Afrikaans: Probleme en Oplossings

Maryn Botha van Helpende Hand Vroue in Aksie neem deel aan die gesprekreeks: Probleme en oplossings vir Afrikaans.

Die probleem
Baie Afrikaanse ouers is bekommerd oor die toekoms van hulle kinders in Suid-Afrika. Hulle glo dus dat dit in die kinders se belang is om Engelse skole by te woon ten einde hulle beter voor te berei op werksgeleenthede buite Suid-Afrika. Dit gebeur dan dikwels dat nie net die kinders nie, maar ook die ouers geleidelik verengels.

Die Afrikaanssprekende het te maklik aanvaar dat sy taal nie meer ’n plek het in die milieu waarbinne hy daagliks beweeg nie en geredelik begin glo dat om maar oral oor te skakel na Engels, die enigste opsie is.

Die gemiddelde Afrikaanssprekende kan nog nie (of wil nie) aanvaar dat die voortbestaan van Afrikaans in die hande van die spreker daarvan lê nie en glo ook nie dat dit nodig is om daaroor standpunt in te neem nie, terwyl sommiges selfs heeltemal apaties begin staan teenoor die voortbestaan en ontwikkeling van die taal.

Die internet is nog nie as belangrike bron van inligting baie Afrikaans-vriendelik nie.

Die Oplossing
Keer die persepsie om dat net die leerder wat in ’n Engelse skool onderrig ontvang het homself in die arbeidsmark (plaaslik of oorsee) sal kan handhaaf deur groter publisiteit te gee aan die prestasies van juis die leerders in Afrikaanse skole op akademiese sowel as sportgebied.

Die matriekuitslae van 2011 het bv. weer eens bewys dat Afrikaanse hoërskole steeds die top presteerders is, terwyl daar telkens bewys word dat die Afrikaanssprekende leerder hom baie gemakliker in Engels kan handhaaf as wat omgekeerd die geval is.

Gee meer publisiteit en erkenning aan Afrikaanssprekendes wat oorsee sowel as plaaslik belangrike poste beklee en groot bydraes lewer op verskeie terreine. Moedig hierdie persone ook aan om trots te bly op hul taal deur spesiale toekennings aan hulle te maak.

Moedig Afrikaanse kultuurorganisasies en ook die media aan om kreatiewe metodes te vind om gemeenskappe bewus te maak daarvan dat hulle as Afrikaanssprekendes wel die reg het om in hul eie taal bedien te word, veral daar waar dit noodsaaklik is soos byvoorbeeld waar besigheidstransaksies ter sprake is. Moedig hulle aan om hierdie reg op vriendelike, waardige, dog besliste wyse af te dwing en staan hulle ook by waar nodig.

Alles behoort op hierdie stadium in die stryd gewerp te word om die Afrikaner se trots en geloof in sy taal, sy kultuur en sy identiteit in ere te herstel of wakker te maak. Daar sal egter baie deeglik besin moet word oor die wyse waarop dit gedoen kan word en veral daarteen gewaak moet word om in ons pogings (hoe goed ook al die bedoeling) eerder die teenoorgestelde te bereik. Waar daar bv. in die media foto’s verskyn van studente wat op ’n kampus met duisende studente betoog vir hulle regte en slegs ’n skrale 30 daag op vir die betoging (of optog) is die beeld wat vertoon word eerder pateties as oortuigend. Ons skep ʼn forum vir vroue om op takvlak hierdie saak voortdurend aan te spreek. Waar ons by ouerleidingklasse betrokke is, word die feit dat trots op jou taal en die goeie gebruik daarvan in die ouerhuis vasgelê en gehandhaaf word.

Skep geleenthede vir die Afrikaner jeug om te toon waartoe hulle in staat is en watter bydraes hulle kan lewer tot die toekoms van die Afrikaner in sy eie land… wat hom klaarblyklik op die oomblik nie baie goedgesind is nie… deur blootstelling te gee aan redenaarskompetisies, opstelwedstryde, kunsuitstallings, eisteddfods, ens. Ondersteun ook organisasies soos die ATKV wat vir leerders geleenthede bied op ʼn hoë vlak.

Gee erkenning waar goeie diens in Afrikaans ontvang word soos bv. deur kelners en winkelassistente. Oorweeg miskien ʼn ekstra fooitjie vir die kelner en spreek ook waardering uit vir die vriendelike diens in Afrikaans teenoor die baas of bestuurder.

Alhoewel die meeste Afrikaanssprekendes dit waarskynlik nie baie moeilik vind om inligting van die internet af te bekom nie, al is dit feitlik slegs in Engels beskikbaar, behoort daar meer gedoen te word om inligting in Afrikaans beskikbaar te stel, veral aangesien selfs laerskool leerders van die internet afhanklik is vir die verkryging van inligting. Om hierdie inligting op die webtuistes beskikbaar te stel in Afrikaans, kan ter selfder tyd ’n geleentheid tot werkskepping wees.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae