Afrikaanse onderrig: Die skrif is aan die muur

Die Afrikaanse taalmonument in die Paarl. Foto: Nico Strydom

Vir jare skryf en waarsku onderwyskundiges dat Afrikaans in die doofpot is.

Met die onlangse uitspraak deur hoofregter Mogoeng Mogoeng oor Afrikaans by Kovsies moet mens nou maar eerlik vir mekaar sê ’n dolk is deur die taal se hart by universiteite gesteek. Hier en daar poog ’n dosent nog om onderrig in die laaste druppels bloed van die taal te gee.

Maar dis verby. Heeltemal verby met Afrikaans by openbare hoëronderwysinstellings.

Die uitspraak het ook ’n ander werklikheid bevestig. Die Grondwet beteken niks. In elk geval nie vir minderhede, en in die besonder Afrikaners, nie.

In die Kovsie-uitspraak is finaal bewys dat regsbeginsels nie geld, of oorweeg word nie. Uitsprake is gegrond op ideologiese en politieke oortuigings en emosies van sommige (hoofsaaklik swart) regters.

Afrikaans is die vyand. Dit moet dood. Dit het geen bestaansreg nie. Net soos al die ander inheemse tale.

Met dié skokkende uitspraak het die skille hopelik van meer goedgelowige landsburgers se oë begin val. Die Grondwet is nie daar om Afrikaners of minderhede se regte te beskerm nie. Die teendeel blyk eerder waar te wees. Deur diesulkes se regte te misken, word ’n boodskap uitgedra dat hulle, hul taal, hul kultuur en hul geskiedenis tot in die verre duisternis gewerp moet word. Dit is die heersers se eintlike bedoeling met “radikale transformasie”.

Terwyl Afrikaans nou by universiteite uitgewis is, is dit sekerlik nie vergesog of naïef om te dink dat die volle aanslag nou na Afrikaanse openbare skole sal uitbrei nie.

Dit het in die lig van die afgelope week se gebeure by Hoërskool Overvaal reeds ontvou. In die oë van die regeerders en linkse meningsvormers moet Afrikaans in dié geval die skuld kry vir rassespanning, vandalistiese optrede deur betogers en haatspraak deur die ANC en EFF. Vergeet van die feit dat hierdie kruitvat ontstaan het omdat die onderwysdepartement en amptenary, en veral Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, onbevoeg is om genoeg skole te bou en swak skole reg te ruk.

Afrikaanse ouers moet hul maar vanjaar vir die ergste voorberei.

In die lig van die Kovsie-uitspraak, kan mens amper voorspel wat die uitkoms van die onderwysdepartement se appèlaansoek teen die Overvaal-uitspraak gaan wees.

Die skrif is aan die muur vir Afrikaans, maar die stryd is nog nie gewonne nie.

Dit is nou in die hande van elkeen vir wie Afrikaans belangrik is, om met mag en mening daarvoor te baklei, daarvoor op te staan en daaraan vas te klou. Daar rus ’n ongelooflike groot verpligting op die ouers van kinders in Afrikaanse skole om nou op ’n beskaafde, dog afdwingbare wyse op te tree om te verseker dat Afrikaans as onderrigtaal in skole behoue bly waar dit nog aangewend word.

Wat hoër onderwys betref, rus daar ’n enorme verpligting op elke ouer van voornemende studente om instellings soos Akademia en Sol-Tech as voorkeurinstellings te oorweeg en finansieel tot die uitbouing hiervan by te dra.

En wat Jan Publiek betref: As Afrikaans jou hartstaal is, praat dit dan uit jou hart en ondersteun die voortbestaan daarvan deur byvoorbeeld hoë gehalte boeke te koop. As die hele wêreld dan nou teen Afrikaans in opstand kom, wees jy die een wat sê: Ek en my huis: Ons sal Afrikaans bly en in Afrikaans leef én oorleef.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

37 Kommentare

Eish ·

Goeie artikel en ek kan my heelhartig vereenselwig met die artikelskrywer se mening.
Ek sal net graag wil sien dat die Afrikaanse tersiêre instellings vinniger uitbrei sodat geoktroieerde rekenmeesters, dokters, ingenieurs ens. ook daar opgelei kan word. Ek is van mening dat daar briljante Afrikaanse akademici by bestaande universiteite is wat met min aanmoediging van hul huidige omstandighede sal wil ontsnap.

