Afrikaans lê in die hoësorgeenheid

afrikaans_

Foto: pixabay.com

Deur Christoff van Wyk

Die hoësorgeenheid van ‘n hospitaal is vir enige pasiënt en familie ’n traumatiese ervaring. Hier lewe ’n pasiënt en sy familie op die dun spanningsdraad tussen hoop en wanhoop. Hier word lewe gemeet aan statistieke en lyne op ’n lewensondersteunende masjien. Dit is ’n plek waar familie soek na waarheid oor oorlewingskanse, genesingsoplossings en deur baie uiteenlopende antwoorde moet sif.

Afrikaans as universiteitstaal het in die hoësorgeenheid beland. Dit is traumaties vir haar familie. Taalspesialiste kan nie ’n klinkklare antwoord gee oor haar oorlewingskanse nie. Sommige taaldokters veg verbete vir die pasiënt se lewe. Ander kommunikeer soos professionele trauma-personeel hoopvol: “Afrikaans sal in 1 000 jaar nie sterf nie”, maar vermy die familie se oë. Sommige vriende stuur welwillende Afrikaanse goedvoelkaartjies. Sommige familielede is lief vir Afrikaans, maar het klaar afskeid geneem.

Dit is moeilik om te verstaan waarom Afrikaans in die hoësorgeenheid beland het. Die London Times het op 29 April 1994, twee dae ná die verkiesing, Afrikaans beskryf “as die lewende taal van miljoene”. Afrikaans is ’n amptelike landstaal. Haar sprekers het grondwetlike waarborge vir moedertaalonderrig. Afrikaans word erken as ’n nasionale bate. Selfs haar grootste vyande erken die kulturele, kommersiële, sosiale en emosionele waarde van Afrikaans as ’n wêreldgehalte akademiese taal in elke vakgebied.

Die antwoord vir Afrikaans se terminale toestand aan universiteite moenie net gesoek word by die EFF-rampokkers wat met die ondersteuning van linkse dosente wil breek eerder as leer nie. Groeiende frustrasie oor onvervulde beloftes en swak dienslewering tesame met die alomteenwoordige geweldskultuur en die opkoms van die EFF plaas politieke druk op Afrikaans en is wel faktore vir versnelde verengelsing. Maar, dit is net die simptome van ’n onderliggende siektetoestand in ons samelewing.

Die ANC is lankal nie meer die party van president Nelson Mandela wat swart en wit oorheersing verwerp het nie. Vandag is die ANC die party van Zuma en kaders wat die ruimteskeppende grondwetlike waardes van 1994 verdring het, met die ongenaakbare staatsideologie van rasseverteenwoordiging. Binne dié staatsideologie moet die samelewing ’n spieëlbeeld wees van die rassesamestelling van die Suid-Afrikaanse bevolking. Die demokratiese samelewingsbegrip van 1994 moes die knie buig voor ’n antidemokratiese samelewingsbegrip wat rasoorheersing en klasse-gelykheid op alle lewensterreine wil verwerklik deur alle samelewingstrukture en diversiteit tot op die laagste gemene deler af te breek. Om dié rede word die rassetamboer onverpoos geslaan met rassekwotas en onverbiddelike rassewetgewing. Die ideologiese monster word voortdurend gevoed met ’n patologiese minderwaardigheidsgevoel van klasse-ongelykheid waarvan die ideële wortels in kommunisme, maoïsme en fascisme lê.

Die antidemokratiese samelewingsbegrip laat min ruimte toe vir die verbeeldingryke en ruimteskeppende toepassing van grondwetlike waardes ten opsigte van taal- en kultuurregte. Binne die antidemokratiese samelewingsbegrip is dit nuttig om Afrikaans as politieke speelbal rond te skop om die ideale van rasoorheersing en klasse-gelykheid te regverdig. Afrikaanse onderrig word voorgehou as die simbool van wit bevoorregting, eksklusiwiteit, wit rassisme en witmense se hunkering na neo-apartheid. In die rewolusionêre taal van 1976 word Afrikaans in 2016 beskryf as die instrument van “domination, oppression and exclusion”.

Daarenteen word Engels aangebied as die taal van “liberation and equalisation” waarmee universiteite gedekolonialiseer moet word. Verengelsing word nie uit liefde vir die koloniale taal gepleeg nie. Dit gaan in wese oor die vernietiging van meertaligheid. Meertaligheid voorveronderstel ’n demokratiese ruimteskeppende samelewingsbegrip. Dit kan nie geduld word nie. Vanuit die antidemokratiese samelewingsbegrip word gemeenskappe se taal en kulturele identiteit as struikelblokke vir sosiale kohesie beskou. Daarom is daar, ten spyte van wat die Grondwet sê, geen politieke wil by die ANC om meertaligheid te bevorder nie. Die afgelope twee dekades het die ANC uit hulle pad gegaan om meertaligheid te vernietig. Die taalwaghond Pansat is deur wanbestuur verwoes. Universiteite kry geen staatsubsidie vir die bevordering van meertaligheid of die voortgesette ontwikkeling van inheemse tale tot volwaardige akademiese tale nie. Die direkte gevolg hiervan is dat universiteite se taalbeleide teoretiese erkenning aan meertaligheid gee, maar in praktyk word Afrikaans se status as volwaardige akademiese taal geleidelik afgegradeer tot ’n simboliese kommunikasie- en administrasietaal.

