Afrikaans is Virseker, dit kan julle glo

As jy in Afrikaans gehelp wil word druk 1, as jy in Afrikaans gehelp wil word druk 2, as jy in Afrikaans gehelp wil word druk 3… So klink die stem van Riaan Cruywagen in die advertensieflitse van Virseker, die nuwe Afrikaanse korttermynverskeringsproduk in die Auto & General stal. Kan so ʼn nisproduk met ʼn fokus op Afrikaans werk? Dr Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit skryf hoekom hy dink Virseker slaan verseker die spyker op die kop.

Virseker se kenteken.

Afrikaans is verseker, dit kan julle glo, sy hou van partytjies en dan maak sy so…

Sy bult haar spiere en druk haar terug in die ekonomie. Die nuwe wêreld van nisbemarking het die voorwaardes geskep om Afrikaans weer stewig terug in die hoofstroomekonomie te plaas. Nisbemarking is een van die kragtigste vorme van bemarking in die inligtingsera. Klein is die nuwe groot. Die ná tv-era het aangebreek en word vervang deur die era van webgebaseerde  nuwe-media. blogs, sosiale media, webbladsye, You-tube, Twitter word ingespan om subkulture rondom produkte te vorm. Die era van groot het opgehou en die era van klein het aangebreek. Baie klein is die nuwe groot.

Skielik gaan die wêreld oop vir Afrikaans. In die verlede is die grootste gemene deler, Engels, gekies as bemarkingstaal. Ter wille van die groter mark adverteer ons in Engels, is geredenaar. ʼn Nisbenadering sal wees dat die gemene deler van ʼn nis gesoek word. Die nis word duidelik gedefinieer en dan gedomineer. Om die waarde van die nis te maksimaliseer word ʼn subkultuur rondom die produk gevorm. Die produk word dan ʼn kultusproduk.

Handelsname wat al kultusstatus bereik het is Jeep, Oprah Winfrey, Harley Davidson en Nike. Almal van hulle het daarin geslaag om hulle navolgers nie net produkgebruikers te maak nie, maar om hulle te laat voel hulle word selfgeaktualiseer. Harley Davidson het Harley-Owners Groups gestig en speel in op die idee dat jy rou vryheid beleef as jy ʼn Harley ry. Oprah het die Angels Network gestig en mense laat voel hulle help ander deur haar netwerk. Maslow se hoogste orde behoefte, selfaktualisasie word juis bereik wanneer jy voel jy maak ʼn verskil. Jy aktualiseer jouself deur ander te help. Mense ontsnap deur die kultusproduk van hulle probleme van hulle elke dag lewe en bevredig ʼn hoër orde behoefte deur die kultusproduk.

Die markleier om Afrikaans as so nis te sien is Auto & General met hulle korttermynverskeringsproduk, Virseker, wat onlangs bekendgestel is. Virseker is ʼn produk wat diens net in Afrikaans aanbied. Telefone word in Afrikaans geantwoord, polisdokumente is in Afrikaans en advertensies is oorspronklik Afrikaans.

Hulle het effektief daarin geslaag om ʼn subkultuur te begin vestig rondom die produk. Goeie navorsing is rondom die Afrikaans mark begin en tipiese Afrikaanse woorde word in die veldtog gebruik. Net Afrikaanse mense sal die veldtog snap en hulle voel goed daaroor. Op hulle webbladsy is prentjies van koeksisters en turksvye. Woorde soos bokspring-bollemakiesie, die hele kaboedel, veldbakkie versekering en gatsakbonus word gebruik. ʼn Hele nuwe idioom word rondom Virseker geskep. Mense neem aktief deel op hulle Facebook en ruik Afrikaanse resepte uit. ʼn Afrikaanse lewe word rondom Virseker geskep.

Indien ʼn maatskappy ʼn nis soek om te domineer is die Afrikaanse gemeenskap ʼn goeie nis. Sy krag lê nie noodwendig in sy 4.7 miljoen sprekers nie, maar in die feit dat 34% van die LSM 8 – 10 groep uit die Afrikaanse gemeenskap kom. Hulle is dus hoë verdieners en ʼn ideale mark vir die finansiële dienste sektor. Tweedens is dit ʼn lojale mark. Volgens die 80/20 opname is 79% van Afrikaanssprekendes lojaal aan ʼn handelsmerk, 77% glo tradisie hou mense bymekaar, 72% glo dit is belangrik om kulturele tradisie te behou, 79% verkies om in hulle huistaal te lees en 85% hou daarvan om te luiter na en te praat met mense in hulle eie taal.

Om Afrikaanse te gebruik om die gemeenskap op te hef is deel van die historiese DNS van Afrikaners. Sanlam, Volkskas, Santam Federale Volksbeleggings en vele ander is uit hierdie DNS gebore. Om ʼn subkultuur rondom ʼn Afrikaanse produk wat Afrikaans bevorder te vorm is dus redelik maklik. Indien ʼn produk rondom nisbemarking wil eksperimenteer is die Afrikaanse mark ʼn veilige mark.

Virseker het dit baie slim gedoen. Nie net lewer hulle diens in Afrikaans en gee vir mense ʼn goeie dienservaring nie, hulle gee vir hulle kliënte ʼn goedvoel-ervaring. Deel van die premie gaan aan die Virseker Trust wat fokus op Afrikaanse opleiding. Jy verseker dus nie net jou motor- en huisinhoud nie, maar ook ʼn kind se toekoms, lui hulle bemarkingsboodskap. Die Virseker Trust het al reeds hulle eerste beurse toegeken en het hulle steun gegee vir die bou van die nuwe R150 miljoen kampus vir tersiêre onderwys wat deur Solidariteit gebou word. Deur jou polis bou jy ʼn steen in ʼn toekomsmonument van hoop, verduidelik die Virseker Trust aan voornemende kliënte.

Virseker lees die krag van nisbemarking reg en hulle was slim om eerste die Afrikaanse mark te ontdek en te domineer. Die Afrikaanse mark is egter so kragtig dat Virseker dit nie kan uitput nie. Hulle is wel besig om die Afrikaanse korttermynspasie beset, maar ek voorspel dat die domino’s gaan val en dat Afrikaanse mediese, bank-, ensovoorts produkte gaan volg. Die ná tv-era van klein is groot gaan Afrikaans weer terugbring in die hoofstroom ekonomie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.