Afrikaans: Van hofsake tot vennootskappe

afrikaans

Hierdie artikel is deur ‘n voormalige senior bestuurder van ‘n Universiteit geskryf en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

Die hofsake oor die afskaffing van Afrikaans by Unisa, Tukkies, Kovsies en die afskaling op Stellenbosch gaan nog lank voortduur. Die universiteite se probleem is dat die Grondwet uitdruklik bepaal dat studente ’n reg op onderrig in die amptelike taal van hul eie keuse het, soos die Kovsies-uitspraak helder en duidelik onderstreep het.

Maar Afrikaans se probleem is dat die rade en besture van die universiteite net nie meer ruimte vir Afrikaans wíl maak nie. Die grondwetlike gesag vir onderrig in die taal van keuse word ondermyn deur gedienstige kniebuigings voor politieke mag en die transformasie-ideologie. In die praktyk het die universiteite weens druk van bo deur die owerhede, en van onder deur aktivistiese groepe, besluit om Afrikaans uit te skuif. Die ideologie van politieke transformasie het belangriker geword as die grondwetlike bepalings en oorvloedige bewyse dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is. Dit is ’n akademiese tragedie, omdat kenners soos dr. Rolf Stumpf lankal uitgewys het dat die land eerder ’n taal- as ’n onderwysprobleem het. Die feit dat meer as 80% van die openbare skole disfunksioneel is, en dat minder as 50% van studente hul grade behaal, tel nie genoeg vir die transformasie-ideoloë en slaprug besture nie.

Die Engelse taalbulle wil ook nie verstaan dat die afskaffing van Afrikaans gaan uitkring tot die uitsluiting van Afrikaanse studente en dosente, en uiteindelik tot die aantasting van die wese van die akademie en die universiteitswese nie. Hulle onderskat die omvang van die transformasie-ideologie totaal, en oortuig hulself dat dit bloot oor toegang vir swartmense en Engels as voertaal gaan. Hierdie onbegrip bly vreemd, omdat Engelse ras- en taalaktiviste dit duidelik stel dat ware transformasie eers begin as Afrikaans afgeskaf is en die dosente- en studentekorps die demografie weerspieël. Die uiteinde van talle ander getransformeerde instellings gaan blykbaar totaal by hierdie mense verby. Hulle bly vas glo dat die bewese mislukking van die transformasie-ideologie hulle nie gaan tref nie, en gun die studente nie die geleenthede wat hulle self gehad het nie.

Wen-wen-situasie

Maar die vraag bly bestaan of die onverkwiklike hofsake nie omskep kan word in ’n wen-wen-situasie vir die universiteite én Afrikaans nie? Hoewel gesiene regslui verwag dat AfriForum en Solidariteit hierdie sake gaan wen, het die universiteite reeds gewys dat hulle nie met die toekoms van Afrikaans vertrou kan word nie. Die howe kan hulle keer om te doen wat verkeerd is, maar kan hulle moeilik dwing om te doen wat reg is. Boonop het die rassetransformasie by talle universiteite en kolleges die grondwetlike taalbepalings uiteindelik onprakties gemaak. As die demografie totaal verander, verander die taalvoorkeure van studente daarmee saam.

Terselfdertyd kan nie toegelaat word dat universiteite met taalmoord wegkom nie. Die eertydse Afrikaanse universiteite en Afrikaans as wêreldklas akademiese taal, is met onbeskryflike harde werk en groot opofferings opgebou. Die Afrikaanse gemeenskap mag nie die universiteite toelaat om goedsmoeds ’n streep daardeur te trek nie. Ons kan ook nie wag tot hulle eendag, as dit te laat is, agterkom dat hulle ’n onomkeerbare fout gemaak het nie.

Die Afrikaanse gemeenskap kan nie toelaat dat die Afrikaanse akademiese en kultuurskatte deur politieke vandale vernietig word nie. Daarom het Solidariteit Akademia gestig, om wêreldklas akademie in Afrikaans voort te sit, met onbelemmerde toegang vir studente wat in Afrikaans wil studeer. Maar om ’n universiteit op te rig, is ’n groot onderneming. Buitendien is dit onnodig en onregverdig om te verwag dat Akademia alles van voor af moet begin wat oor ’n eeu opgebou is.

