Wat ʼn lompe en patetiese woordgetjommel.
Dít was my reaksie toe ek die voormalige Afrikaanse universiteite se antwoorde lees in die gedrukte dagpers (6 Januarie 2018). Die joernalis het oor hul taalbeleid aan Maties, Tukkies, Kovsies en Pukke die eenvoudige vraag gestel: “Maar sal ek steeds in Afrikaans kan studeer?”
Woorde, woorde en omslagtige sinne was die reaksie. As jy die wollerigheid van die sinne wegneem, blyk dit dat dit amper onmoontlik is om nog in Afrikaans aan so ʼn Suid-Afrikaanse universiteit te studeer.
Tydens die onderhandeling in die negentigerjare vra minister Roelf Meyer ons mening oor die onderwysgrondwetartikels. Generaal Constand Viljoen, as destydse leier van die VF, se reaksie was: “Roelf, beteken dit dat ons ʼn Afrikaanse skool en universiteit kan hê?”
Minister Meyer ontduik die vraag en sê: “Generaal, kan julle met die artikels se bewoording saamleef?”
Ons kon nie, want die betrokke artikels was só wyd bewoord dat elkeen dit verskillend kon interpreteer. Die hoofregter het verlede week sy interpretasie gegee. Sy interpretasie is ideologies gelaai en negatief vir Afrikaans. Dit tas die hoë taalfunksies van Afrikaans aan en die ontwikkeling van die ander amptelike tale.
Universiteitsowerhede is egter nie onskuldig nie. Met deurlopende toegewings het hulle naïef gedink hulle kan die goedgesindheid van die regering koop. Die ANC werk nie so nie.
Terugbaklei is steeds nodig. Dit sluit die stig van privaatinstansies in, maar ook die behoud van dit wat nog oorgebly het.
Ekself het my doktorsgraad in Afrikaans geskryf en daarna sonder moeite en met sukses in Engels aan ʼn Amerikaanse universiteit verder studeer.
Plaaslik regverdig die hoeveelheid Afrikaanssprekende matriekleerlinge twee tot vier Afrikaanse universiteite – soos die Gerwel-verslag reeds in 2002 voorgestel het. Met die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit nie, word bemagtiging ʼn verdere belangrike argument.
Internasionaal word die voordele van moedertaalonderrig regtens erken. So het die Universiteit van Leuven in 1968 in twee verdeel. Die parallelle taalaanbieding in Frans en Nederlands was nie ideaal nie. Vandag kry jy die Franssprekende Université Catholique de Louvain en die Nederlandssprekende Universiteit van Leuven.
Leef Roelf Meyer nog? Hoekom erken hy nie dat hy ‘n fout gemaak het nie. Ons weet niemand kan nou iets daaraan doen nie. Maar daar is van ons wat sal beter voel as hy dit net wil erken.
Hy onderhandel in Myanmar vir die vrylating van twee joernaliste. Dié berig toon baie duidelik dat hy presies geweet het wat hy doen. Lees hoe Constand Viljoen se vraag beantwoord is.
Konsultante vir vredesprosesse.
Kom ons wees eerlik: het enigiemand tydens die onderhandlelings die storie van wigte en teenwigte geglo?
Ek glo nie, meeste van ons het boelie beef en baked beans opgegaar in solidariteit met wat ons geglo het op die stadium.
Fout? As ons hom nie keer nie is hy more weer langs die tafel om vars kluitjies saam te eet… Keer! Die ander ooms kan ook maar erken hulle was met ‘n slapriem gevang of was hulle onder narkose of is vreemde sigare uitgedeel?
Pragtig om die manne so bymekaar te sien! Is daar voorbeelde van groot suksesse of vooruitgang vir Afrikaans en die Afrikaner die afgelope 26 jaar? Behalwe dat ons miskien ‘n burgeroorlog vermy of oorleef het?
Nadat ek vir die eerste keer in ‘n vergadering met die toe relatief nuwe adjunk-minister Roelf Meyer was, het ek by my terugkeer kantoor toe vir my kollegas gesê: Daar’s nou vir jou ‘n liggewig!