Vraagteken ·

@Eish, ek is ‘n ingenieur en kan dus getuig – dit is beter om wetenskaplike ringtings in Engels te studeer! Ons hou almal vas aan die idee om in Afrikaans te studeer maar feit van die saak; die industrie is Engels.

Met betrekking to jou geoktrooieerde rekenmeesters en finansiele rigtings – meerderheid van die gegradueerdes begin by die sogenaamde “big 4” (PWC, Deloitte, ens.). Kort-voor-lank eindig hulle dan oorsee vir opleiding. Weet jy hoeveel van my vriende en kollegas het gesukkel om aan te pas by die engelse taal?

Laaste punt – daardie afrikaanse tersiêre instellings waarvan jy so praat sal nie deur jou akkreditasie instellings (ECSA, SAICA, ens.) geakrediteer word. Dit will sê – as jy’ jou kind aanmoedig om na so ‘n instelling te gaan vir studies, dan sal sy kwalifikasie nie op standaard wees nie (indien hy wel op standaard is dan sal dit in elkgeval nie erken word nie) en dus help jy hom vanaf die wal in die sloot. Dit is hoekom dit so belangrik is om ons huidige instellings op te pas!

Hendrik ·

Vraagteken jy is seker ‘n jong ingenieur want die ou ingenieurs het alles in Afrikaans gestudeer en het ook alles verstaan en kan ook alles in Engels verstaan. Wat is die probleem nou weer?

Vraagteken ·

Hendrik, wat het my ouderdom met die saak uit te waai??? Dit is half beledigend wat jy nou sê! Lees wat ek geskruif het; ek het gesê dit is BETER – nie die enigste manier nie. Moenie gevolgtrekkings maak nie!

Doen jouself die guns – gaan nou jou naaste motorhandelaar toe en gebruik woorde soos: wringkrag, ewenaarslot, koppellaar. Of vra hulle om vir jou parte soos: “Piston sleeve, big end, conrod, pressure plate, slave cylinder, etc.” terug te vertaal na Afrikaans. Ons sal sien hoe vêr kom jy. Daardie vertalings probleem is veral sigbaar by jou nuwer tegnologie (elektries en IT) – en DIT is die probleem!

Merkur ·

@Vraagteken. Alhoewel Duits intussen deur Engels afgelos is as die taal waarin die meeste navorsing studies gepubliseer word, hoor ´n mens al hoe meer stemme dat dit beter is om in jou moedertaal te publiseer. Een van die redes is, dat studente in ´n vreemde taal minder kennis opneem. Maar ´n ander en interessante rede is, dat die eentaligheid ´n verarming van perspektiewe is waaruit wetenskaplike/navorsing probleme benader word.

Hier twee van baie soortgelyke artikels:
http://www.goethe.de/lhr/prj/diw/dos/de8161556.htm

https://www.welt.de/politik/deutschland/article113150770/Warum-Deutsch-als-Forschungssprache-verschwindet.html

Graaf ·

Vraagteken, ek is ‘n geoktrooieerde rekenmeester wat my studies in Afrikaans gedoen het, insluitend ‘n meestersgraad in rekenaarouditering.

Ek sien weer hoe sukkel my kollegas wat nie Afrikaans magtig is nie om hulle werk te doen, veral waar die entiteite se grootboekrekeninge en rekords alles in Afrikaans is, dikwels die geval op veral die platteland. Die van ons wat in Afrikaans gestudeer het, het geen probleem met entiteite wat hulle rekordhouding in Engels doen nie. Toe ek die eerste keer in ‘n Engelse omgewing begin werk het, was die terme dalk vir een dag vreemd en toe was dit tweede natuur. In die professionele wêreld gaan dit oor toepassing van kennis en ervaring en nie taal nie, dis ‘n wolhaarstorie dat Afrikaanssprekendes ‘n agterstand het.

