Afrikaans slegs ’n soort ‘versiersuiker’ op Stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Nou toe nou. Nou weet ons wat die waarheid oor Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (ekskuus – “Stellenbosch University”, of SU) is: Daar is geen probleem nie.

Inteendeel, die media het alles opgeblaas. Die kwessie is in onderlinge gesprekke “bevredigend opgelos”.

Dit weet ons nou uit die perd se bek. Die “perd”, synde prof. Wim de Villiers, rektor van die Es-Joe.

De Villiers het voor die Menseregtekommissie getuig nadat die media vroeër vanjaar onthul het dat ’n verbod op die gebruik van Afrikaans in sekere koshuise geplaas is, ook wanneer Afrikaanssprekendes informeel onderling verkeer.

Die gesprekke het ten doel gehad “om ’n gemeenskaplike begrip van die taalbeleid en die implementering te verseker”, het De Villiers getuig. Dis nie alleen “bevredigend opgelos” nie; dit het “ooreenkomstig ons taalbeleid geskied”.

En die Es-Joe se hoof van studentesake, dr. Choice Makhetha, het gesê die studente “het mekaar langs die pad verkeerd verstaan”. Hy het bygevoeg: “Maar in politieke kringe en die media is die saak lewend gehou. Die indruk word gewek dat die probleem groter is as wat dit regtig is.”

Dis interessant dat “die media” maar weer die slaansak is wat vir alle probleme geblameer word. As iemand wat al sedert 1975 in die joernalistiek betrokke is, weet ek die media is geneig om te fokus op sake wat “ongewoon” of “buitengewoon” is, nie op dinge wat normaal en reg verloop nie.

Dit kan ’n verkeerde indruk wek, en as die media eerlik is, moet hy ook selfondersoek doen. My ervaring in die 46 jaar in die joernalistiek is dat die meeste joernaliste – helaas nie almal nie – dit inderdaad doen, mense wat hul werk om die gemeenskap in te lig, na eer en gewete probeer verrig.

Maar die foute wat die media ongetwyfeld maak, is vir mense soos De Villiers en Makhetha – en ander – ’n nuttige rookskerm om die aandag van hul eie foute weg te trek.

Die kern van waarom dit hier gaan, is uitstekend deur adv. André Gaum, lid van die Menseregtekommissie, saamgevat toe hy gesê het dit wil voorkom of die Es-Joe aanvanklik nie juis sterk op die onthullings gereageer het nie.

“My vraag is, waarom was die aanvanklike reaksie nie sterk en afkeurend nie, maar een wat daarop neerkom dat dit nie as ernstig beskou word nie?”

Dat De Villiers dit ontken het, was te verwagte. Maar Gaum se vraag klop geheel en al met my eie waarneming van ’n rektor wie se aanvanklike verweer flou was – een van “dis nie ons beleid nie”, pleks van “dis totaal onaanvaarbaar en ons gaan sorg dat dit nie weer gebeur nie”.

Dis seker moontlik dat Makhetha ’n punt beet het as hy sê die studente het mekaar “langs die pad verkeerd verstaan”. Maar die onderliggende vraag is tog seker hoe het dit dan gebeur dat hulle mekaar verkeerd verstaan het?

Sulke “misverstande” val tog nie soos ’n wonderwerk sommer uit die hemel nie? Dit ontstaan deurdat ’n bepaalde kultuur mettertyd posvat.

En aan die Es-Joe is die boodskap wat sedert die begin van die eeu uitgestuur is – toe prof. Chris Brink rektor was –  dat Afrikaans op die een of ander manier besmet is, dat die aandrang daarop verdelend en diskriminerend is, dat die taal liefs in ’n veraf hoekie gedruk moet word waar dit nie meer sigbaar is nie. Ná Brink het wyle prof. Russel Botman die proses verder gevoer, en De Villiers het dit tot ’n hoogtepunt – dalk eerder dieptepunt – gevoer.

Kan ’n mens daarom die studente wat die verbod op die gebruik van Afrikaans in informele onderlinge gesprekke uitdink het, regtig kwalik neem? Dis immers logies om te aanvaar dat hulle – sekerlik dié wat al klaar nie besonder simpatiek teenoor die taal staan nie – aangevoel het uit welke rigting die wind uit die administrasiegebou waai, en dat hulle gemeen het hulle doen bloot wat De Villiers, Makhetha en hul kornuite bedóél.

Ek wil voorspel dat die name van die drie rektore wat hierbo genoem is, nog dekades lank onder Afrikaanssprekendes gaan sleg ruik. Want nie alleen het hulle hul eie moedertaal ’n klap in die gesig toegedien nie; hulle het ook die menseregte van duisende Afrikaanssprekende studente – wit én bruin – flagrant aangetas.

In art. 2 van die VN se Universele Verklaring van Menseregte word taal pertinent genoem as een van die faktore op grond waarvan diskriminasie verbied word. Veral in veeltalige lande word taal steeds meer as ’n onvervreembare mensereg beskou.

Daar is ook verskeie ander internasionale dokumente waarin taalregte as deel van menseregte beskou word. Onder hulle is die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (arts. 2, 14, en 27), die Internasionale Verklaring van Taalregte (wat in arts. 25, 26 en 30 pertinent aandag aan die reg op moedertaalonderwys gee), die Europese Handves vir Streek- of Minderheidstale (waarin die beskerming van minderheidstale as ’n uitdrukking van kulturele rykdom gesien word, en die reg op moedertaalonderwys ook erken word).

Die VN se Menslike Ontwikkelingsverslag van 2004 meld sonder omhaal van woorde dat daar “no more powerful means (is) of ‘encouraging’ individuals to assimilate to a dominant culture than having the economic, social and political returns stacked against their mother tongue. Such assimilation is not freely chosen if the choice is between one’s mother tongue and one’s future.”

Is dit nie presies wat aan die Es-Joe aan die gang is nie? Is dit nie die subtiele boodskap wat agtereenvolgende rektore, van Brink tot by De Villiers, uitgestuur het nie?

Noudat die saak deur die vermaledyde media aan die groot klok gehang is, nóú skarrel De Villiers en sy kornuite om die skade te probeer beperk. En in die proses is dit – oudergewoonte – maar weer die media wat geblameer word.

Nee, ek is bevrees De Villiers en sy medestanders kan nie regtig as vriende van Afrikaans beskou word nie. En dit gaan nie gou verander nie.

Om die waarheid te sê, die Es-Joe is reeds verby die kantelpunt waar Afrikaans as onderrig- en gebruikstaal gered kan word. Soos prof. Hermann Giliomee al verskeie kere voorspel het, gaan Afrikaans toekomstig slegs as ’n soort “versiersuiker” op Stellenbosch oorleef.

My raad aan enige voornemende Afrikaanse student of ouers is: Skryf die Es-Joe af. Die Potch-kampus van die Noordwes-Universiteit is nog Afrikaans, al bou die kragte teen die taal ook daar op.

En ten slotte is Akademia nog ’n alternatief. Maar dan moet die leiding van Akademia nou skouer aan die wiel sit om ál die vernaamste vakke aan te bied; anders lyk die toekoms van Afrikaans op tersiêre vlak donker.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Ja iets ruik sleg. Skuur hom met Wim en teer en veer hom

Groen Ghoen

Dalk is die grootste tragedie van dit alles die 99,99% onbetrokke Afrikaanssprekendes wat deur hul stilswye aandadig is aan die uitsterf van hul taal en kultuur. ‘n Gideonsbende veg verbete terug. Die groot meerderheid kyk, skud die koppe, en aanvaar maar gelate dit wat deur die ANC en Wim de Villiers teen hul menswees gepleeg word.

FM

Baie dankie aan elke joernalis, kampvegter of beskermer van ons Afrikaanse taal.

Mag daar in die toekoms altyd mense wees wat nie die knie voor die meerderheid buig en hul gewete sus nie.

TROTS Afrikaans

Spook

Die EsJoe moet maar eerder sy naam terug verander na die Victoria College. Dit is baie meer gepas vir ‘n gerekolonialiseerde Britse instelling. Dink net hoe trots kan die voorstanders van Engels dan daarop wys dat hulle aan die VC geswot het, amper soos Oxford of Cambridge.
Wat vir my persoonlik baie interessant is, is dat die wat voorpraters is van dekolonialisasie, die eerste is wat als in Engels wil doen.
Frightfully British, old chap. Teach those boorishly savage Boers a thing or two about a civilized language.

Rupert Ashford

Dr Scholtz, ons het al vele kere swaarde gekruis, maar in die geval wil ek vir jou en mense soos Prof Giliomee dankie se dat julle hierdie geveg lewend hou. Iemand hierbo het verwys na die Gideonsbende vs die stille meerderheid wat nie omgee nie. Enigste opsies vir Afrikaans is tans Potch (nog), en Akademia wat ek dink ten alle koste ondersteun en bevorder moet word. Ek dink ook alle leerstoele, versamelings, borgskappe en trusts van Afrikaanse oorsprong by van hierdie ander staats-universiteite moet onttrek word (veral waar geld ter sprake is) en of privaat geneem word, of na Akademia… Lees meer »