Afrikaans het nog altyd beter presteer as dit onder druk is

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die argument van Jonathan Jansen dat Afrikaans se politieke bagasie die rede is dat die taal nie by openbare universiteite sal oorleef nie, hou nie rekening met die breër gebeure in die land nie, skryf Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Opstand teen Afrikaans deel van breër opstand teen bedeling

Die aanvalle op Afrikaans by universiteite vorm deel van die breër opstand teen die (grootliks) Westerse liberale bedeling waarop daar in 1994 ooreengekom is. Hierdie opstand spruit uit die groeiende gaping tussen die hoë verwagtings wat politieke vryheid by swart mense geskep het, en die oortuiging dat die meerderheid se lewens nie tasbaar genoeg verbeter het nie.

Die oorsprong van hierdie teleurgestelde verwagtings lê in ANC-beloftes dat politieke mag tot ekonomiese voorspoed sou lei. Die kontrak met kiesers was “stem vir ons sodat ons die politieke mag kry, en ons sal dan die politieke mag gebruik om vir julle ekonomiese voorspoed te bewerkstellig”. Hierdie politieke hongerdieet is tekenend van sosialistiese beleid wêreldwyd, en is gegrond op die siening dat die staat nie net die nasionale huishoudster is wat die land moet regeer nie, maar die broodwinner is wat vir die bevolking moet sorg.

Stem vir ’n lewe

Sosialiste sien ’n grondwet nie net as ʼn prosedurele stelsel wat sorg dat die meerderheid regverdig regeer nie, maar as ’n stelsel wat die meerderheid regstreeks ekonomies moet bevoordeel. Vereenvoudig gestel, dit is die verskil tussen “stem vir ʼn lewe” en “werk vir ’n lewe” – oftewel meer van ’n spyskaart as ’n reëlboek. In die praktyk het dit nog altyd spanning geskep omdat die politiek beloftes maak waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie.

Daar is ’n betekenisvolle gaping tussen die ANC se oorweldigende politieke mag en die grootste deel van sy ondersteuners se ekonomiese posisie. Dit skep ’n aandrang dat daardie mag gebruik moet word om arm mense ryk te maak deur ryk mense arm te maak. Demokrasie en kapitalisme is altyd ongemaklike bedmaats in ’n land met ekonomiese ongelykhede. Die maghebbers sien ekonomiese herverdeling as ’n kortpad na groter welvaart vir die armes omdat ekonomiese groei langer neem en verdere ongelykheid skep.

moedertaalonderrig-sni

Grafika: Verskaf.

Opstand

Die groeiende opstand is egter veel breër as net ekonomies. Die selfvertroue en verwagtings wat politieke vryheid meegebring het, lei tot ’n aandrang op die omskepping van die samelewing volgens die behoeftes en eise van die meerderheid. Dit het uitgeloop op die ANC se staatsideologie van transformasie waarvolgens die hele samelewing die samestelling en waardes van die bevolking moet weerspieël.

Op politieke gebied kom dit tot uiting in die regerende elite se toenemende ongeduld met die beperkings op hul mag deur die Grondwet, wetgewing, die regbank, die opposisie, die media en die burgerlike samelewing. Op ekonomiese gebied vind hierdie aandrang gestalte in groter staatsinmenging soos met die mynbouhandves, al meer radikale sosialistiese beleidsrigtings, aanvalle op eiendomsreg, en selfs in die kanker van korrupsie van mense wat van mening is dat politieke mag rykdom moet meebring. In plaas daarvan dat mense hul vryheid beter gebruik om hul ekonomiese posisie te verbeter, verwag hulle dat die staat dit moet doen.

Op kulturele gebied word daar aangedring op die Afrikanisering of dekolonisering van universiteite, die afskaffing van klasgeld, die uitfasering van Afrikaans, die verandering van die Westerse akademie, die verwydering van Westerse simbole en name, en selfs die groeiende anti-wit rassisme in die land. Radikale universiteitsowerhede wil dus nie net minder Afrikaans op kampusse hoor nie; hulle wil minder Afrikaners en Westerlinge daar sien. Dit is ’n projek om die multikulturele werklikheid van die land op grond van ’n monokulturele ideologie te omskep.

