Afrikaanse kommentators vasgevang in Euroskeptisisme

brexit2Deur Bart Bouwman

Gerekende rubriekskrywers soos Nico Stegmann, Jaco Kleynhans en Eugene Brink sit die pot behoorlik mis as dit gaan oor Brexit. Ondanks hul puik ontledings oor ander onderwerpe, ry hulle tans saam op ’n Euroskeptiese kommentaargolf en vergeet skoon om verder te kyk as hierdie soort kommentaar. Daar steek seker waarheid in daardie besprekings, maar omdat dit onvolledig is, skep dit ’n verkeerde hosanna-in-die-hemel-beeld van Brexit.

Die Europese Unie (EU) is ’n verdragsorganisasie met 28 lidstate, waarvan die Verenigde Koninkryk een is. Die EU reël dat wetgewing in die verskillende lande dieselfde is, byvoorbeeld op die gebied van ekonomie en markontwikkelings. Die EU het self geen mag om wetgewing te ontwikkel nie. Nuwe beleid word – binne die raamwerk van die unie – onderhandel deur nasionale amptenare. Wanneer wetgewing op ’n land “afgedwing” word, is dit ook ’n meerderheidsbesluit van die lidstate se regerings – nie net van die EU se instellings nie.

Die genoemde rubriekskrywers bespreek ’n verskeidenheid redes waarom die Britte die EU wou verlaat, maar gee bitter min aandag aan die argumente om te bly. Die argumente om te bly word hoogstens afgeskryf as irrasioneel. Die kommentators, wat andersins deurgaans baie goeie insig toon, het hulle waarskynlik laat “vang” deur eensydige Britse media. (Britse media is oor die algemeen nie objektief nie. Bykans elke koerant of uitsaaier het sy eie mening.) Daarby het hulle waarskynlik vergeet om te kyk wat byvoorbeeld die Duitse of Nederlandse media skryf. Dit is tale wat die genoemde kommentators ook beheers.

Genoeg oor die kommentators, laat ek maar die argumente ontleed wat hulle opper. Eerstens word die groot aantal amptenare van die Europese Unie en die “inmenging” van die EU in nasionale sake aangehaal. Tweedens word daar gewys op die rol van die euro en die Europese Sentrale Bank. Derdens word die “inmenging” van die Europese Hof genoem. Vierdens is daar die bedrag wat die Britte aan die EU moet (of moes) betaal. Vyfdens is daar ’n argument wat sê dat die EU kulturele en taalregte ondermyn. Sesdens skryf hulle dat die Europese Unie soewereiniteit van die lidstate oorneem. En laastens, in nommer sewe, is daar ’n argument dat die Europese Unie burgers se veiligheid verminder. Daardie en ander argumente is dikwels (gedeeltelik) onjuis of onvolledig.

Eerstens is daar beweer dat die EU 200 000 eie amptenare het. Dit is egter onjuis. Die EU het slegs 40 000 eie amptenare, wat verdeel is oor 28 departemente. As jy die koffie-juffrouens, die bewakers en die skoonmakers in oënskou neem, is die totale getal slegs 50 000. In vergelyking: die Suid-Afrikaanse nasionale owerheid het meer as 450 000 amptenare. Die getal van 200 000 EU-amptenare bestaan uit die 50 000 eie amptenare, 20 000 mense van drukgroepe én ongeveer 130 000 nasionale amptenare uit 28 lidstate, wat namens hul land een of meer keer per jaar na Brussel reis om te onderhandel oor nuwe beleid. Nuwe beleid van die EU word slegs ontwikkel deur nasionale amptenare en as beleidsdokument na die Europese Kommissie gestuur – nadat die Raad van Nasionale Ministers (Europese Raad) sy goedkeuring gegee het. Daar is dus geen manier dat die Europese Unie “eie” beleid maak sonder goedkeuring van die meerderheid lidstate nie. Die Europese Kommissie mag slegs hierdie beleid – waaroor ooreengekom is deur die nasionale amptenare en goedgekeur is deur die Raad van Nasionale Ministers en later die Europese Parlement – uitvoer. ’n Mens sou kan redeneer dat wetgewing ook ’n enkele land kan raak as die 27 ander lande dit wil. Dit is egter ook onmoontlik omdat EU-wetgewing (dis eintlik verdrae) vir die hele EU geld.

