Afrikaans onder die vergrootglas in Gent

alana bailey afriforum

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof, AfriForum.

Soms word verklaar dat Afrikaans ʼn plaaslike taal met geen internasionale gebruikswaarde is nie. Hierdie stelling is die afgelope maand weer op sy kop gekeer toe verskeie byeenkomste met Afrikaans as fokus in België en Nederland plaasgevind het.

Die eerste en grootste hiervan was die derde Colloquium van het Gents Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika, aangebied deur die Universiteit van Gent, wat van 27 tot 28 Oktober in hierdie pragtige stad plaasgevind het. Die eerste colloquium is in 2014 aangebied. Sedertdien het belangstelling in die byeenkoms betekenisvol gegroei, met sowat 100 mense wat dit vanjaar bygewoon het.

Die Universiteit van Gent is een van verskeie universiteite in die buiteland wat Afrikaans as vak aanbied. Vanjaar is daar 52 finalejaarstudente wat hulle passie vir Afrikaanse taal- en letterkunde in hulle studie uitleef.

Prof. Jacques van Keymeulen staan aan die hoof van die departement. Hy het van jongs af ʼn groot belangstelling in Suid-Afrika, die mense van die land en Afrikaans gehad. Sy regterhande is Yves T’Sjoen en Annelies Verdoolaege.

Vanjaar se colloquium het uit twee parallelle gedeeltes bestaan, met ʼn fokus op letterkunde aan die een kant en op taalkunde – en meer spesifiek taalbeleid – aan die ander. Die volledige program is by www.afrikaans.ugent.be/programma beskikbaar. Die referate word tans ook vir latere beskikbaarstelling versamel.

Prof. Wannie Carstens van die Noordwes Universiteit het 'n toespraak gelewer met die tema “Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika”. Foto: Verskaf.

Prof. Wannie Carstens van die Noordwes Universiteit het ‘n toespraak gelewer met die tema “Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika”. Foto: Verskaf.

Die gedeelte van die program wat my spesifiek geïnteresseer het, was natuurlik die referate oor taalbeleid. Dit is deur prof. Wannie Carstens (Noordwes Universiteit) met die tema “Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika” ingelei.

Van die referate wat daarna gelewer is, het op die breër taaltoneel gefokus. Joris Cornelissen van AfriNetwerk het byvoorbeeld die Wes-Kaap se provinsiale taalbeleid as ʼn ligpunt in die land beskryf. Helaas beteken ʼn skynbaar meertaligheidsvriendelike beleid nog nie dat meertaligheid ʼn realiteit in die provinsie is nie, maar dit daar gelaat.

Ander sprekers het interessante internasionale parallelle tussen gebeure in Suid-Afrika en die res van die wêreld getrek. Dr. Peter Dirix (Katolieke Universiteit van Leuven) het taalbeleid in Sowjet-Rusland met dié in Suid-Afrika vergelyk. Dr. Heinrich Matthee (Universiteit van Amsterdam) het Suid-Afrika binne Afrika-verband ondersoek, met verwysing na onder meer die taalstryd van die Amazigh in Noord-Afrika. Die Amazigh is nie koloniste nie, maar oorspronklike inwoners van Noord-Afrika. Tog word daar op soortgelyke wyse teen hulle en hulle taal gediskrimineer as teen Afrikaners en Afrikaans. Dit bewys dat die probleem die ondemokratiese dimensies van politieke ordes en die ontkenning van minderheidsregte is, en nie ʼn proses van dekolonisasie nie.

Verder is veral op die taalbeleid van die voormalige Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika gefokus. Die taalbeleidsveranderings by die Universiteite van die Vrystaat, Stellenbosch, Pretoria en Suid-Afrika is deur verskeie verteenwoordigers van dié instellings ontleed en bespreek. Telkens is verwys na die gebrek aan behoorlike konsultasieprosesse wat die taalbeleidsveranderings voorafgegaan het, die deurlopende gebrek aan behoorlike data oor die taalbehoeftes van studente en bedenklike optrede deur universiteitsbesture. Etlike sprekers het ook erkenning aan AfriForum gegee vir die sterk standpunt wat die instelling in die openbaar teen die verengelsing van die instellings inneem en ook die hofsake wat dit saam met Solidariteit teen die nuwe eentalige Engelse beleide voer.

Ek en Anne-Marie Beukes (Universiteit van Johannesburg) het onderskeidelik beklemtoon dat aktiewe taalburgerskap en aktiewe deelname aan die bevordering en beskerming van Afrikaans deur die burgerlike gemeenskap noodsaaklik vir die voortbestaan van die taal is. Dit sluit nie net aktivistiese aksies in nie, maar ook die praktiese gebruik van die taal op alle vlakke en die uitbou van selfstandige privaat instellings, soos Akademia waar Afrikaans gebruik en uitgebou kan word.

