Afrikaansbehepte Lesufi ruïneer onderwys vir almal

Deur Johnell van Vollenhoven

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi. (Foto: Mia Slabbert)

Panyaza Lesufi se vendetta teen Afrikaans en Afrikaanse skole het weereens aan die lig gekom toe hy op 1 Desember ʼn onderhoud op Kaya FM gevoer het. In die onderhoud beantwoord hy vrae van ouers oor die aanlyn registrasie van graad 1- en 8-leerders in Gauteng.

Volgens Lesufi is die doel van die aanlyn stelsel om onderrig vir almal in Gauteng toeganklik te maak. Hy kon egter nie die geleentheid laat verbyglip om Afrikaans as onderrigtaal te probeer kriminaliseer en dit voor te hou as ʼn middel om opvoeding aan leerders te weier nie. Hy het genoem dat ʼn van soos “Van Rooyen” toegang tot ʼn skool vergemaklik terwyl ʼn van soos “Sithole” eerder die toelatingsproses moeiliker sal maak. Hy het ook geïnsinueer dat skole geld gebruik om leerders toegang te weier en dat ope dae nie toegelaat kan word nie.

Hierdie kortsigtige aanval op die moedertaalonderrig van een spesifieke minderheidstaal ontneem talle kinders van hul regte. In plaas daarvan dat meer skole gebou word en moedertaalonderrig in elke amptelike taal ontwikkel word, kies die LUR om kinderagtige speletjies te speel. Sy openlike haat vir Afrikaans en Afrikaanse skole verhoed hom om sy werk te doen. Die uiteinde hiervan is ʼn magdom vervalle skole sonder voldoende hulpbronne en kinders wat nie gebalanseerd in ʼn optimale leeromgewing kan ontwikkel nie.

Die antwoord, soos hy dit stel, is ook nie méér klaskamers op bestaande skole se terreine nie. Kapasiteit is nie gelyk aan fisiese spasie nie. Ruimte vir sportontwikkeling en ander aktiwiteite is nodig, en dit is veral die belangrikheid van die onderwyser-tot-kind-verhouding wat die meeste deur Lesufi en ander onderwysdepartemente in die ander provinsies onderskat word.

Die doel van ʼn skool is nie net om onderrig te bied nie. Dit is om kwaliteitonderrig te bied. Dit is veronderstel om so ver moontlik te verhoed dat leerders uitval voordat hulle graad 12 voltooi het. Dit is om leerders met kennis en vaardighede toe te rus wat hulle kan aanwend om verdere studies suksesvol te kan aanpak en af te handel, of om intreevlakwerk te kry. Dit is egter tans in baie gevalle ver van die waarheid. Standaarde word afwaarts aangepas en leerders hoef in werklikheid nie eens hieraan te voldoen om oorgeplaas te word na die volgende graad of fase nie.

Lesufi se aanvalle op Afrikaans en Afrikaanse skole is uiteindelik net ʼn aanval op uitnemendheid. Hy besef dat daar oor dekades heen ʼn stelsel ontwikkel het waarin hy geen insae gehad het nie en wat uitstekend werk. Terwyl hy sukkel om selfs die mees basiese dienste te lewer, uitpresteer al hierdie skole hom sonder sy hulp. In plaas daarvan om hierdie skole te koester en as voorbeeld te gebruik, skryf hy dit eerder toe aan een of ander bose mag wat agter sy rug konkel om onderrig van hoë gehalte te lewer ten spyte van sy invloed en skynbaar ten koste van ander skole.

Dit is tyd dat Lesufi sy haat vir Afrikaanse skole laat vaar en sy werk begin doen. Hy moet skole bou – nie net om weens ʼn groeiende bevolking in die vraag na onderrig te voorsien nie, maar ook om in die vraag na kwaliteitonderrig in elkeen se moedertaal te voorsien. Hy moet onderwys ontwikkel en uitbou. Hy moet beter geleenthede deur die onderwys skep eerder as om die geleenthede wat reeds geskep is ongedaan te maak, bloot omdat dit nie sy handewerk is nie. Hy moet doen wat in die beste belang van die kinders in Suid-Afrika is en ophou om sy eie motiewe vir ʼn politieke loopbaan na te streef.

  • Johnell van Vollenhoven is ‘n media- en skakelbeampte by Solidariteit. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Porseleintjie ·

Nes jou kollega Cele, is jou tyd uitgedien Lesufi. Jul reisplan is klaar uitgewerk… Voertsek net.

AmY ·

Maak nie saak in watter taal jy gaan skool gaan nie.
As jy gaan uitval gaan jy uitval.
In die 80’s is baie kinders wat saam my op skool was al net ná standerd agt uit die skool uit.

SomeOne ·

raak van die rassis ontslae,
indien aanlyn registrasie dan daar is, hoelom sal die stelsel van rooyen eerder vat as sithole, dan is jou stelsel die rassis, nes jy
leer afrikaans ordentlik te praat, dan sal jy uitvind wat se wonderlike taal, die “minderheids” taal is

Theo ·

Waar is sy minister. Die man kan mos nie net so voortgaan nie. Iemand moet hom briek!

Kokerboom ·

Party karakters in die lewe het altyd net die vermoeë om jou hare te laat rys en die eenvoudige kader is een van hulle! Hy weerspieel net nare ANC mentaliteit. Opbou en groei is NIE in hul tipe se verwysingsraamwerk. Sy raktyd is verby. Sy alewige haat is ONAANVAARBAAR
Kom Gauteng Premier..doen jou werk!!

Chris dupreez ·

Die Gauteng premier kan niks doen nie , want Lesufi is hoër op in die anc as makhura.

Erika ·

Dit is so tipie Agv Rassisme/Haat (wat netjies weggesteek word ) Word Posisies Tipies eerder Mis bruik om eie selfsugtige Agendas te bevorder Ipv Goeie Dienste te lewer. in die Onderwys in belang van alle kinders van Suid Afrika

Dup ·

Die man ly aan ñ massiewe minderwaardigskompleks….Dat ñ sekere taal en bevolkingsgroep hom so beangs maak is eintlik heel komies.Hy weet seker dat daardie groep se standaarde heeltemal te hoog vir hom en sy kader vriende is.

Tokkel ·

Lesufi is ‘n skande op ANC regering. Ek kan nie verstaan dat hulle onslae raak van hom nie. Hy het nog geen skool of buite toilette vervang indie tyd as minister nie, maar sy mond is altyd groot van skole wat die onderwysstelsel kan trots maak. Dalk moet hy terug skoolbanke toe om te leer van wat werk en wat werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.