Afrikaanse Alumni-vereniging verwelkom Maties-raadsbesluit; doen beroep op Kovsies-raad

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. Argieffoto.

Advokaat Jacques du Preez

Die Afrikaanse Alumni-vereniging (AAV) verwelkom die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) se verbintenis tot Afrikaans en die herbevestiging daarvan deur die aanvaarding van ʼn mosie vir meertaligheid by die US.

Die Raad het Maandag vergader en die mosie is met ʼn oorweldigende meerderheid aanvaar. Altesaam 21 stemme is ten gunste van die mosie ingedien, drie stemme was daarteen en twee raadslede het buite stemming gebly.

Die praktiese effek hiervan is hoewel die akademiese aanbod in Engels uitgebrei sal word, Afrikaans as gelyke akademiese en administratiewe taal behoue bly terwyl  Afrikaans en Engels parallel sal funksioneer by die US (die US se huidige taalbeleid stel Afrikaans en Engels op gelyke vlak as die US se verstektaal).

Die Raad se besluit word verwelkom en volg nadat die rektor, Prof. Wim de Villiers en die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) ʼn tyd gelede ʼn eensydige aankondiging uitgereik het wat, indien dit deur die Raad goedgekeur sou word, ʼn nuwe taalbeleid vir die US sou daarstel. Engels sou van 2016 die verstektaal van die US wees en Afrikaans sou effektief van die kampus verdwyn as akademiese en administratiewe taal.

Die rektor, wat volgens berigte erken het foute is begaan met die taalkwessie by die US, moet nou afsien van sy voorstelle om die US se taalplan te wysig en die mosie het ook die bestuur van die US se aanvanklike voorgestelde standpunt, dat Engels die US se verstektaal moet wees, heeltemal vervang.

Die US het ook Maandagaand in ʼn verklaring te kenne gegee dat “language should never be an obstacle for any student pursuing studies at the university who had no command of either Afrikaans or English. If this should imply that the English academic offering exceeds the set target, it will be supported by council. However, these changes should not be to the detriment of the institution’s Afrikaans offering. Council requests that the Afrikaans undergraduate academic offering should also be increased. Council confirms that its multilingual academic offering is considered a strategic asset of SU that should be expanded as a competitive advantage.”

Die raad se besluit en kommentaar word verder welkom binne die taalraamwerk van die Suid-Afrikaanse grondwet:

  • Artikel 6(1) van die Handves van Regte bevestig Afrikaans se status as amptelike taal – saam met Engels en die ander landstale.
  • Artikel 6(4) gaan verder en verklaar dat alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel moet word.
  • Artikel 29(2) is ook duidelik: Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys moontlik is.

Niemand, ook nie die AAV nie, maak aanspraak op ʼn enkelmedium-universiteit of ʼn universiteit wat nie oop is vir alle studente van alle rasse in Suid-Afrika nie. Dit is egter prakties en redelikerwys doenlik, veral in die Wes-Kaap, waar Afrikaans die meerderheidstaal is, dat Afrikaans by die US as hoof- of gelyke onderrig- en administratiewe taal beskerm word op ʼn inklusiewe, nie-rassige en nie-diskriminerende basis.

Gevolglik is dit presies wat die raad se besluit nou bevestig: dat hoewel die akademiese aanbod in Engels uitgebrei sal word, Afrikaans as gelyke akademiese en administratiewe taal behoue bly en dat Afrikaans en Engels parallel sal funksioneer by die US.

Die Raad se besluit is ʼn oorwinning in die milieu van die taaldebat op meerdere fronte. Dit is ʼn oorwinning vir Afrikaans as amptelike taal soveel as wat dit ʼn oorwinning is vir Engels as ʼn amptelike taal. Dit is ʼn oorwinning vir meertaligheid by die US. Dit is ʼn oorwinning vir inklusiwiteit by die US. Dit is ʼn oorwinning vir die taalregte van studente. Om een groep studente se taalregte te skend om sodoende ʼn ander groep sʼn te bevorder (in die naam van transformasie) is eenvoudig nie die antwoord nie.

Dit behoort te volg vir veral drukgroepe tot die debat, wat aanvoer dat Afrikaans ʼn hindernis is vir transformasie, dat hierdie benadering van Afrikaans en Engels op gelyke voet en sonder dat afbreuk gedoen word aan die een of die ander, ʼn gebalanseerde antwoord bied tot die debat wat juis transformasie bevorder.

Dit gee (soos wat die Suid-Afrikaanse grondwet vereis) ruimte vir almal se taalregte op kampus – diegene wat in Afrikaans as amptelike taal wil onderrig ontvang, maar ook diegene wat in Engels as amptelike taal onderrig wil word.

