Afrikaans as onderrigtaal – die verhaal van Nzimande en De Villiers

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Afrikaans as onderrigtaal – of die gebrek daaraan – was die laaste tyd weer in die nuus. Dit is veral die verhaal van twee mense, te wete Blade Nzimande (minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie), en professor Wim de Villiers (rektor van die Universiteit Stellenbosch).

Nzimande was in die spervuur omdat hy geweier het om Afrikaans as inheemse taal te erken. Die implikasie was natuurlik dat dit ’n koloniale taal is, een met ’n negatiewe konnotasie wat dus eintlik moreel swak staan as hy op gelyke regte aanspraak maak.

Wat dié implisiete redenasie des te merkwaardiger maak, is dat mense soos Nzimande hulle in die praktyk – afgesien van wat hulle sê – nie vir gelyke regte vir die swart tale beywer nie. Nee, daardie tale word selfs nóg verder agter Afrikaans gestel: die enigste taal wat wérklik tel, is Engels.

Dat Engels by uitstek die koloniale, imperialistiese taal is wat van oorsee af oorgewaai het, maak vir Nzimande en sy ondersteuners klaarblyklik nie saak nie. Dis nie eens bekend of hulle besef hoe diep ironies hul beleid is nie.

Nzimande het onlangs wel – effentjies – teruggekrabbel deur te ontken dat hy Afrikaans haat. Hy erken Afrikaans as een van die 11 amptelike tale in ons land, het hy gesê, maar steeds sonder om te erken dat Afrikaans so inheems soos biltong en poetoepap is (dít was klaarblyklik ’n brug te ver).

Wat hy wél gesê het wys duidelik hoe sy kop werk: Hy kan nie toelaat dat Afrikaans as ’n middel vir uitsluiting en verdrukking gebruik word nie; as ’n middel om “’n nou en rassistiese Afrikanernasionalistiese agenda” te bevorder nie.

Met ander woorde, seg die geagte minister, om Afrikaans te bevorder, kom eintlik op apartheid neer; wit bevoorregting en rassisme.

Dis die een persoon wat in dié artikel behandel word. Kom ons kyk nou na De Villiers.

Die US het in die geskiedenis van die vroeë 20ste-eeuse stryd om Afrikaans as taal met hoër funksies (soos op akademiese vlak) te gebruik, ’n belangrike rol gespeel. Akademici soos wyle professors Jaap Steyn en Pieter Kapp en die steeds lewende professor Hermann Giliomee het dit uitvoerig in hul geskrifte beskryf en ontleed.

Aan die begin van dié eeu het een van De Villiers se voorgangers, professor Chris Brink, dit begin verander deur klasse aan die inrigting tweetalig (Afrikaans en Engels) te maak.

Ek en ander waarnemers het destyds al gewaarsku dat dit die eerste kantelpunt onderweg na Engels-eentaligheid sou wees. Dit is immers wat by ander universiteite – UPE, UWK, die ou RAU, Pretoria en Bloemfontein – gebeur het. Die tweede kantelpunt, die totale afskaffing van Afrikaans, het onherroeplik op die eerste gevolg.

Die US is nou gevaarlik naby aan daardie tweede kantelpunt. Jy kan byna nie ’n koerant oopslaan sonder om êrens iets te lees van hoe Afrikaans op Stellenbosch verder teruggedring word nie.

So het die senaat byvoorbeeld onlangs besluit dat nuwe studiemateriaal nie meer in Afrikaans beskikbaar hoef te wees nie; Engels is voldoende. Dit ondanks die feit dat die US amptelik steeds tweetalig is – maar ons almal weet wat dít onder De Villiers werd is.

Tot hul eer het die studenteorganisasie, Studenteplein, met steun van die DA-LP dr Leon Schreiber, nou die Kaapse Hooggeregshof gevra om kragtens artikel 29(2) van die Grondwet te verklaar dat die senaat se besluit teen die Grondwet indruis. Uit hul hofstukke blyk dat dit reeds vier semesters lank die geval is.

Schreiber se verklaring is verdoemend en lui onder meer: “Die bestuur en senaat van die universiteit, albei onder leiding van die rektor, Wim de Villiers, het die instelling se taalbeleid geminag en verbreek deur die Covid-pandemie as ’n verskoning te gebruik om met Afrikaanse leermateriaal weg te doen.”