Kortom, die groeiende politieke, ekonomiese, institusionele, opvoedkundige en kulturele krisis in die land vorm alles deel van een groot prentjie. Wie net op een blokkie fokus, kyk die groter legkaart mis. Vryheid is ondeelbaar, ongeag of dit politieke, ekonomiese of kulturele vryheid is. Daarom moet almal mekaar se vryheid verdedig, of almal sal alles verloor.

Grondwetlike leeftye

 Die ongrondwetlike “taalgreep” by openbare universiteite is dus deel van ’n breër nasionale grondverskuiwing weg van 1994 se post-apartheidsooreenkoms na ’n postkoloniale era wat aandring op die vervanging van Westerse waardes en stelsels met dié van Afrika. Daar is ’n ongeduldige aandrang dat Suid-Afrika nou uiteindelik deel van Afrika moet word.

Hierdie verskynsel van verinheemsing is ’n wêreldwye verskynsel in post-koloniale lande, waar die selfvertroue van vryheid gelei het tot ’n kulturele herlewing en aandrang op omvattende verinheemsing. Die nuwe samelewings wat so ontstaan, kon uiteraard nie die postkoloniale Westerse bedelings en grondwette onaangeraak laat nie.

Die Chicago Law School het bevind dat grondwetlike leeftye net sowat 17 jaar is en selfs korter word. Moontlik is dit die geval omdat die openbare leeftyd van ’n politieke geslag slegs sowat 20 jaar is. In die huidige parlement is daar na wat verneem word slegs 12 lede wat oorspronklik in die 1994-parlement gesit het. Dit lyk dus al meer of die nuwe geslag nie meer so verbind voel tot die skikking wat hul ouers in 1994 aangegaan het nie, en dat hulle nou aandring op veranderinge wat hul verwagtinge en eise weerspieël. Dit is nog nie duidelik of dit uiteindelik tot ’n volgende grondwetlike bedeling gaan lei, en of dit net die huidige neiging om die grondwetlike toepassing te verskuif, bloot verder gaan voortsit nie.

Afrikaans

 Die vraag is, waar laat dit alles Afrikaans? Afrikaans gaan al meer privatiseer, net soos wat met hospitale en feitlik alle ander staatsdienste gebeur het ná die transformering daarvan. Afrikaans het nog altyd beter presteer as dit onder druk is. Soos die VN se ontwikkelingsprogram in 2004 dit gestel het: “As die geskiedenis van die 20ste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens of in die meerderheid te laat opgaan, eerder ’n lewenskragtige kulturele herlewing uitlok”. Die grafkelder word die kraamkamer. Dis hoekom ons hierdie keer ook, soos Van Wyk Louw dit gestel het, “die skat van Afrikaans veilig deur die skare sal dra”.

  • Hierdie artikel is oorspronklik in Rapport geplaas en met die vergunning van die skrywer gepubliseer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

JC ·

Dankie Flip, julle is werklikwaar wonderlik!
Afrikaans Leef!
Die enigste probleme wat daar magwees rondom Afrikaanse onderrig BY STAATSUNIVERSITEITE, wordveroorsaak deur die aanvallers daarvan self, soos Jansen.
Die probleem le dus by hulself en hul skynbare gebrek aan eie selfvertrou omdat die haters van ons taal nie dieselfde met hul eie kultuur en Taal skatte kan OF WIL doen nie. Die probleem is dus ‘n ongemaklikheid met die sukses van Afrikaanse kennisoordrag en kulture sukses en die sukses van ons kultuur en taalsterkte as sulks, omdat daar ‘n onverklaarbare gebrek aan trots enwilskrag is om dit vir eie taal en kultuur te doen. In elke geval, hoe herlei”selfvertrou” terug na uitsluitlik ENgelse(die koloniale taal) onderrig? Dit is ‘n paradoks en lagwekkend. Dit het absoluut niks met politiese bagasie te doen nie. Dit IS inderdaad ‘n politiese kwessie, want waarom sou persone wat Post 94’ vir ‘n goeie plusminus20 jaar ongehinderd in hul moedertaal onderrig ontvanghet; nouskielik die reg ontse word? Wat is die basis daarvan? Dit is definitief nie “politiesebagasie” nie, anders sou Afrikaanse onderrig vanuit die staanspoor taboe gewees het by universiteite.
Ervaring het al geleer dat deur onderdrukking KOM hernieude GROEI en dat GEFORSEERDE INTEGRASIE deur die gepoogde wegdoen van unieke kulture en variasie gedoem is tot mislukking.
Al wat ek vir Jansen en Kie kan se is” STERKTE en SELA!” ONS bou intussen ongehinderd voort op ons trotse tradisies en beitel voort aan die pragtigste tongval op aarde!
Nc 2100- AFRIKAANS 175 JAAR STERK!!!

