Afrikaans as amptelike taal in ‘n ramptoestand

Deur Cerneels Lourens

Vyf studente het op 21 Februarie 1952 omgekom en honderde is beseer toe hulle ten gunste van hulle moedertaal, Bengaals, teen die afdwinging deur die Pakistanse owerhede van Oerdoe op hulle betoog het. (Foto: Syed Mahamudur Rahman / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Tans staan 21 Februarie as Internasionale Moedertaaldag bekend.

Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, bekend as Unesco, het op dié datum besluit na aanleiding van die studenteopstande weens taalonderdrukking in Oos-Pakistan, nou bekend as Bangladesj. Vyf studente het op 21 Februarie 1952 omgekom en honderde is beseer toe hulle ten gunste van hulle moedertaal, Bengaals, teen die afdwinging deur die Pakistanse owerhede van Oerdoe op hulle betoog het.

Onlangs sien ʼn Bangladesjiese kliënt die portret van die gedenkmonument in Dacca in my kantoor en merk trots op dat dit net sy mense is wat gesterf het vir hulle taal. My gedagtes dwaal toe oor ons eie taalgeskiedenis en die aftakeling van Afrikaans as amptelike taal, veral in die regswese, en hoe ons dit kan bestuur.

Dit is tyd om die spreekwoordelike skilderye van die apartheidskapitulasieleierskap van ons mure, dagblaaie en radio’s te verwyder. ʼn Historiese versuim is vir die beskerming van Afrikaans in die nuwe grondwetlike bedeling gepleeg. Hoewel daar nie baie positiewe energie aan hierdie historiese versuim bestee moet word nie, is dit egter nodig dat dit ondubbelsinnig gestel word dat ʼn geskiedkundige voorbeeld met betrekking tot die beskerming van Afrikaans deur president MT Steyn en generaal JBM Hertzog tydens die Nasionale Konvensie van 1909 wat tot Uniewording gelei het, gestel is. As gevolg van daardie bepaalde beskerming van Nederlands en sedert 31 Mei 1925, ook van Afrikaans, het dit ʼn juridiese ruimte geskep vir die beskerming en ontwikkeling van Afrikaans.

Barry Hertzog

In ʼn gesprek wat ek in Januarie 2017 met wyle professor Marinus Wiechers gehad het, het ek aan hom die vraag gestel hoekom daar nie meer beskerming vir Afrikaans in 1993 beding is nie. Hy het geantwoord dat toe “amptelikheid” vir Afrikaans aangebied is, daar geoordeel is dat dié status genoegsame beskerming daarstel.

Normaalweg beteken die term “amptelike taal” dat dit die taal is waardeur die staat regeer word en die regering regeer deur wetgewing, regulasies en beleidsdokumente. Sekere state se amptelike tale is meer simbolies van aard en natuurlik hoe meer amptelike tale daar is, hoe meer simbolies word hulle.

Toe ek in die Hoogste Hof van Appèl in 2017 geargumenteer het dat alle nasionale wetgewing in alle amptelike tale gepubliseer moet word weens die amptelikheid van die elf landstale, het die voorsittende regter, regter CH Lewis, my gevra: “As dit die bedoeling was, hoekom is dit nie só in die Grondwet geskryf nie?”. Dit was ook na aanleiding van die betoë van die minister van kuns en kultuur, en dié van die parlement dat, gegewe die historiese voorbeeld, indien dit die bedoeling sou wees, dit in die Grondwet geskryf sou gewees het. Die regter het darem in haar uitspraak gesê dat amptelikheid seker iets moet beteken, maar sy het nie daarin ingelees dat nasionale wetgewing in al die amptelike tale moet verskyn nie.

Hierdie saak is na die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee verwys op grond van onregmatige taaldiskriminasie. Tans word die uitkoms van die saak nog afgewag.[1] Die soektog na die betekenis van amptelikheid is dus nog aan die gang! Hoewel ek die verklaring van die Suid-Afrikaanse Gebaretaal tot twaalfde amptelike taal steun, is dit in die praktyk eintlik betekenisloos. So, ons het binnekort twaalf amptelike tale, maar ons buurland Zimbabwe klop ons nog met 16.

In ʼn grondwetlike demokrasie waar die beginsel van grondwetmatigheid (oftewel konstitusionalisme) tot gevolg het dat elke bepaling in die grondwet nagekom moet word, is dit klaarblyklik nie op die artikel oor taal (artikel 6) van toepassing nie. President Cyril Ramaphosa is blykbaar kwalik geneem omdat hierdie artikel onder die funderende bepalings van die Grondwet geplaas is. Volgens sy biografie, The Road to Presidential Power deur Anthony Butler, het hy egter gemeld dat dit eintlik nie enige betekenis het nie.

