Afrikaans se toekoms nie in regeringshande

Dr. WF Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, neem deel aan die gesprekreeks, Probleme en Oplossings vir Afrikaans.

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal praat nie in die openbaar OOR die toekoms van en probleme rondom Afrikaans nie, maar is elke dag aktief besig om iets te DOEN wat ‘n verskil kan maak aan daardie probleme en Afrikaans se toekoms.

Die taak van die WAT is om die Afrikaanse taal in sy wydste omvang op te teken: nie net Standaardafrikaans nie, maar ook streektaal, geselstaal, vloektaal en die ryke verskeidenheid Afrikaanse uitdrukkings.  Ook die ander variëteite van Afrikaans, benewens die standaardvariëteit, soos Namakwalands en Kaaps is vir die WAT van groot belang.  Hiervoor ontvang ons ‘n jaarlikse subsidie van R1,2 miljoen van die staat, maar ons begroting bedra tans R3,8 miljoen omdat ons veel meer vir Afrikaans en veeltaligheid in Suid-Afrika  wil doen.  Indien die WAT nie voltooi word nie, sal die Afrikaanse taal nooit volledig opgeteken word nie.

In ‘n land wat amptelik voorkeur gee aan Engels moet Afrikaanssprekendes opnuut bewus gemaak word van die kleurrykheid, verskeidenheid en seggingskrag van hul moedertaal – ook dat Afrikaans dinamies is en dat sy sprekers nog skeppend daarmee kan omgaan.  Daarom het ons in samewerking met Absa begin met die jaarlikse kompetisie Borg ‘n Woord waarin R25 000 in ‘n prystrekking gewen kan word.  RSG was ook ‘n vennoot in hierdie kompetisie en daar is oor ‘n tydperk van drie maande weekliks verslag gedoen aan die meer as 1,5 miljoen luisteraars van Monitor.  Ook die Afrikaanse koerante en Huisgenoot het die boodskap uitgedra. Bekende Afrikaanse skrywers, akteurs, radio-omroepers, oud-politici, universiteite, skole, organisasies soos Afriforum en Solidariteit en meer as drie duisend ander Afrikaanssprekendes het deelgeneem, ook vanuit Engeland, Australië, Nieu Seeland, Amerika, Pole en Rusland.  Meer as R500 000 van die jaarlikse tekort van R2 miljoen op die WAT se begroting is sodoende ingesamel.

Met Virseker en RSG as vennote is ‘n nuutskeppingkompetisie met prysgeld van R27 000 in Maart vanjaar geloods. Daar is vir tien dae lank elke dag meer as ‘n honderd en twintig pogings tot Afrikaanse nuutskeppings by die WAT ontvang.   Terselfdertyd is daar in samewerking met die Woordfees op Stellenbosch ‘n Velddraf met Woorde gehou.  Die 500 deelnemers het nie met nommers nie, maar met Afrikaanse woorde voor die bors aan die wedren deelgeneem.  Agterna is hulle die geleentheid gebied om “hulle” woorde te borg as deel van Borg ‘n Woord.

Soos ‘n honderd jaar gelede, stuur al hoe meer Afrikaanssprekendes hulle kinders na Engelse skole.  Daarom is dit vir die WAT belangrik om die skoolgaande jeug bewus te maak van die trefkrag, uniekheid en rykdom van Afrikaans.  Daarom hou ons in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die Universiteit Stellenbosch se Gemeenskapsaksie werkwinkels by hoër- en laerskole in die gebruik van elektroniese woordeboeke.  Lesplanne vir die onderrig van Afrikaans met gebruikmaking van elektroniese woordeboeke word aan Afrikaans-onderwysers verskaf.  Sodoende hoop ons om ‘n bydrae tot die verbetering van Afrikaans-onderrig op skool te lewer. Skoolgroepe en studente (o.a. vanaf Soshanguwe Kampus van die Tshwane Universiteit van Tegnologie, UJ, US, Fonteys Hogere School in Eindhoven en ander Nederlandse instellings) besoek jaarliks die WAT vir lesingpraatjies oor Afrikaans en woordeboeke.

Ons universiteite is aan die verengels en daarom is die Elektroniese WAT op die intranet van sewe Suid-Afrikaanse universiteite geïnstalleer. So word studente landwyd daarvan bewus gemaak dat Afrikaans aktueel, relevant en modern is en ook wetenskaplik gedokumenteer word.  Bykans 300 000 studente het so daagliks gratis toegang tot die WAT.   In 2011 is Basic Afrikaans The top 1 000 words and phrases gepubliseer in samewerking  met die Vriende van Afrikaans. Dit is primêr bedoel as hulpmiddel vir nie-Afrikaanstalige studente op oorwegend Afrikaanse kampusse. Dit word teen kosprys beskikbaar gestel aan universiteite wat meer as 100 kopieë aankoop.  Sodoende probeer die WAT ‘n werklike bydrae maak tot die welsyn van Afrikaans aan ons universiteite.

Om die waardering van en belangstelling in Afrikaans onder moedertaalsprekers lewend te hou, beantwoord die Hoofredakteur en die  Eindredakteur van die WAT op die laaste Sondag van elke maand luisteraars se taalnavrae in die program Die Tale wat ons Praat van RSG.  Elke Vrydagoggend om tien voor ag bespreek die hoofredakteur ‘n Woord van die Week op Monitor met sy meer as 1,5 miljoen luisteraars.  Vier maal ‘n jaar bied die WAT ‘n Woordpret-geleentheid in Stellenbosch aan waartydens blootstelling verleen word aan ‘n Afrikaanse skrywer, verteller of sanger en ‘n Afrikaanse wynlandgoed die geleentheid kry om sy wyne bekend te stel.  Elke Saterdag verskyn daar ‘n aanhaling uit die WAT of die Etimologiewoordeboek van Afrikaans op die hoofblad van Beeld, Volksblad en Die Burger.

Die gehalte van die gemiddelde Afrikaanssprekende se taalgebruik is aan die afneem.  As ‘n diens aan die Afrikaanssprekende gemeenskap van Suid-Afrika lewer die WAT daagliks van 08:00 tot 16:00 ‘n gratis telefoniese en internet-taalnavraagdiens.

Afrikaans kan slegs in ‘n meertalige opset in Suid-Afrika oorleef.  Daarom wil die WAT ook graag ‘n breër bydrae lewer deur Afrikaans as ‘n ondersteunende en vriendelike taal teenoor ander tale te vestig.  Daarom lei ons jaarliks woordeboekmakers vir die ander amptelike tale van Suid-Afrika op en was ons saam met PanSAT instrumenteel in die vestiging van woordeboekeenhede vir al die ander amptelike tale.  Woordeboekmakers van Engelse woordeboekuitgewers soos Oxford University Press en van so ver as Gaboen, Malawi, Tanzanië, Angola en Zimbabwe woon die WAT se opleidingskursusse by.

Dit is belangrik dat daar oor Afrikaans gepraat word, maar dit is nog belangriker om daagliks die tweede myl vir Afrikaans te loop.  Die toekoms van Afrikaans is nie in die hande van die regering nie, maar in die hande van Afrikaanssprekendes self.  Kom ons doen dit saam vir Afrikaans!

Lees gerus ook dr. Pieter Mulder van die VF+ en prof. Wannie Carstens van die NWU se bydraes tot dié gesprekreeks.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae