Afrikaanse mense moet die wêreld weet

wêreldNee, Joop den Uijl is lank nie meer die eerste minister van Nederland nie. En nee, ook nie meer Pierre Trudeau van Kanada nie, en ook nie meer Lebua Jonathan van Lesotho nie.

En Idi Amin van Oeganda het lank reeds afgesterf.

Dit weet die meeste van ons, maar wie is in hul plekke?

Wie onthou die Zambiese presidente na Kenneth Kaunda?

Die ironie, die voorbeelde wat genoem is, dateer almal uit die isolasiejare – toe skoolkinders nog die regeringshoofde en hul hoofstede moes leer en kon afrits. Kwalik ‘n nuusbulletin het verbygegaan sonder dat Suid-Afrikaners kon hoor wat hierdie leiers te sê het.

Dalk, juis miskien omdat hulle so hul monde oor Suid-Afrika uitgespoel het dat hulle so goed onthou is. Maar het Suid-Afrikaners hulself nie dalk juis na die opheffing van isolasie akualiteitsgewys terug in isolasie geplaas nie?

Het algemene kennis oor die jare verminder, en indien wel, hoekom juis noudat die internet en ander kommunikasie die wêreld letterlik ‘n neutedop gemaak het?

Daar is minstens ‘n persepsie dat algemene kennis verswak. Die ouer garde skud die kop en kla oor die jonges wat geen benul het wat in die wêreld, of selfs die land, aangaan nie. Die jonges weer meen dit help nie om die “ou mense” iets te vra nie, want die “ou ballies weet niks.”

Is beide groepe dalk reg oor die ander?

Die eens gewilde program, Flinkdink, se Edwil van Aarde, moes by geleentheid plek maak vir ‘n ander aanbieder. Die nuwe aanbieder se gebrekkige algemene kennis was ‘n reuse verleentheid – nie sy skuld nie – maar wie het geoordeel hy is ‘n geskikte aanbieder?

Op ‘n ander aktualiteitsprogram van RSG het ‘n Stellenbosse professor as “kundige” sy naam met ‘n yslike plank geslaan toe hy die situasie in Sirië vir die luisteraars moes uiteensit. Onder die opvallendste blapse was om die Baath-party (Pan-Arabiese sosialisme) met ‘n vertakking van die Islam te verwar.

Onlangs het ‘n groot koerant weens ‘n gebrek aan plasingsruimte “die buiteland vir die dag afgeskaf.”

Word buitelandse koerante via die internet geraadpleeg, maak buitelandse nuus ‘n groot deel van hul nuuswêreld uit. Van die dertien jongste berigte wat op Trouw se webwerf bygewerk is, is ses uit die buiteland – trouens, een sommer uit die buitenste ruimte. Trouw is pas as die beste koerant in Europa bekroon.

By die Los Angeles Times is omtrent ‘n derde van die nuwe berigte uit die buiteland. Die helfte van De Standaard van België se nuutste byvoegings is Buitelandse nuus, terwyl ook ‘n derde van die Berliner Umschau se byvoegings uit die buiteland was.

Slegs een van RSG se elfuurbulletin se ses berigte het op dieselfde dag oor die buiteland gehandel.

Dit is natuurlik nie ‘n wetenskaplike steekproef nie. Boonop is heelwat buitelandse berigte ook regstreeks vir die lande van die koerante van belang.

Dit is natuurlik so dat Suid-Afrikaners wat toegang het tot die internet byna enigiets blitsvinnig kan “Google.” Die behoefte om ‘n vrag kennis in die kop saam te dra is dalk nie meer so sterk nie. Maar presies hoe analiseer ‘n leë kop sy eie situasie?

Nie almal kan immers mediese dokters wees nie, en nie almal kan, of wil aktualiteitspraktisyns wees nie.

Onderskat die media die publiek se belangstelling in die buiteland, of stel die deursnee lid van die publiek werklik nie belang wat in die buiteland aangaan nie? Onder die Afrikaners, waarvan baie se familie in diaspora is, klink dit onlogies.

Die meeste van ons ken dit: Tydens Sewende Laan se speeltyd maak daai telefoon nie ‘n piep nie, maar sodra die nuus begin, dan begin dit lui.

Kort-kort daag ‘n e-pos op met die grootste wolhaarstorie denkbaar wat vir die waarheid opgedis word. ‘n Mens druk die “delete”-knoppie, maar ‘n ruk later duik daai einste wolhaarstorie (soms met nog ‘n wolhaarstertjie of twee by) op, en kort voor lank moet radiostasies spesiaal berigte begin uitsaai om paniek te keer.

Van dié wolhaarstories vind egter ook hul weg na die hoostroommedia, soos die berig wat gelui het dat ‘n boer ook in die Bolandse onrus omgekom het. In een berig is die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, self as bron genoem.

Daar  is “opflikkerings” waar meer mense skielik begin belangstel wat in “anderland” gebeur soos onlangs met die Amerikaanse presidentsverkiesing. Trouens, namate die verkiesing nader gekom het, het baie Suid-Afrikaners selfs ‘n basiese begrip oor die verkiesingstelsel begin vorm. Baie van die berigte en besprekings was egter erg subjektief, maar die skrywers het daarmee weggekom omdat die deursnee-leser gewoon nie oor die agtergrond beskik het om dit te beoordeel nie.

Dit is so dat Suid-Afrika self ‘n groot nuusland is. Trouens, die buiteland neem veel meer kennis van Suid-Afrika as wat Suid-Afrika van byna al die lande in die wêreld kennis neem. Die plaaslike nuusbronne bied baie stof aan plaaslike lesers en luisteraars – as hulle maar net van die nuus wou kennis neem.

Maar so baie van daardie nuus is van so ‘n aard dat dit die gemoed nie goed doen nie. Suidelike Afrika is die streek met die hoogste moordkoers ter wêreld, en Suid-Afrika s’n is ‘n aks hoër as die streek s’n. El Salvador, in die streek wat die tweede hoogste moordkoers het, het pas sy derde moordvrye d dag van die jaar gevier.

Voeg hierby dat die land die hoogste verkragtingskoers in die wêreld het, dat veediefstal sekere streke so lamlê dat die boere nie meer daar met vee kan boer nie, die hoë werkloosheidskoers, die aanslae teen (onwettige) immigrante, plaasaanvalle, renosterstropery, veldbrande, korrupsie, munisipaliteite wat op strepe in die hek duik by die ouditeur-generaal, dan is daar inderdaad meer as genoeg galbitter nuus.

Trouens, daar is kort-kort pogings om brieke vir hierdie nuus aan te draai. Die ANC het ‘n wantrouedebat probeer smoor, ‘n klomp vrae oor Nkandla hang nog in die lug, dr. Blade Nzimande stel wetgewing voor om te keer dat die president beledig word, die SAUK kry instruksies om sekere terminologie nie te gebruik nie, Radio Pretoria word gelas om ‘n klomp van sy senders te sluit – wat darem deur regsaksie gestuit word – en die DA sit nog sonder die inligting wat die appèlhof gelas het die Nasionale Vervolgingsgesag moes oorhandig. En toe van die inligting gelek word, probeer die NVG ‘n interdik teen die verspreiding van die koerant kry. En bietjie in ‘n ander verband, kom daar oproepe uit die ANC-dampkring dat Suid-Afrika se wyne in die buiteland geboikot moet word.

Beide die keiserlike Japan en China het eens in selfopogelegde isolasie gegaan … en die prys daarvoor betaal.

Is kennis van die wêreld en wêreldgebeure nodig?

Klaarblyklik, want dis waar buitelandse beleggings vandaan moet kom. Dis waar die internasionale persvryheidsindeks, en die ander indekse opgestel word.

Die buiteland is waarheen die Afrikaners sy saak moet verkoop, of dit nou die kwessie van plaasmoorde is, of die teenspoed wat minderheidsregte by die regering op die lyf loop.

Dit is baie mense se stamlande. Trouens, met die uitsondering van die San kan elke persoon in Suid-Afrika sy stamland buite die Suid-Afrikaanse grense vind. Mense wie se stamlande in Afrika lê, verwys graag na die Afrika-agenda, maar daar is immers ook veel positief uit Westerse en Oosterse lande te neem.

Die uitwaartse kyk is nie by alle Suid-Afrikaners afwesig nie. Die regering het alles in sy vermoë gedoen om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma tot voorsitter van die Afrikakommissie verkies te kry. Suid-Afrikaners dien is vredesmagoperasies in Soedan. Ministers en hul afvaardigings se gereelde peperduur ekskursies na die buiteland word gereeld bevraagteken, veral as sake tuis in hul portefeuljes ontbrand.

Suid-Afrika het hard geveg om ‘n hap van die internasionale SKA –projek los te slaan.

Is dit dan werklik net die Afrikaanse media wat die indruk van ‘n eietydse laertrekkery skep? Of is die huidige jonger generasie bloot die produkte van die isolasie wat teen hul ouers gemik was?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae