Afrikaanse radio bly die beste manier om ons taal te bevorder

Pretoria-FM-01

Willie Spies die besturende direkteur van Pretoria FM. Foto: Reint Dykema.

‘n Taal word gedra deur sy media. Afrikaanse radio is ‘n onmisbare stuk in die Afrikaanse media-legkaart en kan mense weer laat hoop, glo en leef in Afrikaans. Daar is drie radiosektore, naamlik die openbare uitsaaier, die kommersiële stasies en die gemeenskapsradiostasies.

Hoewel die openbare uitsaaier steeds ‘n uitstekende Afrikaanse radiodiens het, is hierdie diens ten nouste aan die SABC en die staat gekoppel, wat bepaalde risiko’s vir Afrikaans inhou. Die Minister van Kommunikasie, Min Faith Muthambi, het byvoorbeeld vroeër vanjaar gesê dat die SABC staatseiendom is en daarom onderworpe aan die beheer van die ministerie en die regerende party. Daarteenoor het feitlik alle kommersiële  radiostasies verengels en is Afrikaanse gemeenskapsradio nog van die min geleenthede wat oorbly om Afrikaanse radio te bevorder.

Die ou Radio Pretoria is die afgelope jaar uitgebou tot ‘n professionele en groot Afrikaanse radiostasie, wat met 9 senders feitlik die hele noorde van die land en deur die internet en DStv kanaal 887 ‘n wêreldwye voetspoor opgebou het. Die stasie is deur ‘n omvattende proses van skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes. Dit was baie nodig, omdat die stasie die grootse sendernetwerk buite die staatsnetwerke het. Die uitboustrategie is uiters suksesvol bestuur deur die bekende Willie Spies as besturende direkteur en prof. Schalk Botha as direksievoorsitter. Die gevolg was die opwindende verbetering in die stasie se programaanbieding, ‘n verdriedubbeling in die luistertal en verskeie radiotoekennings, soos twee MTN Radiopryse. Die “nuwe” Pretoria FM is vandag tydens ‘n spoggeleentheid in die Atterbury Teater in Pretoria van stapel gestuur. Pretoria FM spog ook nou met splinternuwe ateljees en kantore in die ooste van Pretoria.

Maar waarom is radio so uitnemend geskik om Afrikaans te bevorder? Hoewel daar baie redes is, kan dit kortliks in 12 rolle saamgevat word.

Die 12 rolle van radio in die bevordering van Afrikaans

  1. Afrikaanse leefwêreld:

Afrikaanse radio skep ‘n Afrikaanse leefwêreld vir sy luisteraars, waar hulle ook al mag woon of werk. Wat radio uniek maak is dat mense kan luister terwyl hulle ry, werk of ontspan.

  1. Goedkoopste:

Radio is die goedkoopste manier om Afrikaans op groot skaal te bevorder, omdat die produksie- en verspreidingskoste veel goedkoper as televisie of koerante is;

  1. Vermenigvuldiger:

Radio is die beste vermenigvuldiger vir Afrikaans, Afrikaanse instellings en Afrikaanse projekte. Afrikaanse skole kan openlik bevorder word, terwyl bestaande taalprojekte soos boeke, die kunste, musiek, en Afrikaans in die professies met goeie dekking “vermenigvuldig” kan word. Die rede hiervoor is dat radio bekostigbaar en beskikbaar is en daagliks deur sowat 9 uit 10 volwassenes geluister word;

  1. Selfvertroue:

Radio het ten doel om die kulturele selfvertroue van luisteraars te versterk om Afrikaans te bevorder, soos om kinders na Afrikaanse skole te stuur. Radio maak die wonder van Afrikaans deel van sy luisteraars se leefwêreld, help ‘n liefde vir Afrikaans ontwikkel en skep die taaltrots en taalwil om Afrikaans op ander lewensterreine uit te dra;

  1. Taalverskuiwing:

Dis die beste manier om Afrikaanse musiek te bevorder en veral om te keer dat jongmense net na Engelse musiek luister en uiteindelik na Engels as taal oorskakel. Daarmee vervul radio belangrike funksies soos inligting en Afrikaanse vermaak, wat taalverskuiwing teenwerk omdat luisteraars hierdie taalfunksies in hulle moedertaal kan geniet;

  1. Risikobestuur:

Gesien in die lig van die verengelsing van die kommersiële musiekstasies en die risiko’s wat by die SABC mag ontstaan, is Afrikaanse gemeenskapsradio ’n “broodsaak” vir Afrikaans;

