Afrikaans en Afrikaner-instellings die sleutel tot die toekoms

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Deur Christoff van Wyk

Die agtste Thabo Mbeki-gedenklesing is onlangs by Unisa deur die gevierde historikus en politieke kommentator prof. Mahmood Mamdani gelewer. Mamdani is oorspronklik afkomstig van Uganda, maar werk tans as ’n dosent in politieke wetenskap aan die Columbia-universiteit in New York, VSA. Wat egter die oë laat rek het en mense laat regop sit het, was sy opmerking oor Afrikaans en Afrikaner-instellings tydens die apartheidsera.

Mamdani het tydens die paneelbespreking gereageer op ’n vraag oor die dekolonisering van onderwys en universiteite en die volgende opmerking gemaak: “One of the most succesfull experiences in decolonisation of education on this continent, I believe was at the time of apartheid. Think of Afrikaans. Afrikaans in the 1940’s was no different from Xhosa, from Venda, from Zulu, basically a folk language. A folk language to theorize the experience of the Afrikaans people. You needed a whole set of institutions, which they built in a few decades. They built universities, they built publishing houses, they built newspapers, they created an Afrikaans inteligentia. In terms of their relationship to English they decolonized Afrikaans.

Die gehoor wat onseker was oor wat om met hierdie opmerking te doen, het spontaan begin hande klap.

Mamdani bepleit in sy opmerking dat dekolonisering nie oor eenvormige verengelsing moet gaan nie, maar wel oor die ontwikkeling van tale en instellings wat Afrikane in staat kan stel om vir hulself ’n nuwe toekoms te bedink, anderkant kolonialisme.

Afrikaners het dit reeds suksesvol reggekry, maar die vraag is nou, kan ons weer ons taal en ook ons instelling op só ’n wyse inspan om vir onsself ’n toekoms anderkant apartheid te bedink.

Die eerste stap in so ’n proses sal wees om Afrikaans weer terug te neem en sterk standpunt in te neem teen die hedendaagse afskaling en vermenging van die taal op alle terreine, veral in die vermaakbedryf. Waarom sal jy toelaat dat jou beitel roes en stomp word as jy dit nodig gaan hê om in die woorde van Van Wyk Louw “dwarsdeur die sterre te loop”.

Tweedens sal die nuwe Afrikaner-instellings wat ontstaan het om Afrikaners in die post-apartheid denke te lei, ten volle ondersteun moet word.

Laastens sal ons die vermoë moet ontwikkel om toekomsgerig te dink en te droom. Ons sal weer moet leer hoe om die taal en instellings tot ons beskikking in te span om die toekoms van Afrikaans en Afrikaners in ’n post-apartheid Suid-Afrika te visualiseer.

Denke gaan altyd die praktyk vooruit en ons kan nie toelaat dat ander groepe en instellings ons toekoms namens ons bedink nie. Ons toekoms lê in ons eie hande, wat gaan ons daarmee doen?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

25 Kommentare

Ou Vrydenker Kreool Afrikaner Vlakvark ·

Ek is ‘n Afrikaner en lief vir Suid-Afrika en mede-Suid-Afrikaners, my Afrikanervolk en ons Afrikaanse taal. Maar ek maak nie van Afrikanerskap of Afrikaner-leiers heilige koeie nie. Laat ons as Afrikaners doen aan andere wat ons verlang hulle ook aan ons moet doen. Afrikaners moet fokus op die toekoms van hul nageslagte, Afrikaner kultuurskatte en om die sout en ligte in hierdie wêreld te wees. Maar ons moet beslis betrokke wees by opbouende Afrikaner strukture en mekaar opbouend verryk. Skud die slawekettings van skuldgevoelens af en fokus op die toekoms.

MCH ·

Prof. Mamdani slaan die spreekwoordelike spyker op sy kop. Die klem is op die bou, die positiewe en nie die afbreek en vernietiging van ander nie. Dis hoekom Engelse skole en instansies steeds bestaan het en gedy het tydens die vorige bedeling. Dit is presies wat Solidariteit en Afriforum vir my die ideale voertuig maak om die sake te dryf. Hul spreek onder andere die kwessies aan op n wyse wat eenheid eerder dan verdeeldheid bring. Bou eerder dan afbreek, beskerm eerder dan blootstel. Die fokus op die bal en nie die man nie, bring balans en openheid waar feite harder spreek dan menings. Gegewe egter die huidige politieke klimaat en en die geweldige negatiewe ingesteldheid teenoor, in ons geval, Afrikaanse blankes, is dit n reuse taak wat voorlê.

JC ·

Dankie! Ons kan, EN ONS SAL.
Ondersteun asseblief ook vir Gelyke Kanse.
Enigiemand wat belangstel, kan net geen besoek afle op hul webtuiste by gelykekanse.com.

JC ·

Dankie! Ons kan, EN ONS SAL.
Ondersteun asseblief ook vir Gelyke Kanse.
Enigiemand wat belangstel kan net gaan besoek afle op hul webtuiste by gelykekanse.com ten einde hul stem uit te bring vir Afrikaans, Afrikaners en Afrikaanses.

Verwonderd ·

Ons kan nie ‘n toekoms visualiseer as ons op elke veld van die ekonomie uitgesluit word nie , want hierdie strukture se ontstaan en voortbestaan hang af van ons vermoë om dit in stand te hou. Die Afrikaner se lewe is ook so min werd dat ‘n toekoms van wedersydse respek in die huidige Suid Afrika na aan onhaalbaar is. Die enigste manier om die voortbestaan van die Afrikaner te verseker is om ons eie belange, binne ‘n eie grondgebied, binne eie ekonomie te implimenteer en te beheer. Ons kan nie aanhou pa staan vir mense wat geen greintjie integriteit het nie, en ons van aarde afgevee wil hê nie.

JC ·

Ek stem saam Verwonderd. Ek ondersteun elke maand vir Orania, en sien myself eendag in die pragtige, bemoedigende, eietydse en eie Afrikaner gebied woon!

Hendrik ·

Ek stem saam julle en wat dit so prakties maak is dat ek elke dag terug naam my eie woning, in ons eie gebied kan woon met eie infrastruktuur. 25 km vanaf ‘n moderne hospitaal, winkelsentrums ens. Met net ‘n klipgooi afstand vanaf Pretoria kan ek nie verstaan dat meer Afrikaner nie van die geleentheid gebruik maak nie.In die afgelope 22 jaar is daar 400 huise gebou met eie arbeid en bevolking van 1400 mense.

Petrus Smit ·

Ja inderdaad, Ons het dit in ons gene en in ons ervaring om dit weer te doen. Afrikaasn is ons taal en klaar. Orania is op koers die regte koers.

Veritas ·

Hendrik die probleem lê nie by ‘wil’ nie soontoe trek nie, die probleem lê by die bekostigbaarheid daarvan . Ons, wat op die Rand woon en werk, kan nie net anker lig en ‘n ander werk in die Pretoria omgewing loop soek nie. In my vriendekring word daar gereeld oor gesels om iets soortgelyks op die Oosrand te doen maar die meeste se finansiële posisie laat dit nie toe nie. Hou vir ons duime vas asb.

Hendrik ·

Veritas dit het my sowat 8 jaar se doelbewuste beplanning gekos om die skuif te maak.

CT Botha ·

As die Portugees uit Portugal of die Duitser uit Duitsland trek, hou hulle nie op bestaan as volk nie, want hulle toekoms is beveilig in hulle lande. Daarom kort ons Orania al bly ons nie daar nie, al wil ons bitter graag daar bly. Jou kultuur, erfenis is dan beskerm in jou eie plek al is dit ver van jou af. Die jood bly jood al is Israel baie ver weg. Ons kort Orania met eie universiteit, eie skole, finansiele instellings, eie navorsingsinstellings ens. ens.

Stephen Namibia ·

Wat my die meeste grief is die vermenging van Afrikaans en hier is die vermaakbedryf die groot sondebok. Kyk maar net na die KYKNET programme op TV soos Kwela ens. Die swak Afrikaans is opvallend.
Watse voorbeeld is dit vir ons kinders?

Lees maar die sms boodskappe wat ons daagliks ontvang. Afkortings is verstaanbaar maar die boodskappe is gewoonlik deurspek van woorde wat mens werklik moet ontsyfer om te verstaan wat die persoon probeer se.

Dit is skokkend om te sien dat mense nie meer kan spel nie. Ek het n woordeboek op my lessenaar. Wanneer ek twyfel met die skryf van n brief raadpleeg ek die woordeboek.
Wanneer jy n brief aan iemand skryf is korrekte spelling belangrik. Korrekte spelling is ook n teken van respek teenoor die persoon aan wie die brief gerig word.

Die Afrikaner het veral na die tweede wereldoorlog opgestaan in die sake bedryf in Suid Afrika. Dit kan weer gedoen word. Ek woon in n oorwegend Duits sprekende dorp waar die Duitsers 90% van die besigheids en sake wereld vanaf die jaar 1900 oorheers het.

Dit is verblydend dat die Afrikaner sakeman hier n totale ommeswaai teweeg gebring het en tans aan die spits staan in veral die boubedryf en toerisme.
Die boerdery sektor is ook n goeie voorbeeld waar Afrikaner boere telkemale boer van die jaar status inpalm. Dit is reggekry sonder onderdrukking van enige ras of groep maar dmv goeie samewerking met almal.
Ek is Engels sprekend maar praat daagliks trots Afrikaans.

JC ·

Dankie Stephen, alles wat jy genoem het en jou respek en mooi taalgebruik, word opreg waardeer, Dit gaan beslis nie ongesiens verby nie.
Ek wens jou ‘n verruklike dag toe:)

John ·

Solank Orania deel bly van SA, is sy bestaan onseker soos elke groot boereplaas, ‘n eie geldstelsel inkluis. Jaloesie en magsbeheptheid is ‘n Afrika-swam sonder kuur. Selfs Malema kom gereeld kyk wat aangaan. Solank dit sukkel-sukkel gaan is almal rustig, maar as… ‘n Gebied moes destyds afgebaken gewees het dan was ons ‘n staat om mee rekening te hou. Nou droom ons oor ‘n plek vir ryk afgetredenes wat dit met ‘n ysterhand bestuur.