Hy is reg, want die inhoud daarvan word nou al vir sowat 29 jaar geïgnoreer. Die taal-artikel het egter deur die jare nogal veral onder Afrikataalsprekers grond gewen. Hoewel die politieke elite deur Engels gekoloniseer is, is die Afrikatale lewendig en sterk onder hulle gebruikers. Die verlening van amptelikheid aan die Afrikatale het verseker ʼn baie versterkende impak op hulle. Dit herstel respek en speel ʼn betekenisvolle positiewe rol om die uitbreiding van Engels in te perk.

Die metode van die verlening van amptelike status aan die Afrikatale om sodoende Afrikaans afwaarts gelyk te maak met die Afrikatale, en nie opwaarts gelyk met Engels nie, is natuurlik ʼn politieke daad van wraak. Net so ook dat minstens nie eens wetgewing in Afrikaans gepubliseer word en in die hof mag gebruik word nie. Dit is die 1976-geslag wat nou die base in die howe en orals is, en dit is betaaldag! Neville Alexander stel dit duidelik dat Afrikaans nie die oorsaak van die 1976-opstande was nie, maar net die sneller wat tot die opstande gelei het.

Die Soweto-jeugopstande in 1976 Foto: SAHistory.org.za

Terloops, wat minister Punt Janson en doktor Andries Treurnicht besiel het om taalimperialisties op te tree nadat ons die slagoffers daarvan ná die Tweede Vryheidsoorlog was, gaan my verstand nog heeltemal te bowe.

Totdat die Afrikatale tot in matriek onderrig word, sal die ontwikkeling daarvan op hoër funksie-vlak net lippediens wees. Engels- en Afrikaanssprekende regspraktisyns vrees dat Afrikatale in die howe ingevoer gaan word en dan gaan hulle uitgesluit word ‒ daarom is dit nie in die regspraktisyns se belang om Afrikatale te bevorder nie en is hulle maar té bly dat Engels gebruik word. Sou die strafhowe en laerhowe streektale as taal van rekord gebruik, ooreenkomstig ʼn taalbestuursplan, gaan dit die hofstelsel en hoftyd vir die afhandeling van sake grootliks verkort.

Die impak van die ramp wat wag om te gebeur in ons howe en die strafregstelsel kan sodoende verminder en uitgestel word. Die oningewydes moet net ʼn dag by ʼn hof gaan deurbring om te kyk hoeveel sake onder meer weens die nie-beskikbaarheid van tolke teruggetrek, of vir die soveelste keer uitgestel word.

Wat taal van rekord of gebruik van Afrikaans as hoftaal aangaan, is dit interessant om te let daarop dat die ongrondwetlike gewraakte besluit van oudhoofregter Mogoeng Mogoeng, waarvolgens Engels die enigste taal van rekord in die howe mag wees, gepubliseer is op 16 April 2017 in die Sunday Times en nie in die Staatskoerant soos vereis deur sub-artikel 8(5)(b) van die Wet op Hoër Howe, Wet 10 van 2013, nie. Hy het hom wetgewende bevoegdheid in stryd met die leerstuk van skeiding van magte aangematig.

Met uitsondering van enkele regters, is hierdie skending van die Grondwet skaapsinnig nagevolg en swyg hoofregter Ray Zondo instemmende daarmee. Ek hoop die nuwe hoofregter, regter Mandisa Maya, wat ʼn intelligente taalsensitiwiteit het, sal hierdie ongrondwetlikheid onmiddellik repudieer wanneer sy hoofregter word.

Ek het baie gewonder waarom Afrikaanssprekende landdroste en regters sommer kapituleer en nie staan vir Afrikaans waar die partye almal Afrikaanssprekend is en die verrigtinge in Afrikaans kan voortgaan nie. Ek dink niemand is meer so onredelik om te verwag dat ʼn verhoor in Afrikaans voortgesit moet word wanneer die ander party nie Afrikaans magtig is nie. Die antwoord, wat ek vir myself uitgewerk het en deur ervaring gesien het, is naamlik dat landdroste en regters nie noodwendig leiers is nie ‒ dit neem leierskap om waagmoedig standpunt in te neem, selfs teen die hoofregter.

CJ Langenhoven, ‘n regsgeleerde, koerantredakteur en Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg.

Die houding van “eendjies-eendjies in die Engelse ry” som die afgelope twintig jaar in die plaaslike regswese op. Iemand sê weer onlangs aan my Afrikaans as regstaal se begrafnisklokke het gelui en dit was Afrikaanssprekendes wat die beiaardiers was: Die slapgat-geslag wat uit die krip van kapitulasie geëet het, terwyl die intelligente genepoel deur diaspora verwater is!

Soos CJ Langenhoven gesê het, is die taak van ʼn regspraktisyn, hetsy prokureur of advokaat, om sy kliënt se saak voor die hof ten beste te kommunikeer en natuurlik te wen.

In die afwesigheid van ʼn grondwetmatige taalbestuursplan, wat regters en landdroste selfs op ʼn rondgaande basis volgens die taalgebruik van die partye toedeel, is die reg om ʼn ander amptelike taal te gebruik, verdoem. Weens die gesaghebbers se wandaad van negering van die taaldemografie by die oorweging van die aanstelling van regters, landdroste, aanklaers, ensovoorts (en hier is die Afrikaanse gemeenskap spesifiek geteiken met ʼn beleid van uitsluiting), moet ons met dubbel koste van tolking en verlengde verhore met die voormelde ongrondwetlike besluit van oud-hoofregter Mogoeng Mogoeng die “heerskappy van die moedswillige” trotseer.

Die standaardadvies van regslui aan hulle kliënte wat nou normale praktyk is, is dat ʼn voorsittende landdros of regter “nie kwaad gemaak moet word met die lastigheid van Afrikaanse stukke nie”. Jy weet nie wie voorsit nie en daarom sal ʼn taalbestuursplan hierdie probleem kan hanteer sonder dat dit onredelike gevolge het.

Kontrakte, testamente, trustaktes, titelaktes en ander dokumente wat deur die howe geïnterpreteer moet word wat in Afrikaans opgestel word, sal vertaal moet word, wat ekstra koste en verdere vertragings van hierdie sake vir Afrikaanssprekendes beteken. ʼn Voorbeeld is die gewraakte Gelyke Kanse vs. US-saak (waar professor Wim de Villiers voor en tydens uitspraak-skrywing direk met regter Edwin Cameron gekommunikeer het) wat met ʼn jaar vertraag is nadat die regter ongeveer twee weke voor die saak aangehoor sou word, die regspanne in kennis gestel het dat die volledige hofstukke in Engels vertaal moet word. Aanvanklik is net ooreengekome kerngedeeltes vertaal.

Die voormelde pragmatiese benadering van regspraktisyns openbaar ʼn kapitulasiementaliteit. Afrikaanssprekende prokureurs skryf vir mekaar in Engels terwyl hulle met Afrikaanse kliënte se sake werk. Hulle verskoning is dat die briewe dalk in die hof gebruik sal moet word. Vir my enkele kollegas wat nog Afrikaans gebruik, vra ek: Kom ons hou aan om dit te gebruik ‒ brief vir brief, kontrak vir kontrak, trustakte vir trustakte, ensovoorts.

Prokureurs se “presedente voorbeelde” van testamente, kontrakte, ensovoorts, is meer en meer in Engels en kliënte is maar te gewillig om dit in Engels te teken. Hulle weet nie van beter nie en weier nie om dit te doen nie, maar behoort myns insiens te weier.

Die eerste hofsaak in Afrikaans word deur regter FW Beyers in die Bloemfontein-appèlhof gelewer. (Foto: AfriForum Uitgewers)

Sedert die eerste uitspraak in die Appèlhof in Afrikaans deur regter FW Beyers in 1933 in die saak Souter vs. Norris (1933 AD 41) gegee is, was daar ʼn geleidelike toename van sodanige uitsprake in Afrikaans, met die hoogtepunt van 27% in 1968. Die daarstelling van die Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg as eerste vaktydskrif in Afrikaans in 1937 en vele publikasies daarna, het Afrikaans as regstaal ontwikkel. Helaas is daar tans bitter min Afrikaanse regsartikels beskikbaar.

Destyds is die taal verder gerugsteun deur verskeie regstydskrifte en die verafrikaansing van Afrikaanse universiteite se regsfakulteite. Die uitsprake in Afrikaans het egter begin taan sedert die nuwe bedeling ʼn aanvang geneem het. Tong in die kies gesê, op die ou riglyn dat ʼn hofuitspraak in die taal van die verloorder geskryf moet word, kan die indruk geskep word dat net Engelssprekendes die afgelope tyd sake verloor…

Oudgrondwethofregter, Johan Froneman, het in die berugte Gelyke Kanse vs. US-saak sy uitspraak in Afrikaans en Engels gelewer. Daarna het die huidige adjunkhoofregter Mandisa Maya (toe nog die hoof van die Hoogste Hof van Appèl) die uitspraak in die AfriForum vs. Unisa-saak ook in Afrikaans gelewer. Grondwethofregter Steven Majiedt het in die Konstitusionele Hof ook sy uitspraak in die Unisa vs. AfriForum-saak in Afrikaans gelewer. Die onredelike beskouing en hantering van Afrikaans is deur regter Majiedt in die gemelde uitspraak krities aangespreek.

