Afrikaans en Afrikaners as rookskerms vir politieke agendas en wanprestasie

Die betoging by Hoërskool Overvaal in Vereeniging (25 Januarie 2018). Foto: Ian Cameron.

Die afgelope aantal jare het die Suid-Afrikaanse skooljaar elke Januarie op dieselfde trant begin. Nog skaars was die oordrewe sukses van die vorige jaar se matriekuitslae gevier, of (gewoonlik) iewers in Gauteng – van Fochville en Pretoria, tot nou in Vereeniging – daag ’n groep kinders by ’n vol enkelmedium Afrikaanse openbare skool op en eis om ingeneem te word en boonop in Engels onderrig te ontvang.

Die departement van basiese onderwys wat juis veronderstel is om sy personeel te beskerm en aan die kant van die beste onderwyspraktyke soos moedertaalonderrig en ’n lae onderwyser/leerling-verhouding te staan, kies telkens dié kant van die groep wat die eise stel. Politieke druk op die skool en die ouerbeheerliggaam neem toe, aantygings van rassisme word teen hulle geslinger (al is die leerlinge in die skole waaroor dit gaan nooit eenrassig nie) en soms verloor alle betrokke leerlinge kosbare onderrigtyd weens gewelddadige betogings deur ’n mengsel goedgelowige gemeenskapslede en verteenwoordigers van politieke partye. Soms skik die skole en neem die kinders in, ander kere nie, maar skade is daar altyd en die onderwysdepartement wat die krisis veroorsaak het, staan hoogheilig eenkant, besig om hulle hande in onskuld te was.

Hierdie jaar, soos die vorige kere, het onderwysdeskundiges die ware feite in die kollig probeer plaas. Paul Colditz van Fedsas het byvoorbeeld verduidelik dat die groeiende leerlingtal in Gauteng van 2006 tot 2016 die bou van ten minste 348 skole genoodsaak het, maar slegs 85 skole is in die tyd voltooi.

As privaat instellings, plaaslike en provinsiale owerhede kan bereken hoe die demografie van Gauteng oor ’n aantal jare heen gaan verander, waarom kan die onderwysdepartement nie planne maak om by te bly nie? Hulle het tog toegang tot die syfers en tot een van die hoogste begrotings vir onderwys in die wêreld, as dit as persentasie van die nasionale begroting bereken word.

Die 2016/2017-jaarverslag van die ouditeur-generaal bring nog meer skokkende feite aan die lig. In die genoemde finansiële jaar is die volgende bedrae nasionaal begroot. Telkens is die teikens nie eens naastenby behaal nie (sien tabel).

overvaal-nasionale-begroting

Tabel: Verskaf.

Op 28 Januarie 2018 het die minister van basiese onderrig, Angie Motshekga, ’n mediakonferensie gehou om onder meer te verduidelik dat etlike duisende kinders nog nie in Suid-Afrika in skole geplaas is nie. Net in Gauteng was daar volgens haar op Vrydag 26 Januarie 2018 byvoorbeeld nog 5 300 leerlinge sonder skoolplasings. Sy het wel bygevoeg dat hulle binnekort aan skole toegewys sal word en met spesiale programme gehelp sal word om hulle skoolwerk in te haal.

Dit laat my met ’n bitter smaak in die mond en baie vrae, byvoorbeeld waarom daar in Vereeniging twee weke lank by ’n skool oor 55 leerlinge (wat intussen reeds almal in skole geakkommodeer is) betoog kan word, maar hierdie duisende ander kinders moet maar sien kom klaar.

My siniese afleiding is as jy nie gebruik kan word om politieke punte teen die gewilde sondebokke vir alle probleme in die land, naamlik Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners, aan te teken nie, kan dit niemand skeel of jy plek in ’n skool het nie.

Verder wil ek weet met registrasieprosesse wat (veral in Gauteng) elke jaar vroeër sluit, hoe is dit dan moontlik dat geen oplossing voor Januarie 2018 gevind kon word nie? Dan ook: hoeveel gaan die spesiale opvangprogramme die belastingbetaler kos – fondse wat gebruik kon word om juis daardie ontbrekende infrastruktuur te bou. Watter sielkundige gevolge het dit vir kinders om weke of maande laat te begin skoolgaan in ’n nuwe skool, as die res van die kinders al maats gemaak het, hulle voete gevind en saambindende aktiwiteite soos die jaarlikse atletiekprogramme agter die rug het?

Oor en oor word kinders in die steek gelaat en die skuldiges kom weg daarmee omdat die publiek op die rookskermgevegte soos voor Hoërskool Overvaal se hekke fokus.

Ons span tans alle moontlike kapasiteit by AfriForum in om maniere te vind om te sorg dat die aanspreeklikes verantwoordbaar gehou word.

Een van die wyses waarop ’n mens dit kan doen, is deur die feite agter die rookwalms onder die publiek se aandag te bring. In die proses moet ’n mens met die media gesels. Dan is dit veral in programme waar openbare deelname toegelaat word, skrikwekkend om te sien oor hoe min kennis mense oor hierdie sleutelonderwerp wat ons almal raak, beskik.

Bell Pottinger mag dalk gekelder wees as gevolg van die “wit monopolie-kapitaal”-veldtog, maar die idee daaragter van onregverdige wit bevoordeling bly helaas stewig kleef in die gemoed van baie Suid-Afrikaners. In radiogespreksprogramme die afgelope twee weke het ek dus gehoor dat dit waar is dat moedertaalonderrig die beste vir kinders is, maar dit beteken dat ʼn wit Afrikaanse kind bevoordeling geniet wat ʼn swart Sotho-kind nie het nie. Die kommentators se enigste oplossing is nie om kragdadig te sorg dat die Sotho-kind ook toegang tot moedertaalonderrig kry nie, maar om die reg van die Afrikaanse kind weg te neem. Dit staan as die “gelyke ellende argument” bekend.

In ’n artikel die naweek in City Press verwys prof. Russell Kashula, Zakeera Dokrat en prof. Monwabisi Ralarala na die Cofimvaba-projek in die Oos-Kaap, waar wiskunde en wetenskap in Xhosa aangebied word en die leerlinge se slaagsyfer dramaties styg. Wat ’n genade dat daar mense is wat die gelyke ellende argument in die wind slaan en eenvoudig doen wat die beste vir leerlinge is. Hopelik sal hulle voorbeeld ook ander inspireer om te doen wat reg is, versus diegene wat maklik politieke punte aanteken en gemeenskappe net verder te polariseer.

Ons sal mense moet oplei oor hulle taalregte. Welmenende kritici help ook nie. Wat my aanbetref raak die artikels oor Afrikaans wat kastig vriendelik moet wees om ruimte gegun te word ewe verwerplik as die argument dat ’n vrou se man haar maar mag slaan as sy hom kwaad genoeg maak. Of ’n taal se sprekers geraamtes in hulle kas het (en watter taal se sprekers het nie?) en hoe die sprekers hulle begrotings aanwend mag geen invloed op die sprekers se regte hê nie. Natuurlik is geen taal of haar sprekers ʼn eiland nie en moet tale saamwerk om dinamies te bly, maar die feit bly staan dat dit geen rol mag speel in die erkenning van hulle sprekers se reg tot gebruik van hulle eie taal nie. Nasionaal en internasionaal erken wetgewing hulle taalreg. Let wel, reg, nie voorreg nie. Die aanhoudende kommentaar oor uitreik en saamwerk wat nodig is vir Afrikaans is nie alleen ’n verlammende rasionalisering van die gebrek aan taalregte in ons land nie, maar ontken bowendien die enorme hoeveelheid programme wat al oor dekades op vele vlakke tussen Afrikaanssprekendes en die sprekers van ander tale in die land geld. Dit is ook tyd dat Afrikaans en alle Afrikaanssprekendes erkenning kry hiervoor en ook vir hulle voortgesette bereidwillig om alle tale in die land te help bevorder.

Ons moet met selfvertroue opstaan vir die regte van Afrikaanssprekendes en die sprekers van ander Suid-Afrikaanse tale aanmoedig om dit ook te doen.

Wêreldwyd besef gemeenskappe toenemend dat hulle kulturele, maar ook ekonomiese oorlewing van die handhawing van hulle taalregte in primêre, sekondêre en tersiêre onderrig afhang. In Nederland, waar universiteite die afgelope dekade fluks verengels het, lui Vrydag 26 Januarie 2018 se voorbladopskrif van die koerant De Telegraaf “Vragen over studies Nederlands recht, psychologie, farmacie, wiskunde. Stop Engelse gekte!”