Vraagteken ·

Merkur, ek stem 100% saam met jou dat inligting makliker geanaliseer en interpreteer word in jou moedertaal. Maar met verwysing na ‘meeste studies wat in engels publiseer word’ – dit is juis die probleem; ons verwag dat studente navorsings papiere (wat in engels gepubliseer is) moet analiseer in hul moedertaal maar hul opleiding is in Afrikaans. Waar gaan jy ‘n navorsings papier international publiseer in Afrikaans? Die punt wat ek probeer maak: hoe vroeër jy blootgestel word aan Engles, hoe makliker is jou pad vorentoe wanneer jy ‘n professioneel word.

Graaf, hoe ek jou stelling verstaan beaam juis my punt. Daardie Engelse kollegas van jou sukkel om Afrikaanse werk te interpreteer en indien hulle Afrikaans is, dan sukkel hulle ook om die werk te interpreteer omdat hulle in Engels studeer het (help my as ek verkeerd is maar daar kom ‘n taalverskil navore). Nou hoe kan ‘n Afrikaans opgeleide persoon nie ook hindernisse bevind wanneer hulle met Engels te doen kry nie? Soos vroeër genoem, meerderheid van die industrie is Engels. Ek lei wel af dat jy insinueer dat Afrikaanse bestaande instansie ‘n hoër standaard handhaaf, ‘n punt waarmee ek glad nie stry nie.

Wim Aers ·

Vlaanderen en Nederland moeten onze Afrikaanse zustertaal veel meer actief steunen. Culturele steun. Maar ook politieke druk kan helpen…

Francois ·

Vraagteken, dit maak glad nie saak in watter taal ‘n bedryf is nie: ‘n mens kan in enige taal daarvoor studeer. Wat belangrik is in ‘n werksomgewing is dat jy met kollegas en kliente kan kommunikeer. Ek werk in IT, wat baie meer internasionaal en “Engels” is as ingenieurswese en ons kan almal baie goed regkom met ‘n verskeidenheid tale. Ek het buitelandse kollegas wat in Frans, Duits en selfs Pools studeer het – is hulle nou ook benadeel en hulle kwalifikasies skielik niks werd nie? Nee, hulle kan tog die werk doen.

As jy dink dat ‘n Afrikaanse opvoeding jou sal benadeel, sê dit ongelukkig meer oor jou eie kommunikasievaardighede en vlak van intelligensie as oor die taal self.

Terloops, volgens jou argument moet mense wat eendag botaniste, dokters of prokureurs wil word maar in Latyns studeer, want in daardie geval is baie van die vakterme in Latyns, nie eers Engels nie. Tensy jy vir ons ‘n Latynse universiteit of hoërskool kan wys waarheen die kinders gaan wat eendag medies wil studeer, sal jy maar moet erken dat jy verkeerd is. Net omdat jy en jou vriende gesukkel het met die “ingels” beteken nie dat dit vir ander mense geld nie, hoor.

Vraagteken ·

Francois, gaan lees asb krities oor wat ek gesê het in verband met standaarde. Bestaande instansies handhaaf ‘n baie hoë standaard (insluitend Afrikaanse instansies) – dis die nuwe Afrikaanse instansies wat nie erkenning kry. As jy in Duits, Frans, ens studeer het, dan was dit oorseë en nie in Suid-Afrika nie. Natuurlik is hulle kwalifikasie nie’ niks werd nie. Net vir die rekord, wie is tans die beste in die IT industrie – die Amerikaaners en hulle is Engels. Soos jy gesê het, dis baie meer ‘Engels”…

Net omdat ek nie in my moedertaal studeer het nie, is my intelligensie vlak laag? Good luck with that…

En nee, ek sê hulle moet vir Engels mik want elke stukkie navorsing wat hulle gaan tee kom is in Engels. Wie sê vir jou ek het gesukkel?

