Afrikaans en rassisme

Die Afrikaanse Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

In ʼn demokrasie waar rassisme nog lewendig is, hoef jy nie rassisme te bewys nie, jy moet dit net kan beweer. Dit is soos ʼn hoëveldse plaasgemeenskap in Augustus: iemand hoef net rook te vermoed, dan bel die bure, gryp sakke en nat takke en spring in hulle bakkies. Of daar nou regtig ʼn vuurtjie onder die rokie is, is nie belangrik nie, want elke boer ken die verwoesting van ʼn veldbrand. En die fluitjieblaser is die dorpsheld…

Die slagoffers van die veldbrand van rassisme in ons demokrasie met die idealistiese elftaaldroom is ongelukkig tien van die elf amptelike tale – om van die Khoi- en San-tale nie eens te praat nie. Net jammer dat baie van ons wat Afrikaans is, nie die sensitiwiteit van rassisme begryp nie, al is dit te verstane teen die agtergrond van ons geskiedenis. Gerugte van ons rassisme het egter een van die gedugste vyande van Afrikaans geword.

Dit blyk byvoorbeeld uit die NWU-debakel van die afgelope tyd duidelik dat rassisme nie meer geduld kan word nie. Aantygings oor die rassisme van Afrikaans hoef nie bewys te word nie, want dit word ʼn geldige rede vir die aanval op die sagste teikens. En wat is ʼn sagter teiken as die hart van ʼn identiteit, veral as die hart ʼn taal is wat nog swaar dra aan ʼn verlede van uitsluiting?

Volg ʼn mens uitsprake oor Afrikaans en die universiteit, veral dan dié oor die Potchefstroomkampus van die NWU, is dit duidelik dat die taal slagoffer word van bewerings van rassisme, of die bewerings in alle opsigte waar is, is nie vir die argument ter sprake nie. Enige sweem van Afrikaanse rassisme is genoeg rede om Afrikaans sondebok te maak.

Hierdie feit het alles te make met die hegemonie van Engels in Suid-Afrika ná 1994. Daar is geen beter rede om Engels te verhef tot super amptelike taal nie as om te argumenteer dat Engels die enigste deurgang tot transformasie is. Asof al die nie-Afrikaanse kampusse in die land geen vorm van rassisme ken nie.

Ek stem saam met prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU, se verduideliking op die KykNet-program Prontuit van 8 Oktober dat Afrikaans ʼn plek op die Potchefstroomkampus het, maar dat die gebruik daarvan nie ʼn dekmantel mag wees om die kampus wit te hou nie. Hy redeneer verder dat eenrassigheid ook onaanvaarbaar is vir die ander twee kampusse van die NWU. Ek aanvaar verder, op dieselfde gronde, dat alle universiteitskampusse die werklikheid van ʼn veelrassige Suid-Afrika moet weerspieël. Hiermee aanvaar ek dus dat daar nie iets soos ʼn wit kampus in ʼn demokratiese Suid-Afrika mag bestaan nie, en op dieselfde grond, beslis ook nie ʼn swart of uitsluitlik Engelse kampus nie.

Die oplossing vir die probleem van rassisme, nie net op universiteitsvlak nie, word na my mening egter op die verkeerde plek gesoek, want dit lê nie in ʼn heksejag op Afrikaans nie.

Die gronddwaling lê vir my in die verabsolutering van die kollektiewe droom dat elke instelling in Suid-Afrika die nasionale demografie moet reflekteer. Die afdwing daarvan op alles en almal is niks anders as fundamentalisme nie. Dit is tog onprakties: ʼn kampus in Venda sal noodwendig ʼn oorwig Vendasprekers hê, soos wat ʼn universiteit in die hart van ʼn Sesotho-gemeenskap oorwegend Sesotho sal wees. ʼn Afrikaanse organisasie soos die ATKV moet inderdaad die veelrassige nasionale demografie van Afrikaans reflekteer, maar dit kan tog nie die nasionale demografie weerspieël nie. Dit is immers ʼn Afrikaanse kultuurorganisasie, of hoe?

Vir die meeste deelnemers aan hierdie gesprek lê die oplossing vir die gebrek aan transformasie in die opeis van Engels as die enigste taal van hervorming. Let daarop dat ek aanvaar dat ons nog ver van doeltreffende transformasie is. My probleem is nie die probleem nie, my probleem is die oplossing!

Die kern van ons probleem, laat ek dit nou maar reguit sê, is myns insiens in wese geleë in ons erkenning van elf amptelike tale.

En as jy nou oor die skok is, dink mooi: die enigste praktiese uitkoms van ons elftaalbeleid is die vestiging van Engels as die enigste taal van transformasie. Eintlik is dit niks anders nie as ʼn dekmantel vir die verskansing van die hegemonie van Engels. Alles wat nie Engels is nie, is ʼn hindernis in die weg na transformasie. Twak!

Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, Wet 12 van 2012 het op 2 Mei 2013 in werking getree. Dit is ongelukkig nog lank nie ʼn oplossing nie, want dit word nie geïmplementeer nie. As Engels, Afrikaans, isiZulu en Setswana die vier nasionale amptelike tale van Suid-Afrika is, het meer as 90% van die bevolking taaltoegang op alle vlakke. Die oorblywende Nguni- en Sotho-tale word hierdeur nie uitgesluit nie, en die ander inheemse tale, insluitend Khoi en San, kan effektief in ʼn nuwe taalwet verskans en ontwikkel word.

Van een ding is ek ten slotte oortuig: Afrikaans gaan selfs die nuwe aanslag oorleef. Dit is juis die geskiedenis wat my dit laat glo. Oor vier eeue het die taal die aanslae van Engels en Nederlands oorleef; dit is selfs gaandeweg besig om Afrikanernasionalisme te oorleef. My groot bekommernis lê egter daarin dat die hele herrie om Afrikaans en rassisme daartoe gaan lei dat Afrikaans en sy gebruikers in ʼn intellektuele tuisland ingedwing gaan word. Die voortbestaan van Afrikaans gaan dan in die privatisering daarvan lê, want, dit weet ek ook uit die geskiedenis, as daar ʼn rokie trek dat Afrikaans deur ʼn brand bedreig word, moet dit niemand verbaas as die Afrikaanse gebruikers sakke en nat takke begin soek nie – sonder aansien van ras.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Hans Du Plessis

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

26 Kommentare

Theresa Papenfus ·

Baie dankie, Hans, vir ‘n uitstekende artikel. Die heksejag op Afrikaans maak my seerder as wat ek kan verduidelik, al kan mens ook Engels praat. Dankie ook vir die hoop wat jy voorhou dat Afrikaans sál oorleef.

Hanno Visagie ·

Ek wil nie deel wees van ‘n Afrikaans wat gelate oorleef, maar polities korrek van sy hoër funksies gestroop word en tot kombuisvlak teruggedruk word nie. Om hierdie rede vind taalverskuiwing al vinniger plaas, bv in die Kaapstadse noordelike voorstede.

Paul ·

Ek hoop dat na die siekte van politieke korrektheid sy kwota manteldraaiers opgeeis het, sal daar nog regte Afrikaners/Boere oor wees om hulle eie taal te kan praat.

John ·

“hart ʼn taal is wat nog swaar dra aan ʼn verlede van uitsluiting?”

Dit was nie uitsluiting nie! Dit was skeiding! Reuse verskil. En die meerderheid swartes was op ‘n stadium ten gunste daarvan.

John ·

“hart ʼn taal is wat nog swaar dra aan ʼn verlede van uitsluiting?”

Dit was nie uitsluiting nie! Dit was skeiding! Reuse verskil. En die meerderheid swartes was op ‘n stadium ten gunste daarvan.

Steven ·

Baie goie redenasie.Ek hou van die direkte ongeforseerde,eerlike debat oor n baie neutelige kwessie.

Steven ·

Baie goie redenasie.Ek hou van die direkte ongeforseerde,eerlike debat oor n baie neutelige kwessie.

Englene ·

Hans, jy is voorwaar ‘n woordmens van formaat. Jy gesels uiters kundig, eerlik en sonder om doekies om te draai Dit het my tog ontstel en sit ek hier met ‘n kloppende hart. Want my hart klop warm Afrikaans. Mag ons gou weer die voorreg geniet om die Wonder van Afrikaans te ervaar. Ek deel jou sentiment – nee eerder – positiewe stelling – dat Afrikaans die huidige, (seker die venynigste) , sal oorleef. Ons twak is nog lank nie nat nie!

Korreksie: na die woord VENYNIGSTE moet die woord AANSLAG volg. Verskoon asseblief die oorsig.

Englene ·

Korreksie: na die woord VENYNIGSTE moet die woord AANSLAG volg. Verskoon asseblief die oorsig.

Heilna du Plooy ·

Ek stem saam, Hans. Dit is inderdaad ‘n onmoontlike taalbeleid en daarom kom daar geen oplossings nie, net verdere probleme. Hoe kry mens die gesprek oor hierdie basiese beginsels weer aan die gang, is die vraag. Met die gebrek aan politieke wil, vergly alles en dit kan eventueel tot nuwe konflik lei as Afrikaanse studente opstandig raak en beswaar maak teen die afdwing van Engels.

Adriaan Els ·

Afrikaans en die rasse probleem daaraan gekoppel sal met nog n bietjie tyd vanself verdwyn. Elke dag lees en hoor ek nog Engelse woorde wat sogenaamde Afrikaners gebruik. Engels is goed op pad om die supertaal te word met ons geesdrftige deelname. Die mense wat Engels so graag gebruik skreeu seker gereeld dat hulle Afrikaners is terwyl die are in hul nekke uitbult en die beesmis tussen hul tone deurpeul.

Kobus ·

Wat ek nie kan begryp nie, is waarom Adriaan Basson, redakteur van Beeld, in Afrikaans sy geld verdien, maar dat hy Afrikaans om elke hoek en draai probeer af breek en uit tersiere inrigtings wil weer.

Ek kan dit nie begryp hoe mens so iemand met so ‘n ingesteldheid skaapwagter maak nie.

Kobus ·

Wat ek moes by voeg in my kommentaar op sy persoon, is omdat hy in elke skrywe van hom en van meet af na hy aangestel was in sy huidige pos die Afrikaner en Afrikaans af kraak, hy het nie tyd en geen goeie woord nog ooit vir een van die twee gehad nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.