Dieselfde vrae geld plaaslik – te meer nog so omdat Suid-Afrikaanse kinders by gebrek aan moedertaalonderrig bedroewend sleg in dié vakke vaar. Ons kan nie politici toelaat om met anti-Afrikaanse en -Afrikaner argumente ons te mislei sodat hulle en hulle amptenary langer met wanprestasie wegkom nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Theresa ·

Alana, jy slaan altyd die spyker op die kop! Dankie vir ‘n insiggewende artikel met baie waarheid in.

Casper Labuschagne ·

Hier is verskillende agendas ter sprake. Vir die onderwysdepartement is dit om hul mislukkings te verbloem, maar vir ‘n fasksie van die regerende party is die agenda om stelselmatig die minderheidsregte wat Afrikaans (en die wit bevolking) geniet uit te skakel. Maar buite die skool geld ‘n ander agenda, en hul slagspreuke en dreunsang het ‘n onstellende boodskap, naamlik dat Afrikaans die vuurhoutjie moet wees wat die revolusie sal aansteek wat hulle vas glo nog aan hulle verskuldig is.

Eish ·

Amen. Ons is ongelukkig die spyker wat die hamerslae moet vat soos wat ons dieper in verontregtig ingemoker word.

Therese van Schalkwyk ·

Skitterende artikel deur Alana Bailey!

Wat die vierde laaste paragraaf oor taalregte betref, word ‘n sug van verligting geslaak dat iémand dit uiteindelik hardop sê! Heel waarskynlik 20 jaar of so te laat, maar mag die hoop nie beskaam nie.
Tot so onlangs as verlede week is hierdie ‘rol-om-en-speel-dood-en draai-die-ander-wang-vir-nog-‘n-klap’ – strategie verkondig deur vooraanstaande Afrikaanssprekendes op ‘n Afrikaanse webwerf.
Let op waar het hierdie slap houding Afrikaans gebring tot nou en probeer iets anders.
Versoening en uitreiking was nog altyd noodsaaklik, maar beslis nie wat taalregte betref nie.

Jerry ·

Die ANC se onverdraagsaamheid teenoor die meerderwaardige taal, kultuur, ekonomie en godsdiens van die Afrikaner word weerspieel in hulle beskouing dat die Afrikaner die onderdrukker was, steeds is en steeds sal wees indien die Afrikaner toegelaat word om sy taal, kultuur, ekonomie en godsdiens te behou. Om hierdie rede word idees soos dat almal gelyk gemaak moet word met die massas “gelyke ellende” ingespan ten einde laaste, die Afrikaner in die massas te verswelg. Soos wat die Afrikaner besef dat kulturele en ekonomiese oorlewing afhang van taalregte in moedertaal onderrig, net so besef die ANC dit en sal die radikales in die ANC enige iets doen om die Afrikaner hierdie regte te ontse, selfs al is dit ook ten koste van hulle eie mense. Soos wat die Afrikaner meer en meer weerstand bied teen hierdie verswelging so sal die ANC se onverdraagsaamheid teenoor die Afrikaner vermenigvuldig. Die Afrikaner het die termyn wat die meer gematigde CR as president gaan dien om die Afrikaner se huis in orde te kry ten einde die regte benadering te volg en beste keuses te maak vir oorlewing en voorspoed van die Afrikaner nageslagte. Voor CR se termyn eindig moet die Afrikaner gevestig wees tov selfbeskikking en of volkstaat in Suid-Afrika anders sal dit nooit toegelaat word nie.My beskeie opinie is dat voorspoed jou net beskore is in n land waar jy welkom is en waar jou regte nie beskerm hoef te word nie,omrede dit geen bedreiging vir ander inhou nie.

PJC ·

Hierdie is maar net deel van die “revenge” wat nog steeds gesoek word en kan nog baie ernstiger raak.

André Badenhorst ·

Ek het al in die verlede kritiek uitgespreek op die uitlatings en manier waarop Alana Bailey . Hierdie artikel vee al daardie kritiek met en oogopslag weg en ek trek dit alles terug en kyk met nuwe respek na die uitstekende en gebalanseerde denker. Doe zo voort!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.