Afrikaans is ons almal se ma

skool-skoolskoene-onderwys

Argieffoto.

Die nuus – in afgelope naweek se Rapport – dat die nuut gestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) ’n nuwe inisiatief begin om Afrikaans as onderrigtaal op skool te red, kom besonder geleë. Moenie fout maak nie, as Afrikaans wil oorleef as iets meer as bloot ’n kombuistaal, sal dié inisiatief moet slaag.

Op my gereelde besoeke aan Suid-Afrika hoor ek gereeld mense wat die – holrug geryde en dikwels weerlegde – standpunt verkondig dat Afrikaans sal oorleef solank mense hom praat.

Akkoord. Maar daar is twee verwante antwoorde daarop.

Ten eerste: Op welke vlak wil jy hê dat die taal gepraat word? In die kombuis en op straat? En wat van op kantoor? In die hof? Die parlement? Op radio en televisie? Koerante en boeke?

Wat van die klaskamer? Moet ek my naskoolse opleiding in Afrikaans kan ontvang? Moet die kindertjies wat op 6 jaar skool toe gaan, in ’n vreemde taal leer reken en skryf?

Dis hier waar die tweede teenargument inkom. Internasionaal is ’n indrukwekkende hoeveelheid akademiese navorsing gedoen oor die groei, bloei, agteruitgang en sterfte van tale. Gaan kyk byvoorbeeld – daar is talle ander – na die webwerf van die Foundation for Endangered Languages, waar die probleem baie onemosioneel en nugter ontleed word.

Volgens taalsosioloë word taal meestal op vyf vlakke gebesig: Tuis (waar taaloordrag van een geslag aan ’n volgende plaasvind), op handelsvlak, op owerheidsvlak, op kultuurvlak (skrywers, dramaturge en digters), en onderwys (met inbegrip van akademiese navorsing).

In Suid-Afrika het Afrikaans op handels- en owerheidsvlak byna volledig verdwyn. Op onderwys- en akademiese vlak gaan dit vinnig die kreeftegang. Op kultuurvlak blom dit nog, danksy die belegging van vorige geslagte. En tuis vind jy ook dat steeds meer Afrikaanse ouers meen hulle kinders moet Engels word sodat hulle vir ’n oorwegend Engelse omgewing voorberei word.

Die oorlewing van ’n taal kan aan verskeie voorwaardes gekoppel word.

Byvoorbeeld, hoe meer mense ’n taal praat, hoe groter is die kans dat hy sal oorleef. Maar as hy ’n minderheidstaal in ’n taalvyandige omgewing is, verminder dit sy oorlewingskans.

As die taal op al vyf vlakke behoorlik gebesig word, styg sy kanse. Hoe minder funksies in die praktyk oorbly, hoe kleiner word dit.

Dis oorwegings wat nie sommer uit my duim gesuig word nie; dis ’n besonder kort opsomming van letterlik honderde boeke en akademiese artikels. Dit staan op pote en kan nie betwis word nie.

Hieruit is dit duidelik dat Afrikaans nog ver van ’n finale roggeldood is. Maar as sake nie omgekeer word nie, is hy onherroeplik op pad daarheen, al kan dit nog etlike geslagte duur voordat die laaste bejaarde Afrikaanssprekende – heel waarskynlik ’n bruin persoon op die afgeleë platteland – sy laaste asem uitblaas.

Die punt is: Ons moet nóú ’n einde aan die kreeftegang maak. Dit sou natuurlik enorm help as ons ’n regering het met respek vir die Grondwet waarin ons taalregte erken word. Maar ons het nie.

Die regerende party staan, op sy slegste (Panyazi Lesufi!), aktief bitterlik vyandig teenoor Afrikaans; op sy beste onverskillig. Ons konstitusionele hof, die hoogste arbiter oor die Grondwet, het ’n meerderheid regters wie se afkeer in Afrikaans hul vermoë om dié dokument suiwer te vertolk, volkome oorheers.

Daar is nog ’n paar hofsake oor Afrikaans as onderrigtaal wat wag (die een oor Stellenbosch se taalverraad is een), maar ek het geen besondere hoop op sukses nie, in elk geval nie as die saak ’n draai by die konstitusionele hof maak nie. Daardie hof, wat die regstaat moet beskerm, het veral met sy uitspraak oor die Universiteit van die Vrystaat se taalbeleid dieselfde regstaat ’n heftige hamerhou toegedien.