  1. Grootse mediaprojek:

Pretoria FM beskik oor verreweg die grootste en sterkste nie-staats  uitsaainetwerk wat verder aangevul word met internet- en satelliet-tegnologie, wat dit ’n radiostasie met besondere potensiaal maak. Saam met sy 8 herleistasies, dek dit ook die grootste opvangsgebied naas die openbare uitsaaier. Daarom is Pretoria FM saam met Maroela Media die belangrikste Afrikaanse mediaprojekte in baie jare;

  1. Taalgemeenskap:

Radio bind individuele Afrikaanssprekendes in ‘n taalgemeenskap saam. Gemeenskapsradio staan met sy “gesig” na Afrikaanssprekendes toe, in plaas van na die staat soos die openbare uitsaaier of na kommersiële belange wat Engels bevoordeel soos die geval is met musiekradiostasies. Die krag van gemeenskapsradio is dat dit vraagstukke wat die taalgemeenskap raak kan aanspreek, omdat radio veel nader aan sy gemeenskap is as die openbare uitsaaier. Radio kan byvoorbeeld makliker taalveldtogte voer of steun en waardegedrewe projekte soos die behoud van godsdiens in skole steun wat nie vir die openbare uitsaaier maklik moontlik is nie;

  1. Ekonomie:

Radio bevorder die Afrikaanse ekonomie, deur reklame en die ondersteuning van Afrikaanse ondernemings en ondernemers. Dit kan ook Afrikaans in die ekonomie bevorder deur taalontwikkeling en deur Afrikaans deel van die sakewêreld te hou.

  1. Alle taalfunksies:

Radio bevorder Afrikaans in al sy funksies, vanaf die informele tot die hoër funksies;

  1. Volle funksionele taal:

Radio is ‘n onmisbare skakel in die bevordering van Afrikaans as volle funksionele taal, deur byvoorbeeld programme oor Afrikaans in die reg of Afrikaanse mediese programme uit te saai, of die klem op Afrikaans in die akademie te plaas.

  1. Reguleerder:

Die regulerende omgewing van radio is baie eenvoudiger as op ander gebiede soos Afrikaanse onderwys. Pretoria FM se goeie verhoudinge met die reguleerder, ten spyte van verskille wat mag bestaan, is ‘n belangrike bate.

Pretoria FM gaan Afrikaans laat kook onder leiding van die nuwe stasiebestuurder, Hennie Koortzen en sy span van 40 energieke en geesdriftige radiomense!

* Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

neelsie ·

Pretoria FM- Die heel beste-
Wens “ons” radio die beste toe.
Dis n lewendige polsende stasie.

Joe64 ·

Dit is inderdaad ‘n wonderlike geleenthied om die taal profesioneel aan te voer. Mens hoor soveel keer advertensies op Afrikaanse Radio met die kern reël van die advertensie in Engels assof Afrikaans en Afrikaanse verbruikers te vlak is om dit in hulle eie taal te verstaan, of andersins nie werd is om gerespekteer te word vir die rede dat hulle Afrikaans is nie. Hier sal die kaf van die koring geskei word aangesien die waarde van die stasie natuurlik ook grootendeels kommersieël is, en moontlik die waarde van die taal bietjie sal vervaal vir die doel om geld te maak uit juis die advertensies. Mens hoor ook soveel “afrikanse” liedjies deesdae met engels in om “in” te wees, mens kan die “kunstenaars” dus ook so bietjie touwys maak in die gebruik van ‘n suiwer Afrikaans. Ons moet onthou dat dit die staat se totale doel is om die Afrikaner kultuur uit te roei en sy gees te knak, die behoud lê dus by self, niemand anders nie. Kom ons kyk hoe vaar hy, sterkte.

Joe64 ·

Daarsy, toe gebeur dit vandag, reis na Johannesburg en luister met groot moeite na Pretoria FM, net om binne een minuut advertensie te hoor wat die Afrikaans sprekende as vlak en onnosel uitbuit met sy kern frase aan die einde in Engels. Op die stasie wat vir Afrikaans staan. Die kontant is toe meer werd!

Johan 2 ·

Wat is die frekwensie? Ek reis baie rond en weet nooit waar om daarvoor te soek nie. Sommige stasies se frekwensie “skuif” ook is dit met PTAfm dieselfde?

Bismarck ·

Pragtig.
Wanneer gaan ons radio ontvangs in die Suidkaap hê. Vanaf George tot Mosselbaai is dit oorwegend Afrikaanstalig.
Intussen help DSTV se ‘abba’ darem dat ons in die Knysna omgewing ook jul uitsending ontvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.