Afrika strompel steeds van een krisis na volgende

Die onlangse verkiesing in Niger is deur geweld ontwrig. Foto: Issouf Sanogo/AFP

Geweld is die taal wat Afrikane dikwels die beste verstaan. Dit is die verdrietige werklikheid wat dié kontinent in 2020 gekenmerk het en wat die nuwe jaar ingelei het toe meer as 100 onskuldige burgerlikes op 2 Januarie voor die voet deur rebelle in die suidweste van Niger doodgeskiet is.

Dié Wes-Afrikaland ervaar die afgelope paar maande hernude geweld met die onlangse verkiesing wat gedeeltelik deur rebellegroepe ontwrig is en die dodetal en geweld in veral die suidweste van die land wat bly toeneem. Niger is egter nie die enigste land in Afrika wat tans ’n groot mate van onstabiliteit ervaar nie.

Net soos Niger, dreig ’n burgeroorlog ook in die Sentraal-Afrika Republiek, Mali en Burkina Faso met die situasie in Somalië wat steeds baie onstabiel is. Duisende magte van die Afrika-unie probeer die vrede in Somalië bewaar, maar word gereeld deur Al-Shabaab aangeval. Dié terreurgroep beheer groot dele van die suide en sentrale gebiede in Somalië.

Geskille tussen verskillende stamme in Somalië kan ook die komende verkiesing ontwrig. Veral die Amerikaanse regering, maar ook ander ondersteuners van die vredesmagte in Somalië, raak ongeduldig met die land se regering se onvermoë om stabiliteit te verwesenlik.

‘n Betoging in Mogadishu, Somalië. Foto: AFP

Daar moet binnekort ’n verkiesing in Somalië plaasvind, maar groot onsekerheid heers oor of die verswakte regering in Mogadisjoe oor die vermoë beskik om ’n vrye en regverdige verkiesing in die hele land aan te bied.

Gedurende 2020 is verskeie verkiesings in Afrikalande deur geweld gekenmerk. Veral die verkiesings in die Sentraal Afrika Republiek, Burkina Faso, die Ivoorkus en Burundi is deur konflik gekenmerk, met Ghana wat die uitsondering was.

Belangrike streeks- en plaaslike verkiesings het in November verlede jaar in Namibië plaasgevind met die regerende Swapo wat dramaties veld verloor het en selfs beheer oor verskeie streeks- en plaaslike regerings aan opposisiegroepe afgestaan het. Vir die eerste keer sedert Namibië in 1990 onafhanklik van Suid-Afrika geword het, het die hoofstad Windhoek nou ’n burgemeester wat nie ’n lid van Swapo is nie. Die verkiesings in Namibië was vry en regverdig en bewys dat dié land toenemend na ’n sterk veelpartystelsel beweeg.

Later hierdie maand vind ’n algemene verkiesing in Uganda plaas. Die aanloop tot dié verkiesing was reeds gewelddadig. President Yoweri Museveni regeer Uganda reeds sedert 1986 en die onderdrukking van opposisieleiers was die afgelope paar maande ’n algemene verskynsel. Veral die jong, gewilde Bobi Wine, ’n voormalige sanger, word as ’n werklike sterk uitdager vir Museveni beskou. Wine se veldtog word egter die afgelope paar weke deur veiligheidsmagte in Uganda onderdruk en sy veiligheidswag is op 27 Desember dood toe ’n voertuig van die militêre polisie hom raakgery het.

Betogings in Lagos, Nigerië. (Foto: Babajide Olusola Sanwo-Olu/Twitter)

In Februarie moet daar ’n algemene verkiesing in Nigerië plaasvind, terwyl kiesers in Algerië, Ethiopië, Marokko, Chad, Zambië, Gambië en natuurlik Suid-Afrika (munisipale verkiesing) nog later vanjaar na die stembus moet gaan. In verskeie van hierdie Afrikalande is die kanse skraal dat vry en regverdige verkiesings sal plaasvind en is geweld selfs ’n gegewe tydens die verkiesingsveldtog.