Terloops: Dit maak my hartseer om te sien dat Schreiber se geveg vir sy moedertaal in sommige kringe tot ’n onaangename politieke bekgeveg tussen die DA en VF+ gelei het. Die saak waaroor dit gaan, die toekoms van ons moedertaal, is veels te belangrik vir sulke vlieë-afvangery.

Ek wil ’n vriendelike beroep op alle betrokkenes doen: Ek weet die plaaslike verkiesings en die trek van stemme is belangrik, maar ons taal is oneindig belangriker. Julle hoef nie jul mededinging te staak nie, maar slaan die hande vir Afrikaans oor partygrense ineen, asseblief!

Prof. Wim de Villiers. (Foto: Twitter)

Die vraag is ewenwel: Wie van die twee hooffigure van ons verhaal – Nzimande of De Villiers – is uit die oogpunt van Afrikaans se belange te verkies?

Eienaardig soos dit klink, val my keuse op Nzimande. Ondanks (of dalk juis vanweë) sy openlike haat vir Afrikaans en Afrikaners.

Nzimande se agenda is veel minder deur ’n rookskerm as dié van De Villiers bedek. Met Nzimande weet jy ten minste wat jy aan hom het. De Villiers sê een ding en doen ’n ander, wat dit moeiliker maak om teen hom as teen die minister te veg.

Let wel, dis geen kompliment vir die rektor nie. Inteendeel. Dit maak sy optrede des te meer verwerplik.

Laat ek dit nou maar hier laat; ek is nie lus om weens laster aangekla te word nie. Laat ek maar net sê dat ek my posisie as buitengewone professor aan die US bedank het, juis oor die oneerlike houding rakende Afrikaans.

Ek het na die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit oorgeskuif, waar Afrikaans immers nog ’n gewaarborgde plek het.

Akademia, Solidariteit se aanlyn universiteit, is nog ʼn plek waar Afrikaans gewaarborg word, maar moet nog verder ontwikkel.

Hoe ook al, die geveg vir Afrikaans as akademiese onderrigtaal is nog lank nie verby nie, ondanks die openlike haat van Nzimande en ondanks die rookskerm van De Villiers.

Leef die stryd!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AW ·

Hy is vir my niks anderste as ń Veraaier !!

Maar Hulle is die Land Vol, Selfs gedurende die Boere Oorlog ook !

En daar sal nog baie wees in die Toekoms, waarvan sekere Blankes ongeag Afrikaans of Engels die EFF / ANC aktief ondersteun .

Dis nou maar die Mens !!

Nici ·

Hierdie man soek eer maar sy naam sal nie in eer onthou word nie. Hys ‘n afbreker nes Zuma en sy tyd as leier sleg maar daar is beter, sterker mense as hy wat sal opbou en hulle name sal onthou word.
Afrikaans was een van twee amptelike tale en moes sy status behou het.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Watter tale is koloniaal? Engels en Europese tale! Watter taal het onder Maleiers en kleurlinge ontstaan en is later aangeneem deur wit boere? Afrikaans! Wie is die kiepie nou?

Andrew ·

Wat meer pla is dat daar nog afrikaanses is wat hule kinders US to stuur.

Dries ·

Dankie Leopold vir n insiggewende artikel. Ek stem saam de Villiers is n baie gevaarliker vent as Nzimande. Die een wat jou taal praat en tussen ons loop en agter hoekies met die vyand heul is veradderlik. Die een wat eerlik vir jou sy kleur wys en onomwonde sy haat teen jou wys is minder gevaarlik. Verraaiers behoort gewim te word en dan geteer en veer word

annie ·

Soos ons uit prof Leopold se skrywes gereeld verneem, speel die liefde ‘n groot rol in elkeen se lewe. So het dit ook seker maar ‘n rolletjie te speel in die lewensstryd van prof Wim; soos’n mens se vriendekring en godsdiens, jou brood+botter, jou ideologiese sienswyse ens. Miskien moet ons die US beoordeel in terme van die toekoms se woke-BLM-geslaglose-boeklose-klimaatlose-kraglose-diensleweringlose-skuldlose kunsmatige intelligensie-regeringsvorme met prof Wim as ‘n leiersfiguur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.