Dis kan mos nie reg wees dat al die werk en opofferings wat in die Afrikaanse openbare universiteite ingegaan het, nou net agtergelaat moet word nie! Dit kan ook nie reg wees dat Afrikaanssprekendes nou goedsmoeds moet aanvaar dat grondwetlike regte nie vir ons ook geld nie, en dat ons met leë hande moet wegstap van dekades se werk en geld wat in Afrikaans en in die universiteite belê is nie.

Vennootskap

Universiteite gaan mos niks verloor as die duisende Afrikaanse grade wat teen groot koste ontwikkel is, vir Akademia beskikbaar gestel word om die Afrikaanse projek voort te sit nie. Dit sal akademiese vandalisme en kulturele leedvermaak in die ergste graad wees, as hulle dit eerder op die ashoop gooi as om dit vir Akademia te gee. Dit sal die verbittering wat daar reeds teenoor hierdie universiteite bestaan oor die afskaffing van Afrikaans net verder verdiep en vererger. Boonop is daar hopeloos te min universiteite vir die duisende studente wat nie studieplek kry nie, wat beteken dat Akademia nie ’n bedreiging vir die groot universiteite hoef te wees nie. Akademia is ’n maatskappy sonder winsoogmerk, waarvan die “opbrengs” gemeet word aan toegang tot studies vir Afrikaanse studente, gehalte-onderrig en die uitbou van Afrikaans as akademiese taal.

Die vraag is of daar wel die leierskap by hierdie universiteite gaan wees om verby hul eie grensmuur en hul ideologiese grense te kyk na die groter akademiese prentjie. ’n Vennootskap met Akademia behoort nie ’n onoorkombare struikelblok te wees nie, universiteite werk reeds met mekaar en opkomende instellings op Kimberley en Nelspruit saam. Die invloed op die hofsake en die aard van die samewerking kan mos onderhandel word.

Onderhandelde vennootskappe of samewerkende mededinging kan ’n wen-wen-situasie vir al die betrokke partye wees. Dit kan die onverkwiklike stryd wat oor Afrikaans woed, omskep in samewerkende vennootskappe. Dit kan die uitoefening van grondwetlike regte gestalte gee. Dit kan vir Afrikaans ’n nuwe lewe gee. Dit kan toegang vir Afrikaanse studente tot gehalte-onderrig verseker. Dit kan gewaande versperrings vir transformasie by openbare universiteite verwyder. Dit kan aan meer studente vryheid van keuse gee. Laastens kan dit demokratiese ruimte vir verskillende sienings skep, wat tog die wese van ’n vrye en oop samelewing is.

Akademia se sukses is nie afhanklik van ’n vennootskap met die openbare universiteite nie, maar samewerking sal die projek kan versnel. Maar bowenal is bystand aan Akademia vir die universiteite wat Afrikaans afskaf die regte ding om te doen. Net iemand sonder selfrespek sal daarvan verskil dat hulle ’n ereskuld het om, soos Van Wyk Louw dit sou stel, die akademiese skat van Afrikaans vir Akademia aan te gee om vorentoe te dra.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Disselboom ·

Die konsep van samewerking en vennootskap tussen bestaande Afrikaanse openbare onderwysinstellings en die privaatinstellings kry nou toenemend steun – en is ‘n goeie idee. Ons het nie ‘n demokrasie in Suid-Afrika soos die weste dit verstaan nie, ons het een-mens-een-stem oftewel populistiese massa-oorheersing. Dit maak dit onwaarskynlik dat die regstaat (beroep op die howe) veel langer ‘n skans gaan wees: regters word immers deur dieselfde populistiese massa-beheer aangestel en gaan hulle wil reflekteer. ‘n Betydse verskuiwing van Afrikaanse onderwys-materiaal en intellektuele waarde is net so nodig op skoolvlak – vennootskap tussen beheerrade en eienaars van privaatskole is noodsaaklik vir Afrikaanse onderwys.

Ebert Terblanche ·

Uitmuntende voorstel. ‘n Onderhandelde skikking waarvolgens die hofsake laat vaar word en reeds ontwikkelde Afrikaanse grade oorgedra word aan Akademia, sal ‘n wen-wen vir almal skep.

Disselboom ·

Twee vrae: (1) Gaan die dosente saam met die leerplanne oorgebring word na Akademia? en (2) is die Afrikaanse mark ‘n groeiende of krimpende mark (met verwysing na bevolkingstatistiek)?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.