Herman ·

Ek het my ingenieursgraad in Afrikaans verwerf en nie vir een oomblik gesukkel in die industrie nie. Vraagteken kan beslis nie vir alle ingenieurs praat nie. Ek was laas week in Italia, Duitsland en Swede vir saamesprekings met hulle ingenieurs en hulle het ook in hulle moedertaal grade in ingenieurswese verwerf. Nou hoekom kon Vraagteken nie?

André Badenhorst ·

@Vraagteken, ek plaas ‘n vraagteken agter jou (skuil)naam en verál jou onwetenskaplik-bewese argument.

Die teendeel van wat jy sê, is al telkemale weerlê in studies (wat terloops ook in jou taal van keuse verskyn). Dalk is jou opmerkings sprekend van ‘n ingenieur wat “de breede weg” van tropdenke volg teenoor iemand wat oorspronklik leer dink het in sy moedertaal.

Stan ·

Julle debateer so oor die verskillende professionele beroepe wat in twintig jaar uitfaseer, los engels en leer eerder tegnologiese kodering (lol!)

Danie ·

Stem saam begin by elke winkel aandring op Afrikaans. Elke telebemarker kan maar ook Afrikaans begin praat. Elke hulp agentskap en hulpdiens van maatskappye ook.

JC ·

Wonderlik !

Dankie Alet, sjoe, wat ‘n opbeurende boodskap.

Afrikaans Leef!

Basson ·

Die land is deel van ons murg, been en bloed, en ons is netso deel van die land.

Tyd vir ‘n bv Groen Vrydag!!! (Groen simboliseer Vryheid)

Ter wille van ·

Die probleem is baie Afrikaners het laaaaaaaaankal reeds hulle taal opgegee. Alhoewel ek nie ‘n taalpuris is nie, het ons nooit aangedring om in ons eie taal bedien te word nie “want dan kan almal dit moes doen” en so het Afrikaans in besighede begin uitsterf. Self ‘n irriterende telebemarker gooi Engels van die begin tot die einde, gee nie eers kans om te se wie jy is en watter taal jy verkies nie. Jy begin in ‘n restaurant Engels praat met ‘n kelner, jy begin in die bank Engels praat met die teller, jy begin in die winkels Engels praat met al die winkelassistente .. BAIE (vooraanstaande) mense het hulle kinders in ENGELSE skole gesit ‘want wat is die kans dat my kind in Afrikaans sal kan Universiteit toe gaan”. Buiten die ongewone aanslag op Afrikaans, het baie AFRIKAANSE mense maar net ingegee en toegegee. As daar ‘n seminaar gehou word waar daar 200 mense is en EEN was engels, moes die aanbieder in ENGELS dit aanbied, en so het die AFrikaners dit maar geduld. Ekself het heelwat rekenaar kursusse bygewoon 29 Afrikaanses en EEN Engelse, sy het net gese sy verstaan glad nie Afrikaans nie, so ons MOES maar Engels verstaan het en niemand het opgestaan en geloop en ons geld teruggevra nie, ons het maar bly sit ter wille van die vrede.

Nouja ·

Het iemand, ‘n instansie, skool of ‘n skool beheerliggaam al uitgewerk hoeveel rand en sent dit werklik gaan kos om ‘n gemiddelde Afrikaanse model C skool te privatiseer? Die tyd vir selfbejammering is verby. Tyd vir moue oprol en die voorstel van praktiese voorstelle en ideespeel het aangebreek. Is die privatisering van model c skole enigsins uitvoerbaar en moontlik of moet daar heeltemal uit die oude skool skoene dood gedink word. Kom mede Maroela, sit skouer aan die wiel. Daar is meer wat ons verenig as wat ons van mekaar skei.

Casper Labuschagne ·

“Die skrif is aan die muur vir Afrikaanse onderrig en ons sit in sak en as sonder ‘n plan B” moes die boonste artikel eintlik lees. Inderdaad, sodra kinders in Afrikaanse skole toegelaat word wat in Engels onderrig wil word, sal die Engelse onderrig klasse altyd voller as die Afrikaanse klasse wees en sal dit dus die meerderheid se regte benadeel. So sal elke Afrikaanse skool wat befondsing van die staat ontvang in die verloop van enkele jare ‘n Engelse skool word. Soos dit nou gaan, is dit bloot twee tot vyr jaar voordat die onderwysdepartemente nie meer Afrikaanse handboeke en studiemateriaal sal produseer nie omdat daar geen Afrikaanse skole meer sal wees nie.