Tweedens word die euro en die Europese Sentrale Bank genoem. Die euro en die ESB is egter geen deel van die Europese Unie nie. EU-lidstate wat die euro tot stand wou bring, het ’n nuwe unie gestig: die Europese Monetêre Unie (EMU). Die EMU is slegs verwant aan die EU, maar val nie onder toesig van die EU nie. Die EMU het ook geen eie gesamentlike verteenwoordiging (soos die EU-parlement) nie, wat die invloed van die EMU-lidstate nog groter maak. Die koste van die duur euro is dus geen koste van die EU nie. Aangesien die Verenigde Koninkryk geen lid is van die EMU nie, ondervind hulle geen enkele nadeel van die euro nie.

Derdens word daar oor die Europese Hof (van Justisie) gepraat. Daardie hof het slegs beperkte bevoegdhede: dit kan net toets aan verdrae van die Europese Unie. Dit kontroleer of EU-ooreenkomste goed in werking gestel is in alle lande. Daardie ooreenkomste is mos voorgestel én goedgekeur deur die EU-lidstate self. Die hof waarteen die meeste weerstand is, is die Europese Hof vir Menseregte wat onder die Raad van Europa (let wel: dis nie die EU nie) val. Die Europese Hof vir Menseregte gryp wel in by nasionale wetgewing sonder dat daar ’n meerderheid van lidstate is wat dit steun. Die Raad van Europa is ’n internasionale organisasie waarvan byvoorbeeld ook Rusland, Turkye en Oekraïne lid is.

Vierdens: Dit is waar dat die Britte 350 miljoen pond per week (18,2 miljard pond per jaar) aan die EU moet betaal; nes by elke lidstaat is die bedrag gegrond op die aantal inwoners. Dit is egter nie die volledige storie nie, want die meeste geld wat die Europese Unie ontvang, word terug na die lidstate gestuur. Die landbousubsidies vir boere is 40% van die totale EU-begroting en bedra ’n massiewe 60 miljard euro per jaar. So ontvang die Britte meer as 150 miljoen pond per week. Hulle betaal netto geen 18,2 miljard pond per jaar nie, maar “slegs” 9,8 miljard. Op ’n jaarlikse Britse begroting van 772 miljard pond is 9,8 miljard “peanuts” oftewel 1,2% van die Britse begroting.

Vyfdens word daar betoog dat die EU kultuur- en taalregte beperk. Dit is onwaar. Die EU versterk juis kultuur- en taalregte van inheemse minderhede. Dit is waar dat kulturele en taalkundige hegemonie op nasionale vlakke onder druk staan. Dit is logies, want hierdie strukture het minderheidstale in byvoorbeeld Nederland, Frankryk en Spanje geen kans gegun om te ontwikkel nie. Die Franse, Spanjaarde en Nederlanders het ’n sterk assimilasie-politiek teen inheemse, binnelandse minderheidstale gevoer, wat amper tot die afsterwing van tale soos Fries, Bretons, Baskies en Katalaans gelei het. Die EU dwing lande om inheemse minderheidstale te erken en sekere regte te gee. En ja, dit tas die posisie van “nasionale” tale aan. As die Afrikaners ernstig is oor die posisie van Afrikaans, behoort hulle eerder te pleit vir die inwerkingstelling van Europese reëls ten aansien van minderheidstale as om dit te verwerp as fiktiewe destruktiewe politiek. Die EU het met rede 24 amptelike tale en is die grootste werkgewer vir vertalers wêreldwyd.

Sesdens skryf die rubriekskrywers dat die Europese Unie te veel soewereiniteit oorneem van die nasionale regerings. Dit is waar dat die EU soewereiniteit by die nasionale regerings wegvat, maar dit beteken nie die soewereiniteit word Europees nie. Soms  word soewereiniteit (sektore waar alleen die nasionale regering seggenskap gehad het) opgedeel. Volgens die subsidiariteitsbeginsel hoort bevoegdhede op die vlak waar hulle die beste gereël kan word. Die verskuiwing van soewereiniteit – in elke willekeurige rigting – kan slegs plaasvind as die lidstate self daartoe instem. Soms gaan bevoegdhede na Europa, soos in die landbou- en energiebeleid, maar meestal gaan bevoegdhede na laer owerhede soos provinsies of munisipaliteite. Dit het tot gevolg dat reëls per provinsie of munisipaliteit kan verskil, wat gedeeltelike outonomie vergroot en reëls beter afgestem maak op die omgewing.

Let wel, danksy hierdie verskuiwing van soewereiniteit het minderhede eie bevoegdhede en daarmee eie instellings gekry. Dit geld vir sekere bevoegdhede ten aansien van plaaslike ekonomiese stimulering, openbare vervoer en talle ander bevoegdhede soos taal- en kultuurregte. Bevoegdhede insake taal- en kultuurregte vir minderhede behoort volgens die EU by dié minderheidsgroepe te lê. Die Friese taal was tot 2011 gereguleer deur nasionale wetgewing van Nederland, maar regulering daarvan lê sedertdien by die provinsie Fryslân/Friesland. Sedertdien is daar ’n groot groei in dubbelmedium-skole (waar skole voorheen slegs Nederlands-medium was) en die provinsiale uitsaaier het Fries as belangrikste taal ingestel. Danksy eie instellings kan minderhede ook internasionale skakeling doen, soos die Solidariteit Beweging in Suid-Tirol ervaar het. Dit veroorsaak dat amper elke Europese minderheid wat onafhanklik wil word of ’n mate van selfbestuur wil kry aanhangers van die Europese Unie is. Die genoemde Afrikaanse kommentators besef dalk nie dat Euroskeptiese partye vir nasiestate staan en nie vir minderheidsregte nie. Hierdie Euroskeptiese partye wil dikwels sterk, gesentraliseerde nasiestate herstel – ook as dit ten koste van minderheidsregte sou wees.

En laastens, as beswaar nommer sewe, sou die EU veiligheid in die lidstate verminder, want oop grense bestaan binne die Schengen-gebied. Wat nie vertel word nie, is dat die EU nie verantwoordelik is vir grensbewaking nie, maar dat lidstate dit self doen. So is die Europese/Schengen-grens tussen Griekeland en Turkye ’n Griekse aangeleentheid en die grens tussen Bulgarye en Turkye ’n Bulgaarse aangeleentheid. Die hele veiligheidsvraagstuk is trouens ’n vraagstuk waaroor die EU niks mag sê nie. Dit is dus baie moeilik om die EU die skuld te gee vir enige probleme met veiligheid. Wat in die Britse saak nog meer stunning is, is dat die Britte geensins deel van die oopgrense-Schengen-gebied is nie. Onwettige immigrante van buite die EU wat na die Verenigde Koninkryk reis en dit binnekom, is dus nie die skuld van die EU nie, maar van die Britse regering self. Ja, oop grense veroorsaak vir seker probleme – ek sal dit nie ontken nie – maar oplossings lê op die nasionale vlak en nie “in Europa” nie.

Eugene Brink skryf nou dat die wil van die meerderheid toegepas moet word en dat ’n Brexit dus moet kom. Van ’n senior navorser van Solidariteit het ek ’n subtieler standpunt oor die verhoudings tussen ’n meerderheidstem en ’n minderheidstem verwag. Daarby is ’n Brexit – ondanks die klein meerderheid (52%) wat vir ’n vertrek gestem het – hoogs onseker. Brink sê dat die handelsgevolge vir die Verenigde Koninkryk nie so groot sal wees nie, omdat die land so magtig is. Die gevolgtrekking kom myns insiens te vroeg. Volgens die Wêreldbank is die Europese Unie die grootste, magtigste handelsblok op aarde: dis groter as China en Japan tesame. Meer as 50% van die Britse handel gaan na die EU. Wedersydse handel tussen die EU en die VK bedra 460 miljard euro per jaar (7 472 miljard rand) én hierdie feit verskaf ’n groot magsposisie vir die EU. Die uiteindelike gevolge vir die Brise ekonomie is gewoonweg afhanklik van die ooreenkomste en verdrae wat die VK en die EU gaan beding oor die VK se uittrede.

