Afrikaanse Skole: Ons moet ’n ark bou

onderwyser-02

Foto: Ncee.org

Hierdie artikel is die eerste in ons reeks oor die Grondwethof se uitspraak oor die skooltoelatingsbeleid. Volgens dié uitspraak kan die Gautengse onderwyshoof Edward Mosuwe, en Gautengse LUR vir onderwys Panyaza Lesufi, besluit wanneer ʼn skool in Gauteng finaal vol is, en berus dié besluit nie meer by die beheerliggaam van die skool nie. – Red

Deur Danie Brink, uitvoerende direkteur: Solidariteit Helpende Hand

In 2006 lewer prof. Randy Pausch, rekenaarwetenskap-dosent aan die Carnegie Melon Universiteit in die VSA, ’n aangrypende toespraak met die titel: “Last Lecture”. Pausch is kort tevore gediagnoseer met terminale pankreaskanker en hy sterf uiteindelik op 25 Julie 2008.

Dit is onmoontlik om uit prof. Pausch se lewendige toespraak af te lei dat hy iets makeer. Hy doen selfs ’n hele klomp opstote tydens die toespraak, is in die fleur van sy lewe en ’n gerekende professor aan een van die VSA se beste universiteite – maar wanneer jy luister na die diagnose van sy dokters en kyk na die gewasse op sy X-strale, dan besef jy dat prof. Randy Pausch terminaal siek is. (Die video van sy laaste toespraak is hier te sien)

In die verhaal van prof. Pausch is daar lesse te leer vir Afrikaanse skole. Afrikaanse openbare skole is in die fleur van hul lewe. Die kinders wat daar skoolgaan, kan heelwat fisieke en akademiese opstote doen en die prestasies van Afrikaanse skole staan kop en skouers bo dié van al die ander skole in Suid-Afrika uit. So byvoorbeeld behaal Afrikaanse skole proporsioneel 500% meer onderskeidings in wiskunde as die res van Suid-Afrika se skole. Lees gerus ook meer oor die gehalte van Afrikaanse skole in hierdie brief van dr. Pierre Edwards ná ’n besoek aan die buiteland.

Die vraag is egter: Is Afrikaanse skole, te midde daarvan dat dit tans uiters goed gaan, terminaal siek? My kort antwoord hierop is JA en NEE.

JA

Afrikaanse skole se sukses maak van hulle ’n gewilde teiken vir ’n onbeholpe departement van basiese onderwys. Die aanslag is fel en baie grond is verloor met die onlangse hofuitspraak teen die magte van beheerliggame om voedingsgebiede te mag bepaal. Afrikaanse skole se suksesresep is betrokke beheerliggame en ouers, roepingsgedrewe skoolbesture en opvoedkundiges en hardwerkende leerders, maar hul behoud is Afrikaans. Afrikaanse skole wat parallelmediumskole word, word dubbelmediumskole wat uiteindelik Engelse skole word. Al is daar talle disfunksionele skole rondom ’n stad soos Pretoria wat halfvol staan in townships, sal suksesvolle Afrikaanse skole die teiken bly van ’n LUR soos Panyaza Lesufi. Daar was eendag ’n land wie se beste skole moedertaalskole was op 31 Desember 1990. Met die magte van die staat was al daardie skole op 1 Januarie 1991 Engelse skole. Daardie land is Namibië en daardie moedertaalskole was Afrikaans.

NEE

Daar is tans meer instansies en inisiatiewe vanuit die burgerlike samelewing wat hulle beywer vir onderwys in Afrikaans as ooit tevore. Van hierdie instansies ontwikkel die beste opvoedkundige materiaal met die mees moderne tegnologie in die wêreld. Hierdie materiaal is in Afrikaans en weens die internet beskikbaar vir alle kinders: dié in openbare skole, dié in privaat skole en tuisskolers. Van hierdie instansies bestudeer die beste metodes om leer optimaal te laat plaasvind by kinders en dra dit oor aan opvoedkundiges oor die hele Suid-Afrika. Van hierdie instansies bou privaat Afrikaanse alternatiewe van hoë gehalte langs die openbare skoolstelsel. Van hierdie instansies ontwikkel en gebruik tegnologie om bekwame onderwysers as’t ware te dupliseer of te “kloon” tot die uithoeke van ons land ten bate van die akademie van alle kinders wat in Afrikaans wil leer. Van hierdie instansies werk hard aan ’n nasionaal en internasionaal geakkrediteerde Afrikaanse eksamenliggaam waarby Afrikaanse kinders ’n matrieksertifikaat van wêreldgehalte kan verwerf. Van hierdie instansies bou Afrikaanse tersiêre tuistes waar kinders hulle ná skool kan bekwaam en sodoende werk kan kry en vir hul gesinne kan sorg. Van hierdie instansies bou ’n loopbaansentrum waar navorsing oor die jongste en skaarsste beroepe gedoen word sodat ons kinders skaars vaardighede kan bekom. Van hierdie instansies werk aan wêreldwye platforms waar jongmense in Afrikaans vanuit enige plek in Suid-Afrika hul brood sal kan verdien. Van hierdie instansies ontwikkel kursusse vir entrepreneurs sodat regstellende aksie ons jongmense minder kan skaad.

Soos wat Noag die ark gebou het lank voordat dit gereën het, werk baie instansies hard aan die behoud van Afrikaanse onderwys asof dit terminaal siek is. Dít terwyl dit amper oral in die land nog baie goed gaan met ons skole. Of dit nog lank goed gaan en of dit skielik baie slegter gaan soos in Namibië, Afrikaanse opvoeding sal bly floreer – miskien nie oral in sy huidige gewilde formaat nie, maar dalk selfs in ’n beter formaat, meer in pas met die eietydse wêreld. Op daardie dag gaan kinders oral in Suid-Afrika deur verskeie vorme van skole in Afrikaans kan leer. Hulle sal hulle by Afrikaanse tersiêre instansies kan bekwaam en toenemend vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika voortbestaan.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Disselboom ·

Dis ‘n opbouende artikel, hoewel bietjie arm aan feite. Dis goed om daarop te wys dat onderwys in Afrikaans woel, maar dit sal nog helderder opklink met voorbeelde en name.

Heinrich ·

Sekondeer hierdie sentiment; sou bittergraag meer voorbeelde en name wou sien.

Danie Brink ·

Die artikel se doel was om hoop te skep vir onderrig in Afrikaans. Die feit dat die spesifieke instansies wie werk aan opwindende oplossings se name uitgelaat is, is gedoen aangesien daar nog heelwat grondwerk gedoen gaan word om hul aksies te koördineer. Eersdaags behoort ons opwindende planne, volledig met die name van betrokke instansies, te kan aankondig.

Henry ·

Dankie Danie, jy bevestig wat meeste van ons in ieder geval aanvaar het by die lees hierbo dat hierdie die EERSTE aflewering oor skooltoelatingsbeleid is.
Hopelik sal daar ook aandag gegee word aan voortgesette bevordering van sport en kultuur. Beide wat oor donkie jare heen soveel bygedra het om ons wêrelde te verbreed. Soos die spreekwoord sê ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.
Die Souties het ‘n skitterende uitdrukking om al die getemery oor sport en kultuur op skole vlak te be-antwoord: ‘All work and no play makes Johnny a very dull boy”

Leeukop ·

Afrikaanse skole is deur die kanker van rugby ingeneem al lankal. Jy kan goeie rugbyspelers kry maar van moderne tegnologie en besigheid weet ons skoolverlaters te min om ons ekonomie te help bou, daarom beweeg rykdom nou vinnig oor na die Oosterse lande waar hulle skole baie meer gebalanseerd is en nie deur rugby oorheers word nie.

John ·

In Japan en Sjina werk die leerders hard omdat studiegeleenthede net vir die bestes beskore is. Die situasie is hier heel anders. Soos by die ou Jode speel vrees vir dit wat voorle ook ‘n groot rol by ons Afrikanders. Vertroue dat die Vader sal voorsien het gekort toe die Israeliete die beloofte land moes binnegaan en hulle moes 40 jaar rondswerf as straf. Ons gooi te gou die handdoek in as die vyand net booo se. Hulle glo dit is ‘n teken van erkenning dat ons nie reg het op ons kultuur, taal en eiendom in hierdie land nie.

Breytie ·

Ek stem saam met Leeukop. Top Afrikaanse skole “koop” leerlinge uit ander provinsies bloot omdat hulle belowende rugbyspelers is. Hulle akademiese vermoëns en hulle invloed op die sosiale lewe van die leerlinge word nie in ag geneem nie. Maar dis meer as net rugby, dis die hele benadering om miljoene rande te bestee aan velde en pawiljoene, sale, ouditoriums, kafeterias en wat nie nog nie. Bekers en ander trofeë is die heilige graal wat voortdurend gesoek word. Wat ons kort, is klein privaatskole wat nie duur infrastruktuur benodig nie en wat nie gedurig die oog vang in die koerante nie. Mense wat wil presteer in sport en kultuur, kan dit op ander wyses doen. Waarheid is dat die grootste deel van ‘n skool se kinders nie al die uitspattige aanhangsels benut nie omdat hulleander belangstellings het. Daar moet eerder gekonsentreer word op sinvolle onderrig en opleiding, sodat ons mense ‘n lewe kan voer ten spyte van die regering.

Gereformeerde Onderwys ·

Christelike onderwys is ‘n verpligting, nie ‘n keuse nie. Dis ‘n skool soos Gereformeerde Skool Dirk Postma, daar in Waverley, Pretoria, wat die regte soort skool is. Lyk na min sport, akademies gefokus en daar word kerkgeskiedenis, belydenisskrifte, psalms en natuurlik Bybel dwarsdeur die skool behoorlik geleer. Hulle gebruik die ICO se leermateriaal, wat vir Christelike onderwys opgestel is. Daar moet meer sulke skole kom. Eintlik moet alle Afrikaanse skole so wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.