Die veiligheidsituasie in Ethiopië en in besonder die stryd tussen die federale regering in Addis Abeba en die Tigray-streek in die noorde van die land het ernstige kommer oor die politieke stabiliteit van Ethiopië laat ontstaan. Twee jaar gelde was daar nog deur Westerse leiers na Ethiopië as ’n model van stabiliteit, groei, vrede en vooruitgang in Afrika verwys. Die kortstondige oorlog aan die einde van 2020 waardeur die federale magte beheer oor Tigray oorgeneem het, het miskien die korttermynspanning met dié streek opgelos, maar is besig om ’n langtermynuitdaging te skep met groter druk in Tigray om heeltemal van Ethiopië af te stig. Spanning tussen Ethiopië se nege etniese state kan in die toekoms tot verdere onstabiliteit in dié land lei.

In die noorde van Afrika is ’n skietstilstandooreenkoms onlangs in Libië bereik, maar die uitdaging is steeds om ’n stabiele eenheidsregering daar te stel en dié land kan weer maklik in ’n hernude burgeroorlog verval. Turkye en Rusland speel ’n groot rol om opponerende groepe in Libië te ondersteun en indien een van hierdie moondhede nie hulle sin kry nie, kan die oorlog maklik weer hervat.

Die ergste bloedvergieting in Afrika word tans deur Islamitiese terreurgroepe gedryf. Terwyl die Sahel-streek die ergste geraak word, was daar ook die afgelope tyd voortdurende aanvalle verder suid in Nigerië waar dié land se regering reeds vir ’n dekade ’n verbete stryd teen Boko Haram voer. Islamitiese terreur het ook al in verskeie ander Afrikalande kop uitgesteek met aanvalle in die noorde van Mosambiek wat in 2020 in die nuus was.

Terwyl die beeld van Afrika een van politieke onstabiliteit, geweld en konflik is, is Afrika ook steeds ’n kontinent ryk aan natuurlike hulpbronne en net so ryk aan ekonomiese potensiaal. Terwyl die Afrika-ekonomie ook in 2020 weens die pandemie gekrimp het, word sterk groei oor die volgende paar jaar verwag. Veral lande soos Ghana, Rwanda, Mauritius, Botswana en Namibië word as top beleggingsgeleenthede deur buitelandse beleggers beskou.

afrika-vasteland-aardbol-kaart-kleur

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Ten spyte van Suid-Afrika se uitdagings met korrupsie, geweld, misdaad, vrae oor eiendomsreg en swak bestuur, beklee Suid-Afrika die sewende plek uit 17 ontluikende ekonomieë op Bloomberg se lys van lande wat goeie beleggingsgeleenthede inhou. Suid-Afrika beklee die sewende plek saam met Chili en Turkye en doen heelwat beter as byvoorbeeld Brasilië wat slegs die sestiende plek behaal het.

Terwyl die Europese Unie en Brittanje die afgelope tyd moeite gedoen het om handelsooreenkomste met ’n groot deel van Afrika te sluit, is daar egter in verskeie Afrika-lande kommer oor China se groeiende invloed op die kontinent wat direk verband hou met toegang tot grondstowwe. Die VSA, Europa en Rusland probeer almal om China se invloed op die Afrika-kontinent te stuit.

Met ’n snelgroeiende bevolking, ryk grondstowwe, groot landboupotensiaal en gretige beleggers behoort Afrika die enkele kontinent met die sterkste ekonomiese groei oor die volgende dekade te wees. Politieke onstabiliteit, geweld, korrupsie en selfs oorlog kniehalter egter vordering op die kontinent, soos wat die geval sedert die einde van kolonialisme was en juis daarom is daar geldige skeptisisme in die wandelgange van internasionale organisasies, Westerse regerings en buitelandse beleggingshuise oor die mate waartoe Afrikalande in 2021 vordering gaan maak.

Afrika sal eers as kontinent sy huis in orde moet kry en daarvoor sal Afrika in 2021 ’n heelwat beter jaar as 2020 moet hê.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.