Afrikaanse openbare en onafhanklike (private) skole, ’n plussom

Toekomsberaad-Dirk-Hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

In 2001 het die veelbesproke Gerwel-verslag oor Afrikaans by universiteite uitgelek. Die aanbeveling was kortliks dat twee universiteite Afrikaans moet bly, die Universiteit Stellenbosch en die Potchefstroomse Universiteit. In daardie stadium was die bedreiging vir Afrikaans geensins akuut nie. Die teendeel was waar. Geen universiteit wou afstand doen van Afrikaans nie en die verslag se aanbevelings kon nie neerslag vind nie omdat die rektore self weerstand gebied het. Die voormalige UP-rektor, Johan van Zyl, het hul verwerping van die Gerwel-verslag soos volg verduidelik:

Die punt is dat die Afrikaanse universiteite, gegewe die besondere omstandighede, ’n strategie in plek gehad het om Afrikaans te beskerm en te koester. En anders as wat prof. Van Wyk (rektor van US) wil beweer, was daar eenstemmigheid onder die rektore by die gesprek waarna hy verwys, naamlik dat niemand bereid was om Afrikaans prys te gee nie en dat almal hul verbind het om Afrikaans as voertaal te beskerm. Almal wou Afrikaans beskerm, elkeen op sy manier.

Vyftien jaar gelede bied Tukkies en Kovsies weerstand teen die gevaar dat Afrikaans by dié universiteite afgeskaf gaan word en die US verwelkom die planne om hom as Afrikaanse Universiteit te verskans. Vandag is al die universiteite in hofsake met Solidariteit en AfriForum gewikkel om hul planne om Afrikaans af te skaf, te verdedig.

Die regering se ideologiese obsessie met rasseverteenwoordigendheid het hulle ingehaal. Afrikaans by staatsuniversiteite is net nie deel van die regering se ideologiese momentum nie. Primêr gaan dit nie oor ’n stryd tussen Afrikaans en Engels nie, maar oor die waardes geassosieer met Afrikaans wat in die pad staan van Afrikanisering of ’n gedekoloniseerde universiteit. Die Afrikaanse gemeenskap het die stryd verskraal tot ’n taalstryd, terwyl die regering besig is met ’n baie dieper ideestryd.

In hierdie “veilige tyd” van Afrikaans in 2001 het Flip Buys een oggend vir ons gesê: “Ons moet ’n universiteit bou.” ’n Onmoontlike opdrag. Gemeenskappe bou nie universiteite nie; state bou universiteite. Ons was gekonfronteer met koste, kwaliteit, die regulatoriese omgewing, kurrikulum. Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia, het die nuwe universiteit seker 15 keer deur voorleggings “gebou”.

Ons het aanvanklik ’n aandeel in ’n bestaande instelling gekoop, dit weer verkoop en nuut begin bou. Die groot veranderlike wat toegetree het, was tegnologie. Ons het tegnologie ontdek wat die afstand uit afstandonderrig haal – ons het interaktiewe videotegnologie wat deur wêreldwye maatskappye gebruik word, vir die eerste keer vir onderwys aangewend. Ons kon grade teen dieselfde koste, of effens goedkoper, as gesubsidieerde staatsuniversiteite aanbied. Ons kon ’n nuwe universiteit begin bou: bekostigbaar, toeganklik, wêreldklas, Afrikaans. Dit het ons 15 jaar geneem om behoorlik te begin en dit gaan ons nog 15 jaar neem om langs die voorste universiteite in die wêreld te staan.

In dieselfde 15 jaar was Solidariteit en AfriForum aan die voorfront vir die beskerming van Afrikaans. Ons is verkies op universiteitsrade, het deelgeneem aan studenteraadsverkiesings, het aan forums en die openbare gesprek deelgeneem en uiteindelik litigeer ons teen verskeie universiteite. Net so hard as wat ons veg om Afrikaans by bestaande universiteite te beskerm, bou ons aan ’n nuwe universiteit.

