Afrikaans en hoër onderwys – dis tyd om saam te bou!

Deur Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia

Marthinus-Visser-Akademia.jpg

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia

Afrikaans as onderrigtaal was die afgelope tyd weer gereeld in die spervuur. Die eerste vonkies het gekom van die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, met sy reaksie op die Sol-Tech-sooispit. Kort op sy hakke was die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Nzimande, se versekering dat daar nie toegelaat sal word dat mense deur Afrikaans uitgesluit word nie. Kort daarna kom die Gelyke Kanse-hofuitspraak, wat die laaste hoop op Afrikaans as onderrigtaal by Maties kelder.

Verlede week kry ek vir die eerste keer die hersiene taalbeleid van die departement van hoër onderwys en opleiding (DHOO) onder oë. Waar die vorige beleid die bevordering van Afrikaans as wetenskapstaal by openbare universiteite aangemoedig het, dek die hersiene beleid die tafel vir Engels as die de facto-taal van openbare onderwys. Ons moet ons regmaak vir ʼn stamperige rit op die moedertaalonderrigpad.

In dieselfde tyd wat hierdie gebeure afspeel, besoek ʼn afvaardiging van Akademia vir die tweede maal verskeie universiteite in die VSA. Hierdie besoek herbevestig die gedagte dat daar nuut gedink moet word oor wat universiteite behoort te doen – wat die aard en wese van die universiteitswese behoort te wees. Hieroor verskyn ʼn artikel deur prof. Danie Goosen op Maroela Media, waar hierdie ideale van die universiteitswese treffend uiteengesit word.

Geoordeel aan die kommentaar op die artikel is dit duidelik dat baie mense besef hoe belangrik so ’n universiteit nou vir ons gemeenskap geword het. Daar is egter dikwels vrae wat betref die spoed waarteen Akademia vorder. Sommiges word afgesit deur die feit dat Akademia nie ʼn groot instelling is met alles wat saam met ons tradisionele universiteitsprentjie gaan nie.

Hierdie vrae is die moeite werd om oor na te dink en te plaas binne die huidige konteks van Afrikaans as onderrigtaal.

Afrikaans as onderrigtaal

Daar is nou nie meer veel te sê oor Afrikaans as onderrigtaal by openbare universiteite nie. Die enigste universiteit waar Afrikaans nog in die klaskamer gebesig word, is op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus. Jy hoef nie ʼn regskenner of profeet te wees nie om te besef dat Afrikaans as onderrigtaal ook daar sal sneuwel met die inwerkingstelling van die DHOO se nuwe taalbeleid.

Intussen is daar ʼn Afrikaanse gemeenskap van miljoene mense in Suid-Afrika, waarvan duisende graag onderrig in Afrikaans wil ontvang. Hierdie mense sluit jong- (en nie meer so jong) mense in, wat doodeenvoudig in ʼn vriendelike, verstaanbare en gehalte-omgewing wil studeer. Terloops, as dit nie so was nie, sou Akademia nie binne agt jaar, met slegs vyf grade, meer as ʼn duisend ingeskrewe studente gehad het nie. Dit sal uiters gemeen teenoor hierdie jongmense wees om niks te doen nie en toe te sien hoe hul geleentheid tot moedertaalonderrig voor hul oë vernietig word.

Akademia in konteks

Akademia

Niks begin groot nie. Afgesien van die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), het elke voormalige Afrikaanse universiteit klein begin – ʼn klompie omgeemense om ʼn tafel wat besef hoe nodig hul gemeenskap ʼn universiteit het.

Met Akademia was dit weer so. In 2008 was Akademia bloot ʼn idee. In 2009 word een persoon getaak om die idee in ʼn werkbare model te ontwikkel. In 2011 word enkele mense aangestel, en in 2012 word Akademia geregistreer en skryf 40 studente in.

As klein jou afskrik sal jy niks nuut op die been kan bring nie.

Akademia verwag om volgende jaar 1 300 studente in te skryf. Hierdie studente swot in ʼn tegnologies gevorderde model wat nuwe betekenis aan afstandsonderrig bied. Studente woon verpligte, interaktiewe kontaksessies by in een van twaalf onderrigsentrums in die land, of ʼn dertiende in Windhoek. Hierdie sentrums is opgerig op plekke waar die Afrikaanse gemeenskap maklike toegang kan verkry.