Daar is nog talle (ander) moontlikhede vir nuwe verhoudings tussen die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk. Skotland kan byvoorbeeld in die EU bly, terwyl die res van die Verenigde Koninkryk uit die EU vertrek. Nederland (Antille) en Denemarke (Groenland, Faroëreilande) is ook nie volledig lid van die EU nie en dele van dié lande val buite die Europese Unie.

Euroskeptiese mense in die res van die EU sal miskien nie die wenners van ’n Brexit wees nie. Met die vertrek van die Verenigde Koninkryk verlaat ’n groot Euroskeptiese land die EU. Dit sal voorstanders van een soewereine, verenigde Europa sowel as die voorstanders van Frans-Duitse samewerking meer ruimte gee om hul ideale na te streef. Die balans binne die EU se Raad van Nasionale Ministers verander so dat teenstanders van verdere federalisering of Frans-Duitse planne (onder wie Nederland en Denemarke) minder as 20% van die stemme het. Dit maak veranderinge wat oor “minder EU” gaan moeiliker. Veranderinge sal dan slegs kan geskied binne die nasionale lidstate, wanneer hulle sal stem om die EU te verlaat. En dit sal ’n ramp wees vir my land.

As Nederlanders is ons afhanklik van die mate waarin ons met die wêreld kan handeldryf. Ons het wêreldstede soos New York en Kaapstad gestig met die oog op handel. Ons het met Rotterdam en Amsterdam twee van die vyf grootste hawens in Europa en is afhanklik van oop grense binne Europa om te kan handeldryf. Ons multinasionale ondernemings soos Heineken, Shell, Unilever, Philips, en die voormalig Nederlandse Biliton en Makro, is oor die hele wêreld gevestig. Nederland het  slegs ’n klein eie ekonomie: Die gesamentlike invoer en uitvoer van Nederland is groter as die BNP, waar die gesamentlike Britse invoer en uitvoer “slegs” 45% van die Britse BNP is. Daarmee is die gevolge van ’n “Nexit” baie groter as ’n Brexit.

Daar is tans seker ’n gevoel van onrus, onveiligheid en boosheid onder talle burgers in verskeie Europese lande. Die rede hiervoor is dat die bestuur-elite te min luister na die bevolking. Die feit dat burgers weens belaglike reëls boos word vir die Europese Unie word veroorsaak deur nasionale politici, wat partykeer nie eerlik is nie. Dikwels hou hierdie nasionale politici die EU as skuldige vir belaglike reëls voor, terwyl hulle self dié wette en reëls in hul nasionale parlemente ontwikkel het! En as daar belaglike reëls uit die EU se koker kom, is dit in elk geval nog steeds (gesamentlik in die EU) ontwikkel deur nasionale amptenare wat onder toesig van nasionale politici staan.

Nee, ek is nie pro-EU nie. Ek beskou myself as Eurokrities. As ons debatteer oor die Europese Unie moet dit egter nie gebeur op grond van vooroordele nie, maar op grond van feite: Die Europese Unie bestaan nie uit homself nie. Dit bestaan danksy die lidstate. Die EU doen net wat die (meerderheid van die) lidstate wil. Dit is tyd dat die nasionale politici in EU-vergaderings doen wat hulle in hul eie lande verkondig. Anders gaan burgers afreken met die EU sowel as hul nasionale politici, wat lande in verstomming en chaos sal agterlaat. En dit is presies wat tans in die Verenigde Koninkryk gebeur.

Ek dink die grootste fout wat baie Euroskeptiese Afrikaners maak, is dat hulle die EU se identiteit en wese vergelyk met die sentralisme van die huidige ANC-regering. Die EU is egter allermins sentralisties. Die status van die EU is eerder soos ’n permanente Kodesa-vergadering.