Daar is elemente van bogenoemde gevallestudie wat ons op skole van toepassing kan maak. Baie van ons skole is nog in ’n relatiewe veilige omgewing. Om te praat van onafhanklike (private) skole is buite baie van ons se verwysingsraamwerk. Ons Afrikaanse skole is nog wêreldklas. Om te praat van Afrikaanse onafhanklike skole is bykans iets van ’n oorgawe en ons mag nie afstand doen van ons regte nie. Dit is amper of onafhanklike skole teen openbare skole geplaas word.

Ons mag nie ’n duit terugstaan vir ons openbare skole nie. Ons mag nie korttermyn toegewings maak wat dodelike langtermyn-gevolge gaan hê nie. Ons moet ons openbare skole beskerm.

Daar is een groot veranderlike by skole wat nie by universiteite aanwesig is nie en dit is ouers. Afrikaanse skole word deur ouerbetrokkenheid gekenmerk. Gemeenskapsleiers is nog lede van beheerliggame. Daar is ’n pakt tussen die skoolhoof en die ouers. Ouers help insamel, bou sportvelde gee iets ekstra. Afrikaanse skole is uitnemend, natuurlik danksy roepinggedrewe onderwysers, maar ook danksy betrokke ouers.

Afrikaans ouers het die idee van openbare skole gesnap. Ons het nie ons skole bloot aan die staat uitgekontrakteer nie. Ons ouers is betrokke.

Die krag van ouers is die onbenutte instrument van Afrikaanse skole in die beskerming van die skole. Ons as ouers moet geaktiveer word om skole te beskerm. Ons sal in duisende opdaag by ’n wildsbraai, skenkings maak, kaartjies koop, gras plant, pawiljoene verf en ’n saal volpak as die Boerenooientjie bedreig word. Ons sal al die elemente van die skool beskerm, maar ons moet die skool ook beskerm. Ons sal moet leer om ook in massas saam te staan en te sê: “Aan ons skool vat julle nie.” Hoekom moet ons dit doen? Want ons mag. Wat soms kortkom is ons wil. Indien ons nie ons ideeruimtes opneem nie, word daardie vakuum deur die staatsidee gevul. Daar is nie neutrale ruimtes nie. Ons sal ’n pakt met beheerliggame en skoolhoofde moet sluit om ons skole te beskerm. Nie net taal nie, maar ook etos.

Ons mag egter nie naïef wees nie; ons moet beplan om te bou ook. Afrikaanse skole is nie in die ideologiese momentum van die staat nie. Lesufi is nie ’n gek amptenaar nie – hy verwoord net die regeringsideologie baie eksplisiet, maar hy is nie buite die regering se ideologiese momentum nie.

Onafhanklike skole gaan ’n groterwordende rol in Afrikaanse opvoeding begin speel. Volgens die Centre for Development and Enterprise (CDE) gaan onafhanklike skole in die algemeen ’n groter rol in Suid-Afrika speel. In Suid-Afrika is daar 56 6194 leerlinge en 36 480 onderwysers in 1 786 onafhanklike skole. Die meeste onafhanklike skole is in Gauteng, naamlik 700.

Die rede vir die verwagting dat onafhanklike skole ’n groterwordende rol gaan speel, is dat die staat oor die algemeen al hoe meer gaan sukkel om gehalte onderwys te lewer. Volgens die CDE sal veral laekoste- private onderwys ’n groot rol speel. Daar is ’n beduidende groei in dié soort skole in ander lande in Afrika, sowel as in Indië en Pakistan. Volgens die CDE word tegnologie by sommige onafhanklike skole gebruik om koste laag te hou en die gehalte van onderrig te verhoog.

Die Afrikaanse gemeenskap het daarin geslaag om openbare skole ’n groot mate van selfstandigheid te gee en ons moet dit beskerm. Groot dele van die begroting van openbare skole kom uit die ouergemeenskap. Afrikaanse skole is suksesvol ten spyte van die staat. De facto is talle skole bykans reeds wat hul bedryfskoste betref geprivatiseer. Die idee van onafhanklike skole gaan dalk glad nie so vreemd en onmoontlik wees wanneer ons daarmee gekonfronteer word nie. Afrikaanse ouers weet reeds hoe om ’n wêreldklas Afrikaanse skool te help bou.

