Afrikaans allesverloren?

Die Afrikaanse taalmonument in die Paarl. Foto: Nico Strydom

Deur Connie Mulder

ʼn Taal sonder sprekers word gereduseer tot ʼn module op ʼn universiteit. Een wat studente bloot vir ekstra krediete neem omdat hulle dink dit is maklik.

Op 29 Desember 2017 het die konstitusionele hof van Suid-Afrika probeer om Afrikaans noodlottig te wond.

Suid-Afrika se grondwet waarborg burgers onderrig in die taal van hul keuse, waar dit redelik uitvoerbaar is. Wat presies redelik uitvoerbaar is was tot dusver nog onseker – die grondwet laat dit ook oop vir interpretasie.

Hierdie is so ʼn komplekse, emosiebelaaide en verreikende kwessie dat ʼn mens hier alle belanghebbendes se insae in ʼn oop verhoor moes toelaat. Artikel 29 strek immers, veel verder as Kovsies, oor die ganse openbare onderwyssektor.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het anders besluit. Sonder om enige partye aan te hoor en slegs op grond van die dokumente voor die hof het hy ʼn uitspraak gelewer.

In sy verstommende meerderheidsuitspraak stel hy in breë trekke dat taalregte in Suid-Afrika afhanklik is van die ras van die taal se sprekers. Indien onderrig in Afrikaans moontlik rasse-integrasie kan kelder, is dit volgens die uitspraak nie redelik uitvoerbaar nie.

Sensusdata toon dat Afrikaanssprekendes ongeveer 60% bruin en 40% wit is. Dit beteken dat onderrig in Afrikaans nie rasverteenwoordigend kan wees nie, en altyd in die pad van rasse-integrasie sal staan. Onderrig in Afrikaans is dus nie redelik uitvoerbaar nie.

Die netto-effek is dat Afrikaans as onderrigtaal in die openbare sfeer afgeskaf moet word.

Wat meer steurend is, is dat die hof klakkeloos die Universiteit van die Vrystaat se argumente aanvaar het dat dit die dubbelmediumtaalbeleid is wat gelei het tot rassespanning op die Bloemfontein-kampus.

Die gevolge van sulke logika is ongelooflik problematies vir Suid-Afrika in geheel. Die idee dat rassespanning in Suid-Afrika veroorsaak word deur burgers wat hulle taalregte uitoefen, baan die weg tot totale verengelsing.

Indien ons al tien inheemse tale offer op die altaar van rasse-integrasie gaan ons ná hierdie grusame taalslagting rassespanning doodeenvoudig in Engels beleef.

Die uitspraak trek finaal ʼn streep deur enige drome van wigte en teenwigte wat grondwetlike regte gaan beskerm.

Ons is op ons eie.

Afrikaans is nie bedreig nie, ons praat dan die taal!

Wat ongelooflik is, is dat midde in hierdie verdoemende uitspraak ons verskeie Afrikaanse mense het wat dit vier. Wat trots daarop is en aanvoer dat Afrikaans nie sal uitsterf nie – ons praat dit dan. Hulle  verwys na kunstefeeste en die groot getal sprekers van Afrikaans en voer dan aan dat daar geen gevaar is nie.

Dit is soos mense in die agterste wa van ʼn trein wat nie glo dat die lokomotief ontspoor het nie, want hulle wa het dan nog nie ontspoor nie.

ʼn Taal se toekoms is onherroeplik aan sy sprekers gekoppel, daar is die kommentators korrek. Ongelukkig versuim hierdie selfde kommentators dan om te gaan kyk wat veroorsaak dat ʼn taal sy sprekers verloor.

In 1904 wen Frederic Mistral die Nobelprys vir letterkunde in Oksitaans. Oksitaans was wyd gepraat in Frankryk – trouens, in 1920 was daar ongeveer 14 miljoen sprekers van Oksitaans. Vandag is daar minder as 600 000 oor en word Oksitaans volgens Unesco as kritiek bedreigd beskou.

Wat het gebeur? Wel, dit is eenvoudig – Oksitaans het sy hoër funksies verloor. Hoër funksies behels onder meer dat jy ʼn taal in die hof kan gebruik en dat jy onderrig in die taal tot op tersiêre vlak kan ontvang.

In April 2017 het Afrikaans sy status as hoftaal verloor. In Desember 2017 het Afrikaans sy status as universiteitstaal verloor. Die tyd vir naïef droom dat Afrikaans nie bedreig word nie is verby.

Waarheen nou?

Die toekoms van Afrikaans hang inderdaad van sy sprekers af. Sprekers wat moet seker maak dat die hoër funksies privaat behou word. Soos sake nou staan is daar net sterwensbegeleiding in die openbare sfeer oor, en hoewel ons moet baklei vir elke stukkie grond, moet ons dringend privaat ons taal aan ʼn ander lokomotief koppel.

Ons skuld dit nie net aan Afrikaanse kinders nie, maar aan Zoeloe, Xhosa en alle Suid-Afrikaanse kinders wat moedertaalonderrig ontneem word.

Die volgende geslagte gaan moontlik slegs by private skole en private universiteite hul reg op moedertaalonderrig kan uitoefen.

Hulle gaan dan suksesvol bó hulle tydgenote uitstyg en deur hulle voorbeeld hopelik ander taalgroepe inspireer om ook eienaarskap van hul tale en opvoeding privaat oor te neem.

Dit het ʼn groot taak en dit ís uitvoerbaar. Ons het die taal van niks af opgebou nie: Ek is seker ons kan hierdie stroomversnelling oorleef.

Soos NP Van Wyk Louw dit so onvergeetlik stel: Ons moet die skat veilig deur die skare dra. En daarvoor kort ons almal se hande.

  •  Connie Mulder is hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Eish ·

Ek is in snot en trane!
Wat n artikel!
Nugter, beredeneerd, feitelik, verstaanbaar, besielend, motiverend.
Née o genade, ek het baie moed vir Afrikaans met sulke mensemateriaal aan die roer en sien uit na die stryd!
Biedêm met die joiners! Aan die einde van die Boereoorlog was daar 17000 bittereinders en net 4000 joiners!
Besielende artikel!

Japie Venter ·

Afrikaans in Suid Afrika sal nie in n eenheidsstaat oorleef nie. FW de Klerk is verantwoordelik vir die situasie waarin die Afrikaner en sy taal is. Dat daar onderhandelinge moes wees is nie te twyfel nie maar die manier waarop daar net oorgegee is is n skande. de Klerk sal weet dat hy vir die ondergang van n volk met n geskiedenis van honderde jare in Suid Afrika verantwoordelik gaan wees. Die paar Vryheidsfront lede in die Parlement beteken niks en doen ook niks vir die Afrikaner nie. Hulle is net daar vir hulle eie belang. Dis so hartseer om met soveel mense te gesels wie se kinders vir werksdoeleindes oorsee getrek het en dan te moet hoor “hulle sal nooit weer terugkom nie”. Die Grondwet gaan die Afrikaner nie beskerm nie. Solidariteit moet in n politieke party omskep word en n groter rol begin speel in die toekoms van die Afrikaner. Die hele situasie is eintlik maar n gemors.

[email protected] ·

Geagte dr Mulder en al die kommentatore,
Betreffende ons Afrikaanssprekendes se toekoms: Waar wil ons oor 25 – 50 jaar wees? Wat wil ons bereik? Waar is die leiers? Wat is die drywers en risiko’s wat bepaal of ons sukses kan bereik? Waar is die hulpbronne? Waar is die geld NOU? Waar gaan toekomstige geldvloei vandaan kom? Wie gaan die staatskas beheer? Waar is die gedokumenteerde agiele strategiese plan?
Kyk om ons heen: ons is ‘n minderheidsgroep in ‘n see van watookal, ons raak toenemend werkloos, ons kinders verhuis oorsee, ons word ouer, ons word gekonfronteer met minderwaardigheidskomplekse, jaloesie, gierigheid, korrupsie en ‘n magstryd om die volgende Animal Farm te stig. Oorbevolking, swak bestuur en swak ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid staar ons in die oë.
Eenvoudig gestel: “Just show me the money” .
Maar, wat is die kans dat SA in die toekoms verkrummel en ons onvoorsiene geleenthede kry?

