Afrikaans, die sonde van transformasie

Die Afrikaanse Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

Afrikaans het die oorgang na die nuwe bedeling nie net oorleef nie, dit het boonop een van die voortreflikste voorbeeld van transformasie in Suid-Afrika geword sedert die dood van apartheid. Taal van die demokrasie, en taal is die mense wat dit praat, skryf Hans du Plessis**.

Dis dié dat die regering en die ANC, die SAUK en die onderwysowerhede so histeries bevange teen Afrikaans protesteer. Dit sou amusant kon wees as dit nou net nie so ernstig was nie. Die geïnstitusionaliseerde teistering van Afrikaans is die logiese uitvloeisel van die feit dat Afrikaans ʼn goeie voorbeeld van suksesvolle transformasie en demokratisering is. Dit is dan geen wonder nie dat Afrikaans en sy mense nou weer in die spervuur staan: dit werk dan! En dis al wat behoorlik die transformasie kon internaliseer en besig is om te bewys dat die nuwe Suid-Afrika nie net ʼn dooie droom is nie. Trek die aandag van die suksesse af en jy verdoesel daarmee jou eie mislukking; verander die name van strate en niemand sien die slaggate daarin raak nie; gee dorpe nuwe name en die fokus is nie meer op vrot dienslewering nie.

“Afrikaans getransformeer?” vra jy. “Waar kom jy daaraan?”

En ek sal jou kan antwoord: dit is die taal wat in baie huise van wit, bruin en swart sonder skroom moedertaal geword het. Dit mag nou wel nie die regering se taal wees nie, maar dit het die taal van die mense geword – dié wat elke dag sommer so met mekaar op straat en by die werksplek praat. Dit het die taal geword wat brûe bou. Oupa en ouma, oom en tannie of my broer het die versoeningsvokatiewe in die strate en die winkels van Suider-Afrika geword, en dit lewe op ryvlakke van motorhawens in die vriendelike monde van petroljoggies!

Waar wil jy beter voorbeelde kry van reënboog-Afrikaans as op RSG of KykNet? Is Sewende laan se rolbesetting, dialoog en storielyn dan nie juis ʼn lewende voorbeeld van ʼn getransformeerde Suid-Afrika nie? Dit is hoe ʼn nie-rassige samelewing kan lyk, en dít in Afrikaans. Gaan kyk maar na die syfers: die hele reënboog kyk!

Die Potchefstroomkampus van die NWU is suksesvol in Afrikaans; dit is op pad na ʼn instelling wat die nasionale demografie van Afrikaans weerspieël. Getransformeer in Afrikaans. Maak die plek toe, want die demokratiese, nie-rassige droom mag mos nou net nie in Afrikaans werk nie.

Daarom die bevange vervolgingswaan teenoor alles wat in Afrikaans werk!

Daarom word SAUK2 nou ont-Afrikaans. Moet die Afrikaanse mense hulle televisielisensies bly betaal? Betaal om ANC2 te kan kyk? Nie ek nie. Ja, en ek bedoel SABC, maar ek weier dat iemand anders besluit hoe ek SABC in Afrikaans sal sê, of SAL. Geen Fransman het nog ooit vir my vertel hoe ek hulle hoofstad se naam in Afrikaans moet sê nie. Dis goed as Namibië Namibia wil wees, maar ek sal self oor die Afrikaanse vorm daarvan besluit.
Die punt is: as jy suksesvol transformeer, is dit deel van die Suid-Afrikaanse droom – solank dit net nie in Afrikaans is nie!

Dit sal nie die eerste keer in die geskiedenis wees dat leiers Afrikaans en sy mense onderskat nie. Dit het nog met elke wending van die eeue gebeur. Maar dit weet ek: doodkry is min.

** Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy is gebore op 15 Januarie 1945 in Pretoria en het sy studies aan die Harvard-Universiteit voortgesit na hy sy doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde in 1975 voltooi het. Du Plessis het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwagedigte en in 2002 wen sy topverkoperbundel Innie skylte vannie jirre: Griekwapsalms en ander gedigte, die Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika se Algemeen Christelike Kategorie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hanno Visagie ·

Ek bewonder jou patriotiese selfvoldaanheid, maar is dit realisties, gegewe die snelle verengelsing van byvoorbeeld Stellenbosch en Kaapstad-Noord?

Sjert ·

Dankie tog Hans du Plessis!

Jy bevestig dit wat so dwars in die kroppe van die anti-Afrikaanse siele steek – die krag van ‘n taal wat so lekker en so maklik op die tong en oor van sy gebruikers val.

Terloops, die boodskap wat julle piete in Potch uitdra, vind op verskeie en verskillende wyses weerklank in Pretoria, Bloemfontein en verder…ons taal leef inderdaad!

andrea van Vuren ·

Ek het sedert 2006 gereeld ATKV-skryfskole bygewoon waartydens prof. Hand du Plessis die hoof was. Wat ‘n voorreg, Ek het gesien hoe life die gasskrywers vir hom was. Alom bekend en -bemind. Prof Hans in nie net ‘n kampvegter vir Afrikaans nie maar ook vir die behoud van Afrikaans in die PUK. Dankie prof. Doe so voort!

Chris Joubert ·

Hans, jy’s reg en ek weier om te aanvaar dat ons tevrede moet wees om maar net geboelie te word. As die regering nie wil nie, moet ons voortstoom om ons eie ding te doen. Ons moet aandring om in Afrikaans bedien te word waar dit realisties is. Ek meen, ek wil nie die arme swart kelner uit Zimbabwe (wat gewoonlik uitstekende kelners is) uitvreet omdat hy of sy nie Afrikaans kan praat nie, maar ‘n restaurant in die Weskaap, waar 46% van die mense Afrikaans is en net 23% Engels, neem ek ‘n restauranteienaar kwalik as hy kelners aanstel wat nie Afrikaans kan praat nie. En landwyd het Afrikaans waarskynlik steeds die grootste koopkrag.

Hoe kan ons ‘n veldtog loods teen adverteerders wat tydens Afrikaanse tydgleuwe op SABC-TV op Engels adverteer, of enige tyd op Kyknet op Engels adverteer – en dan Amerikaanse Engels, nogal? Ek sal graag wil sien dat ons ‘n massa-aksie loods teen hierdie maatskappye.

Ek is self ‘n konsultant in die kontaksentrumbedryf, en ek vertel vinnig vir ‘n agent wat my namens Sanlam bel (by wie ek sedert 1967 tot onlangs ‘n polis gehad het) om iets aan my te verkoop, dat indien hy of sy nie kan Engels praat nie, ek nie belangstel nie. Die tegnologie is daar om op grond van my inligting op hulle databasis, ‘n agent te kies wat my taal ken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.