Openbare en onafhanklike skole moet nie teenoor mekaar staan nie, maar moet mekaar aanvul binne werklikhede wat ontstaan. Soos daar wêreldklas openbare skole bestaan, moet daar sorg gedra word dat, waar dit nodig is, gapings gevul word met wêreldklas onafhanklike skole. Sodoende gaan ons seker maak dat ons kinders se kinders wêreldklas onderrig in Afrikaans gaan ontvang.

Ek sien dus openbare en onafhanklike Afrikaanse skole nie as teenoor mekaar opgestel nie, maar as ’n plussom waar 1 + 1 = 3 is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Johann ·

Dankie vir die kommunikeer, dit verseker dat ons julle 110% ondersteun.

JC ·

Aitsa Dirk, daar is darem maar geen substituut vir intelligensie en wysheid nie!
SO, SO bitter trots om Afriforum te wees en op Afriforum!!

Theuns ·

Hermann baie dankie vir wat julle doen. Ek vrees net dat, soos jy in jou skrywe vertel van die Rektore wat in die vroer jare 2000 gese het hulle sal Afrikaans beskerm, het dit toe nie gebeur nie en moet ons nou dikwels die howe nader. Ons word deur ons eie mense verraai wat optree in eie belang en ‘n grootheidswaan! Die mense tree nie op omdat daar veranderde omstandighede is nie maar puur uit eie waan van belangrikheid en hul behoefte om hul name in die geskienis boeke te verewig, goed of sleg! Voorspoed en groete vir almal van julle by AfriForum en Solidariteit.

humor ·

Hou julle gereed binne oomblikke gaan die gekerm van die valse seunse weenkoor in alle uithoeke van ons dierbaar Vaderland weerklink Dankie Solidariteit. Die ganse geskiedenis van die Afrikaner is n strydgeskiesdenis waarin kosbare lewens op die altaar gele is. ONS GAAN WEN Sterkte en seenwense.

JC ·

ONS GAAN WEN! STERKTE SOLIDARITEIT/AFRIFORUM/AFRISAKE/SOLTECH/AKADEMIA/AFRIFOON?
ONS IS SAAM MET JULLE IN DIE GEVEG!

Herman, ·

Die tyd is al lankal ryp vir n onafhanklike privaat Afrikaanse universiteit sonder die “seudo afrikaner”lektore en rektors met hulle liberale “establishment” inslag by US soos Johann Rupert en Wim De Villiers wat die behoud van Afrikaans minag .
Daar sal genoeg ondersteuning onder Afrikaner geledere wees om n trust of n Mkpy sonder wins bejag te stig as voertuig vir die insameling van bydraes van die publiek en sake ondernemings om so n universiteit te stig en te te bestuur. Maroela kan as spreekbuis hulle baie suksesvol daarvoor beywer in samewerking met Solidariteit en ander Afrikaner instellings met dieselfde oogmerke.

Pietman ·

Dankie Solidariteit! Wees asb versigtig wie julle aanstel as lektore en wie kontrakte by jul kry om handboeke te skryf. Dosente wat voorheen pro-engels was mag nie voordeel trek uit private Afrikaanse universiteite nie. Daar is heelwat van hulle. Dit sou dieselfde dom logika wees waar mal Max betaal word deur naïwe Afrikaner koerantlesers om hul weekliks sleg te sê en hul ondergang bepleit.

Twakkie ·

Ai Pietman, hoe lekker lag ek nou vir jou opmerking oor die koerantlesers wat betaal sodat mal Max hulle kan beledig! Soos ek self in ‘n brief aan een van dié koerante gesê het, moet ‘n mens darem ‘n eienaardige soort selfhaat koester om aan te hou lees as jy só beledig word. Soveel Afrikaners knak letterlik agteroor om die mitiese “vrede” van politieke korrektheid te bewaar. Ek kom maar altyd weer kyk wat die Solidariteit-groep sê en doen om te weet daar is nog mense wat nie heeltemal die kluts kwyt is nie.