Angelique van Niekerk (Universiteit van die Vrystaat) het ʼn verdere interessante perspektief bygevoeg met haar referaat oor aktualiseringsinisiatiewe vir Afrikaans.  Sy bied al amper ʼn dekade lank aanlyn onderrig vir mense wat graag Afrikaans wil leer, aan. Burokratiese rompslomp het haar nie gekeer om dit te doen nie – sy het eenvoudig voortgegaan om die program te ontwikkel en so wen sy en haar medewerkers steeds meer vriende vir ons taal onder tweedetaalsprekers.

In ʼn stadium het een van die teenwoordiges genoem dat hy die groot groep sprekers se kommer oor die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal neerdrukkend vind en wil weet of daar darem ook ligpunte in dié verband is.

Die ligpunte wat uitstaan, is sigbaar deur die colloquium vergestalt. Hier het taalkundiges, aktiviste, historici en ander akademici en belangstellendes hulle liefde vir Afrikaans sigbaar gemaak deur hulle bywoning en insette.  Ons gedeelde kommer beteken ook dat ons almal bereid is om die globaliserings- en ideologiese druk om te verengels teenstaan met uiteenlopende aksies wat ʼn stewige weerstand verteenwoordig.

Nog ʼn belangrike kenmerk is dat daar uiteindelik op ʼn openbare platform wegbeweeg is van die polities korrekte ontkenning van die uitdagings wat Afrikaans in die gesig staar. Spreker ná spreker het erken dat die taal se hoëfunksietoekoms op die spel is. Sonder deeglike strategiese beplanning en kragdadige optrede gaan ons taal verskraal tot ʼn informele huistaal, ʼn kreeftegang wat ons nie kan bekostig nie. Daarvoor is die akademiese, ekonomiese en kulturele voordele van ʼn eie taal eenvoudig te groot. Die kennis is deeglik onderstreep aldaar.

Alle Afrikaanssprekendes is die Universiteit van Gent en veral die span verantwoordelik vir die colloquium veel dank verskuldig. Hulle hou ons taalfakkel brandend in die Lae Lande en beklemtoon dat ʼn taal soos Afrikaans nie net plaaslik kosbaar is nie, maar ʼn unieke kennisbydrae tot die wêreld lewer. Daardie bewusmaking is nie net noord van die ewenaar nie, maar veral op eie bodem nodig. Hopelik sal die program in Gent ook vir Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika inspireer om ons taal steeds meer te koester en uit te bou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jax ·

Kan Ons nie maar al die manne-krag en geld gebruik het om ons eie land se mense Afrikaans te leer nie? Duur vliegkaartjies om 100 mense toe te spreek! Geld mors as jy my vra! Die betrokke lande se Jan-publiek stel nie belang om Afrikaans te leer of erken nie. Na ek byna 2 dekades daar gebly het, het dit elke dag meer duidelik geword dat Afrikaans altyd in Apartheid taal sal bly in Jan-Publiek se oë en al probeer mens hoe hard, hulle stel nie belang in n ander siening oor die saak nie!
Kom Ons vee eerder voor eie deur en kry ons land se mense om ons taal suiwer te praat!

Leendert ·

Jax, ek dink dit is nogal baie belangrik om op die wêreldverhoog ons boodskap oor te dra en betrokke te wees, tensy mens tevrede met ‘n kombuistaal is. Dankie Afriforum, dat julle nie net handdoek ingooi nie.

JC ·

Baie dankie Alana, en baie dankie aan die Universiteit van Ghent, liefhebbers van Afrikaans in Belgie en die lae lande, en aan al die deelnemers aan die colloquium insluitend Breyten.
Afrikaans leef!!! [ oops, moet net nie dat die polities korrekte verkramptes dit hoor nie, of die “thought police” :-) ]

André Badenhorst ·

Baie dankie Alana. Uitstekende terugvoer met vars insigte.

Therese van Schalkwyk ·

Dis verblydend dat die Universiteit van Gent “ons taalfakkel brandend hou in die Lae Lande”, want daar is tot onlangs baie min gedoen in SA self om die kreeftegang van Afrikaans te stuit. Eers toe die koeël deur die kerk is by alle Afrikaanse universiteite behalwe een, het die mense wat op die rade sit wakker geskrik.

