Abeba bygewoon het. Verteenwoordigers van veral Oos- en Wes-Afrika het daarop aangedring dat die krisis in die vergadering bespreek word, en dat Suid-Afrikaners hulle verskoon. Toe ek ook my goed oppak, is ek aangesê om te bly “omdat xenofobie nie op die plase voorkom nie, en Afrikaners nie daarby betrokke is nie”. My mening is pertinent gevra oor die oorsake en oplossings vir xenofobie in Suid-Afrika, en na die skakel met rassisme, armoede en diskriminasie.

Die aanvaarding van Afrikaners as “eie aan Afrika” het duidelik geblyk uit ’n 2011-besoek aan Libië op uitnodiging van wyle kol. Gaddafi. Hy het miljarde dollars belê om landbou-infrastruktuur te ontwikkel, maar die kundigheid en ervaring om dit maksimaal te benut, het eenvoudig ontbreek. Hy is deur verskeie internasionale adviseurs, donateurs en hulpagentskappe aangeraai om die Indiërs, Chinese of Hollanders te nader om met die projekte te kom help. Fundamentele Afrikanis wat hy was, het hy verseg: “Niemand van buite Afrika nie!” Vandaar die uitnodiging aan Agri-SA, en die hartlikheid waarmee ek, Charl Senekal en André Botha in Tripoli ontvang is.

By n landbousakekonferensie in Julie 2015 in Midrand het die Keniaanse landboukundige en melkentrepreneur Moses Nyabila uit die bloute sy praatjie met dié boodskap (op ’n skerm) aan Afrikaner-boere afgesluit: “You owe nobody any apologies for the past, take your place in rewriting the new narrative for Africa with pride!”

Afrikaners was nog nooit alleen in Afrika nie. Ons bestaan is van meet af aan gedefinieer deur interaksie en saamwees met “eerste nasies”, swart gemeenskappe en slawe. Daar was konflik en saamwerk, konfrontasie en gedeelde belange. Afrikaners en Afrikaans het veel meer met hierdie gemeenskappe gemeen as wat gemaklik in die openbare diskoers erken word. Ons is volgens enige terme mekaar se mense. Die politiek van die dag kan dit nie sonder meer ongedaan maak nie. Die idee van ’n Afrikaner wat nie van Afrikane hou nie, en nie in harmonie met ander inheemse Afrikane kan leef nie, is ’n weerspreking.

Ja, ons is anders. Maar ons is nie die enigste wat anders is nie! Daar is ongeveer 1 750 taalgemeenskappe in Afrika. Bitter min van hulle woon in ’n polities afgebakende gebied; inteendeel, daar is min grense wat nie taal- of kultuurgemeenskappe sny nie. Ek kan nie dink aan ’n enkele grens op die kontinent wat op ’n logiese plek loop, en nie lede van ’n kultuur- of taalgemeenskap aan albei kante het nie.

Daarom dat ek nog nooit te opgewonde oor die idee van ’n Afrikaner-Volkstaat kon wees nie. Ek het nog altyd gevoel dat ek ’n geboortereg het op elke vierkante duim van hierdie land. Maar ek besef ook dat daar ’n foutlyn deur hierdie emosioneel gedrewe argument loop, want ek voel sedert my dienspligjare dieselfde oor Namibië, en ná besoeke aan landbouers in die diep landelike dele van Afrika, besef ek ek voel so oor die hele kontinent. Op ’n manier is my sentiment juis die teenoorgestelde van ’n Volkstater s’n.

As apartheid ’n onreg aan Afrikaners gedoen het, en ons eksistensieel benadeel het, dan was dit daarin geleë dat dit ons van ons Afrika-wortels vervreem het. Dit het ons uit Afrika uitgehou, en Afrika ontsê van die bydraes wat ons kon gelewer het. Saam met die val van apartheid en die Berlynse muur, het die muur tussen Afrikaners en Afrika ook geval.

Dit maak ’n unieke venster van geleentheid vir hierdie geslag oop. As daar ooit ’n tyd was om in Afrika betrokke te raak en ’n verskil te maak, dan is dit nou. Elke Suid-Afrikaanse boer wat elders in Afrika belê het, sal vir jou sê Afrika is ryp daarvoor, en hy ook.

Maar Afrika en Afrikaners is ná lang jare van apartheid, steeds betreklik nuut vir mekaar, en voel mekaar nog uit. Dit is ’n hoogs sensitiewe tydstip in die ontwikkeling van die verhouding, wat vir meer as net die toekoms daarvan bepalend kan wees. Dit is ook bepalend vir hoe ons onsself definieer en posisioneer. Soos enige volksbeweging (soos die Voortrekkers of die Volkstaatbeweging) sal dit nooit die totale volk omvat nie, en meelopers loop nie almal op dieselfde tyd of roete nie.

My pen is egter ingeslaan. Ek gaan nie omkyk, omdraai, of omgepraat word nie. Ek is geen Euro-Afrikaner of ander soort van half-half ontuis boorling nie. My kreet is nie vir ’n ander rede of tot ’n ander doel as dié van die 17-jarige Hendrik Biebouw in 1707 nie, dis dieselfde kreet uit dieselfde frustrasie en aspirasie van iemand uit dieselfde volksbloedlyn, net 300 jaar later: “Ik ben een Afrikaander, al slaat de landdrost mijn dood, of al setten hij mij in de tronk, ik sal nog wil niet swygen!”

  • Theo de Jager is president van die Pan African Farmers Organisation (PAFO),verteenwoordigend van 61 nasionale landbou-organisasies in 49 Afrikalande.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Theo de Jager

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is Adjunkpresident van Agri-SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Reinhardt

Baie goed gestel Theo. Dit gee my hoop. Ek is ook nie bereid om hierdie kontinent te verlaat nie.

Chris

My antwoord aan jou is eenvoudig, Theo. Afrikaners ,soos jy, sal nie meer bestaan as etnies herkenbare groep teen die einde van die eeu onder die huidige omstandighede nie. As Afrikaners nie beheer oor hulle eie regering en grondgebied verkry nie, sal hulle verdwyn. Selfs al vat jy net die bevolkings aan was (of inkrimping) van Afrikaners as een statestiek is dit genoeg om my punt te staaf. Teen die normale groei van minus 40% per geslag sal Afrikaners teen 2040 net 1.62 miljoen mense wees en teen die einde van die eeu 466 duisend wees. Dit sluit nie eers… Lees meer »

Dawie

In al my omswerwinge het ek slegs in Afrika tuis gevoel. Ek is nie ‘n europeër of wat ookal nie. Ek is van Afrika.

Mike

Nog ‘n spyker in die doodskis van afrikaner selfbeskikking. Solank ons net deel van Afrika bly soos Theo de Jager dit wil hê al vergaan ons van ellende want ons kan nie almal gaan boer nie. Hy praat namens homself en ‘n paar boere maar niks van die duisende Afrikaners wat in ellende leef agv RA en BBEEE nie, hoekom nie? Hoekom hierdie skrywes op Maroela Media plaas as julle julle sogenaamde “selfregerende gemeenskapppe” wil inrig, is dit in lyn met Theo de Jager se sentiment jeens afrikaners ?

Mike

Theo de Jager skep ‘n prentjie van ‘n paradys waarin Afrikaners lewe maar ‘n paar honderd duisend leef in armoede en duisende is al uitgemoor. Dis darem lekker as jy die wereld vol kan rondreis met miljoene in jou sak want dan kom jy weg van die werklikheid en kan jy op ‘n afstand kritiseer en jou’ mening gee.