Afrikaans oral en vir almal

Flip Buys van die Solidariteit Beweging neem deel aan die gesprekreeks: “Probleme en oplossings vir Afrikaans.

Daar is al baie gepraat en geskryf oor die oorsake en oplossing vir die krisis waarin Afrikaans verkeer.

Die Solidariteit Beweging het ʼn praktiese benadering, en probeer om uitvoerbare oplossings in plek te kry.

Die oorsake van die probleem kan kortliks soos volg opgesom word:

  1. Die getalleverhoudings en landswye verspreiding van die verskillende taalgroepe in die land.
  2. Die ontoereikende Grondwetlike en statutêre voorsiening vir veeltaligheid.
  3. Die regering se voorkeurhantering van Engels.
  4. Engels-gedrewe globalisering en oorheersing van die Engelse media, -kultuurmag en die Engelse sakereuse wat die proses dryf.
  5. Onvermoë van Afrikaanssprekendes en sprekers van ander inheemse tale se onwilligheid om hulle tale doeltreffend te beskerm en te bevorder.

Die meervoudige en ingewikkelde oorsake vir die probleem beteken dat ʼn oplossing nie eenvoudig is nie. Die gevaar bestaan dat die omvang van die probleem so oorweldigend is dat dit so verlammend inwerk dat mense in die praktyk maar die Engelse taaloorheersing begin aanvaar.

Daarom het die Solidariteit Beweging op ʼn omvattende praktiese aksieplan besluit, sonder om die ander onderdele van ʼn taalstrategie te verwaarloos.

Die doel van ons Taalstrategie is om die Afrikaanse leefwêreld en leefruimte te vergroot en ʼn Afrikaanse herlewing te bewerk. Hierdie praktiese benadering kom daarop neer dat ons elke moontlike kanaal en metode inspan om ons taal te bevorder.  Ons Taalplan “Afrikaans orals en vir almal” kan in ʼn neutedop as volg opgesom word:

  • Die bevordering van die Afrikaanse media en die Afrikaanse taal en kultuur;
  • Die ontwikkeling van ʼn netwerk van sterk “selfhelp” taalinstellings en organisasies as taalvermenigvuldigers op belangrike lewensterreine;
  • Die beskerming van Afrikaanssprekendes en Afrikaners se breë belange;
  • Die bevordering van goeie betrekkinge onder alle sprekers van Afrikaans;
  • Bevordering van Afrikaans in die ekonomie en ander belangrike terreine;
  • Die mobilisering van Afrikaanse koopkrag ten bate van Afrikaans;
  • Die verdediging en bevordering van wetlike taalregte;
  • Die bevordering van Afrikaanse opleiding deur die vestiging van ʼn telematiese Afrikaanse universiteit en kolleges en massa beursskemas vir Afrikaanse studente en werknemers;
  • Buitelandse steunwerwing vir Afrikaans;
  • Bevorder toeganklikheid van Afrikaans deur vertaling en wye verspreiding deur elektroniese kommunikasie;
  • Taalnavorsing vir algemene gebruik van almal wat ons taal wil bevorder;
  • Maatskaplike hulp aan behoeftige Afrikaanssprekendes;
  • Bevordering van Afrikaanse musiek.

Hierdie plan word prakties in werking gestel deur die volgende projekte:

1. Tydskrif

Ons tydskrif se oplaag is al oor die 100 000, wat dit amptelik (ABC syfers) een van die Afrikaanse “Groot 5” maak.

2. Elektroniese media

Ons taalstrategie word sterk in die nuwe media gedryf deur verskeie elektroniese nuusbriewe. Meer as 480 000 nuusbriewe word maandeliks aan ons 170 000 aktiewe lede beweging uitgestuur.Die Beweging maak omvattend gebruik van die nuwe elektroniese media soos internet-blogs, Facebook, Twitter en ander media – met ʼn gesamentlike lesertal van bykans 250 000 lesers.Ons doel is om te sorg dat die Afrikaanse markaandeel op die internet en in die nuwe media groei.

3. Maroela Media

Maroela Media is ʼn internet-taalsentrum en Afrikaanse kuierplek wat uitgebou word tot ʼn omvattende multimedia-platform. Die doel is om uiteindelik ʼn uitgebreide nuus-, tydskrif-, debat-, radio en visuele taalsentrum te wees.

4. Beskerming van sprekers

Afrikaanssprekendes se belange moet doeltreffend genoeg beskerm word sodat hulle nie na Engelse lande uitwyk nie. Daarom is ons visie om ʼn toekoms te skep waar Afrikaners en Afrikaanssprekendes ook vry, veilig en voorspoedig kan wees sodat hulle ʼn blywende bydra tot die welstand van die land en al sy inwoners kan maak. Talle projekte word geloods om dit reg te kry, omdat Afrikaans se toekoms in Suid-Afrika beslis gaan word, en nie in Australië nie.

5. Afrikaanse “taalfabrieke” (instellings)

ʼn Taal word deur sterk instellings op elke terrein gedra en geleef.  Daarom vestig en ondersteun ons Afrikaanse instellings op sleutelgebiede soos onderwys, kultuur, taal, maatskaplike, erfenis, media en ander gebiede.

6. Afrikaans in die werksplek

Die vakbond Solidariteit beskerm Afrikaans en sy sprekers in die werksplek, die handel en die ekonomie.

7. Taalregte

AfriForum bedryf ʼn taalregte-kantoor en tree gereeld op om Afrikaanse taalregte te beskerm. Talle sake is al gewen en skikkings bereik.

8. Afrikaanse opleiding

Die Beweging bedryf die enigste Afrikaanse tegniese kollege in die land (800 studente) en het pas die eerste fase van ʼn landswye virtuele Afrikaanse afstand-universiteit begin.

Daar is ook verkeie veldtogte om Afrikaans by ander universiteite te beskerm.  Daar word jaarliks meer as 500 beurse en rentevrye lenings aan Afrikaanssprekende studente gegee, wat binne ʼn jaar verdubbel gaan word met ons nuwe Opleidingsfonds. Ons beplan tans ʼn groot Afrikaanse kampus om ons opleidingsprojekte te huisves.

9. Afrikaanse onderwys

Ons het verskeie projekte om Afrikaanse skole te ondersteun met regshulp, skryfbehoeftes, boeke, voedingsprojekte en ander hulp.  Daarby het die Helpende Hand ʼn skolesteunsentrum begin om deur middel van vakverenigings, onderwysopleiding te steun. Ons werk graag saam met onderwysinstellings soos die SA Onderwysunie en Fedsas.

10. Buitelandse steunwerking

Die Beweging werf aktief steun in Europa vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes.

11. Afrikaanse koopkrag vir Afrikaans

Afrikaanse koopkrag word mobiliseer met projekte soos “Virseker” wat se opbrengs in Afrikaanse opleiding teruggeploeg word. Virseker het onlangs R1 miljoen vir die Rapport Onderwysfonds geskenk.

12. Taalburo

Die beweging het ʼn taalkantoor wat op ʼn wesenlike skaal vertaalwerk doen om te verseker dat Afrikaans tot sy reg kom en dat wette en ander dokumente vertaal word.

13. Kraal Uitgewers

Kraal Uitgewers gee gehalte Afrikaanse boeke uit en het reeds sy merk gemaak.

14. Afrikaanse Taalraad

Die Solidariteit Beweging is goed verteenwoordig in die Afrikaanse Taalraad en werk daardeur aan goeie betrekkinge met alle Afrikaanssprekendes.

15. Afrikaanse taal en kultuur

Die FAK is nou ʼn selfstandige deelnemer van die Solidariteit Beweging en ʼn omvattende reeks projekte om taal én kultuur te bevorder, word onderneem.

16. Musiek

Die jaarlikse Afrikaanse musiekfees van AfriForum is die grootste in die land – met meer as 30 000 mense wat dit bywoon. Die FAK se bekendste sangbundel word hierdie jaar 75 jaar oud en vorm deel van ons bevordering van Afrikaanse musiek.

17. Afrikaanse navorsing

Omvattende navorsing oor Afrikaans en sy sprekers word jaarliks gedoen.  Die FAK beplan nou om ʼn jaarlikse spieël van die Afrikaanse wêreld uit te gee.

18. Maatskaplike hulp

Die Solidariteit Helpende Hand verleen ʼn wye reeks landswye dienste aan die Afrikaanse gemeenskap.

19. Afrikaanse Radio

Die Beweging sluit vennootskappe met Afrikaanse gemeenskapsradiostasies in en glo dat dit ʼn belangrike deel van ʼn Afrikaanse strategie moet vorm omdat dit ʼn groot vermenigvuldiger kan wees.

20. Taalprojekte

Die beweging ondersteun talle Afrikaanse projekte oor ʼn wye front.

Toekomsblik

Om Afrikaans se “markaandeel” te beskerm en verder te vergroot sal hierdie Taalplan vergroot en versnel moet word. Ons sal ook die voorwaardes vir die oorlewing en groei van Afrikaans in plek moet stel, en doen tans verdere navorsing daaroor. Die toekoms van Afrikaans gaan bepaal word deur wat ons almal vandag doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.