Afrikaans by die NWU: Dieselfde toneelstuk, dieselfde einde

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Deur Connie Mulder

In ʼn verklaring op 26 Maart 2018 verseker prof. Dan Kgwadi, vise-kansellier van die NWU, die leser dat meertaligheid op die Potchefstroom-kampus van die NWU veilig is.

Dit is ʼn tragedie in drie tonele, die storie van Afrikaans by universiteite in Suid-Afrika.

Toneel een dek die tafel – hierdie toneelstuk gaan eintlik oor toegang. ʼn Lang monoloog bepleit die reg tot toegang by universiteite. Hier word reeds liggies geskiet op Afrikaans wat in die pad staan van toegang, en ongelooflik uitsluitend is.

Toneel twee verhoog die spanning – die universiteitsbestuur reageer op die hartverskeurende toegangsmonoloog. Daar word passievol verbind tot toegang oopgooi, maar gewaarsku teen verengelsing. Dan kom daar altyd die versekering dat die universiteit onherroeplik verbind is tot veeltaligheid en dat Afrikaans nie weggegooi gaan word nie.

Toneel drie onthul dan die oplossing – hierdie stuk het ʼn laaste kinkel in die kabel. Geskok kyk die gehoor hoe die universiteit verengels, hoe Afrikaans doodgemaak word en weggegooi word. Al die versekerings van veeltaligheid was oëverblindery, die plan was eentalige Engels die hele tyd.

Die gehoor stap ongelukkig weg, maar berus hulle daarop – hierdie universiteit mag weg wees, maar ons het nog ander oor. Tukkies/Kovsies/UJ mag weg wees, maar ons het ten minste nog die PUK.

Nou is die PUK besig met dieselfde toneelstuk. Met alle respek aan die NWU-bestuur, ons het al die fliek gesien by UJ, Tukkies en Kovsies. Ons weet hoe dit eindig en ons is kwaad. Genoeg is genoeg.

Toegang

Wanneer universiteite praat oor toegang tot onderrig, dan bedoel hulle eintlik toegang tot onderrig in Engels. Afrikaanse studente se reg op toegang tot onderrig in Afrikaans word totaal misken ten gunste van Engels.

Artikel 29 van die Grondwet waarborg toegang tot onderrig, selfs in enkelmediuminstellings, waar redelik uitvoerbaar. Afrikaans en Engels is volledige akademiese tale tot op die hoogste vlak ontwikkel.

Dit impliseer dat ʼn enkelmedium Afrikaanse staatsuniversiteit net so grondwetlik is soos ʼn enkelmedium Engelse staatsuniversiteit. Tog word die toegang-argument gebruik om Afrikaanse universiteite se bestaansreg te bevraagteken.

Waarom Afrikaans meer as Engels sou uitsluit, word nooit bespreek nie. Die reg op moedertaalonderrig wat Afrikaanse studente ontneem word, word ook as oudmodies afgemaak.

Uit alle tersiêre instellings in Suid-Afrika, is daar slegs een kampus oor waar Afrikaans die primêre onderrigmedium is. Wat word van die Afrikaanse studente se grondwetlike reg op toegang as hierdie kampus ook verengels?

Waarom een enkele kampus, wat ʼn amptelike landstaal gebruik as onderrigmedium, meer uitsluitend sal wees as enige ander kampus, wat ʼn ander amptelike landstaal gebruik, bly ʼn ope vraag. Dit sou wees soos om aan te voer dat ʼn Zoeloe-universiteit meer uitsluitend as ʼn Xhosa-universiteit is.

Boonop regverdig Afrikaanse studente se getalle ten minste twee universiteite. In 2001 al het die Gerwel-verslag aanbeveel dat twee universiteite Afrikaans bly, ten einde Afrikaans te bewaar. In daardie stadium is die verslag as alarmisties afgemaak, die vyf bestaande Afrikaanse universiteite het die idee dat slegs twee universiteite Afrikaans sou wees as lagwekkend beskou. Nie een van hulle wou afstand doen van Afrikaanse onderrig nie. Sewentien jaar later is ons by die punt waar ons die laaste kampus ook wil verengels. Ons is lankal verby redelikheid, alles in die naam van toegang – net nie toegang tot Afrikaanse onderrig nie.

Die omstandighede mag verander, maar die toneelstuk blyk elke keer presies dieselfde te wees. Helaas is die PUK al verby toneel een, en pens en pootjies in toneel twee.