JC ·

Dankie Connie,

Akademia, die Afrikaanse Protestantse Akademie, Aros; en hopelik nog een of twee Afrikaanse privaat Onderwys instansies moet ons nou aan met alle ywer bou, werskaf en ontwikkel.

Ons het reeds in die verband reuse spronge gemaak, en meer goeie nuus is sekerlik oppad!
So jammer oor Oksitaans, laat ons daaruit leer! Die bal is in ons hande…en weet julle, dit is bevrydend!

Dankie aan Regter Froneman vir sy minderheidsuitspraak.
Afrikaans Leef !

Johan Strydom ·

Mongoeng hou duidelik nie van Afrikaans of Afrikaners nie.

Jerry ·

Ek is ook seker dat die Afrikaner hierdie stroomversnelling gaan oorleef, maar in armoede, swaarkry en onderdrukking. Dit kan verhoed word deur die jeug die wye wereld in te stuur sodat die ouergarde later kan volg. Die groot trek het reeds begin en dit is jammer dat sommiges in ontkenning daarvan steeds aan ploeter op die trant van selfbeskikking slegs in Suid-Afrika. Die wereld is die Afrikaner jeug se oester, nie net Suid-Afrika nie, veral nie met die boosheid wat nog voorle nie. Julle moet alle opsies vir die jeug dek, nie net een wat tien teen een in n doodloopstraat gaan opeindig nie. Begin lei met wysheid, nie met verknogdheid aan dit wat was.

jaco ·

om die jeug die wye wereld in te stuur is nie so eenvoudig nie: ander lande vat nie sommer mense in nie. daar is in elk geval genoeg sogenaamde “vlugtelinge” in Europa en Amerika en hulle gee klaar genoeg probleme. En kry mens wel toestemming om na n ander land te verhuis, moet die koste in gedagte gehou word. mens kan nie net soontoe vlieg en daar instap nie. daars reuse onkoste verbonde aan visums, verblyfpermitte, verkryging en betaal van blyplek, vervoer ens ens.

jaco ·

die uitspraak luid dat taalregte afhanklik is van die ras van die taal se sprekers en dat onderrig in Afrikaans moontlik rasse-integrasie kan kelder.
60% van Afrikaanssprekendes is nie wit nie maar kleurlinge.
So hierdie uitspraak verontagsaam die nie-wit velkleur van kleurlinge en die feit dat hulle ook slagoffers van apartheid was en dit bevestig wat reeds in die arbeidsmark gebeur: daar word vir kleurlinge wat werk soek gesê “sorry but you are not black enough”.
Asseblief moenie dink ek suig dit uit my duim uit nie. Ek het bewyse.
Die “bottom line” (wats die Afrikaans vir “bottom line”?) is dat taalregte, regstellende aksie, BEE ensovoorts, eintlik maar net toegepas word om die swart (“black African”) rassegroep van SA te bevoordeel. Kleurlinge en Indiërs wat ook slagoffers van apartheid was, is blykbaar nie swart genoeg nie of sogenaamde “puppets” van die wit mense.

Abraham Brits ·

Puik artikel…. Afrikaans, soos ek, soos my kinders en ek glo hulle kinders is hier om te bly. Ons kuns daarin, ons kook daarin, ons sport daarmee en ons spot daarmee. Nou meer as voor die regter se uitspraal!!

Markus Senekal ·

Connie, ter aansluiting van jou analogie van die lokomotief, die volgende: Die wyse waarop jy die tweede woord geskryf het in die titel van jou skrywe hier vandag dui op ‘n moontlike lokomotief waaraan Afrikaans gekoppel moet word – Nederlands. Die toekoms van Afrikaans lê in Nederlands en die weg baan vir Nederlandse tersiêre instellings om moontlik satelliet kampusse hier in Afrika te vestig. Tweedens lê ons heil in die hande vat met ons mede taalgenote hier wat nie Kaukasiers is nie.

JC ·

Ekke stem saam. Orania is ook ‘n groot deel van ons toekoms-ons kan dit doen en doen dit reeds!! Waarom oorsee gaan as jy in ons eie volkstaat kan woon WAT VEILIGER EN GERIEFLIKER IS, EN HOPE GEMOEDSRUS, SAMESYN EN HOOP GEE. HIERDIE MAAND WORD BEGIN MET DIE BOU VAN ‘N EIE UNIVERSITEIT OOK!!’ N BOER MAAK ‘N PLAN!