Nee, moenie enige hulp hoegenaamd van enige owerheidsinstansie verwag nie. Selfs nie eens van die grootste opposisieparty, die DA, nie. Onder Mmusi Maimane het die party toenemend ’n rigting ingeslaan wat nie daarop dui dat hy gewillig is om Afrikaans te help beskerm nie.

Wat bly oor? Afrikaanssprekendes sal, soos ná die Anglo-Boereoorlog, sélf die wa deur die drif moet help.

Dís waaroor die aankondiging oor Afrikaanse onderwys gaan. Dr. Theuns Eloff, die belangrikste inisiatiefnemer, het tereg verwys na die volledige pyplyn – van graad 1 tot by naskoolse opleiding – wat in Afrikaans beskikbaar moet wees. Dit maak nie sin om slegs enkele skakels van die ketting in ons taal te hê nie; die héle ketting moet Afrikaans wees.

As ons die onderwys beveilig het, sal ons die ander vlakke waarop taal gebesig word, soveel moontlik vir toegang in Afrikaans moet verseker. Dis ’n kwessie van jou moue oprol en sélf inisiatief neem; die apartheidstyd het ons sag en afhanklik van die owerheid gemaak.

Maar daar is een nuwe voorwaarde waaraan ons onverbiddelik sal moet voldoen. Ons sal kleur – wit kleur, om presies te wees – van Afrikaans moet ontkoppel.

Die meerderheid Afrikaanssprekendes is bruin, en daar is selfs tienduisende swart Afrikaanssprekendes. As historikus verstaan ek hoe en waarom dit gebeur het, maar met die voordeel van agternakennis was dit ’n strategiese fout om Afrikaans eksklusief vir die wit Afrikaners toe te eien. Daarmee het ons miljoene Afrikaanse taalgenote (al is hul Afrikaans nie altyd heeltemal dieselfde as ons s’n nie) van ons en ons gemeenskaplike taal vervreem.

As ons hulle bly uitskakel, gee ons ’n dodelike argument op ’n skinkbord aan Lesufi en sy medehaters van Afrikaans. Ons sny eenvoudig ons eie kele af. Dis enige tyd net so rampspoedig vir die oorlewing van die taal as Stellenbosch en ander gewese Afrikaanse universiteite hul eie taal in die rug steek.

Nee, ons sal die bruin mense by die saak moet betrek. En ons sal dit moet doen op ’n manier wat erkenning gee aan hul anderse agtergrond, aan die feit dat hulle Afrikaans nie deur ’n Afrikaner-nasionalistiese bril bekyk nie, dat hulle nie betrokke wil wees by ’n “Boereding” nie.

Dit kan van die Afrikaners seermaak, en ek verstaan dit. Maar daar is iets belangriker op die spel.

Terselfdertyd moet die bruines – en ek sê dit in alle liefde – ontslae raak van hul komplekse (hang-ups) oor die Boere en Afrikaans. Ons het dieselfde moeder. As sy sterf, is ons álmal weeskinders.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Gerhard ·

Persoonlik dink ek as ek die ANC was sou ek nou eerder daarna gekyk het om die grondwet te verander sodat alle opleiding in Engels moet plaasvind. Dit sal baie minder ophef in oorsese land maak en C.R. kan dit maklik motiveer deur bloot die argument te maak dat ‘n enkele taal ‘n saambindende uitwerking het. Hy sal ook baie wat daarop uit is om Afrikaners te straf gelukkig maak. Verder kan hy die huidige teenkanting in Afrikaner geledere finaal ‘n nekslag toedien al neem dit tussen 10 en 20 jaar om die resultaat te verkry. Dit kan ook die gedwonge integrasie en assimilasie proses bespoedig. Natuurlik is dit iets wat een of ander tyd in hulle strategie sal kop uitsteek, dit is net ‘n kwessie van wanneer. Dit is eintlik so ooglopend ek is verbaas hulle het dit nog nie gedoen nie.

Ou Taalvark ·

En om te dink Engels was die taal van die imperialistiese kolonialistiese “British Empire” wat die wêreld se grootste slawebedryf, ook in Suid-Afrika, bedryf het! Hoe ironies tog! Maar menigde Suid-Afrikaners is swak vertroud met Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis.

Ook “Royal English” gaan net soos Latyn nie oorleef teen ‘n toenemende multikulturele aanslag nie. Die lewe is interessant.

Gerhard ·

Engels is ‘n mengeltaal wat sy oorsprong in Angel-Saksies (Oud-Engels) het, maar sterk deur ander tale soos Frans en Latyns beïnvloed is. In Engels noem hulle dit Anglish en daar is mense wat die terugkeer na die “suiwer” taal propageer.

Henry ·

Gerhard. Engels is ‘n Germaanse taal. Soos ABN, Afrikaans, Fries, Duits en…Yiddish :-)
Ter illustrasie:
Die deur is oop.
The door is open.

Paul ·

Ou Taalvark, terwyl jy kolonialisme en slawerny ophaal, ek sien vanoggend dat Helen Zille het weer so ‘n dag of twee gelede daaroor getweet, dat als nie net sleg was nie. Nou ja en nou het sy haar weer die gramskap van ‘n klomp mense op die hals gehaal.

Maar, dan het Cyril Ramaphosa en sy span dan so ‘n week of twee gelede die Statebondskonferensie bygewoon waar hulle met van die eks-koloniale lande beleggings ooreenkomste van miljade rande beding het.

So, tog lyk dit my die ANC het nie ‘n probleem om van daardie lande se kennis en kundigheid gebruik te maak nie, ons mag net nie sê dat als van kolonialisme nie sleg was nie, al het dit ook kennis, kundigheid en rykdom aan daardie lande besorg, tot so ‘n mate dat ons ook vandag daarvan gebruik wil maak. En hier by ons?

Oupa Johann Toekoms Vlakvark ·

Geagte Leopold,

BAIE dankie vir hierdie eerlike en visionêre artikel. Dit is belangrik dat ons almal opbouende gedagtes op ‘n basis van wedersydse respek uitruil vir ‘n beter pad en toekoms vorentoe. Hiertoe kan hierdie Maroela Media platform ‘n belangrike rol speel.

Immers, Naasteliefde = Geduld + Verdraagsaamheid.

Casper Labuschagne ·

Daar is ‘n uitmuntende voorbeeld onder die groep Afrikaners wat na afloop van die Anglo Boereoorlog na Argentinië toe geëmigreer het en as bure in dieselfde streek Patagonië gaan woon het. Alhoewel hulle tot so ‘n mate Afrikaners in murg en been was dat hulle geweier het om vir net een dag onder ‘n Britse vlag te lewe, kon hulle slegs tuis asook onder mekaar Afrikaans praat. Binne enkele geslagte kon geen jongmens meer Afrikaans praat of verstaan nie.

Gerhard ·

Geen taal kan in die kombuis oorleef nie. Dit is die probleem met die “eie instellings” argument. Dit kan net nooit genoeg wees nie. Selfs die Jode het verstaan en daarom het Israel tot stand gekom.

Henry ·

Gerhard. Engels is ‘n Germaanse taal. Soos ABN, Afrikaans, Fries, Duits en…Yiddish :-)
Ter illustrasie:
Die deur is oop.
The door is open.

Henry ·

Jammer vir die duplisering, ek het die fikkeerde knoppie gedruk.

Gerhard. My Joodse pel, Sam Rabinowitz, sê dat die Joodse Diaspora spoed opgetel het na die invalle en verowerings deur oa die Grieke en later die Romeine. Die meerderheid Jode het toe hul tasse gepak en dwarsoor die planeet tuistes loop soek en gevind. Bykans 2,000 jaar later, het ‘n aantal – veral na WO2 vanuit Duitsland en die Oosblok – hul weg terug gevind na Israel, wat sedert die Romeine se laaste inval, na Palestinië herdoop is.

Kabous ·

Afrikaans is in elk geval gedoem. Selfs al word die oorlewing van Afrikaans daarvan afhanklik gemaak dat “mense hom praat”, is daar van suiwer Afrikaans as ‘n omgangstaal byna nie meer sprake nie. Die meeste Afrikaners en Afrikaanssprekendes se Afrikaans is so deurspek met Engelse woorde, dat dit net sowel as geradbraakte Engels geklassifiseer kan word. As ons nie die rentmeesters van ons eie suiwer taal is nie, hoe kan ons verwag dat die owerheid, die howe, die universiteite, ens Afrikaans moet beskerm?