Daar is ook reeds ʼn uitspraak in Zulu gelewer. Dit is ʼn positiewe tendens wat ook goed vir Afrikaans as regstaal is, nieteenstaande die feit dat hofuitsprake wat in die verlede in Afrikaans gerapporteer is, in Engels vertaal word. (Die ou argument dat ʼn regsgeleerde wat Afrikaans magtig is, dus ʼn voordeel gehad het omdat hy of sy toegang tot meer bronne gehad het, is dus nie meer geldig nie).

Afrikaanssprekende politici gee maar net ʼn oogknip in Afrikaans en voer dan verder rede in Engels. So word die tolkstelsel in die parlement ondermyn. Verder word wetgewing net dan en wan in Afrikaans gepubliseer en gevolglik is die volle corpus van nasionale wetgewing nie meer in Afrikaans beskikbaar nie.

Nieteenstaande die voorskrifte van die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, Wet 12 van 2012, wat die gebruik van minstens drie amptelike tale voorskryf, word dit geïgnoreer en saam met die uitsluiting van Afrikaanssprekendes in die staatsdiens, is Afrikaans nie meer de facto ʼn amptelike taal nie.

Die Afrikaanse Taalmonument (Foto: Facebook)

Dit is tyd dat welvarende Afrikaanssprekendes hulle sakke moet omdop en baie geld skenk vir VivA, wat die toekoms van Afrikaans in die virtuele era lei, asook vir ʼn groot vertaalfonds om op reuse skaal werke na Afrikaans te laat vertaal.

Afrikaanse regslui behoort self die volgende praktiese maatreëls te implementeer:

  • ʼn taalbestuursplan vir die aangewese nuwe hoofregter voorstel;
  • opleiding vir Afrikaanssprekende regslui en regspraktisyns aanbied;
  • belangrike regswerke in Afrikaans vertaal;
  • ʼn webwerf met Afrikaanse voorbeelde daarstel;
  • belangrike wetgewing na Afrikaans vertaal; en
  • sorg vir goeie opleiding van tolke om vanuit tegniese Afrikaans te kan tolk.

Hier kan afgetrede regslui grootliks behulpsaam wees. Ou Afrikaanse firmas wat nog oor goeie voorbeelde beskik, behoort ook kragte saam te snoer om ʼn nalatenskap vir Afrikaans daar te stel. Miskien gaan ʼn virtuele Afrikaanse staat eendag die diaspora verenig sodat hulle, hoewel wêreldwyd verspreid, Afrikaans gebruik, en dan het hulle hierdie Afrikaanse brûe en paaie om oor en op te loop.

Die daarstelling van ʼn senaat van Afrikaanssprekendes is nodig, sodat ons die bestaande intellektuele kapitaal van die huidige bo 55-jariges in die hele Afrikaanse gemeenskap kan benut. Hierdie kollektiewe optrede sal dan waarskynlik die aandag van die regering trek en die bevordering van ons regte sal met groter erns opgeneem word. Die virtuele lobby-groep kan deur so ʼn senaat ondersteun word en dit kan plek bied aan al die organisasies en politieke partye.

Daar behoort voorts indringend gekyk te word na die aard en rol van die Afrikaanse Taalraad, aangesien dit myns insiens onder beleg van sy lid organisasies is en nog nie die swaartepunt vir die bevordering van Afrikaans is nie.

Nieteenstaande die verontampteliking van Afrikaans, behoort ons met positiewe aksie in die hede vir Afrikaanssprekendes ʼn toekoms te skep. So sal ek dan vir my Bangladesjiese kliënt kan sê: Ons kon dit doen sonder geweld!

  • Cerneels Lourens is direkteur van Lourens en Schwartz Prokureurs Ingelyf en lid van die Gautengse Taalkomitee van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat).

Bronne:

[1].   https://drive.google.com/drive/folders/0BzTnPjXEazXOODJPT1RUTFhfQnM?resourcekey=0-8GJmBUsIaGAx7au7xnINXw&usp=sharing

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Treurwilger ·

Nou daar het ons dit, swart op wit.
In 1993 is daar nié daadwerklik vir die beskerming van Afrikaans beding nie.
Verder, Afrikaanssprekendes lui sélf die begrafnisklokke van Afrikaans as amptelike taal.
En, die Afrikaanse Taalraad is “nie die swaartepunt vir die bevordering van Afrikaans nie”. (baie sag gestel)
Cerneels Lourens mág hierdie waarhede gelukkig hardop sê, want gewone lesers mag nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

En vandag is Bangladesj ‘n onafhanklike land. Sonder eie grondgebied sal Afrikaans ‘n randtaal bly. Jy praat dit by jou huis en met familie en vriende.

Mariana ·

Dit is juis Afrikaanssprekendes wat ons taal laat sneuwel. Die wat in universiteite en skole is wat besluite neem rakende taalbeleid. Self Afrikaans maar baklei kliphard daarteen. Verraaiers van ‘n pragtige taal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.