Theuns ·

Uitstekende voorstel, Markus. Universiteite in Belgie kan ook moontlik so ‘n oplossing ondersteun. Universiteite in Nederland en Belgie kan ook miskien Afrikaans aan bied op hulle kampusse vir Afrikaners wat dit kan bekostig om daar te gaan swot.

Eish ·

Hoe op aarde kry jy n besigheid met sy kliënte geskuif, of n plaas, of n professionele persoon in sy werk?

rollie ·

Hoekom sou Nederlandse universiteite Afrikaans wou bevorder? Sou nog sin gemaak het as hulle satellietkampusse daar stel om in NEDERLANDS te doseer, dan bevorder hulle mos hul eie taal.

Basson ·

Tyd vir ‘n wit Vrydag (Wit as teken van vryheid, oorwinning)

Basson ·

Wou nog bysê, en VRYdag vir simboliese vryheid, in Afrikaans bewoord!

jaco ·

ek sien FW de Klerk word hierbo geblameer vir die situasie waarin ons nou sit. Blameer asseblief saam met hom ook “voortreflike” konserwatiewe Afrikaners soos Andries Treurnicht, Ferdi Hartzenberg, Jan Hoon en Koos van der Merwe; almal van die ou Konserwatiewe Party.
Klein regse groepe het gesien hoe die wind gaan waai en begin praat van afstig in n volkstaat. dit was toe die NP regering net met hervorming begin het. Die konserwatiewe party het gese n volkstaat sal nie werk nie en het eerder verkondig dat hulle n kans het om SA se regering oor te neem en weer apartheid ten volle toe te pas.
toe onderhandelings met die ANC begin het, wou die konserwatiewe party nie daaraan deelneem nie.In 1991 is Orania as tipe “volkstaat” darem gestig. Daar was n skamele 60 mense. vandag is daar net 1200.
in 1992 het amper 1 miljoen regse witmense darem nog NEE gestem. maar daardie 1 miljoen is egter af na 425 000 vir die vryheidsfront in 1994. in 2 jaar se tyd is amper 600 000 nee-stemmers natuurlik dood of Australië toe…
en daardie 425 000 stemme is vandag 160 000 vir die VF-Plus.
So ons eie mense help ook maar lekker om ons eie graf te grawe.

Eish ·

Die situasie tans toon noemenswaardige ooreenkoms met die motivering vir die Groot Trek.
Selfs daardie tyd was groot verdeeldheid. Slegs 12000 tot 14000 het aan die Groot Trek deelgeneem wat sowat 10% van die blanke bevolking was. Selfs die Nederduits Gereformeerde kerk waartoe die meerderheid blankes behoort het, was daarteen gekant, tesame met die res van die blanke bevolking.

Soveel mense, soveel menings. Selfs tussen die trekkers was hewige meningsverskille.
” The well known reluctance of Afrikaner leaders to submit to one another’s leadership, which later so hindred sustained success in the Anglo-Boer wars, was largely to blame.”
Maak dus vrede met Afrikaner verdeeldheid, dis so eie aan ons as biltong en boerebeskuit.
Die moontlike oorsprong daarvan is belangrik weens die optrede om die verskynsel te bestry.
” Conflict amongst the Voortrekkers was a problem as the levelling effect of the trek on pre-existing class hierarchy to enforce discipline, undermined social cohesion, broke down. Instead the Trek leaders became more reliant on patriarchal family structure and military reputation to maintain control over their parties. This had a large and lasting effect on Afrikaans culture and society.”

Ek dink wat ons moet raaksien, is dat veskillende omstandighede, verskillende leiers verg wat meer opgewasse is vir die situasie en tydsgleuf se eiesoortige eise.
Byvoorbeeld, PW Botha as minister van verdediging was n nul op n kontrak in die veld in n oorlogsituasie teenoor n Magnus Malan.
Ons huidige leiers is NIE te vind in die politiek nie!

jcwf ·

Wil jy terugveg?

Help ons om ‘n Afrikaanse wikipedia en ‘n Afrikaanse wikiwoordeboek te skep pleks van om net te kla.

Ou Ystervark ·

Pragtig jcwf!
Ou Ystervark is oortuig die Afrikaanssprekendes gaan in hul miljoene die rekenaarsleutelborde onverwyld nader skuif en hul Afrikaanse bydraes onverwyld aan Wikipedia stuur.

Jerry ·

Jaco, niks is onmoontlik nie en gĺo my veral nie vir die Afrikaanse jeug nie. Met 200, 000 lede se geld kan Afri-Forum dit beslis moontlik maak. Eerder dit as om die geld te verkwis op Grace Mugabe. Hoe meer prominente Afrikaners ons in die buiteland het wat daardie regerings kan oortuig om die ANC op alle terreine te blok, hoe sterker gaan die Afrikaner se saak in Suid-Afrika word. Komaan manne dink n bietjie buite die boks. Net dalk begin julle n groter prentjie raaksien. Ek is in elk geval daarvan oortuig dat Afri-Forum na al die kommentare stadig maar seker besig is om na meer opsies te kyk.

John ·

?..kom ons dink aan ‘n paar prominente name en dan dink ons aan wat hulle gaan se… en dis hier waar die knoop le. Ons kies altyd mense wat eerder hul eie ek wil vertoon en dan veral hul eie intelligensie-peil openbaar deur telkens die som op dieselfde manier te maak en weer by dieselfde antwoord op te eindig, maar dan nie kan verstaan waarom die buiteland nie tot ander insigte kom nie. Die antwoord le nie binne of buite dieselfde ou boks nie… ontwerp ‘n nuwe boks asseblief tog!

Basson ·

Jammer, die buiteland, VN, ens ens steur hulle nie aan die tipe goed. Weet jy hoe gaan dit in Sirië, Iran, Swede, ens ens?
Inteendeel vryf die Geldmag geweetenloos hulle hande in afwagting. Het jy vergeet wie het die Ango Boere oorlog aangehits?
Nee wat, kyk in die spieël, dis wie jou heil gaan bewerkstellig.

Gerhard ·

Die idee is nie dat die VN of buiteland jou oorlog vir jou moet veg nie. Dit is verregaande. Die idee is dat die huidge situasie waar die ANC as onaantasbare helde gesien word verander en die buiteland tenminste neutraal is, eerder as om die vyand te help.

Oom Kosie ·

Die skepping van n eie Afrikàanse Universiteit gaan in 2018 verhaas word. EFF en kie gaan alles verwoes. Die reenboog nasie is n nagmerie.

Marthinus Willemse ·

Ek bly in die suide van Johannesburg. Julle weet, die plek van Tjokkie en sy mense in P.G. du Plessis se “Siener in die suburbs”. Na publikasie is PG afgeransel, dat daar nie “sulke mense is nie”, en dat dit nie die Afrikaner is nie.

Ons bly nog steeds hier, en praat nog steeds Afrikaans. Ons is nie ryk nie, “arm” is meer beskrywend, maar ons skraap ons pennies bymekaar en betaal vir tuisonderrig. (Deur Impaq) Ons kinders word nie deur Solidariteit of wie ookal finansieel gehelp nie. Die N.G. Kerk Townsview hou Sondae 09:00 diens in Afrikaans, dan, van 11:00 to 12:00 is daar `n bruin kerk in Engels, en van 13:00 tot 14:00 `n swart kerk, wat almal die NG kerkgebou huur. (So verdien ons geld om die kerk in stand te hou.) Toe Laerskool W.H. Coetzer, 200 m van my huis af, verengels, was daar doodse stilte. (Ons het elke jaar met oom Harry se verjaardag vir hom konsert gehou.) Toe Fakkel Hoërskool, waar PG “Siener” geskryf het verengels, was daar weereens stilte.

Dit is dus nie net private skole en private universiteite wat moedertaalonderrig bied nie, dr Mulder, ons lotjie hier doen dit al vir jare – maar op ons eie stil manier. (Ek is 55 en was nog nooit in Kaapstad, of oorsee, nie, of met vakansie die afgelope nege jaar nie, want dis belangriker dat elke rand en sent aangewend word vir opvoeding.)

Eish ·

My mense dié.
Sout van die aarde mense, doen die ding op eie stoom sonder om gedruk, getrek of gestoot te word. Sonder pretensie en die trots wat bates in oorvloed en n dik tjekboek bring.
Die mens wat jy aan jou sy soek as die koeëls om jou fluit!

Therese van Schalkwyk ·

Puik stuk deur Connie Mulder.

Wat egter intens frustreer aan die hele ondergang-sage van Afrikaans op akademiese gebied is die feit dat die post1994 ‘Uitreik- en Versoeningsbeleid’, wat deur alle Afrikaanse taal- en kultuurverenigings teenoor ander groepe gevolg is, so fabelagtig misluk het.
Gereelde vermanings is aangehef dat Afrikaans nie té geesdriftig beskerm moet word nie!

Hierdie ‘verskoon-dat-ons-leef’-houding was m.i. nie net oordrewe nie maar ook kortsigtig, want dit het bloot die foutiewe persepsie verstewig dat Afrikaans as taal verantwoordelik was vir die onderdrukking van die verlede. Enkele skeptiese kritici van hierdie dwase beleid is as rassisties en hunkerend na die verlede beskryf.

Toekomsplanne vir Afrikaans moet afsien van kruiperige verskonings.

NWU ·

Ek verstaan alle interne kommunikasie by die NWU is reeds in (net) Engels, en wee die een wie Afrikaans nog bietjie aanmoedig?
Tik Tok Tik Tok

LR ·

Is hierdie uitspraak nie ‘n strategiese skuif om ons solank voor te berei vir die moontlike skokke wat gaan kom oor uitsprake wat grondbesit, veral plaasgrond betref nie? Ek hoop van harte my toekomsvisie in hierdie verband is verkeerd.

Gerhard ·

Ons almal weet tog wat kom. Die mense gaan nie stop voor hulle gedoen het wat hulle belowe nie. Ons weet dit tog. Grondoneiening is ‘n gegewe.

Dirk Coetzee ·

Die konstitusionele hof het klaaglik misluk, net soos die ANC-regering die afgelope meer as 20 jaar, om vertroue in te boesem. Die doodsklok vir Afrikaner-lojaliteit teenoor die Suid-Afrikaanse bestel het helder gebeier. Daar sal laergetrek moet word vir wat werklik vir ons kosbaar is.

Gerad ·

Dit gaan oor mentaliteit. Aan die einde van die anglo-boereoorlog kon die bittereindes hulle nie voorstel dat 20% van hulle gemeenskap tot die vlak van verraaiers kon daal nie. Die verraaiers kon nie verstaan hoekom dit verkeerd is om hulle gemeenskap te verraai ter wille van die voordeel wat die vyand hulle kon bied nie.

Maar jy kry meme naas gene: “A meme is a cultural item that is transmitted by repetition and replication in a manner analogous to the biological transmission of genes” (google). Hoe die verraaiers dit ookal rasionaliseer het die haatlikheid van hulle daad in hulle onderbewussyn vasgekleef en daarom met meme oorgeplant na hulle nageslag. Net soos bekende seksafwykings in die gemeenskap.

Indien die bittereindes sou wen sou die enigste uitweg wees om die verraaiers te fisiliteer om negatiewe meme te voorkom. Nou sit ons steeds met die verraaiers, maar netjies verdoesel in ‘n internasionale geheime organisasie wat vir daardie doel geskep is. Hierdie deel van die gemeenskap is onsigbaar om ons en tussen ons. Hulle is steeds besig met subtiele verraad ter vergoeding met die beste senior poste en besigheids geleenthede.

Die naïewes besef dit nie: Sou hulle môre ‘n effektiewe selfverdedigings organisasie begin is dit oormôre geïnfiltreer en buite aksie gestel deur die “Afrikaners se tipiese tweespalk”. Hoe meer ons veg vir Afrikaans hoe meer geleenthede skep ons vir die verskuilde verraaiers! Naïewiteit deug nie.

Theuns ·

Ek stem saam, Dirk. Die skroefies word so stadig maar seker vasgedraai en wanneer ons weer ons oe uitvee kan ons nie links or regs of vorentoe of agtertoe beweeg nie, want ons het nie vroeg genoeg laer getrek nie.