Die Afrikaanse Taalraad het uit die staanspoor uitgereik na die verskillende variëteite soos Kaaps, terwyl Standaard-Afrikaans stief behandel is. In ‘n onderhoud wat Murray la Vita met die voorsitter van die ATR in daardie stadium gevoer het, is van Afrikaans as “hibridiese taal” gepraat wat moet “integreer”. Wat op aarde? G’n wonder dan dat Standaard-Afrikaans as hoëfunksietaal moet veg vir oorlewing nie.
Alle sterkte daarmee. Mag dit suksesvol wees.

maarten boom ·

Kan darem Jax se verontwaardiging verstaan. Ek is n Hollander wat in SA vir 8 jaar gebly het. Hier in Nederland is daar geen begrip vir als wat in Suid Afrika gebeur ni en hulle ge ook ni om ni. Jan-publiek is ook maar net besig met hulle lewentjies en daar is soveel wat an die gang is in die wereld, dat Suid Afrika maar net een van die kwesties is. Ek vererger my my geloof uit as ek in my eie familie probeer te verduidlik wat gan an. Al wat ek terug kry is dat die blankes ni in SA behoor ni. So ja Jax, ek verstaan jou, mar tog is ek bly dat Afriforum bly veg vir als wat behoort aan die Afrikaner kultuur.

Kaufman ·

Dankie aan ons vriende in die lad lae lande, ons gaan mekaar se hulp nog nodig kry in die toekoms soos wat ons kulture verdryf probeer word, en saam kan ons sterk wees.

Josef du Toit ·

Afrikaans mag inderdaad nie afhanklik wees van SA-universiteite wat op hul beurt deur ‘n antagonistiese regering befonds word nie. Terwyl privatisering van Stellenbosch miskien meer wenslik sou gewees het, sal die ANK dit waarskynlik nie uit die kloue laat nie, en is die voorgaande stigitng van nuwe Afrikaanse privaat tersie^re instellings daarom prysenswaardig. Daarby is ook Afrikaanse ondersteuning en betrokkenheid by ‘n nie-benullige aantal Afrikaansgesinde instellings in die buiteland tegelyk sinvol. Die anti-apartheid Nuwe SA beheptheid wat lyk my dikwels steeds maar deel uitmaak van sulke plekke se etos, pas my egter nie so veel nie.

Arie ·

Ek hou inherent van wat in Ghent gebeur. Dit is n groep moedige stryders vir die behoud en uitbouing van Afrikaans.
Wat ongelukkig waar is is dat al is ek n sterk voorstaander vir die Afrikaans taal is ek nie bewus van daardie groep mense se bestaan en hul doelstellings nie. Hoeveel te meer die polities besluitnemers in RSA.
Op welke manier kan hulle dan n wesentlike invloed uit-oefening op die voortbestaan van Afrikaans.

Alana ·

Hallo Arie, hierdie is nie ‘n groep met doelstellings nie, dis die Afrikaanse departement van een van die beste universiteite in die wereld wat jaarliks ‘n akademiese byeenkoms oor Afrikaans hou. Die betekenis is onder meer dat wanneer Suid-Afrikaanse openbare universiteite Afrikaans en Afrikaanssprekendes al meer uit die akademiese omgewing uitsluit, Gent en ander buitelandse universiteite geleenthede skep vir die bevordering van die taal en vir die uitruil van studente en dosente. Sulke verhoudings gaan van sleutelbelang vir Afrikaanse onderwysinstellings in die toekoms wees. Geen land of taal is ‘n eiland nie, ons moet bou aan internasionale verhoudings om te verseker die instellings wat ons hier bou, handhaaf die hoogste standaarde. Die honderd mense wat hier byeen was, is akademici en meningsvormers wat teruggaan na hulle instellings in Europa en elders waar hulle met hulle studente en medewerkers praat en so groei die steun vir ons plaaslike taalprojekte, of dit nou die bou van ‘n Afrikaanse universiteit is, of ‘n hofsaak oor taal. Niemand in die buiteland gaan ons taal vir ons red nie, ons sal die harde werk in Suid-Afrika vir onsself moet doen, maar mense in die buiteland kan help dat wat ons doen en hoe ons dit doen, volgens internasionale standaarde gedoen word.

Henry ·

Dankie Alana dat jy verdere toeligting verskaf oor Gent Universiteit se welkome inisiatiewe om ons Taal se groei en voortbestaan te ondersteun.

Verstommend dat daar siele is wat Gent en ander goedgesinde instellings in die Beneluxstate se hulp en bystand om ons Taal wyer te laat gedy, veroordeel. Ons familie het eweneens vir donkie jare in Vlaandere gewoon en die Vlaminge se waardering vir ons jong Taal eerstehands beleef en geniet – oa in Gent en Leuven…

Niel ·

Afrikaans sal beter vaar as mense ophou om Engelse woorde soos: actually, obviously, awesome ens. te gebruik. Dit irriteer my grensloos

Merkur ·

Dankie vir die goeie werk vir ons taal en die berig daaroor. Ek is baie bly on daarvan te hoor. Dit inspireer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.