Met die regstegniese term van “equal discrimination” word geredeneer dat Engels almal se tweede taal is en daarom sal daar gelyk teen almal gediskrimineer word deur slegs Engels as volwaardige universiteitstaal te erken. Deur gelyke diskriminasie word grondwetlike taalregte geskend, diskriminasie geïnstitusionaliseer en strukturele taalgeweld gelegitimeer. Op kort termyn kan dit vlamme op kampusse blus, maar op lang termyn sal dit eerder lei tot groeiende onverdraagsaamheid, polarisasie en nuwe rassespanning. Die morele kernvraag waaroor elke universiteitsraad sal moet besluit, is of hulle staan by die geen-diskriminasie-standpunt van die Mandela-era, en of hulle die diskriminasie van die Zuma-era wil institusionaliseer.

Natuurlik het Afrikaanssprekendes ’n groot aandeel in die legitimering van die staat se antidemokratiese samelewingsbegrip. Afrikaanssprekende studente in Engelse klasse het stadig maar seker die hoë grond onder Afrikaans se voete weggekalwe tot op die punt waar Engels die de facto-universiteitstaal is. Daar is simpatie met die benarde posisie waarin baie Afrikaanse dosente hulle bevind. Werksekerheid is belangriker as ’n taalstryd. Daar is egter min simpatie vir Afrikaanse dosente wat die staat se antidemokratiese samelewingsbegrip op universiteite afdwing deur vir totale verengelsing te pleit. Die gesegde lui mos: Wie se brood jy eet, is wie se woord jy spreek. Geen wonder Afrikaans as hoër onderwystaal lê op die naat van haar rug in die staatshospitaal nie.

Staatsuniversiteite sal hulle aan die hand van die staat se samelewingsbegrip transformeer. Dit was so in die verlede en dit is steeds so. Om binne die staat se antidemokratiese samelewingsbegrip Afrikaans se lewe te probeer red, is ’n onbegonne taak. Die taaldokters kan walgooi, die taalspesialiste kan beplan, die Afrikaanse gemeenskap kan rug styf maak, maar dit bied net korttermynoplossings vir Afrikaans. Die enigste langtermynoplossing vir Suid-Afrikaners is om anderkant die staat se antidemokratiese samelewingsbegrip te tree met ’n demokraties gedifferensieerde samelewingsbegrip. Binne ’n demokraties gedifferensieerde samelewing word gelykheid positief bevorder deur niks van niemand te ontneem nie. Niks word gebreek nie, daar word gebou. Niemand word oorheers nie, maar met respek regeer. Binne ’n demokratiese samelewingsbegrip het elke kultuurgemeenskap ’n volwaardige plek en elke taal kan sonder diskriminasie floreer. Die enigste manier om Afrikaans as universiteitstaal te red, is om haar uit die staatshospitaal te verwyder en te versorg in ’n gemeenskapshospitaal. Haar gemeenskappe sal Afrikaans met liefde en toewyding versorg tot heil van miljoene.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

HEVW ·

Talle operasies was geslaag, maar die pasient is ongelukkig dood.

Ada ·

Nee, Afrikaans gaan opstaan en sterker as ooit wees.Gee net kans. Moenie negatief wees nie. On s is n gelowige en Godvresende nasie en sal deurdruk. Die ouens wat negatief is moet net eers die pad oorsee vat sodat die koring van die kaf geskei kan word. Dan is dit net die egte wit Suid-Afrkaners was die wa deur die drif gaan trek. Ons sal dan seevier. Gee net kans.

JC ·

Hi Ada,
Ek stem saam! Afrikaans gaan sterker as ooit hier uittree, ala Breyten.
Dankie vir jou positiwiteit, dit word waardeer te midde van die sinisisme wat ek so baie raaklees! Geen net kans! Hoor hier-LESERSKRING HET SOPAS TE KENNE GEGEE HUL HERLEEF WEER, YIPEE! AKADEMIA FLOREER! ONS HET BREYTEN AAN ONS KANT! More koop ek Andre P Brink se “n Oomblik in die Wind” en “Die Eerste Lewe van Adamastor” en skenk ek geld aan Akademia om hul te help groei! Hul het nou 4 graadkursusse. Dit gaan net aanhou groei. Voordat ons, ons oe uitvee het hul 100! Gee net kans!

Liza ·

Lank lewe AFRIKAANS!!! Ons praat ingels by die werk maar my hart en siel bly AFRIKAANS! Hulle kan maar probeer om AFRIKAANS dood te maak, lank lewe AFRIKAANS!

magrette louw ·

waarom is mense so besorg hieroor?
Solank soos ons taal gepraat word sal hy nie doodgaan nie, hoësorg eenheid of nie?

