Afrikaans moet nie net oorleef, maar ook groei en gedy

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Verlede Sondag is die geboorte van Afrikaans in sommige kringe gevier. Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap vir Regte Afrikaners, onder leiding van ds. SJ du Toit in die Paarl gestig, en dit word deur sommige as die geboortedatum van Afrikaans as selfstandige taal beskou.

Of dit ʼn korrekte aanname is, is ʼn vraag wat ek nie vandag hier wil beantwoord nie. Ek wil wel laat blyk dat ek bewus is van verskillende benaderings.

Enersyds is daar die ortodokse Afrikanerstandpunt; andersyds dié wat onlangs deur die bruin Afrikaanssprekende taalgeleerde prof. Hein Willemse geartikuleer is, dat Afrikaans nie die eksklusiewe eiendom van die (wit) Afrikaner is nie, en dat 14 Augustus dus geen spesiale verering verdien nie.

Ek is self ʼn wit Afrikaner, en dus het 14 Augustus wel ʼn spesiale plekkie in my hart. Maar ek wil geen fetisj daarvan maak nie; as sommige dit as net nóg ʼn datum beskou, gun ek hulle dit ten volle. Ons Afrikaanses kan mekaar net vind as ons mekaar voldoende ruimte gun.

Wat wel waar is, is dat die opbou en ontwikkeling van Afrikaans as literêre en wetenskaplike taal, soos hy vandag bestaan, hoofsaaklik te danke is aan die harde werk van Afrikaners.

Dit is bloot te danke aan die feit dat geskiedenis die Afrikaners polities, maatskaplik en ekonomies, in die laat 19de en vroeë 20ste eeu, aan die bopunt van die leer geplaas het en die bruin Afrikaanses laer af, waar hulle byna geen invloed kon uitoefen nie. Dit is nie húlle skuld nie.

Maar presies waar bring dit ons as ons vandag oor só iets redekawel? Ja, as die gesprek reg gehanteer word, kan dit die versoening onder Afrikaanses inklusief bevorder.

Maar aan die toenemende agteruitgang van ons gemeenskaplike taal in die “nuwe Suid-Afrika” verander dit níks. ʼn Nuusberig dié week illustreer presies wat aan die gang is.

Ek verwys na die hofsaak wat die Stellenbosse student-organisasie, StudentePlein, en die DA teen die Universiteit Stellenbosch (US) oor dié se taalbeleid aangespan het.

Kom ons raak nie in die ingewikkeld besonderhede van die regsaspekte ingetrek nie. Tot sy kern gereduseer, kom dit daarop neer dat die US sy eie taalbeleid van 2016 nie toepas nie.

Tradisioneel was die US altyd inklusief Afrikaans. Klasse is dus in Afrikaans gegee, maar dis altyd op ʼn verdraagsame manier toegepas om Engelssprekende studente ruimskoots tegemoet te kom.

Engelssprekendes is byvoorbeeld toegelaat om hul take en eksamens in Engels te beantwoord.

Ná 1994 het die leiding van die Universiteit – veral die rektor, prof. Wim de Villiers – sluipenderwys toegelaat dat Engels steeds meer in die lesinglokaal gebruik word. Daardeur het Afrikaans se posisie agteruitgegaan.

In 2016 is ʼn definitiewe taalbeleid geformuleer. Dit het op tweetaligheid neergekom: Alles wat in Engels gedoen is, moes ook in Afrikaans beskikbaar wees.

Die teorie was dus dat Engels se posisie verbeter is, maar dat dié van Afrikaans nie daaronder gely het nie.

Dit was die teorie. Die praktyk, blyk nou in die hofsaak, is anders.

Luidens nuusberigte oor die hofsaak is besluite geneem “om sekere nuwe onderrigmateriaal net in Engels beskikbaar te stel en nie in Afrikaans nie, soos wat die beleid vereis”. Die US se verweer is dat die 2016-beleid vervang is deur ʼn nuwe beleid wat verlede jaar aanvaar is.

In welke rigting dit gaan, is al vroeg in die 2021-dokument te sien, wanneer gestel word dat die Engelse weergawe die geldende dokument is en die Afrikaanse weergawe ʼn vertaling daarvan is. Luidens die taalbeleid word drie tale as amptelik aan die US gebruik, naamlik Engels, Afrikaans en isiXhosa.

Maar omdat Engels ʼn algemene kommunikasietaal is, “gebruik die US Engels gereeld, maar nie uitsluitlik nie, in akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontakte”.

Waar doenlik, is daar aparte Afrikaanse en Engelse lesings. Maar waar dit tot praktiese probleme lei, “word alle inligting in ten minste Engels oorgedra, en word inhoud ook in Afrikaans opgesom of beklemtoon”. In nagraadse kursusse moet studente geskrewe werk in Engels doen, en Afrikaans mag slegs met “voorafreëling” en indien die dosent Afrikaans vaardig is gebruik word.

Daar is nog ander soortgelyke bepalings ook. Maar as ʼn mens hulle almal in ag neem, is die gevolgtrekking onvermydelik: Afrikaans se posisie word stelselmatig en stadig maar seker steeds verder ondermyn.

Dít aan ʼn universiteit wat sy ontstaansgeskiedenis aan die opkoms van Afrikaans te danke het. Dít aan ʼn universiteit met ʼn rektor wat blykens sy naam ʼn Afrikaner is (ofskoon hy homself dalk nie só sou wou beskryf nie).

Wat aan die US gebeur, is tipies wat met Afrikaans se posisie in die breë in die land aan die gang is.

Vir sover die ANC/ SAKP die septer swaai, gaan Afrikaans in die politiek en die staatsadministrasie steeds verder die kreeftegang. Waar die taal oorleef, en soms selfs floreer, is in die gebiede búíte bereik van die ANC-staat.

In die politiek het die DA ʼn mate van simpatie met Afrikaans. Die VF+ volledig. Die Afrikaanse koerante en tydskrifte verdedig die taal se posisie met oorgawe.

En dan is daar die Solidariteit-familie, wat met ʼn duidelike omvattende oorhoofse strategie besig is om sowel die taalkwessie as ander problematiese sake (wanbestuur, korrupsie, misdaad, noem maar op) buite-om die ANC-beheerde staat te hanteer. Daarmee word aansienlike sukses behaal.

Hoe nou verder?

Ek neem aan verreweg die meeste van die mense wat dié woorde lees, is ten gunste daarvan dat Afrikaans nie slegs moet oorleef nie, maar dat hy ook moet groei en gedy. Om dít te bereik, is dit nodig dat elkeen sy steentjie moet bydra deur sover moontlik in Afrikaans te praat en te skryf, en om die ANC se verengelsingsbeleid waar enigsins moontlik te beveg.

Dis waar, ek woon tans in Nederland. Dis nie omdat ek my vaderland en my moedertaal die rug toegekeer het nie; dis eenvoudig omdat ek met ʼn Nederlandse vrou getroud is wat meer as 30 jaar van haar lewe vir my in Suid-Afrika deurgebring het – en noudat ek afgetree is, gee ek iets terug vir haar.

Maar kom ons bly veg vir wat reg is. En een aspek dáárvan is Afrikaans.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Bitter moeilik vir minderhede om al die dinge te doen. Afrikaners is moeg baklei. Die oormag is reeds oor ons. Daar is ook nie juis jonges (dié onder 35) met drif en vuur wat gereed is om nuwe planne te maak en die stryd na ‘n hoër vlak te neem nie. Indien só ‘n groep ‘n vandag ‘n nuwe Genootskap skep sal daar dalk hoop wees. In hierdie stadium kan ons mekaar opsweep, maar enige stryd blyk werklik doelloos te wees. Intussen kyk ons rugby en drink bier.

Republikein in die Wes Kaap ·

Terloops, Afrikaans as onderigtaal is oor die afgelope 15 jaar uitgefaseer by verskeie ou Afrikaanse skole in Pretoria en Johannesburg. Sonder enige stryd. Demografie is aan’t verander word gesê. ‘n Tweede generasie Afrikanertjies daar word nou in Engels onderrig. ‘n Familievriend wat klas gee by ‘n privaat kollege vertel dat die kinders uit daai skole Engels vlot praat, dikwels met ‘n nuwe en vreemde aksent. Wie weet, oor 50 jaar praat ons almal dalk Engels soos die Skotte.

ABDP ·

Ek is jonger as 35, en ek ken baie jong mense onder 35 wat ook veg vir Afrikaans. My kinders is in ‘n SUIWER Afrikaanse skool, ons praat net Afrikaans en veg hard saam elke ouer Afrikaans sprekende. Moet ons nie so vlak kyk nie. Ons weet al te goed dat Afrikaans van ons generasie afhang. My kinders sal ins Afrikaans leef en daarvoor sal ons sorg. Kry net bietjie vertroue. Dalk ken jy nie ware Afrikaners van hart nie. Ek ken genoeg en ek het baie hoop vir ons taal.

Alana ·

Dankie vir ‘n puik artikel, Leopold.

Dis waar, min mense bemoei hulle aktief met die toekoms van Afrikaans, soos die leser bo noem, maar ons moenie getalle met gehalte verwar nie. Die mense wat vir die groei van die taal gewerk het, was nog altyd ‘n klein groepie – die GRA was nie ‘n honderdduisend nie, maar net ‘n handjievol begeesterdes wat die energie en moed gehad het om Afrikaans te bevorder en te beskerm. Daar is vandag ook sulke Gideonsbendes en ons mag nie moed verloor nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Leopold sal jou seker kan vertel hoe sy dosente wat in die 1930s en 40s by Maties studeer het stories kon vertel van hul dosente wat na uniewording hard geveg het vir Afrikaans. Dit was ook die geval by ander voormalige Afrikaanse universiteite. Daai stryders draai vandag in hul grafte om. Gaan lees ook Me Nanni se berig verlede maand en oordeel of STOP se veldtog iets gaan bereik. Dis te betwyfel of onse mense werklik omgee, of dalk verkies om net magteloos weg te kyk.

Braam ·

Iewers het daar iets gebeur want engels is nie meer die eksklusiewe ‘gesels” taal nie tussen die verskillende tale en kulture hier in gauteng nie. n Interresante verskynsel is dat van ons senior burgers al hoe meer as oom en tannie aangespreek word. Ek staan dikwels in geselskringe waar oorgeslaan word afrikaans toe. Groet in afrikaans en jy word teruggegroet in afrikaans. Dit blyk of die ’76 “stryd” teen afrikaans nou n spontane herstelproses ingaan.

Jan Seerot ·

Geagte Braam, jy is heeltemaal korrek in jou waarneming. Ek ondervind sit hier waar ek bly en werk. Die gemeenskap is oorwegend swart. Ek is is “Oom Jan” vir die mense en ek word ook as sulks aangespreek en dan is ‘n gesprek sommer maklik in Afrikaans ook.

Moenie moed verloor nie. Byt Vas. Moenie skree: “Praat Afrikaans” nie. Praat Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.