Afrikaans hoort nog nie in ʼn museum nie

Foto: Maroela Media

Dit was ʼn Donderdagmiddag, ʼn rukkie ná werk toe die groot kar voor die Solidariteit-hoofkantoor stop. Die bestuurder het half onseker nader gestaan.

“Is dit hier waar ons klere en dinge vir die arm mense kan aflaai?” Ek sê niks, my woorde raak maar partykeer op.

“My ma’t gesê ons moet hierdie boeke sommer ook afgee. Dit het nog aan my pa behoort.”

Ek buk om te groet. In die kar sit sy vrou, twee laerskoolseuntjies en sy ma.

“Ons gaan Australië toe, Oom”, sê een opgewonde. Die ouma sê niks. Ek vat die ou kleretas met die boeke; hy vat die sakke met klere, en roep die kinders om te kom help. Die tas is baie swaar. Sy vrou en ma stap ook saam.

“Ja” sê hy. “Ons het maar besluit om te trek. Die misdaad en al die dinge. Jy weet mos.”

Ek weet mos. By die Helpende Hand se stoor aangekom, fluit hy verbaas: “Waar gaan al hierdie goed heen?” Ek begin verduidelik, hou toe maar op toe ek sien sy kop is klaar in Australië.

“Sal jy asseblief die boeke uitpak?” vra hy. “Ons het ongelukkig die tas nodig.” Dis ʼn goeie tas. Ek begin uitpak.

“Jammer vir die moeite, julle moet dit maar vir ʼn museum gee of iets,” sê hy. “Ma het ongelukkig nie plek in haar nuwe huis nie. Sy trek nou na ʼn lekker veilige plekkie.”

Die ouma sê niks. Sy lyk nie baie opgewonde oor die lekker veilige plekkie waar sy nou alleen gaan bly nie. Daar is goeie boeke.

“Pa was baie lief vir Afrikaans,” sê hy. “Natuurlik is ek ook,” voeg hy vinnig by. “Ons gaan nog Afrikaans met hulle praat,” sê hy oortuigend na die kinders se kant toe. Sy vrou lyk nie so seker nie.

Ek pak verder uit. Hierdie boeke is gebrúík. Langenhoven se Spookstories. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. FA Venter, Van Wyk Louw, Die groot verlange. Die FAK-sangbundel. Een Long Road to Freedom – onoopgemaak.

“Dit was ʼn present.” My pa is dood voordat hy dit kon lees,” sê hy half verleë. Hy sê nie hoekom h‎‎‎ý dit nie gelees het nie.

Ek en die ouma kyk na die hopie boeke op die tafel. Die man en die vrou kyk vir haar. Sy neem afskeid van iets meer as die boeke.

“Sy is nou 83,” sê die man sag. “Hulle was onderwysers.” Hy voel skuldig oor die weggaan.

Ek werk vinnig uit. Sy is gebore in 1925, in die jaar toe Afrikaans ʼn amptelike taal geword het. Binne een leeftyd, van die wieg tot in die museum. Ek sê dit amper vir hom, maar bedink my betyds. Ek tel een van die woordeboeke op, dink aan alles wat daaragter sit. Die reeks is nog nie eens voltooi nie, en die taal word al weer onderdruk, dink ek wrang. Die ouma tel een van MER se boeke op, sit dit weer neer sonder om te kyk.

Die kinders raak woelig. “Ons moet ry,” raak die Pa haastig.

Ek wil iets vir sy ma sê, maar my woorde is nog op. Ek weet baie van haar, al het ek haar nog nooit ontmoet nie. Ek wens ek het haar man ontmoet, al “ken” ek hom nou ook. Ek kan dink hoe mis sy hom in hierdie tyd. Hoe sy al by voorbaat na haar kleinkinders verlang.

Ons stap stadig terug, weg van haar lewe af wat nou daar op die tafel lê.

By die kar gaan sy staan, en praat vir die eerste keer. “Gee die boeke vir ʼn laerskool,” vra sy. “Nie vir ʼn museum nie; ons taal is mos nie dood nie.”

Ek sien die verlede en die toekoms van Afrikaans in haar oë. Ek verstaan presies, en voel lus om haar te salueer. Ek maak die deur vir haar oop, en terwyl hulle wegtrek wonder ek of daar nie so iets is soos ʼn Taalmisdaad teen die Mensdom nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

pinkie ·

Ons taal sal voortleef, dit hang net van die mense af. Gaan ons lê of opstaan uit die stof?

Vaalseun ·

Dankie, Flip.
Die Voortrekkers het ook “gevlug” vir misdaad uit die Oosgrens. Maar na Piet Retief vermoor is, het Andries Pretorius vir Dingaan eers ‘n vredesaanbod gestuur op 12 Desember 1838 met die waarskuwing: as Dingaan nie die aanbod aanvaar nie, sal ons veg, al is dit tien jaar lank. Na die slag van Bloedrivier het die Boere die Republiek Natalia gestig en aan die Zoeloes Zoeloeland as ‘n onafhanklike staat toegeken. Daarna het die Britte Natalia en Zoeloeland as kolonies afgeneem en beset.
Waarom het die Voortrekkers nie ook terug-geëmigreer Frankryk, Holland en Duitsland toe nie?
Hoe waardevoller jou eie is is, hoe groter is die uitdaging om dit te beskerm en te verdedig. Hoe waardevoller dit is, hoe groter verleentheid is dit vir die wie se voorouers nie ook self soiets kon skep deur eie inisiatief, toewyding en deursettingsvermoë nie.
Wanneer Afrikaans en die kwaliteite wat dit verteenwoordig verwyder is, hoe minder teenstand is daar teen middelmatigheid en swak diens sonder standaarde deur die staat.
‘n Duitser het een keer vir my gesê, “Julle sal oorleef, want julle het ‘n uitdaging.”
Ons mag nie toelaat dat opportuniste in gesagsposisies hulleself in gemaksposisies inwikkel deur Afrikaans en die Afrikaner af te maak as rassiste en onderdrukkers nie om so ons op die agtervoet te plaas nie. Die ANC het nog niks blywends vir die gewone Afrikaan tot stand gebring in Afrika nie. Hulle ry steeds op die rug van die Afrikaner se volgehoue inisiatief, harde werk en toewyding.

Dries du Toit ·

Wat n hartseer storie. Daar is al reeds duisende sulke tragiese stories. Iemand moet dit in boekvorm kry vir die nageslag.

Dirk ·

So raar, maar waar, in n land wat ons land was, ons taal was, ons waardes en kultuur was, ons volk was. Diegene wie agterbly, bly agter met herrinneringe van wat was en met wanhoop, maar ook geloof. Diegene wie vertrek neem met hulle saam, herrinneringe van dit wat was en met n diepe geloof dat dit wat was weer kan wees vir hulle nageslagte wie weer nuut kan begin om te bou en te bewaar! Daar is niks fout daarmee om te bly klou aan dit wat was, net soos wat daar geen fout is om nie langer te klou aan dit wat was. Die keuse om vir die verlede of vir die toekoms te lewe bly tog uiteindelik maar elke mens se eie keuse! Dit is onvermydelik dat daar saam met onpopulere keuses verwyte gaan wees, maar wie is ons om te oordeel, ons is tog nie in beheer van ons keuses nie, al reken ons so!

bambi ·

Jislaaik die tref hard! Taalmisdaad; verseker. Hoe ouer ek word hoe minder sien ek kans vir die lewe tans.

Jeremia ·

Binne bestek van twee dae gehoor van mense wat emigreer. Die een Afrikaanse gesin neem vir ouma saam daar uit die goeie ou Wes-Transvaal na die koue Kanada.
En die ander – egpaar gaan Noord- Italië toe.
En ja, die ander agtergeblewenes loop ek by die huis vir bejaardes raak waar my ma woon. Baie bejaardes het een of meer kinders wat oorsee is.
Ons is ‘n volk en taal in diaspora.

Deon ·

In 1995 kon ek beswaarlik dink aan ‘n kennis of familielid wat in die buiteland woon. Deesdae het ek familielede in die buiteland, asook ou vriende en oud-kollegas. Feitlik alle blankes waarmee ek te doen kry het ‘n familielid oorsee. Ek glo honderde duisende ander kan dieselfde sê.

aj ·

Soos ‘n phoenix uit die as verrys … en fynbos floreer ná die brand, so sal Afrikaans en Afrikaners weer opstaan en LEEF!

Wat my kwel is dat Afrikaners na voormalige BRITSE kolonies trek … i.p.v. die Europese stamlande soos België, Holland, Duitsland en Frankryk.

Het hulle in gees lankal verengels?

Zachrys ·

Stem saam, media, kerk en politiek ontwortel ons, en ons keuse om kinders Engels as tweede taal te leer… Kerk hier bo genoem nie uit geloofspunt nie maar die ou populêre kerk waarheen ek altyd gaan se predikante is gedurig besig om Amerikaanse en Engelse materiaal in hul preke in te bring. Asof dít die kerk se oorsprong of fondament is… Amerika is nog in hul kinderskoene wat kerk betref.. Wat hulle nóú leer het Luther al lankal vergeet…

Therese van Schalkwyk ·

‘n Treffende, hartseer taalverhaal met ‘n sterk boodskap.
Ietwat dramaties, want die ouma sou darem seker ‘n ou plekkie kon inruim vir haar gunsteling boeke.
As die leser nie van beter weet nie, sou die skrywer van ‘n tikkie vyandigheid teenoor die voornemende emigrant verdink kon word.

Amanda ·

Dankie vir die pragtige en hartseer stukkie. Ek stem saam….ons moet opstaan soos fynbos na n brand. Mooi gestel.

Zachrys ·

As oom Flip praat, moet mens maar stil bly en luister!
Kortom: dink ek kan ons wel eilande van Afrikaanse uitnemendheid begin vestig in landbou gebiede, dorpe stede en veral waar industriële /besigheids gebiede aangrensend is. Gaan kyk waar die meer konserwatiewe kiesers die oormaat is… Mens moet nóú en vinnig aan die werk spring bogger die politiek en staat hulle is ‘useless’ vir ons..op alle gebiede! Ek is ook oortuig dat ons nou genoeg bewyse het dat ons belasting gelde teen ons gebruik of misbruik word, as belasting geld in daardie gebiede reg aangewend word in die gebiede sál ons sukses hê, en ons mense sal terugkom na vry, veilige en voorspoedige enklawes.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.