Ou Vrydenker Afrikaner Vlakvark ·

Beste Flip, ‘n UITSTEKENDE holistiese artikel. Baie dankie.

Op die end van die dag moet die massas kos hê om in die gat in die gesig te sit. Hoe hulle daardie kos gaan bekom is ‘n ope vraag. Intussen beleef Suid-Afrika ‘n ongebreidelde bevolkingsaanwas en die natuurlike hulpbronne is beperk.

Ons Afrikaners is ‘n klein minderheidsgroep. Ons moet daarmee vrede maak. ‘n Agiele, doeltreffende en effektiewe strategie en goeie menseverhoudinge met alle Suid-Afrikaners sal die hoofdrywers wees vir ‘n suksesvolle toekoms. Tyd om ‘n behoorlike Volk-Ganttkaart op te stel.

JC ·

Geagte Flip,

Dit kom voor asof daar nou ‘n geween en ‘n gekners van tande is, en of daar by voorbaat probeer word om voorbrand te maak vir die hofaansoek teen UV wat binnekort aangehoor moet word by die KH; asook die hofaansoek teen Maties van Gelyke Kanse by die Kaapse hooggeregshof.
Ek dink maar net dit is ‘n logiese afleiding om te maak?

MCH ·

Dankie vir n artikel wat die huidige onderstrominge in ons landspolitiek in duidelike taal definieer. Spreuke 23:10 kom onwillekeurig in my gedagtes op: ” Verlê die ou grenslyne nie,…” Dit, spesifiek met die verwysing na die wegbeweeg van die 94 post apartheidsooreenkoms en die onderliggende strominge daaragter. Die winde van verandering wat gedryf word deur twyfelagtige dubbelagendas, behok die Afrikaansprekendes op kleinerwordende eilande van hoop, wat as wesenskenmerk, radikaal gaan verskil van die nuwe “verinheemsing”. Die tydperk na 94, het op enkele uitsonderings na, die oorgrote deel van die Afrikaanse gemeenskap verarm, die tydperk was n geleentheidsdief, goeie waardes het soos mis voor die son verdwyn, aanslag op taal en kultuur het in velheid toegeneem en die rasgroep van die hoofsaaklik blanke Afrikaansprekende loop deur onder rou haat. Alhoewel blanke Engelssprekendes sekerlik ook die hitte begin voel in veral die sakesektor as eienaars, asook die algemene blanke verwerping, is dit nie naastenby op skaal met die Afrikaanssprekendes nie. Die Wieses en Ruperts is hoofsaaklik aan die ontvangkant eerder dan die Brian Joffes en die Mark Lamberti’s. Dit, dryf ons na die spreekwoordelike streep op die grond en selfverdediging wat insluit die beskerming van taal, kultuur en bestaansreg. Daarmee is hoegenaamd geen fout mee te vind nie. Soos n tand waarvan die emalje verweer het en dus n gevoeligheid ontwikkel vir koue en hitte, sal skerp, beslissende reaksie op bedreigings al hoe meer algemeen word.

JC ·

Dankie MCH, jou kommentaar is wonderlik:)
Maak my bitter trots om Afrikaner te wees!

Leon ·

Baie goeie artikel Flip.

Wat ‘n voorreg om deel van die geveg vir ons taal te wees.

Hoop Akademia kan wikkel met Agri- en BSc. graad kursusse.

JC ·

Definitief Leon, wat ‘n voorreg!
Ek stem saam met jou oor die Agri en BSc. graadkursusse:)
Mag Afrikaners en Afrikaans net van krag tot krag gaan!

Disselboom ·

Flip Buys se artikel verwys net een keer na die Afrikaner.

Wern ·

Niemand keer enige taalgroep in hierdie land om hulle eie boeke te skryf, kursusse te ontwikkel, skole of universiteite te stig nie. Die wat moedertaalonderrig wil he moet opspring en dit laat gebeur. Ons het.