 

 

Bart Bouwman skryf al sedert 2010 oor die algemene politiek in Suid-Afrika, Afrikaner-politiek en nuwe verwikkelings met betrekking tot taal- en kultuurregte in Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Paul ·

Indien die EU soos ‘n “permanente Kodesa” is, is dit die wysste besluit ooit om so vinnig as moontlik daarvan weg te hardloop. Een van die ergste beledigings vir ‘n organisasie ooit. Maar sekerlik ‘n raak beskrywing.
Verder is daar in die tweede laaste paragraaf mos ook ‘n paradoks beskryf. Jy sê dat die EU slegs doen wat die meerderheid van die lidstate wil, maar dan net daarná dat die politici in die EU-vergadering moet doen wat hulle in hul eie lande verkondig.

Indien dit dan nie tans die geval is nie, doen die EU mos nie wat die mense wil nie. Dan is daar twee keuses – onttrek uit die EU of “hervorm” die EU van binne.

Bart ·

Dit is geen paradoks nie, want die EU doen wat ‘n meerderheid van die lidstate wil. Wat ‘n lidstaat wil, word bepaal deur die maghebbers (en dus politici) en nie deur die volk(e) nie. Die EU asook lidstate kan net doen wat (groepe) burgers wil as politici bereid is om wat hul belowe het by verkiesings ook in EU-vergaderings te vertel.

Die punt is dat ‘n volk of groepe burgers geen mag in daaglikse sake het nie. Die volk kies verteenwoordigers wat mag het, en as hierdie verteenwoordigers nie doen wat hulle sê, is daar ‘n groot probleem. ‘n Hervorming van die EU of onttrekking daarvan lei is nie geen oplossing vir die probleem dat politici nie doen wat hulle sê nie.

Paul ·

So jy identifiseer ‘n spesifieke probleem: dat politici nie altyd doen wat kiesers wil hê nie.
En tog stel jy voor dat dit binne die EU beter is as daarbuite, t.o.v. jou geïdentifiseerde probleem ook? Ek begryp nie hoe nie.
Indien die probleem politici is wat nie luister na kiesers nie, wil mens sekerlik minder “lae” van politici hê as meer. Minstens is hulle dan nader aan die mense wat hulle verkies het en kan makliker verantwoordbaar gehou word.

Pietman ·

Die stelling dat die EU self nie mag het om wetgewing te ontwikkel nie is vals. Die wetgewende proses bestaan uit die parlement, die raad en die kommissie. Slegs die kommissie kan wetgewing voorstel. Die kommissie kan ook die raad dwing op wetgewing eenparig te steun ( ons weet die kans op eenparigheid tussen 28 lidlande is nul). En laastens het die kommissie ook die mag om sekere wette ( rakende monopolië en konsessies, ensovoorts) self te maak. Die kommissie is onder eed verplig om die belange an die EU te dien en nie die van lidlande nie. Kommissie lede word nie verkies nie maar genomineer deur lidlande. Hulle het dus geen aanspreeklikheid teenoor die kiesers van hul lande nie.

Jcwf ·

Jy het reg dat daar ‘n Europese parlement is wat direk deur die burgers van Europa gekies word, maar hul mag is (baie) beperk. Een van die mag wat hulle wel het is die kommissie tuis toe te stuur en die kommissie moet ook verantwoordig afle in die parlement. Hulle word soos jy se deur die lidstate (die Europese Raad) benoem maar hulle moet bevestig word deur die parlement. Die laatse keer dat dit gebeur het, het die parlement egter vir die Raad gese: neem Juncker c.s. en die Raad het dit opgevolg.

Jy het dus nie reg dat daar geen aanspreeklikheid sou wees nie, maar daar is seker ‘n demokratiese tekort. Dit kan egter opgehef word deur aan die parlement volle magte te gee, ook die inisiatief om wette te maak byvoorbeeld..

Theuns ·

Bart nee wat. Jy sal my moeilik oortuig. Lees Herman Toerien se kommentaar wat hier naas joune aangegee word. Maar jy is geregtig op jou opinie. Groete.

Paul ·

Ek let nou eers op na die gebruik van die term “euroskeptisisme”. Hoewel dit op sigself eintlik al ‘n skeldwoord geword het (mag mens dan nie skepties wees oor sommige dinge nie?) dink ek ook nie dis die korrekte beskrywing van “Afrikaanse kommentators” reaksies of houdings nie. Dis baie meer algemeen skepties oor “groot regering” as slegs euroskepties.

Oom Ekonoom ·

Om deel van die EU te wees is goed vir die superrykes, sleg vir die middelklas, plaaslike armes en die wat hulle kultuur wil beskerm.

Kesler ·

Ek was noudiedag in die ooste van londen. Ek dog ek het per ongeluk na Bangladesh gevlieg. Nie n enkele Brit in sig nie.

Europaman ·

Ons is moeg daarvoor om die minderheid in ons eie woonbuurte te word.

Kaufman ·

Die Afrikaners weet hoe dit voel om n rat voor die oe gedraai te word. Daar was vir die Afrikaners belowe dat AKs mooi sal uitdraai en hul kultuur, skole, taal nie bedreig sal word as hulle diversiteit toelaat nie. Die Afrikaners is nie meer naief nie. Europeers besef dat dit ook hulle voorland is, daarom die herlewing van nasionalisme.

Leeukop ·

Verkeerde media keuse vir hierdie skrywe. Dit is Media 24 wat die Afrikaners probeer afkraak en laat sleg voel oor onsself, nie Maroela nie.

Therese van Schalkwyk ·

Ek het Stegmann, Kleynhans en Brink se puik artikels geensins as “hosanna-in-die-hemel-beelde van Brexit” ervaar nie. Inteendeel. Dit was fris en vars en met baie meer balans as die eenvormige gesanik in die ‘hoofstroommedia’.

Hoe meer ek lees van die grootbaas van die EU, Jean-Claude Juncker, hoe beter klink Brexit. Volgens berigte in oorsese koerante klou hy soos ‘n wafferse magshonger Sepp Blatter aan sy onverkose rol, midde van oproepe vir sy bedanking en vrae oor sy gesondheid en drinkgewoontes. Sy arrogante houding teenoor Brittanje kort na die stemuitslag het veral opgeval.

Moet sê, die Britse leiers se optrede ná Brexit beïndruk oor die algemeen glad nie.

Hans ·

Die skrywer tas lelik rond met die stelling dat elke land verantwoordelik is vir sy eie grense. Indien jy ‘n burger is van ‘n EU lidland het jy outomaties sekere verblyf regte en vryheid van beweging in alle EU lande. Dws indien vlugtelinge in Portugal EU paspoorte kry mag hulle in die VK gaan bly en het ook dan vryheid van beweging. Schengen Visums is slegs van toepassing op lande buite die EU. Dws indien ander lande vlugtelinge inlaat en aan hulle EU paspoorte toeken het die VK GEEN BEHEER oor hul grense nie juis omdat hul deel van die EU is.

Liberalis ·

Die nuwe liberalis, die ware liberalis, is iemand wat die insig het om te sien as die media sy of haar siening probeer beinvloed. Om te besef dat Anglo amerikaanse kultuur afdwing en een van die dae middle oosterse en Afrika kultuur afdwing eintlik baie eensydig en konsevatief is. Dat dit liberaal is om jou eie kultuur te wil uitoefen net soos bogenoemde groepe wil. Dat dit beslis nie liberaal is om maar net om te rol en jouself te subject aan die powers that be nie. Lank lewe Afrikaans en kulturele diversiteit in Europa, en weg met die wat ons probeer breinspoel om een enkele new age wereldkultuur aan te neem!

Theuns ·

Manne en Dames julle kommentaar is skitterend en wys dat die Afrikaner vir homself kan dink!
Dankie en mag Maroela en ons ander media die grootste en kragtigste media in die land word!