Studente studeer in ʼn “omgekeerde klaskamer”-benadering en word voorberei vir die volgende komende kontaksessie deur middel van ʼn hoogs effektiewe aanlyn leerbestuurstelsel (Akademia se eie pasgemaakte Moodle-platform). Hierdie model is baie aantreklik vir mense wat nie voltyds kan of wil studeer nie en die geleentheid kry om te werk terwyl hulle studeer. So ’n model is byvoorbeeld baie gepas vir studies op gebiede waar klerkskappe ʼn vereiste is, soos LLB.

Alhoewel die model aanvanklik ontwikkel is met die oog op “werk terwyl jy studeer”, het die verhouding skoolverlaters jaarliks groter en groter geword – wat iets sê van die behoefte wat bestaan vir studies in Afrikaans.

Hoe nou vorentoe?

Die behoefte na ʼn residensiële kampus vir hoofsaaklik skoolverlaters het die afgelope tyd toegeneem. Alhoewel dit altyd die plan was, moet die plan nou versnel word.

Hierdie plan gebeur in twee fases. Met fase een word beoog om nege grade (ses is reeds geakkrediteer) vanaf 2021 op ʼn tussentydse kampus in Centurion aan te bied. Hierdie grade is:

  • BCom (Ondernemingsbestuur)
  • BCom (Ekonomie en Regte)
  • BCom (Finansiële Rekeningkunde)
  • BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • BSc (Wiskundige Wetenskappe)
  • BSc Rekenaarwetenskap
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • BA (Kommunikasiekunde en Joernalistiek)
  • BEd (Grondslagfase)
  • BEd (Intermediêre Fase)

Fase twee is om ʼn kampus te open waar ongeveer 5 000 studente voorgraads sal studeer. Hier sal uiteindelik tussen dertig en veertig voorgraadse programme vanuit sewe fakulteite aangebied word.

Die eerste dekane hiervoor is reeds in 2019 aangestel, en hulle werk tans voluit om bogenoemde kwalifikasies vir akkreditasie te ontwikkel. Nagraadse kwalifikasies sal ingefaseer word. Planne vir die fasiliteite wat hiervoor opgerig gaan word, vorder baie goed.

As alles mooi loop, sal die kampus oor vyf jaar in gebruik geneem word.

Vir lank het die Afrikaanse gemeenskap twee opsies gehad. Enersyds moes hard gepoog word om die Afrikaanse aanbod by openbare universiteite te behou, en andersyds moes begin werk word aan ʼn selfdoen-alternatief.

Eersgenoemde is nie meer ʼn opsie nie en bly daar nou slegs een opsie oor. Vir mense wat ernstig oor Afrikaans is, het die tyd aangebreek om moue op te rol en medewerkers en -bouers te word. Vir die ander (en ongelukkig vir hul kinders) – dié wat glo dat hulle die luuksheid het om kieskeurig te wees of afgeskrik word deur nederige beginne – lê ʼn moeiliker alternatief voor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Werner ·

Die B.Sc. grade vanaf 2021 is veral uitstekende nuus. Goed gedoen

Eddie ·

Ons moet asb tog net soos die Regering net droom en niks doen nie . Die plattelande se fasiliteite en elektroniese tegnologie is tot ons beskikking en so kan duisende meer studente in veral Afrikaans geakkomodeer word sonder groot behuisings problem ! Verbeter net so ‘n bietjie op UNISA se stelsel !

Sven ·

Kry akkreditasie by ‘n top Belgiese of Nederlandse universiteit. Al beteken dit dat julle vier-jaar B grade moet aanbied. Vandaar kan jul studente direk hul Magisters in Europa doen en Akademia op die kaart plaas.

Dolf ·

Die jonges moet kwaliteit onderrig ontvang sodat hulle in ontwikkelde ekonomië kan werk. Vergeet van Afrika en Afrika probleme. Los dit vir die Africans, wit en swart.

Carel ·

Ek ondersteun jou gedagte 100%. Dan omseil jy toestemming van ‘n hulpelose regering.

Willebees ·

Uitstekende werk! Wanneer begin Akademia Hon en M-grade aanbied?