Rupert Ashford ·

Jy’s reg John, maar toe Oom Constand daarvoor wou veg het die een klomp hakke ingeslaan en aangedring op die Boererepublike en die ander lot het hom verseker “kry net eers die verkiesing verby dan kan ons daarna kyk”. Ons is te min om die Boererepublieke op te eis (vergeet van historiese oorenkomste en die volkereg – hulle sal julle uitlag) en daar word na 25 jaar nog steeds “gekyk”. Enigste oplossing is om iets wat niemand wil he nie soos Orania te vat en te ontwikkel uit niks – ons kan dit doen.

JC ·

NET ons kan dit doen; en ‘n reuse sukses daarvan maak Rupert! :)

Boerseun ·

John, as die grond gebied en populasie groot genoeg is dan kan jy probeer afstig.

Boerseun ·

Dit is n probleem daar is nie genoeg werk op die oomblik daarom het ek gehoop Academia maak hul hoof kampus in Orania. Met n hotspitaal van wereld gehalte daar en n mediese leerskool saam top land bou en tegniese navorsing kan die Afrikaaner sy vernuf uit leef. Vas oortuig n top brein soos Wouer sal daar klas gee. Gee top mediese behandeling goedkoop sodat die weste Oriania toe vir behandeling.

Disselboom ·

Dis moeilik om ‘n Afrikaner sonder Afrikaans te bedink; geld die omgekeerde ook, dat Afrikaans nie sonder die Afrikaner kan nie?

JC ·

Ek dink so, Disselboom. Ons is onlosmaaklik daarmee verbind, en moet altyd en gedurig in die bresse tree daarvoor. Van ons bruin broers en susters doen ook darem so, maar baie van hulle is te nonchalant, ongeergd en traak-my-nie-agtig oor die beskerming daarvan, NET SOOS BAIE AFRIKANERS OOK IS. Bruinmense se aandeel in Afrikaans, sy fondamente, en sy toekomstige groei, is egter net so groot en belangrik, as hulle dit net HEELTEMAL wil omarm!
Ek moet se, ek sal nooit die “taalvermenging”, wat hul Kaaps noem, verstaan nie, en is korrekte standaard Afrikaanse uitspraak, spelling en taalgebruik vir my baie belangrik, MAAR EK ERKEN Kaaps as ‘n variasie, vorm of plaaslike dialek van Afrikaans, en het respek daarvoor, omrede dit verbind kan word met die plaaslike Kaapse kultuur en dus kultuur-spesifiek is. Ons en ons bruin broers en susters is eintlik baie naby aan mekaar, party persone mag van my verskil, maar dit is hoe ek dit sien en baie ander. Ras is dus nie ‘n versperring vir die omarming van Afrikaanses met mekaar oor die ganse Suid-Afrikaanse spektrum nie.

Disselboom ·

@JC – is Akademia ‘n Afrikaner-instelling of ‘n Afrikaanse instelling?

Boerseun ·

Sal Frans sonder Frakryk. Jip ek die sprekendes is nie naastenby dieselfde nie

Chris du Plessis ·

Gaan Afrikaner instelling Afrikaners red met die huidige bestel ?
Frans Cronje, hoof van die SA Instituut vir Rasse Verhoudinge, het onlangs n stelling gemaak op hierdie einste Maroela media wat Afrikaners se werklike probleem aanspreek.
Wittes ( en by implikasie Afrikaners) sal nie meer teen die middel van die eeu in SA bestaan nie as identifiseerbare groep nie.
Gaan hierdie ‘Afrikaner instellings’ n verskil maak aan herdie bg. feit ?
Afrikaners se getalle neem af en swart Afrikane se getalle neem toe in so mate dat as net die normale aanewas syfers in ag geneem word sal Afrikaners teen 2050 minder as n miljoen wees in SA en swart Afrikane oor 100 miljoen.
Die eenigste manier hoe Afrikaners sal kan oorleef en iets doen aan hierdie agteruitgang is as hulle selfbeskikking of onafhankliheid verwesenlik. Afrikaners moet in politieke beheer van hul toekoms wees om te kan oorleef.
Dus al hierdie pragtige en goeie werk wat Afriforum doen beteken eintlik niks in die groter prentjie nie want dit gaan nie die uiteinde van Afrikaners se lot verander nie.
Indien Afrikaners nie die wagmoedige stap neem om selfbeskikking nou n prioriteit te maak nie, is emigrasie n baie beter opsie. ‘Afrikaner selfstandigheid’ is nie voldoende nie en kan kwalik as selfbeskikking beskou word.
Dit is moontlik om selfbeskikking te kry en selfs onafhankliheid, maar eerstens sal daar die wil getoon moet word daarvoor, beginende by organisasies soos Afriforum.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.