Afrikaanse armes sal met privaat inisiatief gehelp moet word

Die armoedesiklus van die Afrikaanse gemeenskap waarvan ons lidmate lede is, is net besig om te verdiep. Hierdie armoede raak die samestelling van die Afrikaanse gemeenskap en gemeentes uit die Afrikaanse gemeenskap wesenlik. Hierdie nuwe armoede is deel van die strukturele geweld wat teen ons lidmate deur die owerheid en geestelike instellings gepleeg word.

Ons kom uit ’n gemeenskap en kerk waarin die Afrikaanse gemeenskap homself as “volk” identifiseer het. In hierdie gemeenskap was daar gelyke onderwys- en werksgeleenthede vir elke Afrikaanse kind, ryk of arm.

Gebroke land - 'n swart-en-witfoto koffietafelboek, onder redakteurskap van Danie Langner, uitegee deur Kraal Uitgewers.

Die NG Kerk het die afgelope jare meegehelp aan die proses waarin die Afrikaanse gemeenskap as geheel homself nie meer as “volk” mag identifiseer nie, maar moet deel wees van ’n gemeenskap in vrye assosiasie. Hierdie proses van vrye assosiasie van vrye individue sonder enige gemeenskap-assosiasie, het in die nuwe Afrikaanse armoede sy volle verloop geneem.

Tans bevind ons lidmate hulle in ’n diskriminasie van die staat se kant as mense wat voorheen bevoorreg was en nou uit hulle werk en eiendom met staatswetgewing verdring word. Die kaderbeleid van die owerheid ontneem lidmate feitlik in geheel van enige hoop op ’n loopbaan in die staatsdiens en die wetgewing oor SEB vermink die meeste inisiatiewe vir eie ondernemings nog voor dit begin het.

Die armoede waarin lidmate deur hierdie strukturele geweld verval wat teen hulle gepleeg word, is nou openlik en brutaal sigbaar.

Maar seker die mees uitdagendste deel van hierdie armoedekringloop is nie soseer die verarming deur die owerheid nie, maar die nuwe gemeenskapsvorming binne die Afrikaanse gemeenskap: die vrye assosiasie van vrye enkelinge sonder enige gemeenskapverbintenis. Met hierdie voorwendsel van vrye enkelinge sonder enige gemeenskapsverband, is die Afrikaanse gemeenskap vir die eerste keer in sy bestaan gekonfronteer met die werklikheid van klassevorming en ’n opkomende klassespanning in sy eie geledere.

Die Afrikaanse gemeenskap het hom sedert sy aanvang in 1652 as ’n gemeenskap identifiseer waarin ryk en arm nie ’n wesenlik rol gespeel het nie. Die landelike gemeenskap was ’n gemeenskap wat homself nie as ryk en arm onderskei het nie en met die opkomende verstedeliking was nasionalisme juis die antwoord op die spanning van sosialisme en kapitalisme: die Afrikaanse gemeenskap kon homself nie met die arbeidersopstand van 1922 assosieer nie, al was hulle self mynwerkers!

Sedert 1994 het daar egter nou ’n dramatiese verskuiwing binne ons gemeenskap en gemeentes gekom: daar is nou ’n wesenlike vervreemding van ryk en arm in die Afrikaanse gemeenskap. Die omvang daarvan is so diep dat ons as kerk dit in alles wat ons moet doen, moet verreken.

Vermoënde lidmate leef nou in ’n totaal ander gemeenskap en kultuur as die al groterwordende arm Afrikaanse gemeenskap. Dit gaan oor die totale kontras van staatshospitale teenoor privaathospitale; staatskole teenoor privaatskole; DSTV en staats-TV; privaatveiligheid teenoor veiligheid deur die polisie; privaatversekering teen geweld en misdaad teenoor geen versekering teen geweld en misdaad.

In hierdie kontras is ons arm lidmate op staatshulp aangewese – maar vir die staat bly hulle in hierdie nuwe armoede nog steeds ideologies die teikengroep van hulle wetlike diskriminasie.

Die werklikheid van hierdie armoede is dat baie vermoënde lidmate oorbelas is om uit hulle eie fondse meer te help as wat hulle reeds met verarmende families help. Maar dit is ook ’n werklikheid dat vermoënde lidmate hulleself al meer onttrek en in ’n ander daaglikse wêreld leef as armes in hul eie Afrikaanse gemeenskap.