Afrikaans is net die eerste ding wat veronsderstel is om te val (geval het?).

Tom ·

‘n Mens wonder hoekom daar soveel verbasing oor die uitspraak is. Strategies moes Akademia reeds teen die tyd ingenieurs en mediese rigtings in plek gehad het. Met harde werk kan die agterstand wel oorkom word.

Die les te leer is dat grondhervorming aan die kom is, en nog geen werkbare strategie in plek is nie. Almal gaan in verbasing uitroep oor die hof se onvermoë om grondbesit te beskerm terwyl ons nou reeds weet dit kom.

Veel meer belangrik as bespiegelings oor hoekom dit gebeur en hoe onregverdig dit is, is beplanning hoe om die kommunistiese aanslag te oorleef. Ter wille van ons kinders en hul kinders. Nie almal is in die posisie om oorsee geholpe te raak nie.

Janneman ·

Trek Laer onmiddelik: Beskerm alles was Afrikaans en Afrikaner kultuur is in woord en daad.
Konsentreer: besluit waar en begin dit doen.
Stem vir ‘n Afrikaner party.
Elke Afrikaner moet die leier binne hom en haarself vind en dit begin uitleef. Almal van ons het dit in ons, dit is net dormant. Ek onthou baie goed hoe ons in die verlede onder mekaar ons leierenskappe uitgeleef het in ons gemeenskap en hoe ons ons waardes onderhou het en mekaar op die regte pad gehou het.
Soveel as moontlik Afrikaners moet betrokke raak by die ondersteuning van Afrikaans aanlyn. Raak betrokke by internationale gesprekke en stel ons punt.

Al die geklaery moet vandag end kry. Waar gaan ons in twee jaar wees? Waar gaan ons in vyf jaar wees? Waar sien ons ons self in twintig jaar?

Ou Ystervark ·

Haal uit en wys die GANTT-kaart met Afrikaner-toekoms as uitkoms anders hardloop al die Afrikaners soos bloederige afkop hoenders kruis-oor-dwars rond en oor mekaar na nêrens.
“Show me the money!”
“Show me the documented Gantt-chart to achieve Afrikaner self rule!”: die WIE, WAT, WANNEER, HOE, BRONNE en WAARHEEN (einddoel) anders praat en skrywe ons sommer niksseggende politieke wolhaarstories – nikswerd galbrake.
Ons as Afrikaners kan by die Israelies gaan leer van volkstoekomsbeplanning.

Jerry ·

Hierdie taal fiasko is nog n sprekende voorbeeld dat Afri-Forum die Afrikaner se belange meer skade aan doen as wat hulle dit bevorder. Die manne aan die stuur van sake gaan ernstig moet besin oor toekomstige inisiatiewe en die implimentering daarvan. Tans is daar duidellik n tekort aan insig van hoe om sensitiewe Afrikaner belange te bevorder. Julle uurglas om tot ander insigte te kom is vinnig besig om uit te loop.

Anton ·

n Moedertaal is dit waarin jy droom, hoe jy die lewe benader, beskryf standaarde wat vir jou aanvaarbaar is, bevat jou familie waardes ens. als voordat dit deur jou mond uitgaan na die wereld se ore.. Daar is niemand in hierdie heelal in sulke getalle soos Afrikaners wat sonder moeite kan oorskakel van Afrikaans na engels…en ander tale nie. Soms in dieselfde gesprek. n Taal begin in die brein. Kom ons gebruik die orgaan om ons taal lewendig te hou. Leer in engels, xhosa, frans enige dem ding en gebruik die kennis om ander oor te wen na ons span. Hoe gaan die gesegde..jy moet jou teenstander beter ken as jou vriende. Skryf beter leestof in Afrikaans met internasionale temas as die engelse, maak musiek met n wysie wat almal se ore vang maar die woorde in Afrikaans daar is voorbeelde hiervan uit Europa en regoor die wereld. So kan ek aangaan. Ons taal moet vernuwe. Hou op met die denkwyse dat ons taal net ons taal is en moet bly soos met die Voortrekkers. Ons teiken moet wees om die wereld Afrikaans te maak omdat die wereld weet van ons taal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.