Wingman ·

Die rit sal meer stamperig word. Wat skole betref sal Afrikaans as onderrig medium in elk geval voor 2030 uitgefasseer word.

Karin ·

@Wingman, ek stem 100% met jou saam met betrekking tot Afrikaans in staatskole. Maar dit is hoekom ons as ouers ons kinders se skoolopleiding in ons eie hande moet neem. Ons het dit te lank gelos in die hande van ander wat nie ons Afrikaner kinders se menswees in ag neem nie, en dan praat ek van ons geloof en ons herkoms wat verdraai word en as die euwel van ons tyd uitgebeeld word. Ons moet ophou om negatiewe kommentaar te lewer teenoor die instansies wat hard werk om Afrikaans op te bou en relevant te hou. Ons moet hulle ondersteun. My vraag aan jou is, WAT DOEN JY?

skurweberg ·

Stig maar weer n genootskap, soos Die genootskap van regte Afrikaners.

Dewald ·

Absoluut puik, oorweeg tog net asb naam verandering na iets wat nie soos Volkstaat klink, bv. Instituut vir Afrikaans Hoer Onderwys, wat natuurlik mettertyd sy eie noemnaam sal verkry soos Pukke.

Werner ·

LMGA, hoe klink Akademia soos Volkstaat? Dis tog duidelik ‘n vorm van akademie.

John ·

Daar is vele ander studierigtings soos landbou, ingenieurs- en aptekerswese, medies en die kunste en ander waar Afrikaners steeds aangewese is op ander inrigtings en alle studente op goeie biblioteke. Slegte verhoudings kan die lewe erg bemoeilik. Om Engels heeltemal uit te faseer gaan studente se loopbaan nà hul studies erg inperk. Menere sal akkreditasie ‘n grap maak. Kry professore en doktore as lektore, maar meeste sal sku wees om staatsalarisse op te sè.

Knapsekêrel ·

Dis die kwaliteit wat tel, nie die taal van onderig nie. Van die “Engelse” universiteite hier is nutteloos en behoort te sluit. Heidelberg of die Sorbonne is baie beslis meer werd as al SA se universteite saam.

Sven ·

Die staatsuniversiteite gaan klippe kou om al die salarisse te betaal. Fakulteite en departmente sal toemaak, dan is baie dosente werkloos. Van die ander private instansies begin ook om studente en dosente af te rokkel.

GB ·

John, verduidelik asb. hoe die uitfasering van Engels op universiteitsvlak studente se loopbane na hul studies gaan inperk. Feitlik alle Afrikaanse kinders leer Engels tot in matriek en daarom kan hulle reeds verstaanbaar in Engels kommunikeer. Hulle het tog nie nodig om nou hul rug op Afrikaans te keer en net Engels op universiteit te praat ten einde eendag vaardig in Engels te wees as hulle die werkplek betree nie. Moedertaalonderrig tot op tersiere vlak bly die beste.

Hendrik S ·

Kyk gerus na Akademia se webwerf. Die nuwe dekane was almal tevore professors by ander universiteite. Mag vele hulle volg.

waarheid ·

Hoop de viliiers die uitverkoper van Afrikaans by univ Stellenb lees ook hierdie artikel.
Hy het Stellenb Univ vernietig – dit sal sy nalatenskap wees.
Akademia is wonderlik!!!!

Susna ·

Ek ondersteun die Akademie projek 100%. Dit gaan ook nie net oor die taal Afrikaans nie, maar oor die kwaliteit van onderig, en wat jou graad werd gaan wees op die einde van die dag. Baie sterkte aan een en almal wat nou bydra aan die stigting en uitbou van Akademia.

Hendrik S ·

Ek hoop dat Akademia sal ook probeer om skenkings oorsee te kry. Daar is enkele universiteite in Europa en minstens 1 in Amerika wat Afrikaans as ‘n vak aanbied, dalk mag hul belangstelling wyer gaan. ‘n € of $ beteken heelwat meer in SA.

Dankie Solidariteit, Marthinus Visser, prof Danie Goosen en julle hele span.
Ons is hier om te bly en Afrikaans te bly!

Andre ·

Baie goeie inisiatief. Maar onthou, dis ‘n duur pad om te loop. Om by enige private universiteit te studeer kos baie geld. Min ouers sal sit kan bekostig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.