Kaufman ·

Ons is besig om op te staan, saam te staan en nie meer toegelaat te word om gebreinspoel te word nie. Jy kry nog die naiewes wat val vir DA propaganda en populus media breinspoeling maar Maroela gee nou n platform vir n nuwe era van dinkskrums en leiers om te gesels en planne te maak. Ek gaan hieronder n belangrike voorstel aan Maroela maak rondom die feit dat hulle so n sterk en onafhanklike medium is.

julius ·

Ek stem saam. Hierdie ou weerspreek homself so baie dat hy homself glo. Ons is nie so dom as wat hy dink nie. Die Eu is net vir geld en nogmaals geld.

Kaufman ·

Maroela, julle doen baie goeie werk onder ons en dankie daarvoor. Oorweeg om vertalers en swart mense aan te stel (druk gaan inelkgeval binnekort op julle kom om julle personeel te “diversifiseer”) en dan bied julle soortgelyke media in een Nguni taal en een Sotho taal. Of in Engels maar gemik op die swart leser. Ek weet dat ons nie net moet als doen vir ander nie maar as daar een ding is wat nie net in ons belang is nie maar in die hele land se belang is dit om die swartmense in te lig oor die waarheid, hulle oe oop te maak.

Jcwf ·

Baie dankie Bart

Ek hoop dat dit die hoeveelheid twak wat hier oor ons Europeane gepraat word tenmiste ‘n bietjie sal beperk.

Leopold Scholtz ·

Mense, Bart weet waarvan hy praat. Ek ken hom persoonlik goed as ‘n ernstige student met ‘n warm hart vir Afrikaans en ons land. Wat hy skryf, is alles waar. Dit lyk my Poetin en die EU laat alle ekstremiste – links en regs – uit hul gate kruip. Dis die twee terreine waar linkse en regse ekstremiste gesellig styf teen mekaar lepel l^e. Veels geluk, Bart, met ‘n nugtere en akkurate artikel.

John ·

Leopold en Bart het presies dieselfde sienings, vandaar die klop op die skouer. Bart weerspreek homself telkens. Die EU het geen seggenskap oor ander lande nie, maar skryf voor. Hoe rym dit? Soos altyd nog glo Europeers hulle is slimmer as Afrikaners. Hull vrees vir nog ‘n wereldoorlog is deur sekere groepe, veral Duitsland, wat die bangste vir Rusland is weens sy oorwinning oor die Nazi’s, aangegryp om hul magsbasis uit te brei. Daar moet ‘n vyand wees om bang te kan maak. Rusland is die aangewese land. Sy terugneem van die gebied waarin Russe bly, en vroeer aan Rusland behoort het, word nou omgeswaai tot ‘n misdaad. Lank terug was dele van due Ukraine ook deel van Rusland en het Russiese prinse in Kiev gewoon vandaar die ortodokse kerke daar. Lande in die EU is weer besig om hul grensdrade te herstel, hoekom? Ons Afrikaners staan buite die probleem, vandaar’n ander perspektief, en nie ons onkunde nie. Afrikaners het swaar lesse geleer, ons eet nie meer alles vir soetkoek op nie ook nie geskrifte deur voormalige Suid-Afrikaners wat nou ‘veilig’ in EU-arms rus nie.

Emma ·

In hierdie artikel bevestig die skrywer telkens die “euroskeptisiste” se argument, kwalifiseer of verdraai dit effens en maak dan of dit ‘n teenargument is – klink nie vir my na objektiewe beoordeling nie. Wat probeer hy eintlik se? As eienaar van ‘n klein sake-onderneming in Engeland en middelklasinwoner op die platteland, kan ek bevestig dat EU-voorskrifte die gewone man se lewe baie moeilik maak en dat dit by verre die algemene gevoel is in ons omgewing. My waarneming is dat Soewereiniteit verseker die groot motivering vir die Uit-stem was, met bekommernis oor kultuurverandering van gemeenskappe deur immigrasie, soos ervaar deur die “gewone” man (Commonwealth-immigrasie uit Indie en Pakistan bv.) ‘n sterk tweede rede. My waarneming oor die media is juis dat die “Bly”-stem voorgestoot is, maar die argumente daarvoor het die rykes beindruk en die meeste gewone mense koud gelaat, alhoewel sommiges bang gepraat is – van daar die klein meerderheid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.