Afrika-unie: Nuwe voorsitter, nuwe geleenthede

moussa-faki-mahamat

Moussa Faki Mahamat, Tsjad se minister van buitelandse sake, is as die nuwe voorsitter van die Afrika-unie (AU) aangewys. Foto: Exchange.co.tz

Staatshoofde het hierdie week in die Ethiopiese hoofstad, Addis Abeba, byeengekom waar hulle Moussa Faki Mahamat, Tsjad se minister van buitelandse sake, as die nuwe voorsitter van die Afrika-unie (AU) aangewys het. Hy neem die voorsitterskap oor by dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Moussa Faki het ʼn paar prominente kandidate vir dié posisie uitgestof. Onder meer Amina Mohamed, Kenia se minister van buitelandse sake, Abdoulaye Bathily, ʼn diplomaat en akademikus van Senegal en Mba Mokuy, voorheen ʼn senior raadgewer vir die president van Ekwatoriaal-Guinee.

Die AU bestaan uit 54 state en ʼn tweederde meerderheid of 36 stemme is dus nodig om die voorsitterskap te verseker. Dit het Moussa Faki sewe rondes van stemming geneem om die nodige aantal stemme op hom te verenig. Die AU was veronderstel om reeds in Julie verlede jaar ʼn nuwe leier te verkies maar ná drie rondes kon nie een van die kandidate daarin slaag om die minimum 36 stemme op hom of haar te verenig nie. Meer as 50% van die ledestate het verlede jaar nie aan die tweede ronde van die verkiesing deelgeneem nie. Die stryd om ʼn opvolger te kies kan toegeskryf aan die grootskaalse verdeeldheid tussen die onderskeie streke in Afrika.

Moussa Faki het van 2003 tot 2005 gedien as die eerste minister van Tsjad. Hy was ook voorheen betrokke by die AU waar hy as die voorsitter van die ekonomiese, sosiale en kulturele raad gedien het. Hy dien sedert 2008 as Tsjad se minister van buitelandse sake. Hy het onlangs gesê dat hy droom van ʼn Afrika waar die knal van geweerskote uitgedoof word deur die klanke van kulturele liedjies en die gedruis van fabrieke. Hy het ook onderneem om die AU se reputasie vir burokrasie te takel en onnodige aanstellings van nóg amptenare te beëindig. Hy was ook aktief betrokke by die stryd teen Moslem-terreurgroepe.

Daar word dikwels gevra of die AU van enige waarde is. Anders as die Europese Unie word daar nie groot besluite oor immigrasie geneem wat bindend op alle lidlande is nie. Daar is ook nie sprake van ʼn sentrale geldeenheid soos die euro nie. Wat wel in gedagte gehou moet word, is die feit dat belangrike Afrika-kwessies daar bespreek word – die verskynsel van ekstremistiese Islam, die vasteland se verhouding met die VSA en lidlande se houding teenoor die internasionale strafhof. Verder het die AU ʼn belangrike gerol gespeel om te verseker dat Gambië se demokraties verkose president sy plek kon inneem nadat die verloorder, Yahya Jammeh, geweier het om uit tree.

Kan die AU meer doen? Ongetwyfeld. Die AU kan diktators soos Robert Mugabe van Zimbabwe uit die kussings lig en verseker dat oorlogskriminele soos Omar al-Bashir van Soedan in hegtenis geneem word. Die AU kan meer doen om ʼn dreigende etniese oorlog in Suid-Soedan te verhoed. Daar is baie meer wat die AU kan doen en ons kan net hoop dat dit vorentoe ʼn belangrike bydrae sal lewer om stabiliteit op die vasteland te bevorder.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

… en SA en die vergrype van sy glo beroemde leierskorps in die voorheen ontwikkelde gebied kan as voorbeeld voorgehou word van hoe lande nie bestuur behoort te word nie. Die dwalende massas van van die een uithoek van die groot kontinent na die ander in die soeke na ‘n beter paradys met ‘n groter oop hand en die dodelike uittogte op alles wat kan vlot, oor die die groot blou waters na die wonder-vreemde oor baie eeue heen, kan sekerlik dalk voor teebreek, net liggweg aangeroer word… vir insae van diegene wat gister gebore is…

Anton ·

…geluk met jou aanstelling mnr. Moussa Faki Mahamat…wens jou net sterkte en sukses toe…wys ons dat jy van die Afrika Kontinent n sukses wil en sal maak…sodat almal wat in hom woon die vrugte kan pluk, eet en proe wat in die Kontinent le…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.