HEVW ·

Met die pasient wat dood is bedoel ek op staats – universiteits vlak. Ek stem saam met oorplasing na die gemeenskapshospitaal, maar dan moet dit beslis in die hoesorgeenheid geplaas word want baie van ons Afrikaanssprekendes volhard om te praat van die icu.. Ek glo u verstaan wat ek bedoel nl. die skandelike verminking van eie Afrikaanse taal.

Cobus ·

Ons verwaarloos ons taal en ons is 100% skuldig daaraan. Luister maar waar aankope gedoen word; die koper en verkoper is baie swak engels magtig maar beide wil dit praat. (Polities korrek?) Dring daarop aan om AFRIKAANS te praat en gebruik alleenlik die wêreldtaal as jy vasstel die ander is glad nie in staat om jou moedertaal te verstaan nie.

Lafras Vermeulen ·

Ek is ‘n voltydse akademikus aan een van Suid-Afrika se residensiële universiteite. Ek wil, te midde van die (geregverdigde) paniek rakende die status van Afrikaans as universiteitstaal, darem ‘n lansie breek vir Afrikaanssprekende akademici en navorsers wat steeds werk van besondere hoë kwaliteit in Afrikaans lewer. LitNet (Akademies) bevat, byvoorbeeld, ‘n veeltal uitstekende eweknie-beoordeelde akademiese artikels in Afrikaans in, onder andere, die geesteswetenskappe en regsgeleerdheid. In my dissipline word steeds in Afrikaans in sekere Suid-Afrikaanse vaktydskrifte gepubliseer, en Nederlandse en Belgiese vaktydskrifte aanvaar ook artikels wat in Afrikaans geskryf is. Solank as wat Afrikaanssprekende akademici voortgaan om in Afrikaans te publiseer, en om Afrikaanse studente in hul lesings te akkommodeer, sal Afrikaans nooit vanuit die Suid-Afrikaanse (en internasionale) akademiese diskoers verdwyn nie. Maar dit verg toewyding en ‘n definitiewe moreel-intellektuele besluit ten gunste van Afrikaans deur Afrikaanssprekende akademici – wat nie deur burokrate binne universiteitsbesture getroef mag word nie.

JC ·

Ek stem saam maar wag ook maar asb vir vindikasie van ons GWlike taalregte deur die vrystaat hoe hof afr SAL dan geakkommodeer moet word in anders is dit minagting vd hof!

John ·

Dit wil voorkom of ‘n hele paar van ons Afrikaners van nou af in swart gekleed wil gaan met ‘n geel ster op die bors. Is daar nie iemand wat orals aswinkel wil oopmaak nie? Hy sal baie ryk word. Almal wat rou oor Afrikaans kan dan sakkies as gaan koop en soggens voor boekevat oor hul aangesigte strooi. Die voorafgaande amperste begrafnisdiens van mnr C van Wyk is in sulke mooi en foutlose Afrikaans opgedis. Dink hy nou die taal gaan uit sy en ons koppe verdamp sodra ons vyand, wha!!, se? Weet julle waardeur ons voorsate is, voor ons hier op aarde aangeland het? Dink! Hulle moes uiters dapper en gelowig gewees het. Hulle het Afrikaans met mekaar gepraat in die waens terwyl assegaaie oor hul koppe fluit, en ook by Bloedrivier en by Majuba. Die banggatte onder ons moet nou maar in Engels begin sing (en vloek) en stry, en ‘n foto van die queen op die yskas bo boetie se skets van pa en ma, vasmagneet….

Therese van Shalkwyk ·

Lafras Vermeulen

Verblydende kommentaar!

Afrikaanssprekende akademici moet egter verder gaan en daadwerklike stappe doen om Afrikaanssprekende studente en skoliere behoorlik in te lig oor die voordele van moedertaalonderrig. Studies bewys dat teen die tyd dat leerlinge in graad vier kom, tot 60% van hulle nie met begrip kan lees nie. Gebrekkige moedertaalonderrig word hoofsaaklik hiervoor blameer en is die een groot rede vir die krisis in onderwys.

En nog stééds is daar mense wat die oningeligte uitsprake maak dat Afrikaans en sy sprekers ‘oraait’ sal wees as dit net gepraat word! Die “wêreldtaal is wel Engels”, maar as jy nie eers behoorlik verstaan wat jy lees nie gaan jy nooit uitblink nie.

As dit regtig ‘n feit is dat al hoe meer Afrikaanssprekende studente “verkies” om hul klasse in Engels te loop, lê daar baie werk vir julle voor. So nie, is Afrikaanse dosente ‘n ernstig bedreigde spesie.

Ben Serfontein ·

Puik artikel en so waar.
Uit my griffel sê ek soos volg:-

AFRIKAANS.
Die Wonder van ons Taal wat in 1000 jaar nog sal bestaan maar in SA sal Engels vergaan.

Groetnis
BEN

John ·

HEVW, ons almal wag in spanning om te hoor wanneer die begrafnis plaasvind. Gaan jy die diens lei of slaan julle nog vuis oor wie se voorreg dit sal wees . Die SABC sal verseker hierdie diens uitsaai. Trek tog maar warm aan want ‘dis koud daarbuite’…. Julle sal maar in Ingels moet sing want nie een van julle ken meer enige Afrikaanse Halleluja-liedere nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.