Daan ·

Dis so eenvoudig. Die mense wat herverdeling van rykdom ( Tereblanch en Kie) voorstaan kon nooit werklik `n formule gee hoe om dit in die praktyk toe te pas nie. Dit was net `n geeikte politieke en sogenaamde intulektuele stelling. Niemand het besef dat die koek(ekonomie) moes groter gemaak word om dit te kon doen nie en kon die koek nie net verskillend gesny word nie. Die gevolg hiervan is nuwe beskuldigings teen hardwerkende landsburgers en `n tipe jaloesie wat die massa heeltemal van koers af bring met die oplossing vir hulle agterstand. Die woord WERK was nog nooit deel van hul oplossings nie.

Reinhardt ·

Ekt die afgelope jaar vreeslik oor my taal en kultuur se toekoms begin worry (jammer maar worry klink net beter). Maar soos wat ek begin sien wat Solidariteit en AfriForum (onder andere) begin doen, het ek die laaste paar weke begin besef ek worry vir niks. Ons sal deur alles kom, omdat ons in n hoek gedruk word is ons besig om proaktief te wees om ons toekoms te verseker. Hoeveel ander kulture in SA kan dit sê?

Op ‘n ander noot, ekt ook onlangs met n goeie vriend in Australië gesels en hyt my verseker dat n beduinde aantal Australiese Afrikaners vreeslik optimisties is oor die 2019 verkiesing. Ons mense wil terugkom.

JC ·

Dankie Reinhardt,
Ons was nog altyd onder beleg, sedert Oom Jan en sy trawante hier in ons land voet aan Wal gesit het, en het ons nog ALTYD deurgekom. Ons geskiedenis is iets om op verskriklik trots te wees!
Ek het in die verband ook JC Steyn se Afrikanerjoernaal- ‘n Vervolgverhaal in 365 episodes- van JC Steyn, vanaf DIE FAK ontvang.
FAK: Durf, mannemoed,onverskrokke en onvoorwaardelik trots op wie en wat hulle is!
Die FAK is nie “alternatief” en probeer nie hul karakter prysgee ter wille van die “flousbegrip” inklusiwiteit nie, maar IS ‘n Afrikaner en Afrikaanse Organisasie EN TOTS DAAROP! En natuurlik resorteer die FAK onder Solidariteit, wat nogal vir jou ‘n paar dinge wysmaak.
ONS VIR JOU SUID-AFRIKA!

Hendrik ·

Reinhardt ek dink die belangrikste vir hierdie ekspats om te doen is om aan te sluit by die burgerregtegroep soos Afriforum want om in ‘n regstaat soos S.A kan jy net die minderheidsgreope se regte afdwing deur die howe. Ongelukkig kan jy op nie baie aanspraak maak as ‘n minderheidsgroep met jou kruisie nie.

John ·

Hoekom het Jansen aansoek gedoen vir die pos as rektor by UV en nie by ‘n Engelse universiteit nie? Drie raaie…

rassie ·

Flip Buys is heeltemaal reg wanneer hy opmerk dat Afrikaans nog altyd beter presteer het wanneer dit onder druk was.

Daar is egter twee baie groot verskille tussen die historiese druk op Afrikaans en die huidige druk op die taal.

Die historiese druk was toegepas deur ‘n koloniale mag uit Europa, naamlik die Engelse wat in die koloniale tydsgees van toentertyd dit as hul reg beskou het om na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog alles te verengels.

Dit het om politieke beheer gegaan. Met Uniewording in 1910 was die Afrikaners vir die eerste keer as groep in ‘n politieke eenheid saamgevoeg en het die Engelse ingestem dat slegs blankes, onder Britse heerskappy, selfregering kon uitoefen. Die Afrikaners was op daardie stadium die meerderheid van die blankes in Suid-Afrika en kon dus die regte van Afrikaans polities bevorder en kon dit uiteindelik as amptelike taal vestig. Die Engelse het dit, as koloniale oorheersers, toegelaat en geen ander inheemse groepering in Suid-Afrika kon dit keer nie aangesien hulle polities uitgesluit was.

Die huidige posisie is dat die Afrikaner nie meer polities in beheer is nie en dat juis diegene wat destys polities uitgesluit was tans die politieke beheer het.

Die druk is dus nou totaal anders as die druk waaronder Afrikaans onder Britse kolonialisme was en van ontsnap het. Flip Buys is dus moontlik reg dat privatisering dalk die enigste uitweg is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.