Een van Tuks se ikoniese geboue, “Die Skip” Foto: Mike Prins, Wikimedia

Meertaligheid

 In ʼn brief aan ouers waar Tukkies amptelik Engels as enigste taal van instruksie aanneem skryf prof. Cheryl de la Rey in Engels:

The Council also decided that Afrikaans will be maintained as a language of scholarship, while the development of Sepedi to a higher level of scientific discourse must be supported and adequately resourced … This new policy will facilitate social cohesion and promote inclusivity. We as University management will continue to embrace and encourage multilingualism to foster unity and to provide equal opportunities to speakers of all South African languages.”

Die openingsparagraaf van die UV se nuwe taalbeleidsdokument lui soos volg, ook in Engels:

Enabling a language‐rich environment committed to multilingualism with particular attention to English, Afrikaans, Sesotho and isiZulu and, other languages represented on the three campuses. Ensuring that language is not a barrier to equity of access, opportunity and success in academic programmes or in access to the UFS administration.

Dan het ons prof. Dan Kgwadi se opmerkings in sy verklaring van 26 Maart 2018:

“Ons laat ons egter lei deur die taalbeleid vir hoër onderwys (LPHE), wat ’n funksioneel-meertalige omgewing voorskryf, asook deur ons 2017-statuut, wat sê dat die taalbeleid van die universiteit ‘buigsaam en funksioneel moet wees en die taalwanbalanse van die verlede moet herstel en meertaligheid, toegang, integrasie en ’n gevoel van behoort te bevorder’.

“Die NWU was nog altyd baie duidelik meertalig en streef daarna om sy meertalige aard verder te bevorder.”

By Tukkies en Kovsies was meertaligheid kodetaal vir eentaligheid. Engels is nou die enigste medium van instruksie, en Afrikaans word weggegooi. Inteendeel, beide Tukkies en Kovsies het hof toe gegaan om seker te maak Afrikaans word afgeskaf as taal van instruksie.

ʼn Universiteit wat net woordeliks verbind is aan meertaligheid, is prakties verbind tot Engelse eentaligheid. Dit is nie voldoende beskerming vir inheemse tale om teoreties verbind te wees tot meertaligheid nie. Só ʼn teoretiese verbintenis tot meertaligheid word bloot gereduseer tot teikens op jaarverslae wat gemis word.

Wat mens kort is ʼn versekering dat hierdie tale as taal van instruksie gebruik gaan word, of tot op daardie vlak ontwikkel gaan word, vervat in ʼn taalbeleid.

Tot dusver is die NWU geloof vir sy wêreldklas taalbeleid wat praktiese versekerings bevat om veeltaligheid te bevorder. Dit behels onder andere tolkdienste en die gebruik van Afrikaans as taal van instruksie.

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Verengelsing

Die NWU is tans besig met ʼn konsultasieproses onder belanghebbendes rondom die voorgestelde taalbeleid. ʼn Dokument geskryf deur prof. Balfour, adjunk vise-kansellier vir onderrig en leer, wat voorgestel het dat die NWU Engels as primêre taal van instruksie aanneem en Afrikaans uitfaseer oor vyf jaar, het uitgelek. Gebaseer op hierdie dokument is Solidariteit diep bekommerd oor die rigting wat die NWU inslaan rondom taal, en het die vakbond besluit om ʼn pro-Afrikaanse veldtog van stapel te stuur.

Dit is diep oneerlik van prof. Verhoef om in die Beeld van 27 Maart 2018 te stel dat die Balfour-dokument bloot “ʼn enkele gespreksdokument” is. Prof. Balfour is die voorsitter van die taakspan wat die NWU se nuwe taalbeleid moet ontwikkel. Dit is nie bloot ʼn radikale student wat ʼn manifes opgestel het rondom verengelsing nie, dit is letterlik die persoon in beheer van die opstel van die taalbeleid.

In daardie kapasiteit maak prof. Balfour dan die aanbeveling dat Engels as die enigste medium van instruksie moet dien, en dat Afrikaans uitgefaseer word. Natuurlik kan mens so dokument as ʼn aanduiding beskou van hoe die NWU se taalbeleid gaan verander.

Ironies genoeg is Solidariteit se veldtog nie om die PUK enkelmedium Afrikaans te maak nie, dit is net om Afrikaans as taal van instruksie te behou. Prof. Balfour se insetdokument is die een wat ʼn eentalige Potchefstroom-kampus voorstaan deur Engels as primêre medium van instruksie voor te staan.

Prof. Verhoef stel in dieselfde berig ook dat “… Engels as die primêre taal op die Potchefstroom-kampus net een van verskeie scenario’s is”. Wat onrusbarend is, is dat die ander scenario’s nog nie gekommunikeer is nie. In die middel van ʼn konsultasieproses oor taalbeleid, is geen van hierdie ander scenario’s genoem nie. Waarop konsulteer mens dan? Is die doel nie juis om verskeie scenario’s by belanghebbendes te toets nie?

Ongelukkig toon die NWU-bestuur se onlangse geskiedenis dat konsultasie eerder gedoen word om ʼn boksie op ʼn vorm as afgehandel te merk.

In 2017 het die universiteit sy primêre kleure verander na pers. Konsultasieprosesse het getoon dat 70% van mense nie pers steun nie.

Die bestuur het net voortgestoom en die NWU is nou pers.

NWU deur Media Club (Flickr)

Encore

Genoeg is genoeg. Die Afrikaanse gemeenskap moes die laaste dekade toekyk hoe Afrikaans uit alle openbare sfere gedruk word. Meedoënloos word die openbare ruimte vir Afrikaans, ʼn amptelike landstaal, kleiner en kleiner geskaaf.

Dit is tyd dat die Afrikaanse gemeenskap in hulle duisende, hard en duidelik nee sê vir die afskaffing van Afrikaans op die PUK en sodoende die NWU se bestuur dwing om kennis van ons eise te neem.

Ons het al hierdie toneel gesien, ons weet hoe dit eindig as ons weer slegs toeskouers is. Hierdie keer gaan ons deelneem as akteurs en seker maak die fliek eindig anders. Daar is nie meer ʼn ander kampus om ons hoop op te sit nie.

Die Afrikaanse gemeenskap regverdig en verdien ʼn kampus.

Wat ons is, is nie verkeerd nie. Wat ons vra, is nie te veel nie.

  •  Connie Mulder is hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Erhard Engelbrecht ·

Die skrif was aan die muur toe die unitêre model aanvaar is. Daardie dag het ons mos geweet dat die getalle redenasie aan die einde van die dag sal seevier. Dat daar nie meer spasie sal wees vir ‘n Afrikanse, Engelse en Tswana talige kampus van primêre taal gebruik nie. Die smeltkroes model wat aanvaar is het ooglopend net een uiteinde gehad naamlik die gebruik van engels as die NWU se voertaal. Die huigelaars wat beweer dat enige ander uitkoms moontlik kon wees weet voor hulle siele hulle het die PUK vernietig.

Ons moet bou aan Akademia so spoedig as wat ons kan.

Casper Labuschagne ·

Oor enkele jare sal 80% van ons minderheid wel oor een ding saamstem – die skrif was aan die muur op 2 Februarie, 1990.

JC ·

Dankie Connie.
#wat ons is, is nie verkeerd nie, wat ons vra, is nie veel nie!

Danie ·

Daar is ‘n maklik oplossing: Hou belasting terug. Orals en altyd totdat hulle ‘n volledige Afrikaanse Universiteit onderhou.

Eish ·

Dit is soos om dieselfde fliek keer na keer te kyk en te hoop die einde is anders as die laaste keer toe jy dit gekyk het, maar dit is toe nie.
Die geleerdes is besonder goed geskool vir akademici in die opstel van n hinderlaag.

DC ·

Die onderhandelingsopsie werk nie vir Afrikaners nie. Elke keer kom ons meer gestroop anderkant uit. Ons is te ordentlik en voorspelbaar. Dalk moet begin word om die bakstene waarmee die PUK gebou is weg te dra. Weerhou skenkings, onttrek verhandelings en proefskrifte en kyk na nuwe opleidingopsies vir tersiere opleiding vd jeug.

Jerry ·

Die strategie mbt die beskerming van Afrikaner belange soos Afrikaans wat deur Afrikaner organisasies gevolg word is ooglopend n fiasko om die minste te se. Hoe meer daar gese was om die ANC uit te oorle deur n hand van vriendskap uit te reik na CR en die ANC gematigdes en versoeninig te bewerkstellig en sodoende belange te verskans in die breer Suid Afrikaanse gemeenskap sodat belange nie geteiken kon word nie, hoe meer prominent het julle geweier om versoenend op te tree en het julle die belange aan die groot klok gehang, veldtogte van stapel gestuur en duidellik nog steeds doen en sommer ook in die proses hofsake verloor. Julle argumente vir Afrikaans was en word nog steeds as teenargumente deur die ANC gesinde akademiese instellings teen julle gebruik maw. Julle eie argumente, verweer, veldtogte en foute word teen julle gebruik as regverdiging vir julle uitsluiting uit die breer SA gemeenskap. Julle, die leiers van Afrikaner organisasies kan maar net julself blameer dat die Afrikaner geisoleerd en vervreemd staan teenoor die breer SA gemeenskap. Julle het dringend n omdraai strategie nodig om die res van Afrikaner belange te verskans en te ontteiken voordat die Afrikaner dit ook kwyt is agv julle domastrante strategie wat julle volg vir die beskerming van belange teenoor die ANC revolusionere agenda.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.