ʼn Heftige debat woed tans in Suid-Afrika oor wat in die volksmond die pragtige naam “Taalpaal” gekry het – die Afrikaanse Taalmonument (ATM) in die Paarl. Dit na aanleiding van die standpunt van die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, dat die “Afrikaans” in die naam van die ATM moet verdwyn om die monument meer inklusief te maak.
Oppervlakkig beskou, gaan dit bloot oor die ATM se naam. Kyk jy dieper, gaan dit om iets meer fundamenteel, naamlik oor die plek wat die Afrikaanse taal in die huidige Suid-Afrika beklee. En as jy nóg dieper grawe, gaan dit oor die plek van die Afrikaners in die land.
Die kwessie het begryplikerwys diepgaande emosies uitgelok. Twee standpunte, op die oog af onversoenbaar, staan teenoor mekaar. Enersyds meen sommige, soos die minister klaarblyklik doen, dat Afrikaans in ʼn naam identies met uitsluiting en diskriminasie is. Oor die feitelike reg en verkeerd van die standpunt kan ʼn mens gerus verskil, maar op die keper beskou, gaan dit om iets emosioneel – en dít het dikwels met gewaarmerkte feite maar min te make.
In die ervaring van baie swart mense was dit die Afrikaners wat hulle deur middel van die apartheidsbeleid onderdruk het. En aangesien apartheid (en die aandrang op Afrikaanse taalregte) ʼn sentrale element van die Afrikanernasionalisme was, is dit in ʼn sekere sin begryplik dat die taal in die gemoedere van mense soos Mthethwa ʼn onaangename smaak laat. Dus: In die gemoedere van mense soos die minister is die “Afrikaans” in die ATM se naam identies met ʼn vashou aan ʼn element van apartheid. Gevolglik moet dit verdwyn.
Is dit begryplik? Tot op sekere hoogte, ja. Is dit korrek? As jy kyk na die foto’s wat die Afrikaanse dagblaaie oor die betoging vir die behoud van die ATM se naam geplaas het, sien jy ʼn falanks van bruin gesigte aan die voorpunt, met ʼn paar blekes agter hulle.
Feit is dat die Afrikaners die taal in die 20ste eeu feitelik foutief as hul eksklusiewe eiendom toegeëien het. Emosioneel is ook dít begryplik, want die taal was ʼn belangrike element van die opbloeiende Afrikanernasionalisme. Dis maklik om te veroordeel, maar waar jy veroordeel, moet jy dit met begrip doen.
Maar dit neem nie weg dat die skeppers van Afrikaans nie slegs wit was nie. Bruines het in die praktyk net soveel aan die taal gebou – en gevolglik is hulle mede-eienaars van die taal, enige tyd net soveel as die wit Afrikaners. Dít is wat my betref die grootste voordeel van die huidige rusie: Dat soveel bruin Afrikaanssprekendes saam met hul wit taalgenote in opstand kom om hul gesamentlike taalmoeder te beskerm. Dit kan die begin van ʼn groot deurbraak wees.
Maar daar is meer. Daar is heelparty dokumente, nasionaal en internasionaal, wat taalregte in die algemeen erken. Kom ons begin naby aan die huis. In artikel 6 van die Suid-Afrikaanse Grondwet word Afrikaans naas nege swart tale as amptelike taal van die land erken. Nasionale en provinsiale regerings kan enige taal gebruik, maar moet “minstens twee amptelike tale” gebruik – ʼn bepaling wat daagliks ten gunste van ʼn Engelse eentaligheid geïgnoreer word.
Volgens artikel 29(2) mag elkeen onderwys ontvang in die taal van eie keuse waar dit “redelikerwys doenlik is”. Dan volg dié belangrike sin: “Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings oorweeg…”
En artikel 31 bepaal uitdruklik dat niemand die reg ontsê mag word om “(a) hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en (b) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie”.
Wel, die bepaling oor “enkelmediuminstellings” is nie regstreeks op die ATM van toepassing nie, maar vorm saam met die ander aangehaalde artikel deel van ʼn verdraagsame kultuur teenoor taalgemeenskappe se regte om hul eie kultuur te beoefen en te koester. Mthethwa se eis aan die ATM druis regstreeks teen daardie kultuur in en is, om dit regstreeks te stel, ongrondwetlik.
Dié kultuur kom ook, al is dit meer by implikasie, voor in die Universele Verklaring van Menseregte. Daar bepaal artikel 2 dat almal, afgesien van “ras, kleur, geslag, taal, godsdiens, politieke of enige ander mening, nasionale of sosiale afkoms, eiendom, geboorte of ander status” geregtig is op die menseregte wat in die Verklaring bespreek word. Let op dat taal geen regverdiging is vir diskriminasie nie – en dit is presies wat Mthethwa wil doen.
Daar is ander internasionale dokumente wat ook taalregte eksplisiet beskerm. In artikel 27 van die Internasionale Handves vir Burgerlike en Politieke Regte van die VN (1966), staan:
“In daardie state waar etniese, religieuse of taalminderhede bestaan, sal mense wat aan sulke minderhede behoort nie die reg ontsê word om saam met die ander mense van hulle groep hul eie kultuur te beoefen, hul eie godsdiens te bely en te beoefen, of hul eie taal te gebruik nie.”
Teen dié agtergrond maak die Raad van die ATM se reaksie tot dusver ʼn flou indruk. Dalk is dit takties verstandig, maar sou ʼn duidelike prinsipiële standpunt ook by die minister nie meer indruk maak as om net mense se menings in te win en self vervolgens geen standpunt in te neem nie?
Ek het ook vrae oor die DA se poging om die Wes-Kaapse provinsiale regering (wat hy oorheers) die beheer oor die ATM te laat oorneem. Is dit verstandig om énige owerheidsinstansie seggenskap oor die ATM te gee? Is dit nie beter om die monument volledig buite die partypolitiek te hou, te privatiseer en onder die beheer van die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap te plaas nie?
Hoe ook al: In sy kruistog ontbloot Mthethwa homself as iemand wat nie in staat is om verby ʼn agterhaalde grief te beweeg nie, wat deur die verlede gevange gehou word en nie na ʼn nuwe toekoms kyk nie. Dit maak van hom ʼn swak minister wat so gou moontlik vervang moet word.
Stem saam, die monument moet geprivatiseer word. Mens kan nie ‘n sentimeter prysgee nie want die ANC werk soos ‘n scrum. Hul vat wat hul wil he een voetjie op ‘n slag en hou nie op tot hul alles het nie.
Dr. Scholtz is korrek dat die ATM “volledig buite partypolitiek” gehou moet word.
Dis egter die foutiewe stelling dat “Afrikaners die taal in die twintigste eeu as hul eksklusiewe eiendom toegeëien het”, wat grootliks verantwoordelik is vir die onredelike, vyandige aanslag teen Afrikaans deur die ANC- regime, asook by elke universiteit in die land.
Afrikaans sou slegs “eksklusief” kon wees as Afrikaners nié die taal gegun het vir ander nie. Die teenoorgestelde is tog eerder waar, soos elke swart skoolkind kan getuig.
Om Afrikaans uit ATM te verwyder, is belaglik, kleinlik en onnosel en kan gerus só aan die betrokke minister verduidelik word.
Vir my was dit altyd net ‘Die Taalmonument’, en ons het so daarna verwys. “Ons gaan Sondag bietjie na Die Taalmonument toe”, het Pa altyd gesê. So as die sot die ‘Afrikaanse’ gedeelte wil vat, verander dit persoonlik niks aan wat die plek vir my beteken nie. Maar nou ja, obviously gaan dit nie net oor die naam nie – dit gaan oor die deurmekaar meneer Gheberga