Afrikaans is ʼn vormende taal

dirk_hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Mnr. Frik Viviers was my laerskoolhoof. Hy was ʼn ongelooflike bestuurder. Die skool was netjies en ordelik. Jy kon alles deur ʼn ring trek. Hy was by alles betrokke en die rugbyfluitjie se toutjie was ʼn besondere motiveerder, maar die woord waarmee ek mnr. Viviers wil beskryf, is “integriteit”.

Mnr. De Heijer, my hoërskoolhoof, was ’n tweedegeslag-Hollander. Hy was ʼn opregte Christen en mens sou kon sê dat jy die vrug van die Gees in sy lewe kon sien. Sy woord was “georganiseerdheid”.

In ons skool se personeelspan was daar juf. Sadie, haar woord was “liefde”, mnr. Richter se woord “dissipline”, juf. Kinnie Smit se woord was “orde” en mnr. Oosthuizen sʼn was “gehalte”.

Mnr. Van Zyl het ʼn sin gehad en nie ʼn woord nie. Sy sin was “Waar ʼn wil is, is ʼn weg, maar die wil is gewoonlik weg.”

Ons laerskoollied het so gegaan: Ek besing die Primêre Skool Vegkop, waar die jong Afrikaners kan leer, om die diepere waardes te eerbiedig, om die hoogste gesag te eer. En ons hoërskoollied: Skenk Heer aan ons al die werklus en ywer, dankbaar ʼn saad in U ploegvoor te plant. Ons laerskool- en hoërskoolleuse was: Hou die doel voor oog.

’n Paar jaar gelede het ek verby my ou laerskool gery. Die drade het gehang, die gras het die tennisbaan gewen en daar was van die vensters stukkend. Dit was nie omdat mnr. Viviers nie meer daar was nie, maar dit was omdat mnr. Viviers en sy bestuurspan se woorde nie meer daar is nie.

Vandag is ek gevorm en ʼn belangrike deel van my vorm is integriteit, ordelikheid, gehalte, dissipline, liefde en orde. Ek het geleer om die diepere waardes te eerbiedig en die hoogste gesag te eer. Ek het geleer van werklus en ywer en om dankbaar ʼn saad in die ploegvoor te plant en om die doel voor oë te hou.

En dít is die krag van Afrikaanse skole, hoofde en onderwysers. Daar is diepere waardes wat eerbiedig word.

Hoor net hoor mooi is die Primêre Oranje Meisieskool, Bloemfontein se 1907-stigtingsdoel, wel in die idioom van die tyd: Om een kragtige, vormende invloed op die toekomstige moeders van het volk te hê. Hulle woord is vormend. En ʼn mooi eenwoordleuse – Vorentoe.

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria kry hul leuse uit Jan F.E. Celliers se gedig oor die vroueoptog van 1915. Dit was in die donker tyd ná die rebellie van 1914. Die vroue het vasberade en in stilte na die Uniegebou gestap. Dit het Celliers só aangegryp dat hy geskryf het: Ek sien haar wen. Dit is vandag nog die leuse van die Afrikaanse Hoër Meisieskool. Hulle missie is die opvoeding van die kind in totaliteit met God se Woord in ʼn ereplek.

Nóg ʼn leuse uit ʼn Jan F.E. Celliers-gedig is dié van Helpmekaar Kollege – Komaan. So eenvoudig, maar so sterk.

Die leuse van Hoërskool Waterkloof: Ons bou in geloof. Hoor hoe mooi: ons, bou en geloof.

Hoërskool Grens van Oos-Londen se kort leuse is Bou. “Ons glo dat opvoeding nie net is om boekgeleerdheid te hê nie, maar om kennis lief te hê en lewenswys te wees.”

Dié van die Hoërskool Tygerberg (hoor die energie): Daar’s werk. En hul skoolwapen lyk so:

  • die sirkel van eenheid wat huis, kerk en skool saambind;
  • die Tygerbergkop wat ideale en drome na Bo rig; en
  • die Boek van Kennis om ewig student te bly.

So kan ek aangaan. By Afrikaanse skole is daar diepere waardes – natuurlik nie net by Afrikaanse skole nie. Daar is ʼn verband tussen prestasie en die waardes wat binne skole soos bogenoemde skole leef.

Die Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS) plaas Suid-Afrika se gehalte van wiskunde- en wetenskaponderrig heel laaste van die deelnemende lande, onder Botswana, Kenia en Zimbabwe.

Indien Afrikaanse skole as ʼn land gegroepeer sou word, sou ons onder die top tien lê. Ons klop lande soos Engeland, Nieu-Seeland, die VSA, Australië – al die lande waarheen Afrikaners emigreer. As jy dus ter wille van jou kind wil emigreer, emigreer na ʼn Afrikaanse skool toe.

In 2017 was die matriekslaagsyfer nasionaal 75%, die Afrikaanse oudmodel C-skole 98,5% en Afrikaans algemeen 86%. Afrikaanse skole het drie keer meer wiskundeonderskeidings as die gemiddeld in die land gekry. Die vier skole met die meeste onderskeidings in alle eksamenvakke was Afrikaanse skole, naamlik Menlopark, Affies Meisies, Waterkloof en Garsfontein (12 uit die top20-skole is Afrikaanse skole).

Afrikaanse wiskundeonderwysers behaal 97,2% vir ’n provinsiale voorbereidende wiskunderekordeksamen – ʼn bewys dat hulle goed opgelei en kundig is en hul vakinhoud bemeester het. Dit sal waarskynlik vir alle vakgebiede geld.

Daar is die naïewes wat sê dat skole maar Engels moet word; die wêreld daarbuite is Engels. Afrikaans is egter nie net ʼn kommunikasietaal nie, dis ʼn vormende taal. As Afrikaans val, val die waardes van die skool ook oor die langer termyn. Individuele onderwysers en hoofde hou die waardes nog dapper in die lug (daarvoor het ek reusewaardering), maar later word hulle minder en die waardes verdwyn. Dit is juis dié waardes wat kinders toerus vir die wêreld daarbuite en nie net taal nie. Inteendeel, ons kinders is juis vaardig in Engels, maar moet toegerus word met vormende waardes.

Die stryders teen die lig van Christus in skole besef nie hoe verskriklik dit sal wees indien hulle slaag nie.

Mnr. Viviers, mnr. Den Heijer, juf. Sadie en juf. Kinnie, mnre. Richter, Oosthuizen en Van Zyl se woorde was nie bloot uit neutraliteit nie. Dit was omdat hulle roepingsgedrewe onderwysers was. Hulle was dit omdat hulle moes. Hulle was daar, want hulle kon nie anders nie.

Neem dit weg en die gras wen die tennisbaan en vensters is stukkend.

Mense stoei oor die toekoms van Afrikaans. Afrikaans staan egter nie alleen nie; Afrikaans staan binne ʼn waardepakkie. Breek die pakkie en alles daarmee saam breek. Afrikaans hou die waardes regop en die waardes hou Afrikaans regop. Hierdie bondgenootskap is oor jare gevestig en is eenvoudig deel van die Afrikaanse kollektiewe onderbewuste.

Die verantwoordelikheid van Afrikaanse onderwysleiers is ongelooflik groot. Om Lig te wees, is nie meer so eenvoudig nie.

In Pretoria tree dr. Pierre Edwards aan die einde van die jaar af. Hy is ʼn kalm Afrikaanse onderwysleier en sy rekord spreek vanself. Hy staan waarvoor hy staan. As ek op die Affie-terrein rondloop, voel ek die trots, die seuns loop verby en groet. Ek dink dr. Edwards se woord is “identiteit”.

Iemand sê aan my die aftrede van dr. Edwards is die einde van ʼn era. Met skoolhoofde en skole se bestuursleiers is dit anders. Hulle leef voort deur die kinders. Vir jare, selfs in ʼn volgende geslag, sal dr. Edwards se identiteit voortleef.

ʼn Skoolhoof en skoolleiers tree wel af, maar hul waardes tree nooit af nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Basson ·

Dankie Dirk, uitstekend!

Trots op die uitnemendheid en karakter van dit wat jy beskryf, wie en wat ons is en waarvoor ons staan.

Ek hoop ons kan nog vir lank voortbou daarop.

(Sommer net iets wat by my opgekom het terwyl ek jou stuk gelees het:)

Trou:
Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan,
ek hou van ‘n arm wat ‘n slag kan slaan,
‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan!

Ek hou van ‘n man wat sy moeder eer,
in die taal uit haar vrome mond geleer,
die verraaiersgeslag in sy siel verag
wat, haar verstotend, homself kleineer.

Die oog wil ek sien wat ‘n traan nog ween
vir ‘n heldegeslag, in hul rus daarheen,
maar ‘n blits van trou in die traan van rou,
wat aan liefde weer gee wat haar bron is ontleen.

Vir my d’Afrikaner van durf en daad,
wat mammon’s eer en loon versmaad,
sy hoof en sy hand vir sy volk en sy land
en ‘n trap van sy voet vir laag verraad!

O, ‘k hou van ‘n man wat sy man kan staan;
ek hou van ‘n daad wat soos donder slaan,
‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan!

-Jan F.E. Cilliers

CG ·

Dirk. Jy verwar “Afrikaans” met “Afrikaner”. ‘n Taal is wonderlik, maar jy maak die pap nou darem bietjie dik aan!

dr. Sakkie van der Merwe ·

Goeie uiteensetting en ja dit is wat ons mee groot geword en gevorm is, jy vergeet die rottang en kiaatplank(by die houtwerk onderwyser). Die roede het ook gehelp . Ongelukkig sit ons met ‘n Angie Motshekga en en die provinsies se direkteure van onderwys wat Afrikaanse skole dwing om te verengels (Kyk hoe lyk Langenhoven Hoerskool, CR Swart, Eendracht Laerskool ens ens,) Ons ouers (en onderwysers) sal eenvoudig uit die stelsel moet kom en sorg dat ons kinders deur ons mense, tussen ons kinders opgevoed word (let wel nie afgerig word nie)

Eish ·

Pragtige artikel wat myself terugneem na die waardes wat mentors uitgeleef het in hul dagtaak.
Die afvryf daarvan op ons karakters, wat ons gemaak het wie ons is.
Wat n voorreg was dit nie gewees om in die skadu van diegene te kon verwyl nie.
Watter sielsfoltering om die verrotting in die helhool te beleef.

dejager ·

Pragtig opgesom!
Ons moet dubbelmedium skole met hand en tand beveg.As ń skool dubbelmedium word is daar ń onmiddelike verwatering van die waardesisteem.Vermenging van kulture is net die kommuniste se ideaal.Dit is ń resep vir die skep van ń gryse identiteitslose massa wat geen geskiedenis of toekoms het nie en baie maklik gemanipuleer kan word deur ń landsregering.

Hügo Krüger ·

Ek werk in Frankryk by die ITER projek wat poog om Kernfussie in die land in te sit. Ek het nog nooit terugestaan vir enige iemand in Wetenskap en Wiskunde nie. Die Franse wys gereeld uit hoe prakties ons benadering is.

Ek werk saam met mense van Suid-Korea, Frankryk, Duitsland, Poland, Italie en Japan wie almal hulle kinders in hulle moedertaal grootmaak. Taal is n medium om wetenskap in die kultuur te bring , dit is hoe lande ontwikkel.

Lerato ·

Wat u sê, Dr Dirk Herman is baie waar.
Die terugslag is dat ons moedertaal al hoe meer veld verloor deurdat tersiëre inrigtings net Engels as medium van onderrig wil hê.
As ons, ons kinders n wen kans in die lewe wil gee, moet hulle Engels goed magtig wees as hulle op universireit kom

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.