John ·

Iets baie belangriks is besig om te gebeur en Solidariteit en AfriForum moet daaruit muntslaan. Die hele debakel rondom haartooisels by skole het die kwessie van eie kulturele waardes en regte na vore gebring. Swart leerders dring daarop aan dat hul persona en kultuur as swartmense erkenning kry en dat witmensmodes hulle nie pas of gelukkig stem nie. Hulle vaar ook daarteen uit dat hulle nie in hul eie tale kan kommunikeer nie. Wat se dit? Die leerders het ‘n drang om hulself te wil wees, hoewel hulle in ‘n Engelse omgewing studeer. Verskeie veranderinge gaan volg. Die groot betoning saam met talle swart buitestanders, en die woede wat daarmee gepaard gegaan het, dui daarop dat ander nasies, soos die Afrikaners, diepe frustrasie ervaar omdat hul natuurlike aard so vervreemd raak, al is dit deur eie toedoen. Die vuurtjie begin weer smeul. Hierdie is belangrike gebeure tov die (h)erkenning van eie kulturele waardes. Die Afrikaners moet hierop voortbou en sodoende ons saak bevorder.

Kobus ·

John, dit wat jy sê was die eerste ding wat in my kop gekom het, met die meisies se ongelukkigheid, hulle wou hulself wees en dit het gevoel of die ander se taal en waardes op hulle afgedwing word.

Dus moet mens maar sien in hoe verre alle parte na alle kante gaan luister. Ek twyfel egter of die boodskap verder as die skoolrade sal trek, die ANC sal nie die rokie sien nie.

Santie ·

Ek dink nie AfriForum moet hulle op enige manier aan die kant van dié kinders skaar nie. Dié soort optrede is eenvoudig onaanvaarbaar en lei net tot ‘n nog groter uittog van onderwysers. Van die beste skole hier in die Wes-Kaap sukkel om aansoeke vir hoofskappe te kry omdat niemand meer lus het om met dié soort oproeriges te sukkel nie. Die ordentlike kinders van alle rasse tree nie só op nie maar ly uiteindelik onder die uittog van goeie onderwysers.

Maria van Dieweeck ·

Nerens wil mens of dier saam met anderse wees nie. Duitsland ens begin nou eers agterkom wat ons lankal weet. Almal is toe nou nie dieselfde nie. Dis net hier waar dit in ons kele afgedruk word. Ek kyk met ander oe na die reenboog , dit het ongelukkig nou nie meer n mooi konotasie nie. Dit sou goed wees as ons ook baie groot byeenkomste kon he, waar daar saamgekom word (sommer vir n naweek ens) waar daar samehorigheid kan kom van geskiedenis uitbeeldings, drama, sport en debat en natuurlik pret! Plekke soos bv Midmar dam staan leeg onder die blou van onse hemel!

Maria van Dieweeck ·

Ekskuus, verkeerde artikel wat ek kommentaar op lewer. Ek hoop daar kan gekyk word na stelsels soos die Duitse Hauptshule, wat meer ambag gedrewe is, gimnasiums ens. As al die diertjies in die bos na een skooltjie moes gaan, sou apie naderhand nie meer so goed kon boomklim en bokkie sal al stadiger raak. Help ons jeug in die korrekte rigting en moenie tyd mors met goed wat hul nooit gaan of wil gebruik nie

Steyn ·

In die kol! Kry net die ouers ook betrokke in die behoorlike opvoeding (en dissipline) van hul kinders. Dan sal die onderwysers minder sukkel om in hul belangrike taak van inligtingoordrag uit te voer (wat tot innoverende denke by kinders sal lei). So ‘n skole-stelsel sal tot sterk nasiebou lei, politiek of te nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.