Afrikaans en sy Nederlandse bande

Embleem van die Zuid-Afrika-huis in Amsterdam.

Embleem van die Zuid-Afrika-huis in Amsterdam.

Ek is tans in Europa*, meer spesifiek in Antwerpen, België, waar ek ʼn kongres bywoon en ʼn referaat gaan lewer oor die proses van versoening in Afrikaans. Soos altyd as ek na die Lae Lande kom, probeer ek met mense praat oor Afrikaans en hoe die Lae Lande (dalk) kan help om die saak van Afrikaans hier te bevorder.

Ek het op Donderdag 23 Augustus namens die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns die Akademie se Erepenning vir Kultuurbevordering aan dr Harry Brinkman oorhandig. Oor die jare het hy hom bemoei met die versterking van kulturele bande tussen SA en die Lae Lande. Dit was dus ʼn voorreg om die geleentheid te kom bywoon in die huis van die Zuid-Afrikaanse Instituut in die Keizersgracht 141 in Amsterdam. Hierdie huis staan al lank as ʼn baken vir Afrikaans en wat Afrikaans verteenwoordig in veral Nederland.

Hierdie huis is egter tans onder groot druk omdat die onderhoudskoste te hoog is en die huidige bestuur  dit selfs oorweeg het om van die huis ontslae te raak. Druk op die proses het die besluit ietwat omgekeer, maar die kans dat die huis in sy huidige vorm – as bymekaartrekpunt vir Afrikaans en Afrikaanse aktiwiteite in Nederland – sal kan voortgaan, lyk nie besonder goed nie. Daar sal kompromisse moet kom en koppe geswaai moet word, maar of dit moontlik gaan wees, is moeilik om te sê. Hier is saamwerk en saamdoen van groot belang.

Die Zuid-Afrika-huis (middel) aan die Keizersgrag in Amsterdam.

Die Zuid-Afrika-huis (middel) aan die Keizersgrag in Amsterdam.

Tydens die geselligheid by die bogenoemde funksie by die huis, het verskeie persone my genader met die vraag: Hoe gaan dit nou met Afrikaans?  En dit in ʼn week waarin ʼn dosent by die Universiteit van Johannesburg gesê het dat hy bykans sy “laaste Afrikaanse klas” in sy vakgebied aangebied het en die rektor van die Universiteit van KwaZulu-Natal aangedui het ʼn taal soos Afrikaans moet as vakgebied op sy kampus verdwyn.  Hierdie soort inligting is vryelik op die internet en die media beskikbaar en die mense hoor en lees daarvan.

ʼn Mens kom agter dit is ingeligte mense waarmee jy praat, want hulle verwys na spesifieke gebeure in SA. Dit kom dus vir hulle voor in SA loop dinge nie reg nie, ook wat die taal betref. Van hulle het hulle kommer uitgedruk of die projekte wat hulle in SA aan die gang het, werklik uitgevoer sal kan word. En ja, daar is heelwat Nederlandse of Vlaamse instansies wat besig is met projekte in SA. Die probleem hiermee is net dat dit nie algemeen bekend is nie, so asof betrokkenheid maar  ʼn lae profiel moet kry.

Dit wissel van uitruilprogramme waarby jong mense betrokke is (soos die bekende Jongerenproject), die stuur van onderwysers na skole in die platteland, die verskaf van befondsing om skole te bou of kinders in staat te stel om te kan leer (deur hulle koste te betaal), beursprogramme, jeugprogramme, e.s.m. Ek het gevra dat hierdie stories tog asb. vertel word vir ons mense in SA. Ons dink so dikwels die Lae Landers geniet net SA as reisplek, maar hulle verskaf duidelik ook ontwikkelingshulp op talle plekke en op talle maniere. Daarvoor verdien hulle ons respek en dank. Die stories hier moet net vertel word!

ʼn Goeie vertrekpunt hiervoor is die Stichting Afrinetwerk wat deur belangstellende Nederlandse en Vlaamse persone tot stand geroep is. Daar gaan ʼn webwerf tot stand kom waar mense en instansies kan vertel wie doen wat en waar doen hulle dit om watter rede. Op hierdie wyse gaan ons ook kommunikasiekanale oopmaak.  En dan kan ons oor en weer met mekaar begin praat en mekaar inlig – dalk kan ons selfs dinge saamdoen.

Dit kom my wel voor Afrikaans as taal kry maar terloopse aandag in die Lae Lande. Hierdie lande voel ook nou die knyp van die Europese eurokrisis en op talle plekke word afgeskaal, soos by kulturele instellings, museums, en natuurlik ook uitreikprogramme na ander lande (soos na Suid-Afrika). In tye van sulke krisisse val die klem maar op die instandhouding van die eie. Dis natuurlik nie te sê dat Afrikaans nou die spreekwoordelike ‘koue skouer’ kry nie, maar die klem in hulle eie omgewing het verskuif.

Juis om hierdie rede moet ons as Afrikaanse taalgemeenskap volhou om uit te reik na die Lae Lande en moet ons aktief probeer om ons teenwoordigheid daar te handhaaf. As ons toelaat dat die belangstelling in Afrikaans sodanig kwyn dat ons van die horison begin verdwyn, gaan dit ons eie skuld wees. Daarom is die hou van byvoorbeeld ʼn Afrikaanse fees in Nederland steeds van groot belang – die tweede Festival voor het Afrikaans word beplan vir Junie 2013 in Amsterdam. Maar ook ander aktiwiteite moet aandag kry, soos die volhou van die Jongerenproject, die betrek van SA en Nederlandssprekende kunstenaars oor en weer, die wedersydse deelname aan aktiwiteite, die aanbied van kursusse oor Afrikaans aan universiteite in Nederland en Vlaandere, ens.

Idealergewys moet ons ʼn Afrikaanse kantoor in die Lae Lande hê, moontlik selfs in Zuid-Afrika-huis in Amsterdam! Dan het ons dadelik weer ʼn fokuspunt vir Afrikaans.  Dan het ons persone wat hulle aktief kan bemoei met die uitbou van die belange van Afrikaans in ons ou moederlande. Is daar dalk ʼn befondser daarbuite wat die koste hiervan sou wou dra? Laat ons groot dink hieroor!

*[Prof. Carstens is intussen terug in Suid-Afrika. ~ Red.]

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae