Afrikaans: Veg by Unisa, bou met Akademia

Kallie Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: Rozier van Tonder/OkayDeer.)

Die oorwinning wat AfriForum in die Konstitusionele Hof behaal het teen die volle uitfasering van Afrikaans by Unisa, asook die eksponensiële groei wat die Solidariteit Beweging (SB) se privaat Afrikaanse universiteit Akademia tans beleef, bevestig die noodsaak van AfriForum en ons susterinstellings in die SB se veg(beskerm)-en-bou-strategie.

Afrikaans as onderrigtaal in die tersiêre onderwyssektor het te wyte aan die ANC-regering groot veld verloor. Afrikaans het vir alle praktiese doeleindes as onderrigtaal by die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van die Vrystaat verdwyn. Laasgenoemde het – ironies genoeg – met die seën van die Konstitusionele Hof geskied. By die Universiteit Stellenbosch suig Afrikaans reeds aan die agterspeen – óók met die Konstitusionele Hof se seën. Boonop het die anti-Afrikaanse brigade reeds met ’n proses begin om Afrikaans ’n ernstige knou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit toe te dien.

Die vraag is hoe die Afrikaanse gemeenskap op dié aanslag op Afrikaans by universiteite moet reageer. Met moedeloosheid en deur niks te doen nie sal ons ons plig teenoor ons nageslag versuim. Dit is ons taak om te verseker dat Afrikaanse jongmense nou en in die toekoms die geleentheid het om universiteits- en ander onderrig van hoogstaande gehalte in Afrikaans te ontvang. Die vraag is: Hoe?

Die SB, waarvan AfriForum trots deel is, het ’n strategie van beskerming (veg) en bou gekies. In terme hiervan veg AfriForum met alles wat ons het om die posisie van Afrikaans in openbare instellings vir so lank moontlik te beskerm. Daarteenoor bou ander instellings van die SB – soos Akademia en Sol-Tech op tersiêre vlak en die Skoleondersteuningsentrum op skoolvlak – kliphard daaraan om volwaardige privaat Afrikaanse onderwysinstellings van hoogstaande gehalte tot stand te bring. Natuurlik is dit nie maklik nie, maar ons pluk reeds die vrugte van dié strategie.

Die vegstrategie vereis deursettingsvermoë. Die stryd om Afrikaans by Unisa te behou, duur al lank. Sowat vyf jaar gelede het AfriForum die stryd in die Nood-Gautengse hooggeregshof begin voer om Afrikaans by Unisa te beskerm. Dié hof het egter teen AfriForum beslis. Met ’n aanhouer-wen-ingesteldheid het AfriForum daarna die hoogste hof van appèl in Bloemfontein suksesvol genader. Unisa het egter hierteen na die Konstitusionele Hof geappelleer. Weer eens het AfriForum se uitstekende regspan die moedige stryd gevoer, wat tot dié oorwinning vir Afrikaans gelei het.

Dit sou naïef wees om te dink dat die stryd vir Afrikaans nou finaal gewen is. Die Unisa-oorwinning was ’n baie belangrike “veldslag” wat gewen is, maar die “oorlog” sal uiteindelik net finaal gewen kan word met bykomende oorwinnings soos die verdere uitbou van privaat Afrikaanse onderwysinstelling soos Akademia en Sol-Tech.

Met die inwerkingstelling van Unisa se 2016-taalbeleid was nog net 300 van Unisa se 2 300 kursusse in Afrikaans aangebied. Die Konstitusionele Hof het nou bevind dat die uitfasering van Afrikaans vir hierdie 300 kursusse ongrondwetlik was. Hoewel die hof se uitspraak dus op ’n beperkte aantal kursusse betrekking het, bly dit ’n uiters noodsaaklike oorwinning. Benewens die implikasies vir Unisa, skep hierdie uitspraak bykomende ruimte vir Akademia om volstoom voort te gaan om hul huidige aanbod van Afrikaanse afstandsonderrig verder tot ’n volledige aanbod uit te brei. Hoewel geen hof Afrikaans se toekoms kan verseker nie, baan die Unisa-uitspraak wel die weg vir Akademia om voortaan nóg sterker te kan staan teen die aanslae van diegene wat aanvoer dat afstandsonderring in Afrikaans ongrondwetlik is.

Wat kampusgebaseerde onderrig in Afrikaans by residensiële universiteite betref, weet ons dat die Konstitusionele Hof in sy uitspraak in die Universiteit van die Vrystaat-saak Afrikaans ’n ongelukkige terugslag toegedien het deur te bevind dat afsonderlike klasse in Afrikaans en Engels “rasseskeiding” by openbare universiteite meebring en daarom nie “prakties uitvoerbaar” is nie. Dié siening is die gevolg daarvan dat die huidige elite (waarvan die howe in enige samelewing deel vorm) die transformasie-ideologie as allesoorheersend beskou, sodat dit op onbesonne wyse op internasionaal erkende taal- en kultuurregte inbraak maak. Ten spyte hiervan is alles nie verlore nie. ’n Enkele ligpunt in die Konstitusionele Hof se uitspraak teen moedige pogings om Afrikaans as ’n primêre onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch te behou, is dat die hoofregter in sy uitspraak die privaat sektor aangemoedig het om deur privaat Afrikaanse universiteite ’n vastrapplek vir klasonderrig in Afrikaans te gee.

Ek stem natuurlik nie daarmee saam dat die staat nié klasgebaseerde Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak hoef te befonds nie. Dié uitspraak het egter ten minste ruimte gelaat vir Akademia en Sol-Tech om die klasgebaseerde onderrig, wat hulle tans reeds met vrug in Afrikaans aanbied, makliker teen die aanslae van die Lesufi’s van die wêreld te verdedig.

Die vegstrategie het dus gehelp om bykomende ruimte te skep vir privaat instellings soos Akademia en Sol-Tech om volstoom voort te gaan om ’n boustrategie te kan volg en verder van krag tot krag te kan gaan.

Van ’n nederige begin tien jaar gelede het Akademia vinnig gegroei. Dié hoëronderwysinstelling beskik nou reeds oor twee kampusse in Centurion, waar onderrig volgens die residensiële model aangebied word. Die Fakulteit Natuurwetenskappe bied onder meer ’n BSc-graad in wiskundige wetenskappe aan, terwyl die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ook reeds drie grade en nege nagraadse kwalifikasies aanbied. Grade in kommunikasie en joernalistiek, asook politiek en filosofie word deur die Fakulteit Geesteswetenskappe aangebied, saam met ’n nauurse model, wat ’n LLB-graad insluit. Die Fakulteit Opvoedkunde bied reeds die gesogte NGOS-kwalifikasie aan. ’n Derde kampus is ook reeds bekom, sodat heelwat meer grade (waarvoor daar tans om akkreditasie aansoek gedoen word) volgens die residensiële model aangebied kan word. Die groot Akademia-kampus van R1,5 miljard wat tans beplan word, sal die geleentheid bied om ’n groter aanbod van grade te bied.

’n Reeks graad- en ander kursusse wat Akademia deur afstandsonderrig bied, is ook ’n goed gevestigde aanbod wat landswyd en selfs internasionaal aan Afrikaanse studente gebied word. Akademia beskik reeds oor 13 studiesentrums landswyd in Suid-Afrika, en een in Namibië.

Bogenoemde sukses wat deur middel van die veg-en-bou-strategie op die gebied van tersiêre onderwys behaal is, dien as inspirasie en gee hoop. Hierby word ook bygetel die sukses wat AfriForum met sy buurtwagte op veiligheidsgebied regkry, asook wat die Solidariteit Beweging se instellings op vele ander terreine vermag. Dit bewys dat ons as Afrikaners meer as in staat is om met die genade van Bo ons toekoms in ons eie hande te neem en te verseker dat ons, ons gesinne, families en gemeenskappe blywend vry, veilig en voorspoedig hier aan die suidpunt van Afrika kan leef.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Kallie Kriel

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nici

Dis fastasties, nou wat van ‘n kampus in die Kaap op ‘n mooi plattelandse dorpie?

Groen Ghoen

Uitstekend gedoen, veels geluk! Soos wat die gevestigde universiteite steeds meer tot ineenstorting “getransformeer” word, sal Akademia en Sol-Tech van krag tot krag groei. Afrikaner haters 0 – Afriforum 100!

Jan Seerot

UNISA, my Alma Mater
Nou wil die ander manne jou kapater
Nagte om by boeke gesit
Graad gevang, daar het jy dit

Soltech en Akademia is nou die plan
Vir elke Afrikaner, staan jou man
Sit skouer aan die wiel
Met Afrikaans in jou siel