’n Ander deel van hierdie werklikheid is dat dit makliker is om nou as besigheidsmens jouself met die armoedevraagstuk in ander gemeenskappe te assosieer – want dit hou groot finansiële voordele vir besigheid in. Dit hou geen finansiële voordeel vir sakemanne in om hulle met die armoede van die Afrikaanse gemeenskap te assosieer nie.

Die druk op kerkrade word ook so dat ons gewoon net nie as kerkrade die geld het om die nood in onderwys, vervoer na skole, gesondheid, veiligheid en welsyn kan aanspreek nie.

Watter hoop het ’n arm Afrikaanse kind in ’n staatskool nog oor vir die toekoms? Het hierdie kinders nog drome? Het hulle nog ideale wat hulle bereikbaar voel? Dit is nie toevallig dat al die ou Afrikaanse instellings hulle grootliks tot nasiebouprojekte verbind het en hulle fondse hiervoor aanwend, maar nie meer jongmense uit die Afrikaanse gemeenskap trek nie.

Pruisse (1525-1947), eens 'n Duitse Koninkryk en geskiedkundige staat, tydens sy hoogtepunt rondom die draai van die 19de eeu.

Die Afrikaanse kerke staan voor die wesenlike krisis dat hulle soos die Lutherse kerk ná die Tweede Wêreldoorlog sal wegkwyn omdat die Lutherse kerk hom met die Pruisiese adel verbind het en homself teenoor die opkomende arbeiders in die sosiaal-demokrate gestel het. Die woede en verbittering van die arbeidersgemeenskap teen die Lutherse Kerk vir sy adel-assosiasie met Pruise maak hom tot vandag toe nog ’n randfiguur in die moderne geskiedenis van die Duitse gemeenskap.

Dit is presies wat tans in die ryker Afrikaanse gemeenskap afspeel. Hier is dit die nuwe kultuur om jouself as deel van ’n nuwe geestelike elite voor te hou wat die land en ander gemeenskappe se probleme wil oplos, terwyl hulle al meer nie die armoede in hulle eie Afrikaanse gemeenskap wil of kan aanspreek nie. Hierdie nuwe assosiasie is die assosiasie van ’n heersersklas van ryk en magtig waarin “kleur” en “kultuur” nie meer ’n rol sou speel nie.

Die strukturele geweld wat Christelike kerke teen hierdie nuwe verarmde Afrikaners pleeg, is om hierdie nuwe opkomende klasseverskil in die Afrikaanse gemeenskap as ’n geestelike saak te regverdig.

Dit word met die boetedoeningsinstelling van die moderne Christelikheid gedoen. Drie nuwe geestelike woorde is nou in die armoedevraagstuk prominent: geestelikheid, restitusie en regstellende geregtigheid.

Die rykes se vrye assosiasie met die magtiges as vrye enkelinge sonder enige eie gemeenskapsverband en vrye disassosiasie as enkelinge met die Afrikaanses, word deur Christelike kerke en Christelike instellings as ’n geestelike saak voorgehou. Die Afrikaanse gemeenskap mag nie meer kerklik as ’n eie gemeenskap gesien en gereken word nie. Dit word gereken as deel van die ou “volksmentaliteit” van die “apartheidskerke” en as sonde gesien.

Lidmate mag nie meer as Christene Afrikaans of as gemeentes deel van die Afrikaanse gemeenskap wees nie. Hulle Afrikaansheid moet met “geestelikheid” vervang word. In hierdie nuwe “geestelikheid” is dit veral die rykes wat geregverdig voel dat hulle nou hulle krag en reserwes in die “geestelike saak” van die “armstes van die armes” kan ingooi. En hierdie ideologiese benaming sluit gewoonlik Afrikaanses uit.

Met hierdie nuwe “geestelike gemeenskap” kan mense enige verwysing na die nood en lyding van die arm Afrikaanse gemeenskap as “nie-Christelik” ter syde stel of vermy. Dat hierdie nuwe “geestelikheid” saamval met die klasseverskil van ’n nuwe elite-groep van ryk en magtig teenoor hulpelose Afrikaanse armes, wat ideologies geteiken en uitgestoot word, is in hierdie nuwe klassegeestelikheid ’n blindekol.

Restitusie is die woord waarmee hierdie nuwe klassegeestelikheid al die reserwekrag en kapitaal van die Afrikaanse kerke in die visie van nasiebou wil opeis en opneem. Om die krag en kapitaal van die Afrikaanse gemeenskap en kerke, naas die ideologiese en belastingbevoordeling van “die armstes van die armes” vir “nasiebou” of bloot net vir swart gemeenskappe op te eis, word deur kerke as ’n geestelike saak voorgehou. Dit is nou restitusie. Deur net weer staatsbevoordeelde armes met nog meer voordele uit die Afrikaanse burgerlike gemeenskap en kerke te help, word as “heling” en “versoening” van die Afrikaanse gemeenskap met Afrika-gemeenskappe geglo.

Hulp aan arm Afrikaanses kan nie as heling en versoening in hierdie geestelikheid geglo of ervaar word nie. Dat die Afrikaanse armoede hiermee sonder die hulp en bystand van beide die staat en kerke gestel word, kan nie binne die geestelikheid van restitusie meer deur rykes en magtiges raakgesien word nie. Dit is nie meer “helend” en “versoenend” om hierdie ideologies geteikende en geestelik geïgnoreerde groep se armoede raak te sien en na hulle uit te reik nie. Dat dit menslik te traumaties is om hierdie arm Afrikaanse gemeenskap in wanhoop en ellende te herken en dat die omvang en diepte van hierdie saak elke mens feitlik wanhopig stel oor wat gedoen behoort te word, raak die nuwe klassegeestelikheid nie meer nie. Hulle is besig om met staatsondersteunde middele en rykes se welwillendheid “uit te reik” en restitusie te doen.

Maar seker die ingrypendste woord waarmee Afrikaanses in hierdie skuldstrik vasgevang word, is die begrip “regstellende geregtigheid.” Hierdie begrip het die slagwoord van die voorstanders van die Belharbelydenis in die NG Kerk geword.

Hierdie woord se krag lê in die teenstelling wat dit met die belydenisbegrip “regverdigmaking” vorm. Die regverdigmaking wat die gereformeerde kerke glo, is regverdigmaking deur God alleen. Hierdie geregtigheid is die geregtigheid wat net Christus as mens kon bewerk het. Dit is en bly net Christus se geregtigheid. Dit is die geregtigheid wat sondaars toegereken word. Sonder enige prestasie of regstelling van hulle kant af. Dit is die geregtigheid wat jy net kan ontvang as jy dit net met Christus deel. Dit is geregtigheid wat net geglo word, net deur die geloof besit, net deur geloof ontvang en net deur geloof deurleef kan word.

Christus se geregtigheid kan nie mense teenoor mekaar in skuld stel nie. Daarom kan Paulus in Romeine 13:8 sê: “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.”

Maar hierdie geregtigheid is nie vir die nuwe geestelike- en heersersklas genoeg nie. Hulle soek ’n geregtigheid waarin mense teenoor mekaar in morele skuld leef en mekaar moreel baie meer as net liefde skuld. Hulle soek ’n geregtigheid wat jy kan verloor as jy nie aan hulle nuwe moraliteitseise kan voldoen nie. Hulle soek ’n geregtigheid wat jy net deur regstellende aksies kan verkry. Hulle soek ’n geregtigheid waarin jy altyd die skade van sonde self moet herstel en heel. En dit vind hulle in die nuwe geloofswoord: “regstellende geregtigheid.”

Wat is regstellende geregtigheid? Dit is die geregtigheid wat geestelikes aan jou sal toebedeel as jy volgens hulle mening die morele skuld van apartheid klaar afbetaal het. En dis die Afrikaanse gemeenskap wat skuld moet afbetaal. Dis die voorheen benadeeldes wat betaal moet word. Regstellende geregtigheid is die geregtigheid waarin alle kerklike strukture wat die Afrikaanse gemeenskap erken en bedien, opgebreek moet word vir terugbetaling aan voorheen benadeeldes.

Regstellende geregtigheid is die regstellende aksie vir die kerke. Dit is die kerklike weergawe van regstellende aksie in die gemeenskap. Hierdeur moet hulle alles wat in hulle kerklike bestaan en bates is, in diens stel van voorheen benadeeldes om die onregte van die verlede te herstel. Dan sal hulle na hierdie dade deur God “geregverdig” wees. En die nuwe arm Afrikaanses is nie voorheen verontregtes of benadeeldes nie.

Dit is die skuldstrik waarin Afrikaanses dag tot dag in verstrengel word. Hulle word “regverdig” uit die sosiale visie van die owerheid se nasiebou uitgesluit. Hulle word in hulle geleenthede en werk uitgestoot, benadeel en verontreg deur wetlike aksies van die owerheid. Hulle word gemarginaliseer in die welsynsbedryf van die owerheid. In die Afrikaanse gemeenskap word hulle deur ’n nuwe rykmansklas ter syde gestel wat ter wille van besigheid geen gemeenskapbande met Afrikaanses wil hê nie. En dan kom Christelike kerke en instellings en regverdig hierdie strukturele geweld teen hulle as “geestelikheid”, “restitusie” en “regstellende geregtigheid.” Op hierdie wyse word hulle dan ook in die kerk se welsyn “regverdig” gemarginaliseer.

Hierdie mense is die offer vir die skuldspel van die rykes en die magtiges. Die hulpeloosheid van hierdie groepering van mense maak dit nou vir die kerk nodig om hulle te reken as ’n groep wat in besonder in die fokus van die kerk se barmhartigheid moet wees.

Afrikaanse armes is die nuwe hulpeloses wat sonder staat en al meer sonder die vermoeides van hulle eie gemeenskap weerloos aan hulleself uitgelewer is. En hulle is meestal lidmate van die NG en ander gereformeerde kerke.

[Hierdie dokument is voorgelê vir bepreking van die armoedevraagstuk op die NG Kerk-ringsitting van die ring van Louis Trichardt te Levubu op 12 en 13 Augustus 2011 en as besprekingsdokument van die ring goedgekeur.]

[In ds. PJ Kriel se nuwe boek, Protestants. Vry om te protesteer, wat deur Kraal-Uitgewers uitgegee gaan word, word die moderne Christelikheid se vennootskap met Afrikanisering en die impak daarvan op die Afrikaanse gemeenskap aan die orde gestel.]

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Petrus Kriel

Petrus Kriel is dominee van die NG Kerk Levubu.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Jorik van Suid-Afrika ·

‘n Treffende en skerp ontleding! Dit is baie nodig dat ons die verliese ontleed van die enorme skade wat aan ons kulturele selfbegrip (en ons geloofsvisie) te weeg gebring is deurdat Afrikaners die volksbegrip so gretig begrawe het. Die volle omvang daarvan is nog nooit ontleed nie; en die gevolge staar ons daagliks in die gesig – in hierdie insiggewende essay gaan dit o.a. oor die ekonomiese en geestelike nood van die Afrikaners binne plaaslike en kerklike verband. Wat verloor ons nie alles wanneer ons ophou om aan onsself as ‘n volk te dink nie! En wat verloor ander volke in Suid-Afrika langs dieselfde denkweg, oral waar hulle kulturele gronde onder hulle weggekalwe word? In die kommunistiese ideologie moet die staat vir almal sorg – eerstens vir die lede van die Party; daarna krummels vir die massas. Maar die emosionele en geestelike bande wat nodig is vir enige versorgingsaksie ontbreek in sulke sentralistiese stelsels. Binne volksverband en binne kerklike verbande word daardie broodnodige emosionele en geestelike bande gesmee, en stel dit mense in staat om hulle beperkte hulpbronne verstandig en met empatie aan te wend. Lees maar die geskiedenis van helpende aksies in Afrikanergeledere (die Vrouefederasie, die Helpmekaarfonds, die hantering van die armblanke-vraagstuk) en leer die lesse uit daardie geskiedenis. Dit was kennelik die emosionele krag van volkslojaliteit wat daardie organisasies gedra het.

Hannes ·

Ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Dis ‘n baie insiggewende artikel. Sal net waardeer as die woord Afrikaner gebruik word wanneer Afrikaner bedoel word, anders skep dit verwarring met ander Afrikaanstaliges.

Dit is ongelukkig so dat die NG Kerk se openbare stem stil is. Dit lyk regtig of die Kerkleiers so sensitief vir Kerkeenheid is, dat hulle ons gewone lidmate vergeet. Nie in Gemeenteverband waar nog wonderlike werk gedoen word nie, maar in Kerkverband.

Vanwee die gebrek aan openbare kerkleiding, voel die mense nie meer dat die kerk relevant is nie, want hulle hoor en sien nie die Kerk waar daar probleme is soos met Affirmitive Action,  Bee, geweldsmisdaad en staatsverval nie.

Werk vir eenheid ja, maar moenie dat dit julle neutraliseer en die gewone Afrikaner vergete raak nie. Dan gaan die massa Afrikaners ook die Kerk vergeet.

Louis du Plessis ·

Petrus ~

1  In die konseptuele raamwerk wat jy hierbo skep, ontbloot jy helder:
dat die huidige Suid-Afrika deur ‘n klasseverskil gekenmerk word;
dat rykes en sterkes hulle verhef bo armes en swakkes, en selfs teen hulle diskrmineer;  
dat die owerheid, besig om ‘n elitistiese nasie te bou, selfs strukturele geweld teen die armes pleeg;
en, van kardinale belang, dat talle van die hulpbehoewendes inderdaad Afrikaanssprekendes is.

2  In dié sorgwekkende situasie, stel jy meesterlik die vraag:  Het Afrikaanse kinders nog drome oor?

3  Wie kennis neem van jou raamwerk en kommer, besef hoe onmisbaar Solidariteit se Helpende Hand geword het om, vir die Afrikaanse jeug, tot die hulp én drome by te dra.

Propatria ·

Die probleem wat ingesluip het en veral deur die NG Kerk gepropageer is, is dat jy geen naaste het nie, dus is daar geen naaste liefde nie, dit het almalsliefde geword en versteliefde.
 
Ek haal aan;
“Die NG Kerk het die afgelope jare meegehelp aan die proses waarin die
Afrikaanse gemeenskap as geheel homself nie meer as “volk” mag
identifiseer nie, maar moet deel wees van ’n gemeenskap in vrye
assosiasie.”

Bogenoemde kwotasie is n erkening van medepligtigheid aan volksmoord; Om volksmoord te pleeg is dit nie nodig om enige induwidie te vermoor nie maar slegs die ontkenning van daardie volk se bestaan is reeds volksmoord.

Anoniem ·

‘n “Kwotasie” is iets wat mens kry wanneer mens iets wil aankoop.  Ek dink die woord waarna jy soek is “aanhaling.”

Maar jou stelling rakende volksmoord verdien beslis nadenke.  Dankie daarvoor.

Anoniem ·

Ongelukkig beskik die NG Kerk oor die ongesonde tradisie om die politieke orde van die dag na te praat en was die denominasie nog nooit baie tuis buite die warmte van die regeringsbanke nie.

Ek is egter dankbaar dat daar wel steeds diegene binne die kerk te vinde is wat bereid is om hierdie aardse dwaling te bestry.  Die kerk is ‘n uiters belangrike deel van ons gemeenskapservering.

Ek wens vir ds. Kriel baie sterkte toe en kyk met groot afwagting uit na die verskyning van sy boek.

Die lot van ons armes wat met soveel empatie beskryf is, en veral die uitleg van die strukturele meganismes wat hulle in ‘n onhoudbare knyptang plaas, het my aangegryp.

Dink net jouself in die skoene van ‘n kind in, ‘n kind wat swaar kry by die huis met al die sosiale probleme wat met hulpelose armoede geassosieer word, wat dan na ‘n staatskool moet gaan waar sy geleer word dat sy skuldig is aan sonde teen die mensdom en daarvoor moet boete doen.

Ek wil graag vir prof. Louis herhaal deur te onderstreep hoe belangrik die rol is wat Solidariteit se Helpende Hand vervul.  Daarmee saam wil ek graag die rol wat die Oraniabeweging speel uitlig.  Hulle verskaf reeds gesubsidieerde verblyf aan meer as 100 Afrikaners en skep ‘n omgewing waar hulle arbeid en vaardighede hoog op die prys gestel word, en die gemeenskap doen ook baie om hulle te integreer en tuis te laat voel.

Ek is seker dat Orania graag meer sal doen indien hulle die nodige steun daarvoor sou ontvang.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.