In die lig van die feit dat dat die rade van die US, sowel as die Noordwes-universiteit, hulle nou verbind het tot parellelmediumonderrig as ʼn inklusiewe, veeltalige model wat diversiteit en akademiese uitnemendheid bevorder, doen die AAV hiermee ʼn beroep op die raad van die Universiteit van die Vrystaat om tydens hul raadsvergadering eerskomende Vrydag, 4 Desember, ook die UV se bestaande beleid van parallelmediumonderrig te handhaaf.

Die besluite van die US- en NWU-rade ten gunste van parellelmediumonderrig kan gesien word as ʼn mosie van vertroue in die sukses wat die UV as baanbreker in die Suid-Afrikaanse hoëronderwys met parallelmediumonderrig behaal het en die AAV vertrou dat die raad van die UV die goeie werk wat sedert 1993 met die parallelmediumbeleid aan die UV gedoen is, verder sal uitbou.

  • Advokaat Jacques du Preez is van die Afrikaanse Alumni-vereniging

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Francois ·

Ek is, saam met die AAV, verheug oor die besluit van die US raad. As oud-Matie kan ek my nie Stellenbosch sonder Afrikaans indink nie. Ek sal egter graag wil weet welke kontrole-meganismes in plek gestel is (of in plek gestel sal word) om te verseker dat hierdie besluit wel uitgevoer word. My vrees is dat dosente wat pro-Engels is (soos Amanda Gouws en haar kornuite) nie sal skroom om hul bedenklike taalvoorkeure in klasverband te laat geld nie. Hoe sal dit verhoed word? En wat gebeur by gesamentlike byeenkomste soos huisvergaderings, die vergaderings van studente-verenigings en dies meer? Hoe word die parallelle gebruik van Afrikaans en Engels by sulke geleenthede gemonitor? En watter druk word op die regering uitgeoefen om by te dra tot die onvermydelike koste wat meertaligheid meebring? Daar is kennelik nog heelwat kwessies wat na aanleiding van die Raad se besluit aandag verdien.

Bruno Stef ·

Adv du Preez baie dankie vir julle manne se insette dit sal in die toekoms glo ek waardevol wees vir ons voortbestaan.

anna ·

Ja baie dankie aan almal wat n bydrae gelewer het om ons taal te red byUS. Dit word opreg waardeer. Mev Gouws het egter n probleem want sy weet nie waar sy inpas nie. Dalk was sy desperaat vir aandag of wou sy ekstra punte verdien? Hulle het soveel skade aangerig en d ie Afr. studente onnodig ontstel in eksamentyd. Onvergeefbaar.

Emile ·

Ek sal ook graag wil weet watter maatreels die US Raad in plek gaan stel om enige ontwrigtende en geweldadige intimidasieoptrede die hoof te bied wat deur randdrukgroepe soos openStellenbosch beplan word – soos lg hulself met groot ontevredenheid oor die bevestigde Taalbeleid, in die Engelse media uitgespreek het. Hoe gaan die US ons kinders teen hierdie beplande optrede beskerm?

Vir een sou ek voorstel dat die US ernstig ondersoek instel na die doenbaarheid van die fisiese omheining van kampus, soos bv dele van Ingenieurswesegebou en soos die PUK etlike jare gelede al gedoen het. Dit het duidelik gehelp om oproerige buitestanders uit te hou.

Tweedens stel ek voor dat die US ‘n verpligte Afrikaans 101 aanbied waarin o.a. die diverse geskiedenis van Afrikaans en die regte van minderheidsgroepe aan die meerderheidsgroepe voorgehou word.

Derdens moet die Universiteit sigbaar en aktief aandag luister na die wetsgehoorsame Afrikaanse studente se se stem en besorgdhede en nie weer soos ‘n skoothond omdop wanneer ‘n handvol onverteenwoordigende en wettelose buitestaanders begin lawaai maak nie.

Vierdens sal ek graag US optrede wil sien teen aanhitsende ver-linkse US akademci wat heul met buite-elemente om haatspraak teen Afrikaans aan te blaas en destabilisering van die US te bewerkstellig.

‘n Amptelike ondersoek na die befondsing van hierdie buitegroepe se opruiende en ondemokratiese haatveldtog teen Afrikaanse minderhede sal ook in orde wees. Wie, bv, het betaal vir die bus-aanry van die duisende UK en UWK wat op 1 Sep die US kampus binnegval het?

Rupert Ashford ·

Interessant die verklaring van die US is (net) in Engels? :-)

Manie ·

Julle by maties is gelukkig want my ou almamater (kovsies) het n besuit geneem van engels as onderrig en administrasie taal. Nou met die besluit kom my pad net kovsies ook tot n einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.