Afrikaans: Probleme en oplossings

Die versoek onlangs gerig aan my om oor die onderwerp “Probleme en oplossings vir Afrikaans” te skryf het my vir ‘n oomblik laat regop sit en laat wonder of die onderliggende denke wat aanleiding gee tot formulering van onderwerpe waarin Afrikaans verabsoluteer word, nie dalk die eintlike probleem is nie.

Want nie net word Afrikaans as taal verheerlik en selfs verafgod deur dit as sulks aan te bied as ‘n mag of entiteit in eie reg wat probleme ervaar waarvoor daar oplossings gesoek moet word nie, maar dit word boonop verhef tot ‘n vlak wat by implikasie sy sprekers en gemeenskappe wat dit besig, blatant reduseer tot ondergeskiktes wat die taal dien. In plaas daarvan dat die taal hulle dien!

Hierdie ‘Die taal is gans het Volk’ – benadering en vervreemding van die werklikheid kan ek nié mee saamleef nié.

En sou ek dus verkies het dat die onderwerp eerder soos volg geformuleer moes word: “Afrikaans in diens van al sy sprekers: Probleme en Oplossings!” Vergeef my dus as ek die onderwerp vanuit hierdie hoek aanpak deur die sprekers van Afrikaans en die gemeenskappe wat dit besig as prioriteit te stel en daarmee saam die stand van Afrikaans as uitvloeisel te ondersoek.

Dit is egter belangrik om in ag te neem dat hierdie onderwerp ‘n intensiewe en omvattende wetenskaplike studie vereis ten einde reg daaraan te laat geskied. In hierdie artikel sal ek slegs probeer om ‘n bepaalde raamwerk op te stel waarvolgens so ‘n studie gedoen behoort te word. Die voorbeelde wat verband hou met bepaalde probleme en oplossings soos uiteengesit in die matriks aan die einde van die teks is dus hipoteties van aard.

Ter inleiding die volgende:

Die Afrikaanse gemeenskap is ‘n diverse en komplekse gemeenskap. Deels is dit toe te skryf aan ons pre-koloniale, koloniale-, Britse imperiale- en Apartheidsgeskiedenis, maar vandag hou dit eerder verband met die unieke en gedeelde ekonomiese, sowel as opvoedkundige, kulturele, godsdienstige, sosiale, politieke, tegnologiese en geografiese agtergrond, blootstelling, interaksie en mobiliteit van Afrikaanssprekendes.

Dus, in ons soeke na oplossings vir die probleme en oplossings wat verband hou met Afrikaans, kan ons nie ‘n simplistiese en stereotipe benadering volg en ‘n ondersoek van hierdie omvang op ‘n eng etniese of kultuurspesifieke grondslag van stapel stuur nie. Tydens die afgebakende orde van die verlede, kon so ‘n benadering dalk werk en ís dit dikwels om ideologiese redes ook so gedoen. Die Theron-kommissie se studie getiteld ‘Aangeleenthede rakende die Kleurlingbevolkingsgroep’ gedurende die sewentigjare is ‘n sprekende voorbeeld.

Vandag bevind Afrikaanssprekendes hulle egter saam met die res van die Suid-Afrikaanse bevolking in ‘n oop samelewing. Hulle is nie gebonde tot ‘n bepaalde ideologiese inslag nie. Vloeibaarheid in terme van denke, standpunte, assosiasie en affiliasie is aan die orde van die dag.

As vertrekpunt vir so ‘n studie moet daar dus liefs op die veelvlakkige agtergrond, blootstelling, interaksie en mobiliteit van Afrikaanssprekendes waarna ek vroeër verwys het en daarmee saam die stand van Afrikaans as taal, as identiteitsmerker en as holistiese bemagtigingsmedium binne ‘n bepaalde konteks, gefokus word.

Navorsingsvoorstel:

In die praktyk is daar vele opsies waarvolgens die studie gedoen kan word. Ek doen egter aan die hand dat die volgende stappe gevolg word:

Stap een: Skep ‘n matriks per gemeenskap

Stap twee: Plaas die ekonomiese, opvoedkundige, kulturele, godsdienstige, sosiale, politieke, tegnologiese en geografiese terreine ondermekaar aan die linkerkant van die matriks en skep terselftertyd vier onderafdelings – agtergrond, blootstelling, interaksie en mobiliteit – vir elke terrein.

Ter verheldering, hiermee ‘n paar gedagtes wat kan bedoel word met agtergrond, blootstelling, interaksie en mobiliteit. Dit word gekoppel aan die ekonomiese element:

Voorbeeld:
– Ekonomiese agtergrond hou verband met die aantal Afrikaanssprekendes in ‘n bepaalde munisipale gebied of gemeenskap wat voltyds in diens is, wat werkloos is, wat ‘n inkomste ontvang deur ‘n eie besigheid te bedryf, wat ouderdomspensioen of welsynstoelaes ontvang.
– Ekonomiese blootstelling hou verband met persoonlike belangstelling in ekonomiese sake, skakeling met regeringsinstansies en finansieringsinstellings om inligting te bekom en benutting van geleenthede vir persoonlike welvaartskeppende doeleiendes.
– Ekonomiese interaksie hou verband met internasionale, nasionale en provinsiale kontak vanweë in- en uitvoer van produkte, kontak met ander tale en kultuurgroepe en die status van Afrikaans in so ‘n multi-kulturele of internasionale konteks teenoor ‘n taal soos Engels.
– Ekonomiese mobiliteit van Afrikaanssprekendes hou verband met die verwerwing van kwalifikasies en bepaalde beroepsvaardighede in Afrikaans,waar die persoon werk kry of verkies om te werk en die impak van migrasie van anderstaliges na ‘n gebied wat oorheersend Afrikaans is.

Stap drie: Stel vraelyste op, doen navorsing, verkry nuutste inligting vanaf Statistiek SA of ander bronne.

Stap vier: Benut hierdie inligting om die impak daarvan op Afrikaans as taal, as identiteitsmerker en bemagtigingsinstrument te bepaal en om met oplossings vorendag te kom.

Ter verheldering, hiermee ‘n paar gedagtes oor hoe Afrikaans as taal, as identiteitsmerker en bemagtigingsinstrument byvoorbeeld met ekonomiese agtergrond, blootstelling, interaksie en mobiliteit gekoppel kan word:

– Ekonomiese agtergrond, blootstelling, interaksie en mobiliteit hou bepaalde uitdagings vir Afrikaans as taal in.
o As sprekers van Afrikaans geen ekonomiese waarde daarin sien nie, dan migreer hulle na ‘n taal soos Engels in die hoop dat dit hulle kinders tot ekonomiese voordeel sal strek.
– Ekonomiese agtergrond, blootstelling, interaksie en mobiliteit hou bepaalde uitdagings vir Afrikaans as identiteitsmerker in.
o In sektore waar Afrikaans nie die amptelike kommunikasiemedium is nie, handhaaf die sprekers van Afrikaans nie dieselfde sentimente oor kulturele bewustheid wat andersins in ‘n omgewing gevind word waar Afrikaans die amptelike kommunikasiemedium is.
– Ekonomiese agtergrond, blootstelling, interaksie en mobiliteit hou bepaalde uitdagings vir Afrikaans as bemagtigingsinstrument in.
o Diegene wat in Afrikaans opgelei word en hul tersiêre studies in Afrikaans doen ag dit as ‘n waardevolle bate. Indien Afrikaanssprekendes hul verdere studies in Engels doen en die omgewing waar hulle werk kry oorwegend Engels is, ag hulle Afrikaans nie as ‘n bemagtigingsinstrument nie.

Stap vyf: Identifiseer moontlike oplossings vir die probleme soos uiteengesit in stap vier.

Ten slotte:

Ek is van mening dat te dikwels word ‘n paar skote in die donker afgevuur in die hoop dat ‘n paar teikens getref sal word ten einde by die oplossings uit te kom. So kan ons nie voortgaan nie. Die tyd het aangebreek om ‘n omvattende studie te doen en aan die hand van wetenskapliknagevorste uitkomstes ‘n plan van aksie van stapel te stuur om Afrikaans in diens van sy totale sprekersgemeenskap te posisioneer en seker te maak dat dit waarde op elke terrein toevoeg. Vir so ‘n aksie word die toewyding en ondersteuning van die totale Afrikaanse gemeenskap benodig.

Klik hier om die ander deelnemers se bydraes te lees.

Aanhangsel:

Voorbeeld van matriks:


Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Christo van der Rheede

Meer oor die skrywer: Christo van der Rheede

Christo van der Rheede is die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Piet le Roux ·

Afrikaans is inderdaad nie ‘n entiteit in eie reg wat, onafhanklik van mense se belewings in verband daarmee, probleme kan ervaar nie. Dit was ook nie bedoeling om dié indruk te skep nie en die formulering van die tema as “Probleme en oplossings vir Afrikaans” moet gesien word in die lig van die motivering wat daarmee saamgaan.

In die brief waarmee verteenwoordigers van verskeie Afrikaanse belange-organisasies genooi is om tot die tema by te dra, was juis versoek dat deelnemers eie inhoud gee aan die formulering van waarmee hulle besig is.

Christo se formulering van die onderwerp is daarom insiggewend – en volledig binne die tema – as ‘n voorbeeld van hoe die bestuur van ‘n vooraanstaande Afrikaanse belange-organisasie sy probleem konseptualiseer en hoedat daardie konseptualisering die antwoord rig.

~Red.

Gemsbok ·

Beste Christo,

Ek dink jy maak ‘n baie belangrike punt: Afrikaans se oorlewing hang af van sy diensbaarheid vir sy sprekers. Ander skrywers noem dit relevansie.

Indien Afrikaans nie vir mense geleenthede bied nie, gaan mense ‘n taal aangryp wat wel vir hulle deure open en in Suid-Afrika se geval is Engels duidelik die taal wat voorgehou word wat reeds ‘n wêreld vol geleenthede aanbied.

Die vraag is egter hoe hierdie projekte wat jy voorstel, beginnende by die wetenskaplike studie wat jy bepleit tot die oprig van instellings wat plaaslike vaardigheidsontwikkeling behartig en steun vir kleinsake in Afrikaans bied, gefinansier en uitgevoer gaan word?

Om die leemte raak te sien is een ding, om dit te vul met waarde iets heeltemal anders.

Die bevordering van die diensbaarheid van tale is dus iets wat befonds moet word, maar dit is nie ‘n goedkoop belegging nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.