So wat is ons plan B? Akademia is ‘n puik wegtrekpunt. Maar waar is die Arikaanse korrespondensie universiteit noudat Unisa besluit het dat die opsie om in Afrikaans te studeer die meerderheid daar benadeel (al geld die standaard argumente teen Afrikaans wat die meerderheid benadeel in Unisa se geval hoegenaamd nie.) Waar is die Afrikaanse leerplan wat vanaf voorskool tot naskool tuisonderrig aanbied, gerugsteun deur aanlyn video materiaal asook steun en evaluering. Dit is totaal haalbaar dat tuisonderrig deur ‘n gekwalifiseerde onderwyser aangebied kan word vir enigiets tussen 20 en 100 kinders per skooltjie. Sport sal noodgedwonge deur sportklubs in die omgewing aangebied moet word.

Sak en as is die gepaste term, want die langwyser staan op ‘n minuut voor middernag en ons planne is maar min en skraal.

JC ·

Ons sal veg vir Afrikaans Casper!
Moenie daaroor bekommer nie, oudergewoonte los ons ou boerevolkie dit weer op No 99; maar ‘n plan sal ons maak, ‘n plan sal ons beslis maak!

Ek is Sam ·

Ek skool my kinders tuis en het so pas my 22ste jaar aangedurf.

Om Afrikaanse leermateriaal te bekom, is maklik, maar Afrikaanse materiaal van hoë standaard bestaan nie – nie op skoolvlak of in tuisonderrig kurikkula nie. In ons eie taal word ons kinders gebreinspoel en van waardes en beginsels ontneem.

Ons probleem is lankal baie groter as die taal. Dit verstom my dat die kriteria slegs onderrig in Afrikaans is, maar geen bohaai die laaste twee dekades oor die inhoud daarvan gemaak is nie. Gaan kyk net hoe word ons land se geskiedenis verdraai, wat die inhoud van ons taalboeke is, om van godsdiensgeltkheid nie te praat nie.

Nee wat, Afrikaans is maar die laaste spykers in ons volksdoodkis. Hartseer, maar waar.

Breytie ·

Sam, ek weet ook so ietsie van tuisonderrig af en ek sal graag meer op hoogte wil kom. Hoe gebeur dit dat jy reeds vir 22 jaar jou kinders tuis onderrig? Sluit dit tersiêre studie in? Indien wel, is dit nie maar bloot afstandsonderrig nie? Ek sal ook graag wil leer wat is “tuisonderrig kurrikula”? Ek is nog al die tyd onder die indruk daar is net die SA Kurrikulum genoem CAPS/KABV en verder buitelandse moontlikhede. Help asseblief!

Jacques venter ·

Moedertaal as medium van onderrig is bewys as die beste.

Alhoewel ek baie lief is vir my taal, moet ek realiteite in die oog hou.

Universiteite gaan verengels wat weer gaan aanleiding tot die verengelsing van skole.

As een van die inheemse swart tale die onderrig taal word het ons GROOOT probleme

James ·

En vir jare skryf ons al en se Afrikaans moet aansluit by Nederlands want saam is die tale sterker. Maar niemand luister nie. Toegang tot Nederland, Nederlandstalige tv, koerante, boeke en vice versa. Maar nee die Afrikaner sal eerder maar stadig dood gaan. Wat ‘n jammerte.

JC ·

Nee James, daar is BAIE wat PRESIES ook passievol jou mening huldig en die kopskuif begin maak!
Nederlands-Afrikaans Leef!
Ons veg voort en kry inspirasie en voeding via Nederlands- ek stuur eerder my kind na die universiteit in Gent om in Nederlands-Vlaams- wat baie soortgelyk aan Afrikaans is- te leer as wat ek OOIT IN MY GANSE LEWE hom/haar na ‘n verengelsde instansie sal stuur- EK WEIER.
Afrikaans bo!

JC ·

Nee James, daar is BAIE wat PRESIES ook passievol jou mening huldig en die kopskuif begin maak!
Nederlands-Afrikaans Leef!
Ons veg voort en kry inspirasie en voeding via Nederlands- ek stuur eerder my kind na die universiteit in Gent om in Nederlands-Vlaams- wat baie soortgelyk aan Afrikaans is- te leer as wat ek OOIT IN MY GANSE LEWE hom/haar na ‘n verengelsde instansie sal stuur- EK WEIER.
Afrikaans bo!!

Frans C ·

Dit is ‘n hartseer storie.Die mense wat so graag
Engels voorhou omdat dit die taal is wat die ANC en die sake wêreld dit voorhou, kan ons dalk vertel waardeur hul engels geleer het.

As jou moedertaal die medium was waardeur jy ‘n ander vreemde taal aangeleer het, moet dit nie minag nie,sonder dit sou jy nêrens gekom het nie.

Alet ·

Ek verstom my aan almal se kommentaar en hul aandrang op Afrikaanse onderrig maar terselfdertyd het ‘n groot hoeveelheid mense geen probleem dat hul kerkdienste of driekwart van die diens deurspek word met engelse woorde nie of hul woon tweetalige gemeenstes by waar engels en afrikaans om die beurt gebruik word. Dan het hul geen problem met Engels nie. Die wereld voertaal is Engels, laat ons kinders laerskool onderrig in Afrikaans ontvang maar maak ons hoerskole Engels sodat die kinders reg is vir Tersiere onderrig. Ek het gesien hoe veral die plattelandse Afrikaanse kinders met die Engelse boeke en terme sukkel in hul 1ste jaar. Die kinders kry swaar. Hou op aandring op afrikaans, maak dit eerder vir jou kind maklik om groot te word en in die wereld daar buite aan te pas en te oorleef. Jy het hul mos reeds van kindsbeen af mooi Afrikaans geleer, hul gaan nooit hul moedertaal vergeet nie.

Gerhard ·

As jy regtig so voel leer jou kinders eerder Sjinees praat, want dit gaan Engels binnekort very vat as wereld taal. Sodra die meerderheid in Die VSA Spaan praat, wat nie meer so ver is nie, is dit in elk geval die einde vir Engels ;-)

Nouja ·

@Wim Aers en James: ons drie is op dieselfde radio frekwensie ingeskakel. Ik het op een stadium begin voel ik is de enigste wat sodanige menig huldig.

Veritas ·

Die skrif is aan die muur? Die Engelse het ook so gedink en wat gebeur toe? Byt net vas en moet nie moed opgee nie. Met die hulp van Bo, sal die Afrikaner weer verrys.

Gerhard ·

Toe tuimel die Britse ryk ineen net betyds vir ‘n wonderwerkie om te gebeur. Die ding met wonderwerke is dat hulle ‘n neiging het om nie te gebeur nie, dit is waarom dit wonderwerk genoem word. Ek stel voor Afrikaners hou hulle eerder op met werkbare antwoorde soek as om vir wonderwerke te sit en wag, wat waarskynlik nie gaan kom nie.

Gerhard ·

Dit is tyd dat daar vergeet word van plan-B’s wat te doen het met instansies bou wat die Kaders oormore gaan platslaan. Private Afrikaanse instellings sal maar net die volgende teiken word. Die Kaders beheer die howe en al die staatinsansies. Hulle plan is om Afrikaans en die Afrikaner te vernietig, dit is nou so duidelik soos daglig. Hulle gaan nie stop omdat instellings privaat is nie. Die enigste werkbare plan is selfbeskikking, nie eie instellings nie. Eie grond eie, eie regering, eie arbeid en noodwendig dan as ‘n resultaat van die vorige ook eie instellings. Vergeet van tydmors met goed wat ons weet uiteindelik deur hierdie mense oorgeneem gaan word. Die tyd raak min vir ware selfbeskikking en saam met dit die tyd vir Afrikaners om te oorleef as volk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.