Gerhard ·

Dit is wat gebeur as jy ander tale het wat op jou afgedwing word. Anders as wat baie propageer kan meeste mense ten beste een taal behoorlik onder die knie kry.

Anel ·

Engels se voort bestaan gaan ook binnekort in gedrang kom. Die EU het aangekondig dat siodra die briite die EU verlaat, daar nie meer engels gepraat sal word nie. Slegs Frans en Duits. So hoekom engels so ophemel. Vir my die taal van verdrukking.

Gerhard ·

In Noord-Amerika is Spaans besig om by Engels oor te neem. Ongelukkig sal Afrikaans nog steeds lank voor Engels sneuwel.

Ou Gefokus Erdvark van Geloofsvertrouefontein ·

Opsommend: Wees lief vir jou volk en kultuurgoedere. MAAR moet nie daarvan afgode maak of daarvan slawe word nie. En moet nie jou vertroue op konings en prinse en politici plaas nie – hulle het almal voete van klei en gaan eendag vergaan tot stof wat gaan versprei in die heelal van heelalle waar niemand eers hul name gaan onthou of weet waar hul grafte is of was nie. Sela. Amen.

RP ·

Uitstekend, uitstekend! Ekt dit al menige kere gesê, maar ek dink nie ekt al ooit so saamgestem met meningsvormers soos met jou nie, Leopold. Regtigwaar, een van die min wat onpartydige artikels kan skryf.

Francois ·

Om aan te sluit by die tema van bruin mense insluit, moet van hierdie skole ook in bruin en minder gegoede buurte gebou word, anders gaan die regering net kla dat dit apartheid is en ongelykheid bevorder. Die bestuur sal dus moet sorg dat hulle ‘n goeie kombinasie van rasse onderrig om sulke beskuldigings in die kiem te smoor.

‘n Goeie begin sal dus eerder die Wes- en Noord-Kaap wees as Gauteng.

Nouja ·

Afrikaanse privaat skole is goeie nuus. Ek is net verbaas dat dit so lank geneem het om beslag te neem. Stem ook saam dat dit nie ‘n rasgedrewe inisiatief moet wees nie. Ons kan darem seker daarop aandring dat Standaardafrikaans die standaard moet wees, of hoe? Terloops, enige privaat onderrig is duur en sodoende gaan ‘n beduidende aantal Afrikaans sprekendes outomaties gediskwalifiseer word om na sulke skole te kan gaan.

Basson ·

Baie dankie vir inisiatiewe soos AON.
Ek hoop sprekers in die < 30j en 40j groep is bereid om die mantel oor te neem, sodat die passie vir ons Taal kan voortleef.

John ·

Wanneer word begin met die bou van die Afrokaanse skole want volgende jaar is die gort gaar, of gaan daar begin word met klasgee onder die Maroelabome duskant Cape Town want reen is gelukkig nou skaars en dis naby die woonbuurtes van die leerders. Groot geld is nodig so hulp van Afro-Amerikaners sal ge-in moet word. Maar not to worry, as die Boerenasie boedeloorgee gaan dit die bakhande laat oorloop en die groot lekka Nuwe Generasie van gelukkiges in die Afrokaanse-paradys sal via Loer-gou-net hul visie vir selfvernietiging predik en geen godsdiens om almal gelukkig te hou onder die Maroelabome in die droe lope van die eens Bergrivier. Alles vir die behoud van die wense van die gruwelike gebroeders wat groots gedroom het… Die nuwe Afrokaanse Woordeboek is binnekot op die rakke…. R10…. want dit is byna 20 bladsye dik… ai, iek, djy en niee is van die gewildeste woorde. Borg tog die arm leeerders broes vra dominee weer eens en vat tog hande, nie tande. En by die skole sonder eksamens, sodat almal gelyke kanse kan he om gratis by die Afrokaanse universiteite te kan gaan droom oor werk daarna by Afrokaanse werkgewers waar hul Afrokaanse rande sal verdien, blom die nuwe onderwysers sedert die vorige generasie noord verskeep is, om hul huise leeg te laat vir die agtergeblewes se agtergeblewe nasate en hul toekomstige kroos van agtergeblewenes en die boedeloorgewe-plek-in-die-hemel-gebetaal-soos-ouderwetse-kerkgangers-se-vrome-afrokane-nasate. Sela.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.